Название | Donatello en Volksie |
---|---|
Автор произведения | Marion Erskine |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624051077 |
“My liewe mens, dis ’n total disaster! Jou arme ding! Is jy seker jy meet reg?”
Zoë twyfel ’n oomblik en frons. “Hm … dalk sewe. Nee, kan nie meer as ses wees nie.”
“En Jan-Hendrik se woorde daardie aand was genoeg om my te laat besef dat daar ander, groter visse in die see is!”
Hettie lag so dat Zoë dink sy gaan nóú verdrink.
Zoë voel skoon verleë. “Kom ons gaan uit. Ek kry nou koud.”
“Oukei! Oukei,” praat Hettie tussen haar histerie deur. “Ek ook. Ek’s seker as ons mans was, het ons nou soos Dirk gelyk!”
“Sies vir jou!”
Hulle stap na die handdoeke en draai dit styf om hulle.
“Kom ons gaan stort en eet. Ek’s bleddie honger,” maan Hettie.
“Goeie idee,” glimlag Zoë.
“Maar ek wil alles verder van Dirk hoor!” lag Hettie weer van voor af.
’n Ruk later sit die twee in die bekende Squires on the Dam. Hettie smul heerlik aan haar steak. Zoë geniet haar kraakvars slaai en kan nie glo hoe honger sy is nie. Soos belowe, is die gesprek terug by haar en Dirk.
Hettie sluk ’n groot stuk steak af en glimlag half ongelowig. “So jý, Zoë, wat vir die hele wêreld ’n plekkie in jou hart het, los toe nou vir Dirk oor sy mushroompie?”
Zoë sit dadelik haar vinger op haar mond en wys vir Hettie om sagter te praat. “Nee, Hettie. Heng, so shallow is ek darem ook nie.”
“Nou vertel my dan,” gaan Hettie voort. “Just so you know, ek’s nou heeltemal afgeskrik van sulke mans en gaan van nou af dink almal van hulle lyk so!”
“Ons het probeer,” verduidelik Zoë. “Amper twee jaar lank. Maar dinge het net meer en meer uitmekaar begin val. Hy het my soos sy eie trofee behandel as sy pelle by was en heel beledigend en af en toe selfs gewelddadig geraak as hy begin drink het.”
“Het hy jou ooit – ” vra Hettie grootoog.
“O, hy moes probeer het om my te slaan,” val Zoë haar vererg in die rede. “Ek sou die bietjie wat hy gehad het met ’n stomp mes afgesaag het!”
“Mooi so!” lag Hettie. “That’s my girl!”
“Ek dink ek het eenvoudig te hard probeer wees wat ek gedink het hy wou hê. Hy’t ook altyd sy neus opgetrek vir my joga. Dit ‘airy-fairy’ genoem en gesê ek was mal om van my eie studio te droom.”
Dirk is al so lank uit haar lewe, maar sy argumente het nog steeds ’n uitwerking op haar.
Hettie roep die kelner nader vir nog ’n lemoensap. “So, hoe breek mens op met ’n Hell’s Angel?”
Zoë speel ’n oomblik met die groen servet op haar skoot en lyk behoorlik skuldig. “Ek het die oudste cliché in die boek gebruik.”
“Die ‘It’s me not you’-een?” vra Hettie.
“Einste!” Zoë skaam haar van voor af. “Ek het vir hom gesê dit werk nie, maar toe vra hy of my vibrator stukkend is.”
“Die vark!” roep Hettie kwaai en besef dan die hele restaurant staar na hulle. Sy loer dadelik weer vir haar steak en vervolg dan sagter: “Ek hoop jy’t hom goed in sy moer gestuur!”
Zoë knik. “Ek het hom mooi vertel wat ek van hom dink. En dit was die laaste sien van meneer.”
Hettie swaai haar steakmes gevaarlik in die lug. “Mans! Ek sê vir jou, hulle is almal bliksems!”
5
Die lemoen
Zoë plaas Boom se nuwe trommel op die lessenaar neer en gaan sit voor haar Mac. Wat ’n dag! Sy het hopeloos te laat saam met Hettie van Hartbeespoortdam af teruggekom en toe moes sy holderstebolder vir Boom ’n nuwe houer gaan soek. Haar voete is afgeloop, maar die vars lug het wondere vir haar verrig. Sy meld aan op Matchmate en tik vir Donatello ’n boodskap. Vandat Hettie haar kom aflaai het, kon sy die man om die een of ander rede nog nie weer uit haar gedagtes kry nie.
