Название | Ena Murray Omnibus 23 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050292 |
Sy het eerste aan Andrew gedink toe Raul van vergoeding gepraat het. Sy het haar voorgeneem dat as Raul van haar ontwerpe gebruik maak, sy die geld gaan gebruik om vir haar seun ’n goeie kamera te koop. Sy kan al in haar verbeelding sien hoe sy bruin oë ophelder, hoe hy op sy beskeie manier dankie sê …
Maar sy gaan nie meer die ontwerpe doen nie.
Sy sit die foto’s netjies terug in die rak, druk die deur toe en stap kombuis toe. Daar sak sy langs die kombuistafel neer. Nee. Sy gaan nie aan Raul se versoek voldoen nie. Daardie vae sketse wat reeds in haar brein begin vorm aanneem het, moet uitgevee word. Sy moet vergeet dat daar ooit so ’n aanbod aan haar gemaak is, dat sy ook vir ’n keer gegun was om te bewys waartoe sy in staat is. Ter wille van Amanda …
Maar gaan dit net om haar dogter? is die onverwagse vraag wat van êrens af opduik. Sy roer rusteloos, staan op. Of is sy bang, soos wat hy haar direk gevra het? Sy skink vir haarself ’n koppie koffie in, gaan weer sit. Is sy bang om Raul beter te leer ken? Is sy bang dat sy ook skielik dwaas kan word … en dit op veertig?
Sy sluk, plaas die koppie weer in die piering. Is sy bang dat sy soos haar dogter gaan seerkry? Dan sal sy ’n groter dwaas as Amanda wees, want dié het nog onervare jeug as verskoning. Maar sy … sy sal geen verskoning hê vir haar dwaasheid nie. Want sy ken tog die lewe. Sy weet mos wat om te verwag. Sy weet mos dat ’n vrou nie ’n man durf vertrou nie. Sy weet mos dat die Raul Günthers van die wêreld net hartseer en vernedering bring vir die Amandas en die Wenas van die wêreld. Veral vir die Wenas …
Sy grim bitter. Dis amper te belaglik om daaraan te dink. En tog dink sy daaraan. En sy moet op hierdie oomblik van volslae eerlikheid erken: die vrou in haar is glad nie so dood en begrawe as wat sy al die jare nog geglo het nie. Ten spyte van haar ontkenning, is daar nog dinge in haar wat geroer kan word, snare wat onder die regte aanraking nog kan tril.
Daar is ’n gejaagdheid in haar oë toe sy opspring en vinnig na haar kamer stap. Sy gryp haar beursie, haal die kleingeld uit. Sy moet dit nou doen, nóú, voordat sy nie meer die moed het nie. Nou dadelik.
“Dis Wena … Wena Conradie wat praat,” sê sy in die gehoorbuis.
“Wena! Goeiemôre.” Sy stem klink verras, baie aangenaam verras. Glad nie kwaai soos haar dogter sê nie.
“Goeiemôre, meneer Günther.” Sy lek hoor haar droë lippe. “Ek … ek het net gebel om te sê …”
“Dat jy al ’n skets gereed het vir my?”
“Nee! Ek … Dis wat ek wil sê. Ek … sien nie meer kans nie.”
’n Rukkie stilte. “Ek verstaan nie, Wena. Het jy al begin?”
“Nee. Ek …”
“Hoe weet jy dan jy sal dit nie kan doen nie?”
“Dis nie … Asseblief, ek wil dit nie doen nie. Ek wou u net sê …”
“Jy … wil nie …” Skielik ís sy stem ontevrede. “Watter kaf praat jy nou, Wena? Jy was gister so opgewonde soos ’n kind daaroor. Ek kon dit sien. Wat het nou gebeur?”
“Daar het niks gebeur nie.” Haar stem klink ook skielik anders, amper vyandig. “Ek wil dit nie meer doen nie. Ek stel nie meer belang nie, dis al. Dankie vir die … kompliment, maar … Wel, tot siens.”
“Wena, wag! Luister.”
Sy voel haar ingewande bewe toe sy weer haar voordeur oopsluit. Jy het dit gedoen, vertel haar verstand haar. Jy het baie verstandig opgetree. Dis al wat jy kon doen.
Maar toe sy agter die naaimasjien plaasneem, vind sy soos haar dogter dat sy, selfs op veertig, nie groot genoeg is om die trane te keer nie.
Sy wou dit so graag doen! Haar vingers het al gejeuk om daarmee te begin. Sy het dit al in haar gedagtes sien vorm aanneem – ’n deftige pakkie soos wat sy graag in haar kas sou wou gehad het om Sondae kerk toe aan te trek. Dan was daar ’n aandrok … ’n pragtige droom van ’n aandrok, soos wat sy weet sy nooit, nooit sal hê nie … ’n Trourok … ’n trourok vir Amanda.
