Elza Rademeyer Omnibus 4. Elza Rademeyer

Читать онлайн.
Название Elza Rademeyer Omnibus 4
Автор произведения Elza Rademeyer
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624053682



Скачать книгу

skakel hy die motor aan en hulle ry in stilte terug Biesiesdal toe. Jessica kan aan niks dink om die stilswye te verbreek nie, maar in haar binneste bruis dit van vreugde en blydskap. Dis asof die verbyglyende landskap ook nuut geword het. Die lug is soveel helderder, die bome en gras soveel groener, en die beeste langs die pad lyk ook sommer rustiger.

      Haar mymering word egter wreed versteur toe hulle Biesiesdal se hoofstraat binnery en Julia Mouton se rooi motortjie in ’n stofwolk by hulle verbyjaag en reg voor hulle met skurende bande tot stilstand kom.

      Bennie los ’n kragwoord toe hy vinnig moet rem om nie agterin haar motor vas te ry nie. Die motor het kwalik tot stilstand gekom toe hy sy deur oopmaak. “Verskoon my net ’n oomblikkie, Jessica.”

      Sy leun vinnig oor om die deur, wat hy oopgelos het, toe te maak om te verhoed dat die dwarrelende stof die motor vul. Tot haar verbasing sien sy dat hy glimlag terwyl hy by Julia se motorvenster staan en gesels. Vir ’n oomblik was sy bang hy gaan haar ’n opstopper gee oor haar onverskilligheid.

      Dit verbaas Jessica ook dat hy geen opmerking maak oor Julia toe hy na ’n rukkie terugklim in die motor nie. Maar daar is nie tyd om daaroor te tob nie, want die oomblik toe hulle by die losieshuis kom, neem hy haar hand en trek haar saam met hom tot binne-in die kombuis waar tant Mart langs die tafel sit en koffie drink.

      “Ons kom sê net baie dankie vir die lekker kos in die piekniekmandjie,” bedank hy haar. “En dan ’n ander sakie: Jessica ry môreoggend saam met my Knysna toe. Ek wil haar aan my ouers gaan voorstel. Ons sal so oor twee weke terug wees.”

      “My goeistetjie, Jessica, Jan. Is dit nie ’n haastige besluit nie?”

      “Ons De La – ”

      ’n Harde skop van Jessica op sy skoen laat hom onthou, en hy korrigeer homself vinnig. “Soos ek sê, ons Van Zyls smee maar altyd die yster terwyl dit warm is, tant Mart. Het tante enige beswaar? Want dan moet ons dit nou sommer dadelik uit die weg ruim.”

      Tant Mart kyk na Jessica se stralende gesiggie en blink oë. Sy skud haar kop. “Nee, ek het nie beswaar nie. Maar, Jan, jy pas my meisiekind mooi op. Onthou, sy’s al wat ek het. Moenie my sagmoedige ou doggie se gevoel vir jou uitbuit of vertrap nie. Dan gaan jy met mý te doen kry. Of julle nou by ou Josie ook so maklik gaan verbykom met hierdie oorhaastige besluit van julle, weet ek nou nie. Maar jy sal hom ook moet ken in die saak, Jan.”

      “Moet ons nie maar nou vir tant Mart reghelp en sê wie ek regtig is nie, Jessica?” vra Bennie onderwyl hulle op pad is na oom Josie se huis langs die slaghuis.

      “Ja, ek dink ook dis tyd dat ons haar reghelp,” willig Jessica in, dog die geleentheid daartoe duik nie daardie aand op nie.

      In ’n lang preek waarsku oom Josie Bennie onder meer teen Jessica se vurige humeur wanneer sy dink sy word te na gekom. Hy vermaan hom ook om versigtig te ry.

      Toe hulle weer by die losieshuis kom, bemerk hulle dat tant Mart gaste gekry het.

      Die res van die aand bly Jessica besig in haar kamer met die inpakkery, aangesien Bennie die volgende oggend vroeg in die pad wil val.

      Die volgende oggend duik daar ook nie ’n geleentheid op om self vir tant Mart oor Bennie se naam en van reg te help nie, want sy is te besig om ontbyt voor te sit aan die loseerders. Hulle ry by oom Josie aan om te groet en hý onderneem om tant Mart in te lig oor wie Bennie nou regtig is.

      “Het jy ooit jou ouers laat weet ek kom saam?” vra Jessica later toe hulle eindelik op pad is.

      “Ag, dis nie nodig nie. Ek het Saterdagaand al vir hulle gesê ek bring dalk hul toekomstige skoondogter saam.”

      “Dink jy nie jy is ’n bietjie voortvarend nie?”

      “Ek dink nie so nie. Dink jy dalk ek is?”

