Название | Annelize Morgan Omnibus 2 |
---|---|
Автор произведения | Annelize Morgan |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053712 |
“Ons moet koffie bedien!” roep die meisie uit. “Die gaste het al kom vra!”
Celèste begin die koffie werktuiglik maak. Dis nog maar twaalfuur en die dans kan nog aanhou tot dagbreek, maar miskien sal monsieur le comte die partytjie beëindig na wat by die stal gebeur het.
Sy onthou weer Tredoux en Emile de la Roque, en wens iemand wil die verwaande De la Roques op hulle plek sit. Hulle is nie eens vanaand genooi nie en hulle maak en breek asof dit hulle eiendom is.
Dit voel soos ure voordat die graaf uiteindelik terugkeer. Hy sê niks aan Celèste nie en sy wonder wat daar by die stal gepraat is. Kort op sy hakke volg die res van die nuuskieriges. Almal tou deur die kombuis terug na die dansvloer.
’n Paar minute lank nog kan sy die dansmusiek hoor, maar dan hou dit skielik op. Sy hoor hoe De Bordeaux aan die gaste verduidelik wat gebeur het en sy is hom innig dankbaar. Hy het nog genoeg respek vir sy ontslape staljong om sy groot, swierige geselligheid te beëindig.
Die gaste praat opgewonde toe hulle die dansvloer verlaat. Daar is ’n geroesemoes van stemme in die gang en voorportaal en ’n bedrywigheid buite waar die koetse nou een vir een aankom en hulle eienaars kom haal.
Dit neem die gaste meer as ’n halfuur om na hulle huise terug te keer en uiteindelik is dit nog net die graaf De Bordeaux, monsieur Tredoux en die twee De la Roques wat oor is. Hulle staan op die stoep en kyk die laaste koets agterna.
Celèste is in die voorportaal om seker te maak dat daar nie ’n hoed of mantel agtergebly het nie en sy kan hoor wat die mans op die voorstoep praat.
“U kan nou ook maar gaan, monsieur De la Roque,” sê De Bordeaux styf. “Die partytjie is verby.”
Louis de la Roque lag spottend.
“Dit klink amper asof jy van my ontslae wil raak, my liewe neef.”
De Bordeaux byt op sy tande. “Dis al laat.”
“Ek wonder,” sê De la Roque stadig, “wat gaan jy met die liggaam maak? Gaan jy dit ook begrawe en hoop niemand doen navraag nie – soos die vorige keer? Of wat praat ek alles?”
“Jy sal een keer te ver gaan, De la Roque,” sis De Bordeaux woedend. “Jy sal my net een keer te veel tart …”
“En dan?” wil De la Roque uitdagend weet. “Gaan jy mý ook uit die weg ruim?”
Sy woorde is nog skaars koud, of Armand se vuis klap teen sy kinnebak.
De la Roque steier terug en val byna van die stoep af. Daar is haat in sy oë toe hy stadig orent kom en Armand aangluur soos ’n slang wat gereed maak om te pik.
“Ek was nog altyd ’n redelike man,” sê hy stikkend van woede, “maar nie meer nie. Ek wou jou tegemoetkom, maar nou sal ek toesien dat jy nié die galg vryspring nie! Jy het Garcon vermoor en ek sal getuienis bring om dit te bewys!”
De Bordeaux kners op sy tande. “Trap van my landgoed af!” sis hy.
De la Roque skud sy vinger in Armand se gesig. “Jy sal weer van my hoor. Hierdie is nie die laaste keer nie. Dit sal ook nie meer help om te vlug nie. Daar is nie ’n plek op hierdie aarde waarheen ek jou nié sal volg nie, my liewe neef. Ek sal jou volg tot ek jou aan die galg sien swaai en dan sal ék graaf De Bordeaux wees!”
Hy swaai op sy hakke om en met Emile aan sy sy verdwyn hulle in die rigting van die stal.
Celèste staar geskok na buite. Sy het alles gehoor en ook monsieur Tredoux het alles gehoor. Ag, liewe hemel, wat gaan tog nou gebeur? Dan draai sy om en vlug haastig na die kombuis toe die twee mans na die voordeur aangestap kom.
Celèste probeer sin maak van die inligting tot haar beskikking, maar tevergeefs. Te veel is nog vir haar ’n geheim. Eendag, weet sy, sal sy die volle waarheid weet. Gaan daardie volle waarheid haar dalk só skok dat sy sal wens dat sy dit liewer nie geweet het nie?
