Sondag van die silwersee. Maretha Maartens

Читать онлайн.
Название Sondag van die silwersee
Автор произведения Maretha Maartens
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050551



Скачать книгу

bring sy eie ondeug saam: plante en sade en dwelms en wie weet wat. Nee, ’n mens moet jou hand op ’n huis hou as jy van plan is om daarin te bly leef.”

      Ek knik instemmend.

      “Oom laat my aan my pa dink,” sê ek. “En dis ’n kompliment.”

      “Ek en die oukêrel het gekliek toe julle na die huis kom kyk het,” sê Buurman. “Ons sal die land en die wêreld behoorlik uitsorteer as hy weer kom kuier.”

      “Ek dink nie my pa sal ooit weer kuier nie,” sê ek. “Hy het ’n beroerte gehad en word 24 uur van die dag versorg. Ek bid maar net dat ek sy toestand verkeerd lees.”

      “Ai tog, ai tog,” sê my breedgespanne buurvrou simpatiek. “En jy, so alleen hier in die Kaap. Of is jy en jou vriend – die jong man wat in November saam met julle hier was – toe ondertussen getroud?”

      Sy verwag ’n antwoord van my.

      “Ons maak maar eers doodseker,” kry ek ’n antwoord aanmekaargetimmer.

      “Altyd ’n goeie ding,” sê my buurvrou. “Ons het dieselfde gedoen, en hier is ons nou al agt en veertig jaar lank getroud.”

      “Jjja-ppp,” sê Buurman. “En glo my, nék-omdraai het ons dikwels oorweeg, maar skei? Nooit nie.”

      “Dons was onmóóntlik toe hy jonk was,” vat my buurvrou vlam. “’n Vuurvreter as daar ooit een was. Baklei op elke kerkraadsvergadering. Kan nie van politieke vergaderings af wegbly nie, en as hy daar is, neem hy die vergadering oor. Ek het my morsdood geskaam.”

      “Dit kon ek nog nooit verstaan nie,” sê Buurman. “Die vreeslike geskamery. Sy’t tog voor die troue geweet waarvoor sy haar inlaat!”

      “Die ergste was etenstye,” sê Buurvrou. “Ons het destyds nog op Aberdeen gebly; jy weet hoe dit op die platteland gaan. Hy was in die polisie . . .”

      “. . . voor ek gaan boer het,” sê Buurman.

      “Die polisiestasie was twee blokke van die huis af,” sê Buurvrou. “Dons kon huis toe kom vir middagete. Ons het ’n buurtannie gehad wat nie ’n sáák met tyd gehad het nie. Halftwaalf, kwart oor twaalf kom drink sy tee. En dan raak sy aan die gesels. Dons het dié storie een of twee keer verduur, toe skakel hy oor na plan B. Hy het eenvoudig sy mes en vurk op die tafel oorkant haar uitgepak, die sout-en-peperpotjies voor hom neergesit, sy servet by sy kraag ingesteek en gewág. Ek het dan so verbouereerd geraak dat ek vir hom eiers gaan bak of ’n omelet gemaak het. Maar hy is nie eintlik een vir eiers nie. Een of twee keer se eiers, toe sê hy reguit vir die antie wat so ingeburger daar sit: ‘Nou ja, ek sien tannie maak aanstaltes om te gaan; tannie het seker ook verpligtinge dié tyd van die dag.’ Sy het aanstoot geneem en by ander tafels gaan praat; die hele Aberdeen het geweet watter kwaai man die arme ou pasgetroude vroutjie het.”

      “Dis ounag, my vrou,” sê Buurman en rangeer my met die regte hand-en-armbewegings gangdeur se kant toe.

      “Los soggens sommer die roldeur oop as jy skool toe ry,” sê hy. “Ek sal dit agter jou toemaak as jy uit is. Dis beter om vroeg op die pad te kom – die verkeer hier op Somerset-Wes en Stellenbosch se kant toe is iets aardigs. Die hele wêreld is mos deesdae hier in die Kaap. En vandeesweek gaan dit nog erger word met die Suidoosterfees en die J&B Met en als. Dan kom die kinders ook nog met die busse. Daardie manne sal hulle ry moet kén, dis ’n vinniger soort bergpas hierlangs as in die Sneeuberge.”

      “Alexander bestuur al jare lank sy pa se skaaplorries, my man,” sê my buurvrou. “Natuurlik moet ons bly bid vir hulle veiligheid, maar ek sê maar net.”

      Ons loop gangaf. Buurman skakel nie die lig aan nie; dalk vertoef ek dan langer.

      Ek sien portretglas in die halfdonker glim. Agter die portretglas is daar foto’s, waarskynlik dié van die bure se uitgebreide familie. Met die inkomslag al het die talle graadvangfoto’s en groepfoto’s my opgeval.

