Sondag van die silwersee. Maretha Maartens

Читать онлайн.
Название Sondag van die silwersee
Автор произведения Maretha Maartens
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050551



Скачать книгу

analities met hulle eie werk om te gaan, reeds op skoolvlak nodig hê. In die voorgeskrewe portefeulje van 25 afgeronde kunswerke, en die meegaande beskrywings deur die kunstenaars in opleiding, is die artikulasie van idees en motiewe van deurslaggewende belang . . .”

      Believe me, Sir, I was impressed, wou ek vir die man van die papierlose omgewing sê. Hierdie Yann Lotter het my op elke vlak beïndruk.

      Andrew, wat tog seker geleer het om met joernalistieke objektiwiteit na dinge te kyk, het gesê ek het die Lotto getref met Lotter – woordspeling nie opsetlik nie, ha-ha. Yann Lotter se soort is dun gesaai, aldus Andrew. Hy sou voelers uitsteek by sy koerant. Selfs as motorjoernalis kon hy aanvoel dat Yann Lotter se opvoedkundige teorieë nuuswaardig was.

      Om kuns te pleeg, word mos as ’n intuïtiewe aksie beskou; in die eksakte wetenskappe word uitsonderlik kunssinnige kinders nie maklik as uitsonderlik begaafd geklassifiseer nie. Nou kom draai Yann Lotter ou denkpatrone op hulle kop. Enige joernalis sou sy oogtande gee vir ’n in-diepte-onderhoud met so ’n dinamiese opvoedkundige. Of praat ek nou in tale, Farah?

      Nee, jy praat Andrews, moes ek gesê het. Ek het jou al so dikwels Andrews hoor praat dat ek sinne daaruit in Afrikaans kan vertaal.

      Andrew Scott het dit nie nodig geag om aan sy toekomstige vrou se selfbeeld te bou nie. Sy “pleeg” ook kuns, maar kom ons laat dit daar, hipersensitiwiteit bring ons nêrens nie.

      Andrew Scott het ’n sin vir humor en hy weet dit. Hy het ’n neus vir nuus en hy weet dit ook. Hy gaan een van die beste motorjoernaliste in die land word, vanselfsprekend. Hy was immers van kleins af anders as ander seuntjies. Sy maatjies het tente in hulle agterplase opgeslaan en Voortrekkerkampe bygewoon. Andrew het saam met sy pa – die befaamde Gyro Scott – onder die enjinkappe van BMW’s en Jaguars, Saabs en Land Rovers gekampeer.

      Op ouderdom veertien was hy saam met sy pa in een van die camions in die T5-klas van die Granada-Dakar-uithouwedren. Gyro Scott het in die bivouacs aan die voorlopers se voertuie gewerk; Andrew was óf op sy hurke langs hom, óf saam met een of ander Russiese deelnemer onder die enjinkap van ’n Kamaz-lorrie.

      Andrew het op ’n ander planeet grootgeword.

      Daar is heelwat ooreenkomste tussen Andrew en Yann Lotter, besef ek. Ek onderdruk die gedagte dadelik. Andrew Scott is die soort man oor wie meisies swymel. Ek was een van die swymelaars.

      Yann Lotter is ’n swendelaar met olyfolie aan sy tong.

      Ons werk op kontrakbasis met kundiges wat ons leerders gedurende die tweede kwartaal touwys maak in die veilige hantering van asetileen- en oksi-asetileen-sweisapparaat, blaasvlamme en alles wat daarmee saamhang, het die wetter vir my geskryf. Wanneer ons leerders die wêreld daar buite betree, moet hulle immers onderleg wees in sowel TIG- as MIG-sweiswerk.

      Ek wou Yann Lotter beïndruk. Ek het op die internet gaan naslaan wat die verskil tussen TIG- en MIG-sweiswerk is. Ek moes vinnig leer; van sweiswerk het ek beslis nie genoeg geweet nie. Toe ék op hoërskool was, het geen leerder ontwerpersjuweliersware of ysterbeelde in die kunsklas gemaak nie. Van die soort sweisapparaat wat ek in die Uil&Kameel Kunsskool sou aantref, het ons nie eens gewéét nie.

      Toe Yann Lotter my weer skakel, kon ek saampraat oor TIG- en MIG-sweiswerk.

      G’n wonder die kaalkopman van die papierlose omgewing het my vanmiddag soos ’n onnosele ou meisietjie laat voel nie. Ek ís ’n naïewe, pas afgestudeerde studentjie wat met sterre in haar stiksiende ogies in ’n swendelaar se strik getrap het.

      Vir die kaalkopman was die rede waarom dit gebeur het voor die hand liggend. Yann Lotter wóú presies op die regte oomblik gebel word. Hy wóú ten aanhore van wie ook al in sy kantoor was, met ’n sogenaamde personeellid oor die leerplan, die skoollied en skoolsake praat. Hy wou verhoed dat enigiemand snuf in die neus kry.

