Название | Elza Rademeyer Omnibus 4 |
---|---|
Автор произведения | Elza Rademeyer |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053682 |
“O, ou Nel Volstruisnek? Gaan jy Geluk koop?”
“Dis die plan, ja, oom.”
“Nie ’n sleg plaas nie. Net bitterlik verwaarloos. Ou Volstruisnek was nooit ’n wafferse boer nie, en vandat sy oorlede Hessie haar kop neergelê het, het daar niks meer op die plaas aangegaan nie. Sy was die een wat hom darem nog soggens uit die kooi uit gedwing het. En van wanneer af meen jy dan nou om jou hier te vestig?”
“So spoedig moontlik, oom. My plan is om Maandag terug te gaan Knysna toe. Dit behoort my nie langer as drie weke te vat om my dinge daar agtermekaar te kry nie, en soos oom gesê het, die plaas hier is maar erg verwaarloos, dus jeuk my hande om hier te begin om dinge reg te vat.”
“Het jy op Knysna ook ’n plaas?”
“Nee, my ouers boer daar in die distrik. Ek het vir ’n tyd lank saam met my pa geboer, maar nou het my jonger broer sy studies voltooi en sodra hy volgende maand sy diensplig voltooi, gaan hy daar voort met die boerdery. Ek wou maar altyd nog na ’n wingerdplaas toe. Dis hoekom ek nou Geluk kom koop het.”
“En hoe voer neef die naam?” wil oom Josie skaamteloos weet.
“Bennie de Lange, oom.”
“Nou maar bly te kenne, neef. Ek is Josie Landman, en daardie mooi nôi agter die lessenaar is Jessica Pretorius. Ongetroud,” verduidelik hy tot Jessica se verleentheid. En toe Bennie de Lange haar nogal ’n handdruk kom gee, bloos sy weer eens vuurrooi. Veral oor hy sy blik so openlik bewonderend oor haar laat gly.
“En waar bly jy nou intussen, Bennie? Op Geluk, of hier op die dorp?” begin oom Josie weer eens met sy uitvraery.
“Net hier skuins oor die straat, oom. Ek is tydelik daar in ’n vriend se woonstel. Danie Schoeman s’n.”
“Ja, natuurlik. Danie is mos met verlof nou, nè?”
“Dis reg, oom. Hy kom Dinsdag terug, maar dan is ek seker al weg Knysna toe. Dis te sê as ek plek gaan kry op ’n bus, want ek gaan my motor nou sommer hier los, dan kom ek met my vragmotor terug.”
Jessica kom agter dat sy sukkel om te konsentreer op die rekeninge voor haar na Bennie de Lange se vertrek, maar sy is nie al een wie se gedagtes by Bennie de Lange is nie. Oom Josie se brein werk oortyd. As die De Lange-outjie hom hier kom vestig en daar kan nou iets gebeur tussen hom en Jessica … So ongemerk loer hy na Jessica se kant toe. Die kind sukkel hoeka so om ’n man te kry. Nie dat sy nodig het om te sukkel nie, maar wie is nou hier op Biesiesdal na wie ’n mens twee keer wil kyk? Dis almal net ’n klomp fossiele soos hy en ou Mart. En die paar jong manne hier op die dorp is nie iets om oor huis toe te skryf nie. Jessica stel ook nie in een van hulle belang nie. Met haar fyn postuurtjie, mooi gesiggie en groot, groen oë kan sy kies en keur onder die mans – rooi hare en vinnige humeurtjie ten spyt. Maar nog nie een van die jong manne hier kon haar laat bloos soos sy vir hierdie De Lange-outjie gebloos het nie. En dink net, Geluk lê sommer net hier anderkant om die draai. As sy met die baas van Geluk kan trou, beteken dit mos sy sal straks nooit weggaan van hom en Mart af nie. Sy impulsiewe geaardheid laat hom dan ook dadelik oorgaan tot aksie.
“Jessica, ek is nou weer terug. Sê die mense moet net ’n rukkie wag as hulle vleis wil hê.” Hy glip sonder meer by die deur uit.
Jessica kyk sy koddige figuurtjie agterna toe hy oor die stofstraat draf, maar haar gedagtes is nie by hom nie. Dis by die aantreklike, sonbruin man met sy lenige figuur en potblou oë. Sou die man met sy mooi blink, swart hare getroud wees? Bennie de Lange het niks gepraat van ’n vrou nie. Sy bloos weer eens toe sy agterkom waarmee haar gedagtes besig is. Wie sê hy is nie verloof nie? Hy lyk nie meer so bloedjonk nie. Tag, kyk hoe lyk haar lessenaar van die werk wat nog gedoen moet word! En sy sit jou waarlik en droom oor ’n wildvreemde man. Saterdag begin haar verlof, en kyk net al die rekeninge wat nog moet uit!
Oom Josie klop hard aan Danie Schoeman se woonsteldeur, en toe Bennie die deur oopmaak, val hy dadelik met die deur in die huis.