      “Môre is dit die dag van die vullislorries,” sê Buurman agter my. “Jy hoef nie te stres nie. Ek sal jou vullisdrom vir jou uitrol.”

      “My vullisdrom is nog taamlik leeg,” sê ek. “Al my goed is nog in hulle bokse.”

      “Die tannie sal jou help as jou gordyne some moet kry,” sê hy. “Maar jy sal tee vir die ou vrou moet bly aandra. Rooibos, sonder melk en vier teelepels bruinsuiker. Sy glo witsuiker is ongesond, dit maak glo vet.”

      4

      Dis nag, weet ek. Nie net buite die gordynlose vensters van my vissermanshuis nie, maar ook op my selfoon se skermpie. Dalk het ek ’n berekeningsfout op die ingeboude sakrekenaartjie gemaak. Spandeer ek tweehonderd drie en negentig sent, is ek onderdeur, in die rooi, kniediep in ’n krisis.

      Ek is rééds kniediep in ’n krisis, maar ek wil dit nie op ’n skermpie in die palm van my hand sien nie.

      Die toegeplakte bokse staan om my. Die vensterbanke is vol stof. ’n Kokkerot hardloop oor die vloer, maar ek sit waar ek sit: op een van die twee stoele in die kombuis.

      Ek maak somme asof ek nog op skool is en eksamen skryf. Moenie sommer jou antwoordstel ingee nie, het Pa voor elke wiskunde-eksamen gesê. Maak dubbel seker. Jou mamma het ’n wiskunde-kop gehad, maar met wiskunde-kop en al het sy nooit op haar louere gerus nie.

      Ek maak dus dubbel seker. Die somtotaal van my basiese finansiële verpligtinge lyk soos ’n gekkedaggrap op die selfoonskerm, maar dis die einde van Januarie. Ek het ’n huis gekoop. Dis nie ’n gekkedaggrap nie; dis die verpligtinge van ’n huiseienaar wat ’n paar maande gelede nog ’n onbesorgde student was.

      Huispaaiement. Brandstof. Water, elektrisiteit, munisipale dienste. Eiendomsbelasting. Selfoonkontrak, selfoonoproepe. Kos. Klererekening (verlede winter se klere). Vervoerkontrakteursrekening.

      Mediese fonds (Pa het daarop aangedring). Assuransie (Pa het gesê hulle kan hulle tjappe maak dat die bedrading in orde is, maar hy sal dit eers glo wanneer hy self in die plafon van hierdie ou huis rondgekruip het). Begrafnispolis (wie gaan dood as jy 22 jaar oud is, maar Pa het sy voet neergesit).

      Besoek aan Pa, 1 500 kilometer ver, 3 000 kilometer retoer (want wie sou ooit kon dink dat die Doodsengel so knaend op Pa se spoor sou bly?).

      O, die goeie, oue tyd.

      Die voordeurklokkie: klaerig en op sy laaste bene, maar nietemin.

      Dis Andrew, weet ek met die opstaan van die deurmekaar kombuistafel af. Ek hoef sy silhoeët nie eens deur die stowwerige glaspaneel in die voordeur met die nuk in die slot te sien nie.

      Ek maak die deur oop en hy staan daar asof ’n profesie so pas in vervulling gegaan het.

      Hy glimlag kopskuddend, ai, Farah, ai, ai. Hy het voorspel dat ek my fout sou agterkom, dat ek wel sou ontdek dat ons twee vir mekaar bestem is. Hier het dit nou gebeur, al probeer ek dit steeds ontken.

      “Jy’s nie oukei nie,” sê hy. “Is dit die ding van die skool? Die vark.”

      “Hoe weet jý van die skool?” trap ek die wip af.

      “Ek werk by ’n koerant, het jy vergeet? Twee minute nadat die nuus ingekom het, weet almal dit.”

      Hy gee my die gesigkyk. “Die ouers?” omskep hy die stelling in ’n vraag, soos hy gereeld doen wanneer hy oorskakel na Andrews.

      Ek kan die stellingvraag sonder hulp in Afrikaans vertaal: Dink jy die ouers sal stilbly? Hulle het die koerant geskakel. Kon jy dit nie self uitgepluis het nie, my liewe klein Farah?

      “Maar jý,” sê Andrew en stoot my voordeur agter hom toe. “Hoe raak dit jou?”

      “Ek het jou nie ingenooi nie,” sê ek.

      “Ek weet,” sê hy. “Ek aanvaar jou verskoning.”

      Ek neem voor hom stelling in en span my arms oor die breedte van die gang.

      “Ek het jou nie