      Die sydelingse blik wat hy haar gee, maak haar stom. Bedoel hy werklik al die mooi dinge wat hy sê? Sien hy haar werklik as sy toekomstige vrou? Hoe kan hy nou al so seker wees hy wil haar hê? Hy het haar dan nog nooit eens kwaad gesien nie? Dog, die moed ontbreek haar om hom reguit te vra.

      Net buite Riversdal merk sy ’n pronkende volstruismannetjie in ’n land langs die pad op en skuif opgewonde vorentoe. “Kyk daar, ’n volstruis!”

      “Ken jy volstruise?” vra Bennie.

      “Nie eintlik nie. Ek weet darem dis nie ’n olifant daardie nie!”

      Haar opmerking laat hom lag en hy leun ontspanne terug agter die stuurwiel, sy linkerhand vroetelend in haar nek onder die weelderigheid van haar koperglinsterende haredos. “Ons het mos geen haas nie. Het jy nie lus om ’n volstruis te ry nie?”

      “Is hier dan ’n volstruisplaas naby?”

      “Oudtshoorn is nie te ver uit ons pad nie. Ons kan altyd daar ’n draai gaan maak. Toe, wat sê jy?”

      “Het ek enige sê? Jy besluit mos vir my vanaf die oomblik wat jy my gesien het!”

      Hy lag weer.

      By die diensstasie naby Mosselbaai kom staan hy aan haar kant van die motor terwyl hulle wag dat die motor vol brandstof gemaak word. “Jy sê dis in die haak? Dan skiet ons nou deur Oudtshoorn toe. Ek dink ons bly sommer vannag daar oor ook. Daar is oulike, skoon chalets net voor jy die dorp uitgaan Kangogrotte toe.”

      “Jy darem!” sê Jessica toe sy ’n rukkie later agterkom hy neem wel die Oudtshoorn-pad. “Ons sal jou ouers moet laat weet as ons op Oudtshoorn gaan oornag!”

      “Is dit ’n bevel? Begin jy nou met jou streke om my te wil voorsê?” Maar daar is geen venyn in sy stem nie. “Jy sal jou daarby moet berus dat ek, as jou toekomstige man, ál die besluite moet neem. En waag dit net om jou teë te sit. Haai, sê my, is jy sagmoedig, of is jy befoeterd? Oom Josie het mos gesê jy kan goed beduiweld raak as jy die dag lus is. Is dit waar?”

      “Vind maar self uit,” terg sy hom.

      “Ek wonder darem of ons die regte ding gedoen het om Jessica hier te laat wegry het met daardie Van Zyl-kêreltjie,” sê tant Mart later die oggend toe sy oom Josie se slaghuis besoek.

      “Die Van Zyl-kêreltjie? O ja, die Van Zyl-kêreltjie. Sit jy solank vir ons die ketel aan. Ek wil jou juis iets vertel van die mannetjie.”

      Maar dis net toe oom Josie by haar kom plaasneem langs die lessenaar, dat tant Mart so skuins oor sy skouer die eienaardige gedoente in die deur raaksien. Sou dit iemand wees wat stofvere wil verkoop? wonder sy.

      “Waarheen is hulle?” bereik ’n ysige stemmetjie hul ore.

      Oom Josie ruk om in sy stoel, en tant Mart moet net keer of haar valstande val uit haar mond uit.

      “Waarheen is hulle? Moenie vir my jok nie, ek wil weet!”

      “Gedorie, is dit tog nie jy nie, Julia?” vra oom Josie deur die wind. “Vir wat mismaak jy jou so, kind?”

      “Waar’s wie?” vra tant Mart ook verbaas.

      “Waarheen is Bennie de Lange en Jessica? Is dit waar dat hulle sak en pak die dorp uit is vanmôre? Moenie probeer om my te bedrieg nie! Ek weet hy verkul my met Jessica!”

      “Nee, my kind, jy’s deurmekaar,” paai tant Mart. “Kom sit en drink eers ’n koppie koffie saam met ons. Dit sal help vir jou senuwees. Jessica ís die dorp uit vanmôre, maar sy is saam met Jan van Zyl na sy ouers toe op Knysna. Ek sou haar tog toelaat om met ’n wewenaar te knoei! Nee wat, kind, my dogter sal haar nooit met sulke mans ophou nie.”

      “Hou op om so te jok!” skree Julia histeries. “Ek weet mos sy is saam met Bennie hier weg. Die joggie by die garage het my self gesê. Maar ek gaan hulle kry. En ek sê vir julle nou, Jessica gaan boet! Ek laat nie die pa van my kind van my wegrokkel nie! Sy gaan boet! Hulle gaan albei boet!”

      Die volgende oomblik word die deur met ’n geweldige slag toegegooi, en die stofwolke dwarrel dwarsdeur die sifdeur toe Julia se motortjie met tollende bande wegtrek.

      “Goeiste!