Название | Elza Rademeyer Omnibus 4 |
---|---|
Автор произведения | Elza Rademeyer |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053682 |
“Bly stil, Mart. Jy weet nie waarvan jy praat nie. Jessica ís hier weg saam met Bennie de Lange.”
“Wat! En waar’s Jan dan nou? Dit was dan Jan wat haar by die losieshuis kom oplaai het vroeg vanmôre.”
“Dit was nie Jan … Ja, dit was Jan, maar Jan en Bennie is een en dieselfde mens.”
“Jy’t my nou skoon deurmekaar,” sê tant Mart. En dit neem ellelange verduidelikings van oom Josie se kant voordat sy besef daar het in werklikheid nooit ’n Jan van Zyl bestaan nie.
“So, jy wil nou eintlik vir my sê onse Jessica is nou saam met daardie gewetenlose wewenaar met sy hordes kinders hier weg?”
“Nee, Mart,” sê oom Josie moedeloos. “Dit was ook sommer bog, daardie wewenaar-storie. Bennie is nie regtig ’n wewenaar nie, en hy’t ook nie kinders nie.”
“Wat wie sê? Julia het dan nou net gesê hy is pa van háár kind!”
“Ja, maar dan is hy pa van net een kind.”
“Een wat ons van weet, ja,” sê tant Mart met groot misnoeë.
“Moenie nou nog lol nie, Mart. Ek vrees vir ons kind se lewe. Ek wil nie dink wat daardie Bennie-skepsel haar alles kan aandoen nie. Maar ek wil nóg minder dink aan wat gaan gebeur as Julia in haar histeriese toestand hulle loop injaag op die pad!”
“Dink jy sy sal hulle agternasit?” vra tant Mart bekommerd.
“Ek is seker sy gaan, Mart, ek dink jy moet vir my ook ’n tas loop pak. Tom! Tom, gaan roep gou vir ou Koos Stoepsitter. Sê vir hom hy moet die slaghuis kom oorvat.”
“Pak jou eie tas,” skree tant Mart toe sy wikkel vir die deur. “Ek gaan gou my tas ook pak en vir Sofie inlig wat om met die losieshuis te doen tot ek terugkom.”
’n Uur of wat later, nadat die petroljoggie op Biesiesdal hulle verseker het dat Julia ook háár motor daar volgemaak het vir ’n lang rit, jaag oom Josie en tant Mart in ’n stofstreep die dorp uit.
“Josie, is Bennie nie dalk getroud met Julia nie?”
“Dan sal almal op die dorp mos daarvan geweet het.”
“Hulle kon op ’n ander plek getrou het. Julia was vir ’n lang tyd weg, onthou.”
“Nee, ek het nou die dag nog met diktator Mouton self gepraat. Hy sou my gesê het as Julia getroud is.”
“Senator, Joos, oudsenator,” help tant Mart hom reg. “Maar jy’t jou ook nie gesê Julia het ’n kind nie, het hy?”
Oom Josie skud sy kop. “Nee, hy het nie. Dis seker hoekom Julia so lank weg was hier van Biesiesdal af,” bespiegel oom Josie. “Om die baba op ’n ander plek te loop kry.”
“Waar sou die kind nou wees?” wonder tant Mart hardop.
“Hulle steek hom seker in daardie kasarm van ’n huis op hul kleinhoewe weg. Ai, dat ek my darem so kon misreken met die Bennie-vent. En dit was toe nooit die radio wat ek gehoor het die oggend daar in die woonstel nie. Dit was die einste Julia se skril stem wat so ge-skattie het daar van die kombuis se kant af. Nou weet ek ook hoekom hy my nie binnegenooi het nie. Hy was natuurlik bang ek vind uit van sy harem.”
“Waarvan praat jy nou?” wil tant Mart nuuskierig weet, en oom Josie vertel haar.
“Dis nog nie al nie! Die oggend toe ons hom daar gaan oplaai het Kaap toe, was sy ook daar by hom.”
“Jy moet sien, hy is nog ’n getroude man, hoor! Anders is hy besig om sy vaderskap te probeer ontduik.”
“Ek dink dis laasgenoemde, Mart. As ons weer ons oë uitvee, is hy klaar getroud met Jessica. Dan kan hy mos nie gedwing word om met Julia ook te trou nie. Dis net wat dit is, jy moet sien!” Oom Josie trap sommer die lepel plat.