To: Donatello
From: Volksie
Subject: Die lemoen
Liewe jy
Jy’t seker gewonder wat van my geword het. Of altans, ek hoop so. Was saam met ’n vriendin Harties toe. Net lekker gechat. Het my die wêreld se goed gedoen. Ek is vanmiddag dorp toe. Sommer met die Vespa gery. Het jy geweet ek het ’n Vespa? My bietjie wat ek doen om die environment te red. Ha-ha. Anyhoo, ek het vir Boom ’n ander trommel gaan koop. Die mense by die plek het vir my laas week ’n glashouer gegee en as jy my track record ken met glasware, sal jy my nooit in jou huis toelaat nie. Ek breek mos als, jong. So, ek’t eers Boom se vorige houer met bubble wrap bygekom voordat ek hom uit die huis gevat het. Ek’s mos mal oor die wrap. Kan ure en ure daarmee sit en speel. Jy sal nie glo hoe amper onmoontlik dit is om ’n houttrommel in Jo’burg te kry nie! Skaars verby. En sê vir hulle dis vir jou hond se as en hulle kyk jou aan asof jy gom snuif of iets.
Ek moes toe maar settle vir ’n koekie-jar, maar dis mooi en ek dink Boom sou daarvan gehou het. Ons tweetjies (dis nou ek en Boom in sy nuwe bêreplek) het daar in die parkie hier naby my huis gaan sit. Ag, shame. Boom het so graag daar gaan speel. Selfs eenkeer ’n uitgegroeide kollie in dieselfde park probeer hump, maar die arme ding se ogies was nie te vars nie, en hy’t heeltyd die wyfie met myle gemis. Tien uit tien vir sy effort, though! But that’s a story for another time.
Maar hoekom ek eintlik skryf, is oor die oumense. Ek’s mos mal oor oumense. Hulle is genuine wys en mens moet net die moeite doen om na hulle te luister. Ek en Boom sit toe daar eenkant op die gras met die bubble wrap en speel en ek hou ’n tannie dop. Sy’t so aangesukkel-sukkel met haar loopraam, stomp mes in die hand. (Vader alleen weet waar sy dít in die parkie gekry het!) Eventually sien ek toe sy gaan sit langs hierdie ou oom. Ag, weet jy, Donatello, dit was vir my só mooi. Die manier hoe die twee mensies vir mekaar kyk. Daar’s nog so ’n connection, jy weet. Hulle is oud, maar daar’s hierdie magic tussen hulle. Die tannie het rondgekrap in ’n sakkie langs die oom en ’n lemoen uitgehaal. Stadig maar seker het sy die lemoen begin skil (met die stomp mes). Toe sy klaar is, breek sy ’n stukkie af vir die oom en ek sien hoe hy begin rondkyk. (Hy’t nie gesien ek kyk vir hom nie.) Die tannie het lekker gelag en twee tissues tussen hulle neergesit. Weet jy wat doen die oom toe? Ag, jitte, hy sit sy een hand bewerig voor sy mond en haal sy valstande uit en sit dit netjies op die tissue neer. En hy glimlag vir haar met sy pap bekkie en neem die skyf lemoen. Die tannie is nie hoe nie en sit haar tande ook mooi langs die oom s’n neer en vat ’n skyf. Sit die twee en lemoenskywe suig – en boonop sit hulle nog en hande vashou ook! Dit was waarskynlik een van die mees romantiese dinge wat ek nóg gesien het. Ek wil ook eendag só oud word. Met ’n maatjie om lemoene mee te deel. Wat is die geheim? Dié twee mense weet dit waarskynlik hul lewe lank al. Hoekom kyk mens daagliks na paartjies en jy kan sien die liefde is al jare by die agterdeur uit? Jong paartjies! Hoekom cope party mense bloot met mekaar, terwyl daardie oom en tannie nog altyd meer as net mekaar verdra? Hulle het saam-saam die lewe gelééf. Hulle is nog steeds verlief. Ag, sorry dat ek soos ’n regte girl klink. Wou dit maar net met jou deel.
V
Twee uur later kry Zoë ’n boodskap van Donatello:
Volksie, ek kan jou nie genoeg bedank vir jou boodskap nie. Ek het self saam met vriende gaan braai (op húl aandrang, natuurlik) maar dit het my besig gehou. Dit is ’n vreugde om hier voor my rekenaar te kan kom sit en iets só uit jou hart te lees. Die storie van die ou oom en tannie het werklikwaar my hart geraak en ek kan verstaan waarom dit vir jou spesiaal is. Ek het al dikwels gewonder of sulke liefde nog regtig bestaan in hierdie moderne eeu waarin ons vasgevang is. Miskien is die oumense se geheim dat hulle altyd net dieselfde gebly het; dwarsdeur die lewe, sonder voorgee, sonder om in te gee