Teen die tyd dat die eetkamer en dansvloer opgeruim is, is dit reeds na drie-uur. Die helpers gee nie juis om om so laat te werk nie, want hulle het almal die volgende dag vry en dan kan hulle verlore slaap inhaal. In normale omstandighede sou die huismense ook eers teen twaalfuur opgestaan het, maar hierdie keer is dit anders. Graaf De Bordeaux is kort na sonop reeds op. Hy moet die dood van Garcon gaan aanmeld.
Daar is ’n bekommerde uitdrukking op sy aantreklike gesig toe hy na die stal stap. Garcon is vermoor. Dit ly geen twyfel nie en dis een ding wat hy nie in hierdie stadium kan bekostig nie. De la Roque was woedend toe hy die vorige nag hier weg is en wie weet wat hy alles aan die kommandeur sal gaan vertel.
Sy blik dwaal oor die pragtige vallei voor hom. Die son se eerste strale het pas oor die laer, doubenatte dele begin vee en die wingerde en wilde gras is ’n byna onnatuurlike skakering van groen. Die berge is nog persgrys in die flou oggendlig; in die hemel is die wolkies goud en wit.
Agt jaar lank het hy gewerk om dié landgoed so te kry en nou wil sy lui, selfgenoegsame neef dit kom vat asof dit nog altyd aan hom behoort het. As Le Blanc net wil kom voordat dit te laat is. Alles hang nou van Le Blanc se koms af. Etienne le Blanc, daardie siniese pierewaaier van Versailles, is vreemd genoeg die enigste een wat Armand de Bordeaux van ’n gewisse dood aan die galg kan red.
Celèste kon nie goed slaap nie en sy is wakker toe Armand na die stal stap. Sy staan hom en dophou en sien hoe die ligte oggendbries sy diepblou mantel effens uitbol en liggies met die spierwit pluime in sy swart hoed speel. Selfs op hierdie afstand kan sy sy stewels sien blink en die swaard aan sy sy sien glinster.
Sy weet waarheen hy op pad is en dink onwillekeurig aan die gesprek wat sy die vorige aand op die stoep gehoor het. De la Roque het Armand nie net van moord beskuldig nie, maar dit het werklik geklink asof hy dink dat die graaf De Bordeaux tot iets so verskrikliks in staat is. Sy haat Louis de la Roque en sy wens dat hy nooit na die Kaap gekom het nie. Hy voorspel net moeilikheid.
Toe Armand de Bordeaux op sy perd klim en wegry, draai Celèste om en gaan kruip weer in die bed. Nou sal niemand enigeen van hulle steur nie. Die baas van La Montagne sal nie voor middagete terug wees nie.
Garcon word die Maandag begrawe, maar nie voordat daar eers ’n afvaardiging van die Kasteel af gekom het om die omstandighede van sy dood te ondersoek nie.
Dis Ernest wat sy arm om Celèste se skouers sit toe die kis in die graf afsak. Sy is bly vir sy nabyheid en ondersteuning op hierdie oomblik, maar haar gedagtes bly tog half en half by die ander wat ook om die oop graf vergader het.
Al die plaaswerkers is teenwoordig. Daar is ook Jacques Tredoux, Jeanne en die graaf De Bordeaux. Dis net Jeanne wat enige trane stort oor die ontslapene. Jacques Tredoux frons diep en skynbaar bekommerd, terwyl die graaf se uitdrukking heeltemal onpeilbaar is.
Skielik kyk hy op en vas in Celèste se oë. Die uitdrukking op sy gesig verander nie; daar is net ’n onverklaarbare flikkering in sy blou oë asof hy aan iets dink wat hy nie met iemand anders wil deel nie.
Eindelik is Garcon iemand wat tot die verlede behoort en keer die plaaswerkers terug na die wingerde. Ernest wil eers saam met Celèste huis toe loop, maar die graaf beduie dat sy van die oop rytuig gebruik moet maak. Toe sy half aarselend opklim, volg hy haar en spoedig is hulle alleen op pad terug na die herehuis.
Hulle is al ’n hele ent weg voordat De Bordeaux vra: “Het jy ’n benul wat daar by die stal gebeur het?”
“Non, monsieur …” Sy voel baie ongemaklik hier alleen saam met hom in die oop rytuig.
“Het Garcon niks aan jou gesê nie … ek bedoel, hy sou jou tog in sy vertroue geneem het, sou hy nie?”
“As hy iets vermoed het, sou hy my daarvan gesê het, monsieur,” antwoord sy eerlik, “maar hy het nie. Ek dink hy is verras.”
Hy staar weg oor die wingerde wat vinnig besig is om te verkleur. Weldra sal nog net die kaal stamme daar wees. Dan sal die werkers ’n paar weke lank vakansie kan hou voordat die volgende jaar se oes voorberei