Donatello en Volksie. Marion Erskine

Читать онлайн.
Название Donatello en Volksie
Автор произведения Marion Erskine
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624051077



Скачать книгу

Maar soms help dit nie net om goed te wees nie.”

      “Nee, toemaar,” sug auntie Patsy. “Ek verstaan, my poplap. Jy wil dalk net eers settle en weet daar is ’n man wat kan sorg. Sodra daar stabiliteit in jou lewe is, kan jy so ’n kans vat.”

      Zoë is skielik totaal gegooi hierdeur. Is dít hoe sy voel? Wag sy nog altyd net vir ’n man om hierdie stabiliteit te voorsien? Sy’t nog nooit daaraan gedink nie, en dit laat haar weer van voor af wonder. Dit is mos nie hoe sy is nie. Van wanneer af beplan sy haar lewe rondom die idee van ’n man en nie net vir haarself nie?

      “How is the love life?” praat uncle John die eerste keer vandat hy gebid het.

      “Ag nee, regtig, julle,” vererg Taryn haar. “Nou begin julle met Zoë ook?”

      “Dis nie goed om alleen te wees nie, my kind,” steek auntie Patsy dieselfde preek af wat al holrug gery is in die Davidson-huis.

      “Mum!” raas Taryn. “Times have changed. Women are more independent now. Ons trou nie meer om dieselfde redes as julle destyds nie.”

      “Zoë,” glimlag auntie Patsy en ignoreer haar dogter. “What do you think about relationships? Still keen to meet Mister Right?”

      Zoë soek vir die antwoord tussen die ertjies op haar bord en kyk op: “Ek glo aan Mister Right, auntie Patsy, maar nie noodwendig aan Mister Right Now nie. Ek’s nie desperate of iets nie.”

      “You see!” ondersteun Taryn haar. “Until death do us part is a long long time, Mum.”

      Daar heers ’n ongemaklike stilte om die tafel. Zoë is egter te besig met haar eie selfondersoek om daarna op te let. Wat as sy om die verkeerde redes mal is oor Donatello? Is hy die legkaartstuk wat gaan maak dat haar hele lewe in plek val? Is hy haar Mister Right Now? Hoe kan sy ooit eens so ver dink? Sy het hierdie man nog nie met ’n oog gesien nie. Dit is absurd! En boonop leer sy nou nog van feromone ook vanaand. Wat as hy aantreklik is en sy hom nie aantreklik vind nie? Of as hy nie lekker ruik soos Taryn verduidelik het nie? Hoekom weet sy nie hierdie goed nie? Dirk was Dirk en seks was seks, maar sy was nooit verslaaf daaraan nie. Skort daar iets met haar? Hoekom kon die lewe nie met ’n verdomde manual of iets uitkom nie?!

      “Dessert?” onderbreek auntie Patsy haar gedagtegang.

      “Dit sal lekker wees,” antwoord sy en Taryn gelyk.

      Dit help nie jy dink nou oor hierdie goed nie, raas Zoë met haarself. Geniet liewer die aand, want vannag is daar baie tyd. En soos sy haarself ken, sál sy tot ounag toe lê en tob oor hierdie goed.

      4

      Klein duimpie

      Die pad na Hartbeespoortdam is lank en besig. Hoewel die dokter vir Hettie Basson aangeraai het om lang ritte in haar laaste trimester te vermy, steur sy haar nie daaraan nie. Sy gaan nou glad nie alleen in haar reusehuis sit en wag vir die baba om eendag te kom nie. Hettie is een van Zoë se nuwe jogakliënte wat op aanbeveling van ’n ander vriendin by Zoë se deur kom aanklop het vir hulp tydens haar swangerskap. Sy werk nie en soms dink Zoë sy doen die joga bloot omdat sy eensaam is.

      Soos afgespreek, sit Zoë langs Hettie in haar splinternuwe Pathfinder. Hulle is op pad Hartbeespoortdam toe. Hettie wou niks daarvan hoor dat Zoë op Tweede Kersdag alleen by die huis bly nie. Zoë het tot laatnag by Taryn gekuier en wonder bo wonder nie ’n oomblik weer oor haar studio óf Donatello gedink nie. Sy het vroeg wakker geword, haar joga gedoen en nou voel sy nogal opgewonde oor die dag saam met Hettie.

      “Nee, jong,” lag Hettie, “toe hy sy broek begin losmaak, worry ek seriously, maar die volgende oomblik draai hy om, pluk sy onderbroek af en daar staan my naam in sierskrif op sy linkerboud geskryf!”

