Ontmoet my in Patong. Madeleine Malherbe

Читать онлайн.
Название Ontmoet my in Patong
Автор произведения Madeleine Malherbe
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624052043



Скачать книгу

Hy is opreg lief vir haar en dis verstaanbaar dat hy jaloers voel.

      Dis omdat hy haar so liefhet, weet sy, dat hy jaloers is op haar tyd en saam met watter mense sy kuier. Sy weet hy hou ook nie baie daarvan dat sy en haar vriendinne party aande gaan uiteet of saam ’n tranetrekkerfliek gaan kyk nie. As hy aan sy boek sit en skryf, vereis hy eintlik dat sy daar naby hom moet wees en vir hom tee aandra. As sy saam met haar vriendinne wil kuier, kies sy dus maar sy skaakaande, of aande wanneer hy moet klas gee vir nagraadse studente.

      Hy is deesdae baie ernstig oor haar. Wil net aldag van trou praat. Maar dis sy wat nie kans sien om ernstig te raak met die man nie. Sy het miskien nog nooit regtig oor Braam gekom nie, dink sy eerlik, en dis waarom sy nie met Dries tot trou kan kom nie.

      Sy kry weer die ou gevoel van verlies as sy dink aan Braam in Engeland by die beroemde St. Benedict-hospitaal. Sy sou so graag saam met hom wou gaan toe hy ’n bietjie meer as ’n jaar gelede oorsee is, maar hy het haar heeltyd verseker sy moet rustig hier bly, hy sal terugkom. Hy het haar eers elke week gebel en vertel wat in sy lewe aangaan. Watter nuwe mediese tegnieke hy geleer het, watter huis hy na gekyk het, watter geskiedkundige plekke hy oor die naweek besoek het. Daarna het hy meer e-posse geskryf en minder gebel. Hy het gou ’n uitstekende permanente pos losgeslaan en gee nou selfs klas. Sy weet hy sal nie nou meer maklik terugkom nie; dit lyk nie of dit gou sal gebeur nie. Van ’n verdere verhouding met hom is daar seker nie meer sprake nie.

      Pleks dat sy daardie tyd ook ’n pos in Engeland gesoek het! Dit was in daardie dae nog maklik om werk in Engeland te kry. Deesdae is dit al vir verpleegsters ’n bietjie moeiliker, en die Suid-Afrikaanse regering is baie daarteen gekant dat verpleegsters landuit gaan.

      Nie dat die regering salarisse in staatshospitale opstoot om hulle goeie personeel te behou nie. Inteendeel. In privaat hospitale soos hierdie van haar gaan dit beter, maar oor die algemeen verdien verpleegsters glad te min geld vir die lang ure wat hulle werk en vir die onontbeerlike diens wat hulle lewer. Om nie te praat van al die verantwoordelikheid wat hulle dra nie.

      Intussen het Dries ná Braam se vertrek die gaping raakgesien wat sy goeie vriend in Laura se lewe gelaat het, en hom al dieper in haar lewe ingevroetel. Omdat sy so ongeërg oor hom was, en hy haar aanhoudend verseker het dat hy haar heel, allerheelbeste vriend is, was sy stom verslae toe hy ’n maand of wat gelede verklaar het dat hy mal is oor haar en met haar wil trou.

      “Ek dag ons is net baie goeie vriende,” het sy hulpeloos gesê.

      “Lankal nie meer nie, erken dit maar self,” het hy aangehou. “Jy sal dit een van die dae sommer op ’n dag net weet dat jy lankal vir my lief geword het. Ons gaan al ses maande lank uit. Dis liefde, niks anders nie.”

      “Ek dink nie so nie,” het sy gekeer.

      “Gee kans,” was sy enigste antwoord.

      Van toe af het sy hierdie onrus in haar oor hulle twee. Sy weet sy moenie so onseker wees nie. Hy is dan die wonderlikste man op aarde. So begaaf – alles wat hy aanpak, doen hy goed. Speel hy sport, kom hy sommer vanself reg. Lees hy iets, ontdek hy die kern van die saak en onthou die belangrikste. Gaan hulle fliek, weet hy wie speel die hoofrolle en waaroor die tema handel. Kom politiek ter sprake, weet hy wie is in die nuus en het hy ’n sterk eie mening daaroor.

      Boonop het die man status. Mense sien op na ’n senior lektor wat ’n vak soos ekonomie op universiteit doseer. Daar is gerugte dat hy binnekort, voor hy veel oor die dertig is, ’n professor sal wees. Mense keer hom gedurig voor en praat met hom oor die baie reisartikels wat hy vir koerantbylaes en tydskrifte skryf. En ook oor die verslag wat hy vir die regering oor werkloosheid nagevors het. En so aan, en so aan. ’n Veelsydige, intelligente en produktiewe man. Sy kan haar ou skoene agterna gooi vir ’n man soos Andries Moolman de Villiers.

