Название | Annelize Morgan Omnibus 2 |
---|---|
Автор произведения | Annelize Morgan |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053712 |
Hy knik somber. Sy het hom darem nie summier weggestuur nie. Hy gee die mandjie aan haar terug en gaan weer na die stal om sy werk te gaan klaarmaak.
Celèste haal die eiers ingedagte uit die neste. Garcon was nog maar altyd ’n bietjie onvoorspelbaar. Sy huweliksaansoek het egter as ’n groot verrassing gekom. Sy het dit glad nie verwag nie. Om die waarheid te sê, sy het Garcon die afgelope weke skaars raakgesien.
Sy het geen benul van hoe sy hom gaan weier sonder om hom seer te maak nie. Hy was nog altyd ’n baie goeie vriend vir haar en sy wil nie in kwaaivriendskap met hom leef nie. Hy, Jeanne en sy is op mekaar aangewese hier op die afgeleë landgoed van Armand de Bordeaux.
Daar is ’n besoeker in die herehuis toe sy teruggaan. Jeanne is in die kombuis doenig en lyk nie baie in haar skik nie.
“Iets verkeerd?” wil Celèste weet.
“Dis ’n ongeskikte vent wat hier op meneer De Bordeaux sit en wag. Sy ma het hom nooit maniere geleer nie.”
Celèste lag onbekommerd. “Ag, kom nou, Jeanne, dit kan tog nie só erg wees nie.”
“Ek hou nie van hom nie,” hou Jeanne vol.
Celèste haal haar skouers liggies op en sit die mandjie op die tafel neer.
“Garcon het my gevra om met hom te trou,” sê sy.
Jeanne ruk orent en staar ongelowig na die meisie. “Jy moenie sulke grappe maak nie, meisiekind!” raas sy.
“Dis nie ’n grap nie. Ek wonder net hoe ek hom moet sê dat ek nie belangstel nie.”
“Garcon is ’n goeie, hardwerkende man. Jy sal nooit ’n tekort hê as jy met hom trou nie.”
Celèste trek ’n gesig. “Ek wil tog nie my lewe lank in ’n tweekamerhuisie woon nie.”
“Dis meer as wat baie ander mense het.” Jeanne pers haar lippe opmekaar.
“Jy is vandag regtig suur, Jeanne,” sê Celèste. “Wat het oor jou lewer geloop?”
Jeanne stoot die bak deeg van haar af weg en gaan was haar hande in ’n erdeskottel.
“Dis hierdie monsieur De la Roque wat hier binne sit en wag wat my senuwees op hol het. Ek gaan nié weer daar in nie.”
Op dieselfde oomblik lui die diensklokkie. Jeanne kyk na die kombuisdeur asof dit ’n slang is wat haar sal pik. Dan bied Celèste aan om te gaan.
De la Roque bekyk die meisie deur half toe oë ’n oomblik lank swyend aan.
“Waar is die ander een?”
“Sy kan nie nou kom nie. Kan ek u met iets help, monsieur?”
“Bring die voetstoeltjie en sorg dat die vuur gestook word. Ek wil ook warm wyn met kaneel hê.”
Celèste staar hom aan. Hy maak hom werklik tuis asof dit sy huis is. Monsieur De Bordeaux gaan nie hiervan hou nie.
“Toe, toe, toe! Hoekom staan jy daar en ginnegaap! Doen soos ek gevra het en moet ook nie lyk asof ek iets is wat die kat van buite af ingedra het nie! Oor minder as ’n maand sal hierdie huis en die hele La Montagne aan my behoort! Jy kan maar solank daaraan gewoond raak om my bevele te gehoorsaam of vir jou ander werk gaan soek.”
Celèste wens haar werkgewer wil terugkom en hierdie man by die deur uitsmyt. Monsieur De Bordeaux sal egter minstens nog ’n uur lank weg wees. Hy kuier altyd lank by mademoiselle Madeleine. Met ’n ligte sug begin sy om sy bevele te gehoorsaam.
“Hy is stapelgek, Jeanne,” sê Celèste ontevrede toe sy terug is in die kombuis en die monsieur De la Roque se warm wyndrankie begin maak. “Wegjaag kan ek hom ook nie. Monsieur le comte sal my sowaar in die pad steek.”
