Sondag van die silwersee. Maretha Maartens

Читать онлайн.
Название Sondag van die silwersee
Автор произведения Maretha Maartens
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050551



Скачать книгу

klein sleutel wat die eiendomsagent in ’n bruin koevertjie afgegee het, droë veldblommetjies bo-op geplak (siende dat ons in die Kaap is). Sy het tog sekerlik nie ’n fout daarmee gemaak nie?

      Ek probeer van die ander sleutels. ’n Vermorsing van energie.

      Die nagdonker val soos ’n swaar kombers oor die straat en die huise. Alles is anders hier in die Kaap. Eers gaan die son nooit onder nie, dan val hy soos ’n komeet agter die wolke in en gaan hy onder asof dit die einde van aardse tyd is.

      Langsaan volg my bure Barack Obama se inhuldiging op televisie. Hulle kamervenster is oop. Vir húlle waai die wind aan die ander kant van die huis.

      Die seremoniepersoon by die presidensiële inhuldigingsplegtigheid is ’n vrou, klink dit vir my. Een wat nie nonsens vat nie. As ék maar vandag sterker op my regte gestaan het. Ek moes by die heer Lotter uitgekom het. Yann Lotter. Met twee n’e. En ’n Y in plaas van ’n J.

      Voor die toe hekke van die ou meubelfabriek wat dan kwansuis die dorp se prestige kunsskool sou word, het ’n reus van ’n man – een van die ouers – die stelling gemaak dat Yann Lotter landuit is. As kitsmiljoenêr, met 360 voornemende leerders se skoolgeld in sy sak. Die bankrekening waarin die inbetalings gemaak is, is natuurlik gestroop.

      Die ouers het die praat van magtelose, ingeloopte mense gepraat. Yann Lotter was so wonderlik tegemoetkomend en begrypend, het hulle vertel. Hoe aandagtig het hy nie geluister terwyl hulle hul persoonlike omstandighede aan hom verduidelik het nie. Hy het agteroor gebuig om dit vir hulle makliker te maak.

      Kinders met drome moet die geleentheid kry om hulle ideale te verwesenlik, het hy gesê. By Uil&Kameel gaan dit oor die kind, oor die nuwe generasie in die landskap van die toekoms. Die skoolgeld by Uil&Kameel is miskien effens hoër as by ander skole, maar geld mag nooit ’n struikelblok op ’n talentvolle kind se pad word nie. ’n Kind soos Wayne/André/Lisa/Clarabelle/Joshua/Victoria durf nie by hierdie skoolhekke omdraai nie. As ons dus vanjaar die skoolgeld vir hierdie uitsonderlike kind met twintig persent verminder . . .?

      “Daardie swendelaar landuit?” het een ma sinies gesê. “Hy’s hier in die Kaap, want dis waar hy sy schemes uitwerk en uitvoer. Sy buddies in crime is hier. Hou die koerante dop: Yann Lotter gaan weer toeslaan.”

      En met ’n simpatieke sug in my rigting: “Hou jou oë oop, juffrou. Êrens gaan jy jou in hom vasloop.”

      Yann Lotter kan langs my kom staan en ek sal nie weet dis hy nie, wou ek sê. En dis my eie skuld. My pa het gewaarsku: “Gaan eers Kaap toe, gaan ontmoet die skoolhoof. Papier is geduldig, my kind. En kaartehuise word ook van papier gemaak.”

      Ek het van beter geweet. “Dis swart op wit, Pa. Geteken, gestempel, waterdig. Dis die pos waaroor ek gedroom het. Ek gaan mos later vanjaar Kaap toe om ’n woonstel te soek. Dan sal ek sommer ’n draai by Uil&Kameel maak.”

      “Jy moet onthou die skole sluit deesdae vroeg,” het hy gewaarsku. “Jy gaan voor ’n toe hek te staan kom.”

      “Ag, Pa,” het ek gesê. “Pa is darem maar agterdogtig!”

      Kaartehuiskaarte word van papier gemaak! wou ek dit vanoggend voor daardie gegrendelde hek uitskreeu. Dis wat my pa altyd gesê het toe hy nog kon praat. Die meeste van julle het ’n halfjaar se skoolgeld verloor. Sommige – dalk juis dié wat hulle hande deurwerk vir ’n geleerdheid vir hulle kinders – het ’n jaar se skoolgeld vooruit betaal, net ingeval die skoolgeld later verhoog word.

      Ek gaan my vissershuis verloor, want ek is die kunsonderwyseres met wie Yann Lotter by julle gespog het. Dis mý kalwers – of telefoonoproepe, dan – waarmee hy in sy sogenaamde kantoor geploeg het.

      Yann Lotter het my aangestel in ’n pos wat hy op papier geskep het. ’n Kaartehuispos in ’n kaartehuisskool.

