Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

Hy is intens bewus van die groot versoening wat gisteraand voltrek is. Dit was ’n harde pad en Jan is dankbaar dat Boetjan so ’n gebalanseerde mens geword het. ’n Man wat weet wat hy wil doen. En dit doen. Soos Maria gisteraand agtergekom het. Jan besef ook dat Boetjan pas sy hand gesterk het. Sy strategiese plan kry koers.

      Hy draai na Zweli. “Wat het jou Pa altyd gesê, Zweli?”

      Zweli onthou dadelik: “Gee my liewers een man met ’n gesonde verstand as drie manne met ’n graad.”

      Zweli glimlag breed. Van almal teenwoordig is hy die meeste bewus van die waagmoed waarmee Jan hier besig is om die maatskappy se veilige toekoms te verseker. Dit is hierdie planne wat sal sorg dat die African Queen Cosmetics wat Mabuzo met die hulp van Jan Cilliers op die been gebring het, op vaste voete sal bly staan lank ná Mabuzo en Jan se afsterwe.

      Boetjan vang Zweli se oog. Hy lig ’n wenkbrou, maar daaronder spoel verligting oor sy gelaat.

      Bertus voel dit is nou die regte tyd om op sy skoonpa se aanbod te reageer. “Ek wil vir Pa dankie sê vir die aanbod. Ek is regtig gevlei. Maar soos Pa weet, bou ek nou my eie besigheid in Kanada.”

      Jan is versigtig om nie sy blydskap te kenne te gee nie. Hy weet dit gaan Elna baie ontstel, maar hy maak staat daarop dat sy ’n klompie van sy gene geërf het. “Natuurlik, en ek respekteer dit.”

      Elna sit verbysterd.

      Kommunikasie, dink Jan. Bertus kon gevra het vir tyd om sy besluit met Elna te bespreek. Hy het nie. Beteken sy dogter se mening dan vir Bertus so min wanneer hy belangrike besluite moet neem? “Daarom is my besluit om nog steeds my aandele eweredig tussen Boetjan en Elna te verdeel,” sê Jan, “maar om die stemreg van twaalf-en-’n-half persent van Elna se vyf-en-twintig persent vir Boetjan te gee en stemreg oor die ander twaalf-en-’n-half vir jou, my broer.”

      Adriaan knik beleefd.

      Die olifant in die kamer, dink Jan, Elna is die olifant in die kamer. Vir hoe lank nog?

      Bertus kyk onderlangs na haar, geskok om die spanning te sien wat uit elke deel van haar lyf straal.

      “As ek mag vra, Pa,” val Elna Jan in die rede, “en met alle respek teenoor Boetjan en oom Adriaan, hoekom kry hulle stemreg oor my aandele?”

      “Die beheer van die besigheid kan nie in die buiteland lê nie,” antwoord Jan onmiddellik om seker te maak almal besef hy het hieroor nagedink.

      “’n Besigheid so groot soos hierdie het iemand met ’n gesonde verstand en behoorlike bestuurservaring en kennis nodig, nie waar nie, Pa?” vra sy.

      “Beslis. Zweli erken self dat hy nog nie reg voel om die pos as hoof uitvoerende beampte oor te neem nie. Ek het een of twee manne in gedagte, maar ek wou eers seker maak waar julle staan.”

      Elna wend haar tot haar man: “Bertus?”

      “My ‘gesonde verstand’ sê vir my daar’s g’n manier dat ek my seun in hierdie land gaan grootmaak nie,” sê Bertus stroef. “Dankie vir die aanbod, Pa, ek’s jammer om dit van die hand te moet wys. Ek’s seker die besigheid sal van krag tot krag gaan ... met of sonder my. En nou moet julle my asseblief verskoon ... Neil sit alleen daar by die huis. Kom, Elna.” Bertus staan op en stap uit.

      Elna het geen ander keuse as om agterna te gaan nie.

      Jan gaan sit weer, wag ’n ruk voor hy begin praat. “Het ek nou onmin gesaai?”

      Maria stel hom gerus: “Het jy ’n keuse gehad?”

      Jan weet dat hy toenaderings van Adriaan kan verwag. Hy’s seker Antoinette sal nie tevrede wees met dit wat vandag hier gebeur het nie, maar as dit enigsins anders kon, sou hy. Hy moet sekere dinge antisipeer. Hy staan stil en staar na die raadstafel voor hom, dan kyk hy op na Adriaan. “Adriaan, ek hoop jy’s tevrede.”

      “Natuurlik, my broer. Dankie.”