“Opskud, vroumens!” brul De la Roque uit die woonkamer. “Ek het nie die hele dag tyd nie!”
“As monsieur De Bordeaux hom darem nóú moet hoor, kry hy sowaar ’n toeval!” sê Jeanne afkeurend. “Selfs nie eens mademoiselle Madeleine matig haar soveel aan nie en sy is al erg genoeg.”
Celèste neem De la Roque se wyndrankie vir hom.
“Hoe lank moet ek nog hier sit en wag tot De Bordeaux terugkom?” wil hy stuurs weet.
Celèste haal haar skouers liggies op. “Ek sal nie kan sê nie, monsieur. Die graaf is na mademoiselle Tredoux toe.”
“En hier sit ek soos ’n groot gek en wag dat hy moet klaarkry met sy vryery!”
Celèste word bloedrooi. Sulke banale uitlatings word nooit in dié huis gehoor nie.
De la Roque het opgespring, sy glas geledig en sy hoed gegryp. By die deur draai hy skielik om en sê: “Gee vir jou heer en meester ’n boodskap en maak seker dat hy elke woord hoor wat ek nou vir jou sê!”
Celèste knip haar oë ietwat verward. “Mais oui, monsieur! Wat is die boodskap?”
“Sê vir hom dat Louis de la Roque gekom het om op te eis wat regmatig syne is.”
Sy begryp nie wat De la Roque aan haar probeer sê nie.
De la Roque vererg hom. “My magtie, vroumens! Is jy dan heeltemal onnosel!” brul hy geïrriteerd. “Ek kom dié huis vat én die hele plaas en alles wat daardie vuilgoed van ’n De Bordeaux op sy naam het! Ek gaan tot sy armsalige titel van hom afneem!”
Hy draai om en laat ’n spraaklose, bewende Celèste agter om die verskriklike boodskap oor te dra …
3
Louis de la Roque se onwelkome besoek het Celèste nog meer verwar. Die hele ding raak al hoe meer onverstaanbaar. Sy kan nie wag dat De Bordeaux moet terugkeer sodat sy die oordra van die moeilike boodskap agter die rug kan kry nie.
Toe Armand de Bordeaux uiteindelik terugkeer, is hy egter nie alleen nie. Madeleine se pa is by hom en dus kan Celèste hom nie vertel van De la Roque se boodskap nie. Sy bly ongeduldig in die omgewing van die studeerkamer ronddwaal, maar dis amper twaalfuur die nag toe Tredoux uiteindelik uit die studeerkamer kom en van sy gasheer afskeid neem.
Celèste wag haar werkgewer aan die voet van die trap in. Hy is egter nie haastig om bed toe te gaan nie en teen hierdie tyd wil Celèste al omval van moegheid. Dus besluit sy om ’n groot oortreding te begaan en aan De Bordeaux se studeerkamerdeur te gaan klop.
Hy pluk die deur ietwat ongeduldig oop en probeer nie eens sy verbasing verberg toe hy sien wie sy middernagtelike besoekster is nie.
“Mademoiselle Du Toit! U weet dis ongehoord om my hier te kom besoek!”
Celèste sluk hard. “Je sais, monsieur, maar ek het ’n belangrike boodskap van monsieur De la Roque en ek kon nie wag tot môre nie.”
Die uitdrukking op sy gesig verander merkbaar. Celèste verbeel haar dat hy selfs verbleek het, maar sy is nie baie seker daarvan nie.
Hy trek haar die studeerkamer binne en druk die deur agter hom toe.
“Wat het De la Roque gesê?” wil hy weet.
“Hy … hy het gesê dat hy … alles kom vat wat aan u behoort, u titel ook. Hy het ernstig gelyk, monsieur, maar ek hou nie van hom nie. Hy is onbeskof en sonder maniere.”
“Ek het De la Roque nie nóú al verwag nie,” sê De Bordeaux bekommerd terwyl hy rusteloos heen en weer in die vertrek loop. “Hy het te gou gekom …”
“Hy was laat vanmiddag hier, maar u was by mademoiselle Madeleine, monsieur.”
Hy draai skielik om na haar en daar is ’n glimlag om sy mond toe hy sê: “Merci, Celèste. Jy kan nou maar gaan slaap. Dis al baie laat.”
Sy maak ’n ligte kniebuiging. “Bonsoir, monsieur …”
“Goeienag