      Zoë ruk soos sy lag. Dit is die eerste keer dat Hettie haar van hierdie boyfriend uit haar universiteitsdae vertel.

      “’n Regte tattoo?” roep Zoë geskok uit.

      “So genuine soos wat hulle kom, girl!” sê Hettie en gaan aan met haar storie. “Hier staan Dewald met sy een oop butt cheek in my gesig in die middel van ’n posh restaurant en raai wat is in sy hand?”

      “Ek’s te bang om te vra.”

      “’n Ring, Zoë! ’n Donnerse trouring!”

      Zoë kan nie meer asem kry nie en die trane rol uit haar oë. “En toe sê jy ja?”

      “Natuurlik nie!” sê Hettie half in die gesig gevat. “Hy was eerstejaar. Ek was derdejaar. Hy’t net hierdie crush op my gehad en niemand weet waarom nie!”

      “En toe sê jy nee?” vra Zoë en kan nie help om te wonder oor die tattoo wat vir ewig ingepen is in die arme man se agterwêreld nie.

      “Of course, maar moenie worry nie,” vertel Hettie verder, “sy hart was nie té lank gebreek nie. Ses maande later is hy met ’n ander girl getroud! Sy was nét so weird soos hy!”

      “Maar wat dan van – ”

      “Die tattoo?”

      Zoë glimlag breed. “Jy lees my gedagtes, Hettie.”

      Hettie bars uit van die lag. “O vrekkit, nee! Ek het gedog ek sal nooit weer sy gat sien nie, maar eendag terwyl ek en drie pelle koffie drink, kom staan hy weer netjies voor my, deel ewe pronkend die nuus mee dat hy nou getroud is en laat net daar en dan sy broek wéér sak. In die middel van die spul mense!”

      Zoë se mond val letterlik oop. “En?”

      “En daar staan nou oor twee butt cheeks gesierskrif: Ek Hettie iemand anders as jou lief nie, Christel! Sy hele gat vol!”

      As Zoë nie twintig minute gelede by die Caltex-badkamer ingeloer het nie, was dit nou te laat. Sy lag so dat sy letterlik opgekrul op die sitplek lê.

      “Turn left at the next exit,” kondig Hettie se Garmin aan in ’n aksent wat Zoë amper nie kan uitmaak nie.

      “Don’t even ask,” rol Hettie haar oë. “Bleddie ding het vasgehaak op ’n Skotse aksent en ek het weer die manual weggemoer!”

      Sy draai links en oomblikke later lê die Hartbeespoortdam voor hulle.

      ’n Paar uur later staan Zoë in Hettie se reuseswembad en kyk na al die aktiwiteite op die dam onder haar. Die vorige keer wat sy hier was, was daar net ’n paar mense wat gewaterski het. Dit was ook ’n goeie vyftien jaar gelede. Zoë kyk terug na die indrukwekkende huis waarin hulle vanaand bly. Hettie het dit ook uit haar skeisaak gebuit en sy maak seker sy gebruik álles wat sy uit die onderhandelings kon kry. Zoë dink skielik aan Donatello. Sy’t hom nie eens laat weet dat sy saam met Hettie Harties toe kom nie. A nee a, hoor sy haarself redeneer, vir wat moet jy jou doen en late aan ’n man verduidelik? Sy wonder darem of hy ook aan haar dink.

      Zoë gewaar eers Hettie se hoogswanger lyf en toe die kenmerkende rooi hare toe sy nader gestap kom. Sy dra ’n groen kostuum met ’n slangvelmotief en met haar magie lyk sy behoorlik soos ’n slang wat pas ’n volstruiseier ingesluk het. Dit is waarskynlik wat die buuromie ook dink terwyl hy haar oor die kort wit heining aangaap.

      “Ja,” sê Hettie bot na sy kant toe, “my baby kom binnekort, wanneer kom joune?”

      Die ou oom gooi haar ’n vuil kyk en stap vererg die huis in.

      “En daai noem mens nie ’n Speedo nie,” skree Hettie agterna voordat sy die water instap. “Daai is ’n Speedon’t!”

      Zoë skud net haar kop. Hettie Basson is nie iemand wat jy as vyand wil hê nie.

      “Het iemand al vir jou gesê jy’s highly entertaining?” vra Zoë.

      “All the time!” lag Hettie en gaan lê op haar rug in die water. “Thanks dat jy saam met my gekom het!”

      “Dankie dat jy my genooi het,” bedank Zoë haar vriendelik. “Dis so mooi hier.”

      “Wel, dis nie so lekker as jy dit alleen moet doen