      Zweli staan op, beweeg agter Jan om en bied sy hand vir Boetjan aan. Beleefd – hy doen dit nie agter Maria se rug om nie, maar voor haar verby. “Boetjan, ek sien uit daarna om saam met jou te werk.”

      “Dankie. Ek ook.”

      Adriaan wonder vir ’n oomblik of hy ook ’n handdruk gaan kry, maar besef dat dit nie vir Zweli nodig is om die hand van vriendskap uit te steek na iemand wat effektief voortaan aan hom gaan rapporteer nie.

      “Nou ja toe,” sug Jan. “Daar is dit dan.”

      — X —

      Neil het feitlik die hele middag in Jan se swembad deurgebring. Hy wou eers by sy ouma gaan sit en gesels, maar toe hy agterkom sy sit in haar rolstoel en slaap, het hy afgesit poel toe.

      Hy hoor hoe sy pa en ma aan die redekawel is die oomblik wanneer hulle in hul rooi gehuurde motor deur die sekuriteitshek kom.

      Dis ’n argument wat hy al verskeie kere gehoor het. Soms is hulle bewus daarvan dat hy in die geselskap is, soms nie. Eintlik ietwat boring, maar hy luister, wagtend op die geringste teken dat sy pa se mening besig is om te versag. Vir sy ma is dit ’n gesprek van verlammende hartseer. Die eerste keer dat Neil dit gehoor het, was voordat hulle uit Waterkloofrif na Westmount in Vancouver getrek het. Die heftigheid daarvan het in hul motor afgespeel teen die verbyflitsende Cedardale en West Vancouver, nes dit nou seker van oom Jan se kantoor in Arcadia af hierheen gewoed het. Wanneer Bertus hul gehuurde motor voor Jan en Maria se huis tot stilstand bring, is hulle nog fel aan die verwyt.

      Elna en Bertus gooi gelyktydig hul deure oop.

      “Dis die kans van ’n leeftyd, Bertus!” roep Elna oor die dak van die motor na Bertus uit.

      “Het jy om jou gekyk? Toe ons van die lughawe hiernatoe gery het, het jy om jou gekyk? Dis alles omgekeer – die beskaafde mense lewe agter tralies en die kriminele loop op straat.”

      Neil sien hoe sy ma nader aan sy pa beweeg. Sy hou sy skouer met die een hand vas, sodat hy nie kan beweeg nie. “Ek verstaan hoekom jy voel soos jy voel, maar ...”

      En vir die hoeveelste keer herinner sy pa sy ma aan die presiese rede hoekom hulle Kanada toe is. Hoekom hy sy geloof in sy geboorteland verloor het. “Vergewe my, Elna, maar jy verstaan nie hoe ek voel nie!” roep hy uit. “Gaan jy na ’n vergadering toe waar jy verwag om tot die raad van ’n maatskappy bevorder te word, net om dan te hoor dat jy nie net daardie bevordering nie kry nie, maar dat jy afgedank word om plek vir ’n swart aanstelling te maak, en kom sê dan vir my jy weet hoe ek voel?”

      “Maar dit is anders dié. Dis my Pa se maatskappy. Jy kan nie afgedank word nie.”

      “Vir hoe lank? Huh? Vir hoe lank? As jy nie kan sien waarheen hierdie land gaan nie, dan is jy blind. Het jy daardie plakkaat teen die paal gesien – The South African list of hundred per cent black-owned companies. Ek sien nie enige plakkate vir hundred per cent white-owned companies nie! En dan praat ek nie eens van die feit dat hierdie land een van die hoogste misdaadsyfers in die wêreld het nie!”

      “Dis nie asof ons in Kanada in die paradys leef nie.”

      “Ek sê dit weer – daar’s g’n manier dat ek my seun in hierdie land gaan grootmaak nie.”

      “Hy is my seun ook! Of het jy dit vergeet?”

      “Gaaf. As jy hom hier wil grootmaak, is jy welkom, maar ek gaan terug na my huis in Kanada.”

      “Bertus, kan jy nie verstaan nie? Wat Pa aanbied, is nie net ’n gulde geleentheid nie, dis ’n deel van my pa se lewe. Dis nie net ’n erfporsie nie ... dis my erfenis.”

      “En as ek Pa reg verstaan het, dan sal jy dit nog steeds kry, sonder stemreg oor jou aandele, ja, maar jy sal nog steeds jou erflating kry.”

      “Jy weet hoe jy in Kanada sukkel. Dit gaan jou nog jare neem om jou besigheid op te bou tot ’n vlak soos wat Pa jou nou aanbied.”

      “Ten minste