“Ou seun, ek het gewonder of jy nie kan help nie. Wat doen jy Saterdag? Nee, maar as jy dan nie vas is nie, het ek gewonder of jy nie Saterdag saam met ons Kaapstad toe kan ry nie.”
Toe verduidelik hy breedvoerig van die prys wat Jessica gewen het en dat hulle nou iemand soek om haar motor daarvandaan na Biesiesdal te bring.
“Ek het nie Saterdag dinge aan die gang nie en dit sal vir my ’n plesier wees,” stem Bennie in, en oom Josie raak nog meer voortvarend.
“Jessica se verlof begin mos Saterdag. En jy weet, sy wil tog so graag die Tuinroete tot by Knysna rond gaan besigtig. Jy’t mos gesê jy ry ook Maandag Knysna toe. Jy kan mos dan sommer saam met haar ry. Dan het jy ’n geleentheid, en sy’t iemand wat haar motor kan bestuur.”
“Hoe gaan haar motor dan weer terug kom tot hier? Ek is mos van plan om met my vragmotor terug te kom.”
Daaraan het oom Josie nou nooit gedink nie, maar ’n boer maak ’n plan. “Ek en ou Mart sal haar gaan haal wanneer sy uitgekuier is. Sy en ou Mart ry dan in haar motor terug en ek in myne.” Hy sal maar later ’n plan bedink, dink hy so in sy enigheid. Bennie moet net nie in die tussentyd uitvind Mart weet niks van ’n motor se stuurwiel af nie.
“Ons sal maar sien, oom.”
Die musiek op die agtergrond breek plotseling af. “Tee en koekies is gereed, skattie!” Toe begin die musiek weer, en oom Josie, gedagtig daaraan dat Bennie dalk net so verknog is aan die radiostories soos Mart, groet dan ook dadelik, met die belofte dat hy en Jessica hom Saterdagoggend by die woonstel sal kom oplaai.
“Bennie gaan saam Saterdagoggend om jou motor terug te bring,” verras hy Jessica toe hy terugkom in die slaghuis. “Ons het so ’n bietjie gesels oor jou verlof en dinge ook. So oor als. En weet jy, toe die mannetjie nou hoor hoe graag jy nog altyd Tuinroete toe wou gaan, toe bied hy sommer aan om jou motor tot op Knysna te bestuur. Eintlik bewys jy hom dan ’n groot guns, jy weet, nè? So werk dit mos maar. As die een hand die ander was, kom albei geholpe.”
Daar wil ’n opgewondenheid in Jessica posvat, maar sy maan haarself tot nugterheid. “Ek ry nie saam met getroude mans nie, oom Josie.”
“Getroud! Wie is dan nou ’n getroude man? Tog nie Bennie nie! En, my kind, oom Josie wil nou nie vir jou preek nie, maar dit is darem nou hoog tyd dat jy begin dink aan trou. Jy moet weet, jy was darem al laas jaar mondig. As jy jou oë weer uitvee, sit jy bo-op die rak.”
Oom Josie is reg, dink sy toe sy die middag in die losieshuis aansit vir ete. Al haar vriendinne is al getroud. Baie van hulle het al meer as een kind. En wat het sy? Nog nie eens ’n vaste kêrel nie. Al wat sy het, wat baie van hulle nie het nie, is ’n stewige erfporsie wat haar ouers aan haar nagelaat het. Tog beteken dit ook nie veel nie, want sy kan nie eens ’n motor bestuur nie. Dus weet sy maar bitter min van die wêreld anderkant Biesiesdal. Vandat sy maar kan onthou, was tant Mart se losieshuis haar tuiste, en nadat sy in die Paarl vir onderwyseres gaan leer het, het sy teruggekom Biesiesdal toe. Te bang om alleen die vreemde wêreld daar buite te gaan aandurf, het sy maar liefs in oom Josie se slaghuis kom werk. So is sy darem by die mense wat sy liefhet. By tant Mart wat haar aangeneem het soos ’n eie dogter en by oom Josie wat op sy beurt weer glo sy is eintlik sý dogter. Twee liewe, goeie mense, al is die een net soos die ander. Twee regte ou korrelkoppe en alewig aan die baklei.
“Hoekom eet jy so sleg?” wil tant Mart weet toe sy die eetkamer binnekom en Jessica se bord bekyk. “Smaak die kos altemits sleg?”
“Daar’s nie fout met die kos nie, tant Mart. Ek is net nie honger nie. Oom Josie het toe iemand gekry wat Saterdag sal saamry Kaap toe om my motor terug te bring.”
“En wie is dit? Tog nie ou dowe Klaas van – ”
“Nee, tant Mart,” onderbreek Jessica haar sin. “Dis ’n nuwe intrekker. Tante sal hom nie ken nie. Hy’t Geluk gekoop en kom nou hier boer. Sy naam is Bennie de Lange.”
“Ek sien. En hoe lyk die man? Is hy al getroud, of is hy straks ’n wewenaar?”