Sondag van die silwersee. Maretha Maartens

Читать онлайн.
Название Sondag van die silwersee
Автор произведения Maretha Maartens
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050551



Скачать книгу

die hamer op die kop,” sê Buurman met ’n stem wat geen twyfel laat dat hy dié dreigement tot die laaste letter sal uitvoer nie.

      “Die ander kant wen altyd in die hof, hart,” waarsku Buurvrou.

      Haar stelling klop presies met wat ek al heeldag ervaar, maar ek voel nie gemaklik oor die waarskuwende klank in my buurvrou se stem nie.

      “Dis ek, oom!” roep ek dus hard en duidelik deur die oop venster bo my kop. “Farah van langsaan.”

      “Dis die meisie wat die huis hier langsaan gekoop het,” lig Buurman vir Buurvrou in. “Die een wat skoolhou.”

      “Die een wat wát voorhou?” vra Buurvrou.

      “Skóólhou,” sê Buurman. “Die kunsjuffrou.”

      Hy steek sy kop deur die oop venster. “Het jy moeilikheid, meisie?”

      “Dis my voordeur,” sê ek. “Ek sukkel nou seker al ’n kwartier lank. Ek kry dit nie oop nie.”

      “Maar hoekom het jy nie sommer dadelik gepraat nie, nooi?” vra Buurman. “A nee a, dis nie hoe dit hier in die Kaap werk nie. Ek maak oop, voor. Kom sit so ’n bietjie by die tannie, dan kyk ek of ek nog die slag met daardie deur het.”

      Hy trek sy kop terug.

      Ek voel-voel my pad muurlangs in die onbekende erf terug, dankbaar vir die straatlampe voor my. ’n Hond op ’n onafhanklike sypaadjiewandeling hoor of ruik my en steek viervoet aan die ander kant van my buurman se werfhekkie vas. Hy begin blaf soos ’n bloedhond, bene stokstyf, keelgat halfpad toegeslym van stres en opwinding.

      Ek stoot my buurman se hekkie van binne af oop, raap ’n leë koeldrankblikkie vlak voor die steekhaarbrak se neus van die sypaadjie af op en slinger dit met mening na die blaffende dier.

      Mens behandel mens stief. Stiefbehandelde mens krop ontsteltenis heeldag op. Dier verskyn ná moeilike dag voor stiefbehandelde mens. Stiefbehandelde mens skop dier wat van geen sout of water weet.

      Ek skop darem nog nie, alhoewel ek baie lus is om dit te doen. Die inmekaargedrukte koeldrankblikkie hop kletterend oor die geteerde sypaadjie. Die hond, wat net rakelings getref is, tjank hoog en draf koes-koes weg, sy oë soos rooi kooltjies.

      Ek skaam my vir myself. Maar my buurman het die lig in sy voorportaal aangeskakel. Hy sluit sy voordeur van binne af oop. Ek glimlag die alles-in-orde-face-die-horde-Olivier-glimlag. Ek is immers my pa se kind.

      “Hy’s oop,” sê my buurman en sit ’n veselagtige voorwerp, ’n bruinerige loefa, op die vensterbank neer. Dis lig en droog; dit land geluidloos soos spookasem op die vensterbankteëls.

      Ek sit as ’n beter ingeligte nuwe intrekker langs my buurvrou se bed. Almal in die straat – het ek nou by my buurvrou gehoor – was bly toe die huis wat ek so halsoorkop gekoop het in die mark gekom het. Die vorige bure se kinders was onmóóntlik. Kinders is deesdae in elk geval onmoontlik, maar so iets het jy nog nie beleef nie.

      Die kerk is net om die hoek. Vakansietye sien jy jong gesigte daar: binnelandse kinders en kleinkinders wat op die oupas en oumas toesak. Gedurende die skoolkwartaal is die gemeente oud, maar eintlik verkies Buurvrou dit so.

      Die Strand het nou ook glo ’n paar klubs vir jong mense: raveplekke en klubs en plekke waar daar stadsdinge aangaan, maar daar was al klagtes. Dis dalk veiliger om eers die kat uit die boom te kyk.

      Van katte gepraat: dis ’n katdoodrystraat hier voor die deur. Die mense jaag verskriklik, veral snags. Die vorige bure het op ’n tyd ses katte gehad: hulle is met één hier weg, die ander is almal doodgery.

      “Vandag het jy ’n kat, môre is hy daarmee heen, want hierdie straat is mos ’n resiesbaan,” sê Buurvrou.

      “Ai, julle vrouens met julle vrese oor gister en vandag en môre,” sê Buurman en skakel die TV af.