Met dikgehuilde oë bly sy net so sit. Toe sy die tuinhekkie hoor kraak, kyk sy verskrik op, sien hoe hy met vasberade tred die tuinpaadjie opgestap kom. Sy kyk hulpsoekend om haar rond. Sy kan hom nie nou in die oë kyk nie! Sy sluk swaar. Sy gaan nie die deur oopmaak nie. Nee. Sy sal nie op sy klop reageer nie.
Maar daar word nie geklop nie. Die deur word oopgedraai en daar is harde voetstappe in die gang. Dan is hulle stil.
Sy kyk strak voor haar deur die klein ruitjies na buite. Laat hom omdraai en loop, bid sy byna hardop. Maar sy voetstappe kom nader, verydel alle hoop.
“Goed. Wat is die probleem?” Sy stem is bot en kortaf.
Sy sluit haar seer oë en swyg. Wat kan sy antwoord? Hom vertel dat sy bang geword het … skielik bang geword het vir haarself?
“Wena, ek het nie sulke kleinlikheid by jou verwag nie.”
Haar kop ruk op, maar sy kyk nie om nie. “Kleinlikheid?”
“Ja. Ek het die hele pad hierheen sit en wonder waaroor dit alles gaan. En al wat ek kan dink, is dat jy kwaad is omdat ek gister vergeet het van my afspraak met Amanda. Ek het ’n paar minute gelede eers daarvan onthou.” Toe sy nie antwoord nie, vervolg hy: “Soos ek Amanda ken, het sy seker weer te kere gegaan, en toe besluit jy, uit blinde lojaliteit, om my terug te betaal daarvoor en om my aanbod van die hand te wys. Dink jy nie jy kyk ’n bietjie skeef na sake nie, Wena?”
Sy laat weer haar kop sak, pers haar lippe styf op mekaar, skud haar kop net weerloos heen en weer.
“Kan jy jouself glad nie as ’n aparte mens van jou kinders sien nie? Kan jy jouself nie ’n slag die kans gun om ’n mens uit eie reg te wees nie? Het jy geen ander motivering in die lewe behalwe jou kinders nie? Het jy werklik deur die jare só in hulle versink dat jy self verdwyn het? Dat jy net ’n leë dop is?”
Daar kom geen antwoord op sy vrae nie en hy sug. Sy hoor hom stap, op en af agter haar, met ongeduldige treë trap hy die blompatrone wat op die tapyt oor is, nog dowwer.
“Dis goed en reg dat ’n ouer sy kind liefhet, Wena. Ek kan goed verstaan dat jy hulle wil beskerm. Maar hulle is nou groot. Hulle is besig om van jou af weg te beweeg. Wat gaan van jou word in die jare wat oorbly? Het jy al daaraan gedink dat hulle binnekort heeltemal uit hierdie huis sal weg wees? Wat dan? Wat gaan dan van jou word, Wena?”
Nog steeds het sy geen antwoord vir hom nie, en hy kom weer agter haar staan, sy oë stip op haar agterkop.
“Ek is jammer ek het die afspraak met Amanda vergeet. Ek het dit nie doelbewus gedoen nie. Soos jy self weet, was ek hier … by jou.” Hy swyg en dis asof sy laaste woorde soos iets tasbaar tussen hulle hang, asof dit verduideliking genoeg is. “Het jy haar vertel dat ek hier was?”
“Nee.”
“Het jy haar vertel van my aanbod?”
“Nee.” Sy sug gelate, maar draai nie om toe sy verder verduidelik nie: “Sy was so ontsteld. Ek het gedink dis wys om liewer nie te sê dat jy … hier was nie. Ek kon haar dus ook nie van jou aanbod vertel nie.”
“En toe het jy verlede nag lê en rondrol en besluit dat dit beter is as jy jou nie aan só ’n skurk verbind nie, al is dit ook net om ’n paar sketse aan hom voor te lê. Dis beter dat jy liewer niks met Raul Günther te doen het nie, want hy is maar soos alle mans: selfsugtig en onbetroubaar.” Dis so na aan die waarheid dat sy merkbaar verstyf, en agter haar druk Raul sy vuiste vinnig in sy broeksakke. “Jy sal liewer dít wat jy die graagste wil hê en wil doen, van die hand wys as om iets verder met my te doen te hê. Jy is al weer bang, Wena … soos gister.”
Sy draai nou om, haar gesig strak.