“Stadiger, Joos Landman! Wil jy my verongeluk? Onthou, jy’s al ’n ou man van sewentig, en op jou ouderdom is jy ’n gevaar op die pad.”
“Asof jy op ses en sestig nog ’n kuiken is,” brom oom Josie, maar lig darem sy voet so ’n bietjie van die pedaal af.
Kort duskant Mosselbaai, op die afdraaipad na George, tel hulle teëspoed op. Nie soseer oor die spoedgrens wat hulle oorskry nie, maar oor die gespikkelde rooi lap wat by die motor se agterdeur uit wapper.
“Josie, jy moet padgee. Hier agter ons ry ’n motor met ’n blou lig op sy dak, en die man beduie hy wil verbykom.”
“Hy kán mos verbykom, dis dan ’n dubbelpad.”
“Joos, dit lyk of die man aan die kwaad raak is. Hy waai en gaan nou vreeslik tekere hier agter ons.”
“Maar so ’n vloeksteen!” En toe sagter: “Mart, het jy gepraat van ’n blou lig?”
“Ja, hy’t ’n blou lig op die dak wat so al in die rondte draai.”
Oom Josie trap so vinnig rem dat tant Mart amper deur die voorruit vlieg.
“Jy wíl ’n mens verongeluk!” raas sy. “Pasop, Joos, jy is al skoon van die pad af!”
“Hou jou mond, Mart. Dis ’n verkeersman!”
“O, goeiste. Ja, jy wou mos! Ek het vir jou gesê jy jaag te vinnig!” En die oomblik toe die verkeersman langs oom Josie se venster verskyn, val sy weg: “Ek het hom gesê hy ry te vinnig, sersant, maar hy kan ook nie anders nie, want ons dogter is ontvoer en as ons haar nie betyds kry nie, kan die man haar straks vermoor. En as hý haar nie vermoor nie, gaan Julia haar vermoor!”
Die verkeersman kyk fronsend van tant Mart na oom Josie.
“Dis waar, kolonel,” sê oom Josie. “Hy’t ons bedrieg. Ek kon mos nie raai hy’s die pa van Julia se kind nie.”
“Wag, ek dink ons moet liewer voor begin,” sê die verkeersman verward. “Wie is ontvoer?”
“My dogter,” sê tant Mart. “Eintlik is sy ou Josie se dogter ook, maar ék is die een wat haar grootgemaak het. Van só groot af al,” babbel sy en beduie so ’n paar sentimeter van die motor se vloer af met haar hand.
“Haar naam?” wil die verkeersman weet terwyl hy ’n sakboekie uit sy sak haal.
“Jessica Pretorius,” verskaf tant Mart die antwoord.
“En deur wie dink u is sy ontvoer?”
“Jan van Zyl.”
“Nee, ou Mart se kop is deurmekaar, brigadier. Dis Bennie de Lange wat haar ontvoer het. Daar bestaan nie so ’n mens soos Jan van Zyl nie,” sê oom Josie vinnig.
“Meneer Pretorius, u sê dus vir my u dogter Jessica is ontvoer deur ene Bennie de Lange?”
“Nee, ek is nie Jessica se pa nie, kolonel. My van is Landman.”
“Ek verstaan. Sy is eintlik u stiefdogter. En u, mevrou,” beduie hy na tant Mart, “u is haar moeder, mevrou Pretorius?”
“My van is nie Pretorius nie, sersant. My van is …”
Die verkeersman sug moedeloos. Hy luister nie verder nie. Die twee oumense is te ontsteld om logies te dink. Hy sal die hele dag hier staan en praat en dan gaan hy nog niks wyser wees nie.
“Meneer,” spreek hy dan ook oom Josie aan toe daar ’n onderbreking kom, “die rede waarom ek u voorgekeer het, is oor hierdie lap wat hier by die agterdeur van die motor uit wapper.”
“Haai, dis dan my voorskoot,” sê tant Mart verbaas toe oom Josie uitklim om ondersoek in te stel. “Ek moes dit in my haas in die deur toegeslaan het. Jy sien, sersant, alles het so dol gegaan. Ek was al amper binne-in die motor toe ek agtergekom het ek het nog my voorskoot