      Ek staan hulpeloos uitgesluit op my stoep, onseker oor die volgende stap. Die bure maak kennelik reg vir die nag. Ek hoor aandgeluide: kasdeure, ’n bed wat kraak.

      Die televisie se klank was vir ’n paar oomblikke afgedraai. Dit word onverwags weer opgedraai. Die inhuldigingsplegtigheid van die vier en veertigste president van die VSA verloop voorspoediger as mý ingebruikneming van my voordeursleutel.

      Viool-, tjello- en klaviermusiek kom deur die bure se venster. ’n Fluit of klarinet; dit klink asof ’n kwartet vir die nuwe president musiek maak. Snobmusiek, sou Andrew dit noem: groot lawaai, weinig wysie.

      Ek hoop hy het my twee SMS’e gekry. Mag hy net nie weer sy eie kop volg nie.

      Die meeste ou vissermanshuisies hierlangs het beenwit buitemure. Die groot gedoe oorsee flikker dus blouwit teen die suidemuur van my huis. Met ’n bietjie verbeelding kan die geflakker oor die muurkrake die virtuele skaduwees van belangrike Amerikaners op ’n verre verhoog genoem word.

      Die sigbaarheid van die sleutelgat staan in direkte verhouding tot die krag van die wind. Wanneer dit woes gaan, gooi die lukwartboom langs my voorstoep ’n ondeurdringbare swart skaduwee oor my voordeur. Wanneer die tak met sy digte loof wegswaai, glimmer die sleutelgatplaat silwerig in die lig van die naaste straatlamp.

      Ek begin die bos sleutels opnuut deurwerk.

      Met die een oor luister ek na die inhuldigingsmusiek, soos aangepas en versterk vir beter hoor. My breedgespanne buurvrou, het ek gistermiddag laat uitgevind, het ’n rede waarom sy met my kommunikeer asof ek gehoorgestrem is. Sý is doof.

      Ek blaas in die sleutelgat. ’n Fyn stofreën tref my vol in die gesig. Ek wend nog ’n poging aan met die sleutel uit die blommetjieskoevert. Maar die voordeursleutel bly grinterig deur ’n lagie opgedamde seesand draai. Dis die verkeerde grootte. Vanoggend toe ek die deur haastig op knip getrek het, het ek dit nie agtergekom nie.

      Die onvroulike woord wat ek wil kwytraak, sit vlak. Ek kners op my tande.

      “Dis so lelik as ’n meisie vloek,” het Pa altyd gesê. “Ek weet nie van hare en naels nie, my kind, maar dít kan ek jou sê: dit sit ’n man af as ’n mooi meisie vloek. Jou oupa aan moederskant het altyd gesê: Hoe verder op die weg van beskawing, hoe sagter in jou uitdrukkings. Dit het ’n groot indruk op my as sy skoonseun gemaak.”

      Die suidoos waai die waai waarvan binnelanders nie hou nie. Ek verbeel my dit nie: ek staan driehonderd meter van die swemstrand af en die wind peper my met sandkorrels teen my kuite.

      As ek die skrywerstipe was, het ek hierdie dag Dinsdag van chaos genoem. Of: Gatslag van die goedgelowige pampoen.

      Die duiwel self blaas hierdie wind by sy neusgate uit.

      Ek moet toegang tot my eie huis bekom. My motor kan nie so wiele in die straat, wiele op die sypaadjie geparkeer staan nie. In die huis staan my trek nog in toegeplakte, ongemerkte bokse. Alles net ingegooi: gordyne, duvets, eierklitser, koffiebekers, kastrolle uit my grootwordhuis . . . Ek was so verwilderd oor Pa.

      My lewe is in ’n chaos. Ek moet hierdie benarde situasie probeer uitsorteer, en góú ook. Ek moet dink. Maar voordat ek aan die dink raak, moet ek bel om te hoor hoe dit met Pa gaan.

      Ek het vir Andrew nodig, vanaand.

      Nee, nee. As Andrew Scott vanaand hier opdaag, stuur jy hom weg, Farah Olivier. En dis finaal.

      Ek het gisteraand die binnehof se roldeur aan die agterkant van die huis op die boer-maak-’n-plan-manier van binne af gegrendel: twee stokke deur vier gate. Gevolglik sal die ou deur met die slot wat glo ’n paar jaar gelede van buite af deur boemelaars oopgeforseer is, nie op- óf afrol nie.

      G’n wonder die eiendomsagent het telkens in die diensstegie geparkeer en my dan elke keer via die agterste binnehof by die agterdeur ingelei nie. Toe was die voordeursleutel immers nog soek.

      Watter moeite het die agent nie maande lank gedoen om dit op te spoor nie! En hoe innig het ek haar nie gistermiddag daarvoor bedank nie! Met die voordeursleutel uiteindelik koud, verrassend klein – en agterdogwekkend blink, besef ek nou – in my handpalm, het ek tóg effens meer in beheer gevoel.

      In die regte lewe kom sommige dinge darem weer reg, het