      Buurvrou kyk hom verwytend aan, maar hy laat hom nie intimideer nie. Sy stryk die frons tussen haar wenkbroue dus maar weer van binnekant af uit.

      “Groot geblêr en weinig wol, dié affêre in Amerika,” sê Buurman. “Ek het gedink daar sal ’n paar van die Amerikaners se jets oorvlieg of hulle sal duiwe loslaat of daar sal vuurwerke wees, maar dis ’n afskeepbesigheid daar oorkant. Al lyk ons paaie soos wat hulle lyk, moet ek darem sê: as ons president ingehuldig word, maak ons meer van ’n ophef daarvan.”

      “Sal die meisie haar deur kan sluit?” vra Buurvrou.

      “Van binne af kan sy sluit én uitkom,” sê hy. “En daar’s ’n grendel ook.”

      “Oom het my lewe gered,” sê ek dankbaar.

      Hy werskaf met die kussings agter Buurvrou se rug. “Maar dit los nie jou probleem op nie. Die lollery kom by die oopsluit van buite af. Die slot is so uitgeslyt soos ’n ou mens se heuppotjie.”

      “Ek het nie geweet nie,” sê ek.

      “Hoe sal jy nou ook weet?” Sy agterkop staan hoekig, korrelkop gebore. “Alles gebeur mos maar met die intrekslag. Eers as ’n ou mens by jou intrek, vind jy uit van die heup se potjie. Eers as jy by ’n ou huis intrek, vind jy uit van sy skete.”

      Hy draai om en gee my die kyk van ’n óú gadeslaner.

      “Die mense voor jou het mos net gehuur, altyd ’n slegte voorbode. Hulle het een van die kinders – so ’n sening van ’n skepseltjie – gereeld deur die venster laat klim. Die ma stoot van onder af, die pa baklei omdat sundowner-tyd verbygaan. Toe verloor hulle boonop die voordeursleutel. ’n Geween en gekners van tande, want die een trek toe en die ander een wil juis by die voordeur ín en dis oor en weer verwyte . . . Ek en die tannie is ook maar dankbaar hulle is vort.”

      “Hulle hét hulle mooi eienskappe gehad,” sê Buurvrou.

      “As jy lank daarvoor soek, soos vir olie,” sê Buurman. “So, meisie, nou weet jy: ek het ’n loeper vir noodgevalle. Ondertussen moet jy die slot maar elke keer benáder.”

      Loeper? O, loper.

      Hy hang die loper aan ’n sleutelhaak met sleutels van alle vorms en groottes.

      “Later as jy goed ingeburger is, moet jy dit dalk maar oorweeg om ’n nuwe slot te laat insit. Dit gaan jou net kós, met daardie deur.”

      “Gaan skakel vir ons die ketel aan, hart,” sê my buurvrou vir hom. En vir my: “Ons drink gou ’n koffietjie. Ons moet darem vir jou sê ons is bly jy’t hier langs ons ingetrek, Farah.”

      “Dalk ’n volgende keer,” sê ek. “Ek bly nog tussen die bokse; ek moet gaan uitpak.”

      My buurman tel die bruin loefa van die vensterbank af op. “Dalk het jy nog nie tyd gekry om by die winkel uit te kom nie. Hier’s solank vir jou ’n vadoek. Jy’t seker maar heelwat om reg te vat daar oorkant die muurtjie.”

      “’n Vadoek, oom?”

      “Die goed vervuil in die tuin,” sê my buurman. “Ek het al seker by die ses dosyn van hulle hier aan my kant van die muurtjie gepluk. Al die ou vrouens in die straat was nou skottelgoed met dié vadoeke uit my tuin.”

      “Ek het altyd gedink loefas groei net in Indië,” sê ek.

      “Ek plant hulle self,” sê Buurman. “As jy by jou kombuisvenster uitkyk, sal jy die laastes aan jou kant van die werfmuur sien hang. Lelike plant, wilde ranke, maar in die blomtyd is die blomme iets vir die oog, en die loefa self lyk darem so half op ’n komkommer. Die ou vrouens is gaande oor die goed. Maar wag, ek sien jy’s haastig. Jy moet maar roep as ons met iets kan help. Probleme sal jy optel, dis die lewe. Veral met huurders – hulle maak dit twee keer meer. Gee mos nie om nie; dis anderman se goed en hulle doen hom ’n guns om hom vir die dak oor hulle kop te betaal.”

      “Die vrou was maar sitterig,” beaam Buurvrou.

      “Voor die TV,” kleur Buurman die prentjie klaar in. “Kyk sepies, rook, los die skottelgoed in die wasbak – nie dat