      Yann Lotter het my goedgelowigheid en entoesiasme uitgebuit. Wys my ’n swendelaar en ek wys jou ’n mensekenner. Hy het die ou meisietjie wat hom telkens o so entoesiasties gebel het oor die skoollied, oor Rodin vir graad 10, oor die toenemende oorskakeling van tradisionele media na elektroniese media in grafiese ontwerp, oor ’n langtermyn-mosaïekprojek vir die skoolterrein, met die hand uitgesoek. Gruisklippie tussen die wit ryskorrels.

      Ek was so bly oor dié gawe onderwyspos dat ek Yann Lotter geglo het soos wat ek die apostel Paulus sou geglo het.

      En nee, ek het die skool se naam nié vreemd gevind nie. “Ek het gedink die skool het ’n besonder interessante naam,” het ek vir die kaalkopamptenaar gesê. “Toe ek boonop op die skool se webwerf lees waar dit vandaan kom . . .”

      Die man van die papierlose omgewing het Uil en Kameel, Owl and Camel, Uil&Kameel begin google. Toe sy skouers opgehaal. “Your search Uil&Kameel Kunsskool did not match any documents,” het hy die boodskap op die skerm vir my voorgelees.

      “Die skool het verlede jaar nog ’n webwerf gehad,” het ek my lamlendig verweer. “Dis waar ek die advertensie gesien het. Dis waarom ek –”

      “Waar kom die naam vandaan?” het hy my in die rede geval.

      “Die Uilhuis,” het ek gesug. “Nieu-Bethesda . . . Helen Martins?”

      Hy het gebottelde water uit ’n waterbottel gedrink. Sommige mense sal altyd gebottelde water drink asof hulle direk onder ’n boorgatpyp staan; die man van die papierlose omgewing is een van hulle. Hy het my onbegrypend oor die leërwordende waterbottel aangekyk.

      “Helen Martins het uil- en kameelbeelde gemaak,” het ek verduidelik. “Sy en Koos Malgas.”

      “Koos Malgas,” het hy oor sy waterbottel geknik. “Of course. En Helen Martins kom toe en begin ’n nuwe kunsskool in Somerset-Wes, en sy noem dit die Uil-en-Kameel Kunskollege? Sy is dus die eienaar van die plek?”

      Vanmiddag op pad terug Strand toe het ek twee keer verdwaal op nuwe paaie in nuut ontwikkelde woongebiede tussen TE KOOP/FOR SALE-borde. Ek vermoed ek het ’n voertuigkaper en sy navigator afgeskud; in die jaagtog na veiligheid het ek in Simonstad se hoofstraat uitgekom. Ek het lighoofdig van stres voor ’n koffiewinkel stilgehou, uitgespring en binne gaan sit en wag vir die ergste.

      Die voertuig met die motorkapers daarin het rustig in die straat verbygekom, een swartgetinte vensterruit afgedraai, Idols songs op volsterkte. Twee espresso’s later het ek dit weer buitentoe gewaag. Die voertuig wat kilometers ver buffer teen buffer agter my aangekom het, het soos Yann Lotter spoorloos verdwyn.

      Terwyl ’n straatsmous by ’n verkeerslig ’n tentagtige, koepelvormige kontrepsie van kant en satynstrikkies aan my probeer verkoop het, het die teksboodskap wat ek tóg verwag het, deurgekom.

      Met die straatsmous wat aan die motorruit bly klop, het ek Andrew se boodskap gelees: Ons moet praat. Vnand, jou plek? I W A Y. Gut feelin dit gaan ni gd mt jou. Cal me asap, Andi.

      “Die vlieë kom nie by die koek nie, Madam!” het die straatsmous teen die motorvenster geskree.

      Ek het Andrew in die ry geantwoord en byna van agter af in ’n stadig bewegende koeltrok vasgery: Ni vnand ni. F.

      Iewers tussen beboude heuwelhange en beboude valleie met perde en padstalletjies het ek in ’n begrafnisstoet sonder begin of einde beland. By ’n T-aansluiting het ek, gedisoriënteer en uitgeput, uit die motor geklim en in die gierende wind vir die motoris voor my gaan vra wat aangaan.

      “Dis maar soos dit hier in die Kaap is as die skole en universiteite begin, dame,” het hy deur sy oop motorvenster gesê, sy hare asof geëlektrifiseer in die suidoos. “En dame moenie kanse vat nie. Dis ’n hijack hot spot hierdie; hulle het eergister ’n man hier doodgeskiet vir sy twin cab.”

      Anders as die kapers het die wind my tot by my nuwe, sorgbehoewende voordeur agtervolg.

      Ek móét vir Andrew hier weghou. Ek is te broos; as hy vanaand hier opdaag, trou ek Saterdag met hom, om vir altyd ongelukkig saam te leef.

      Ek stuur ’n tweede SMS vir hom, net om seker te maak: Jy weet dis verby. Werk aan jou nuwe lewe, ons gaan ni vnand praat ni. F.