      Hy het ook, les bes, haar met sy skimpe en klagtes sover gekry om op te hou rook. Darem een baie goeie gevolg wat uit hulle verhouding voortgekom het. Daarvoor moet sy hom seker bedank: dis baie sleg as ’n verpleegster rook. Daardie rookasem so naby haar pasiënte! En die beslommernis om altyd iewers buite te moet gaan rook. Op ’n dag soos vandag sou sy byvoorbeeld moes koes vir die reën daar in die rokers se binnehof. ’n Mens noem nie eens hoe sleg dit op die lang duur vir jou gesondheid is nie.

      Dis beslis nog ’n pluimpie vir Dries: dat hy haar oorreed het om die liederlike rookgewoonte te laat vaar. Dit was uiters dom van haar om destyds as jong verplegingstudent sigarette van haar medestudente te aanvaar. Pleks dat sy toe nee gesê het, dan het sy nie nou so swaargekry nie, dit erken sy.

      Sy kan maar net daarvoor baie dankbaar wees teenoor Dries. Hy was streng met haar en sy het haar deur sy aanmoediging laat inspireer.

      En asof daar nie genoeg pluspunte omtrent Dries is nie: iewers in sy familie is daar geld ook. Hy ry met ’n wonderlike motor en hou vakansie op eksotiese plekke. Hy was self al twee keer in Thailand en sal dus nie aandring om oor Kersfees saam met haar te gaan nie, daarvan is sy oortuig. Hy het dit alles al gesien en gedoen.

      Sy weet sy sal moeilik weer so ’n fantastiese man kry. Hy is wel bietjie kort en sy hare raak bietjie min, maar hy is ’n gesagsfiguur, iemand wat respek en aandag afdwing deur sy sterk persoonlikheid. Sy behoort nou vinnig aan hom verloof te raak om te keer dat hy ’n ander vrou kies. Maar sy voel nie aldag so seker van haar hart en haar gevoelens vir hom nie. Miskien moet sy haar nou doelgerig op die verhouding toespits. Sy moet miskien van haar kant af haar flikkers gooi, seker maak dat sy hom behou. As sy net sekerheid oor haar gevoelens kan kry!

      En daarom móét sy na Phuket gaan, verseker sy haarself weer. Sy moet ’n slag behoorlik na Dries verlang, terugkom na hom toe, in sy arms kom val en verloof raak. Teen volgende jaar hierdie tyd moet hulle trou en al die onsekerheid agter die rug hê.

      “Ek kom, suster,” sug sy toe Dunster vir die hoeveelste keer vandag na haar roep, hierdie keer om vir ’n pasiënt vars water te neem.

      “Ek het ná middagete al die waterkraffies vol gemaak, die water is vars,” brom sy teenoor Anneleen. Maar sy gaan doen tog vredesonthalwe wat die suster haar beveel.

      Teen die einde van die dag is sy so moeg dat sy kan omval. Sy is nie regtig lus om in haar uniform te gaan uiteet nie. Boonop moet sy nou nog met die wildvreemde man ’n kastige vergadering hou. Daar is geen manier dat dit aangenaam kan wees nie: ’n vergadering is ’n vergadering. En as hy haar ’n paar drankies kan injaag, sal hy dit sekerlik doen in die hoop dat sy dan uit die huis sal praat, dink sy sinies.

      Of selfs by hom in die bed sal val, gaan haar gedagtes op loop. Sy het al van gevalle gehoor waar dokters die verpleegsters intimideer vir seksuele gunsies. Nou sal sy droëbek sonder ’n glasie wyn moet sit sodat hy nie van haar misbruik kan maak nie, haar nie kan uitlok tot ’n los-en-vas-pratery nie. En as sy hom van al die gevoelens teenoor die beheersuster sal vertel, sal hy sweerlik dink sy dik aan.

      Sy wens sy kan haar uit die afspraak wikkel, maar sy het nou ten ene male belowe dat sy sal gaan. Dis nou te laat om ander planne te maak. Sy is op slot van sake ’n betroubare mens.

      Toe sy tien minute laat by die Dros instap, sien sy Wynand nêrens nie. Miskien moet sy maar vinnig omdraai en spore maak, dink sy verlig. Hy het seker geloop omdat sy laat was. Hy was dus nie regtig ernstig oor die uitnodiging nie, besluit sy en kies die hasepad. Maar sy is pas by die laaste trappie af, toe hy met ’n geskarrel daar aankom.

      “Ek is jammer ek is laat. Die laaste operasie van die dag het onverwags ’n komplikasie opgelewer. Bly asseblief en eet saam met my. Asseblief. Ek sien al die hele dag uit hierna.”

      Hy raak ligweg aan haar elmboog. Sy huiwer ’n lang oomblik, maar laat haar dan na ’n tafeltjie in die hoek op die stoep stuur. Hy is selfversekerd, en dit laat haar goed voel om saam met so ’n aantreklike man gesien te word. In haar agterkop pla die feit tog maar dat Dries eintlik ’n bietjie te kort vir haar is.

      “Dis so lekker warm en stomend na die reën, dis heerlik om buite te sit, maar ek hoop nie die rokers pla jou nie.” Hy trek galant ’n stoel vir haar uit.

      Sy moet lag. “Tot twee weke gelede sou ek hier buite móés sit,” vertel sy. “Ek het soos ’n skoorsteen gerook.”