Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

teenoor hulle op die ander. Hulle het, vas aan ou gewoontes, eers vinnig ’n draai deur die tuin gestap. Haar pa is so trots op die groen lushof wat Antoinette met die hulp van haar tuinier geskep het.

      Die wye vlakte – soos Adriaan dit altyd met ’n bietjie ergerlikheid noem – van die nagemaakte wit marmertafel lê tussen die twee rusbanke. Antoinette skink vir almal koffie, sommer in bekers. As dit ander gaste was, het sy haar wit Noritake-stel uitgehaal. Maar haar pa verkies die bekers. Dis groter, sê hy altyd, die fyn Japanse stel laat hom altyd wonder wanneer hulle gaan breek.

      Snaaks, dink Antoinette, wanneer haar ouers hier is, gaan alles lekker en kommervry. Haar pa en ma vra nooit of die twee boeke wat nou al so lank op die tafel lê deur enigiemand gelees is nie. Haar ma maak nie opmerkings oor die Thai-rissies wat in ’n groot glasbak daarnaas lê en uitdroog nie. Haar ma wonder nooit of die skilderye afdrukke is nie.

      Maar sekere ander mense sal, as sy met haar rolstoel hier ingestoom kom, ’n hele mond vol te ledig hê oor alles wat sy kan raaksien, van die min boeke op die boekrakke tot die lagie stof wat sy met haar verrimpelde ou poepogies op die wit marmer bespeur.

      Oupa en ouma Venter is gemaklik met hul dogter se lewenstyl. “Ons dank die Hemelse Vader dat jy so gesond is en Adriaan so suksesvol,” sê haar ma altyd. “Daar is baie mense wat dit glad nie so breed het nie.” En Pa, liefste Pa, hy het hom nooit werklik gesteur aan aardse goed nie. Hy was sy lewe lank ’n staatsamptenaar en was nooit in ’n posisie om weelde en wonings te versamel nie. Geen wonder nie dat Antoinette van haar skooldae af gesweer het sy sal nooit met ’n staatsamptenaar trou nie. Sy gaan met geld trou, het sy altyd gespot.

      “Pa neem mos drie suikers, nè?” Antoinette kyk na haar ma terwyl sy dit vra.

      “Twee vir hom,” sê ouma Venter. Wat sal die kinders van haar dink as sy nie na haar wederhelf se gesondheid omsien nie?

      “Net twee?”

      “Jou ma het my nou op ’n streng minder-suiker-plan,” verduidelik haar pa.

      “Dit sou geen suiker wees as ek hom kon kry om na my te luister nie.”

      “Adriaan,” oupa Venter soek onderskraging, “hoe verduidelik ’n man aan sy vrou dat as hy met drie suikers sy middel sewentigs gehaal het, sy waarskynlik sy lewe gaan verkort as sy dit skielik van hom wegneem?”

      “Nee, Pa, Pa moenie vir my vra nie. Inderdaad, was dit nie Pa wat vir my gesê het dat ’n man ’n gelukkige huwelik sal hê as hy weet wanneer om vir sy vrou ja en wanneer om vir haar nee te sê nie?”

      “Soos in: Ja-nee, my vrou, jy’s reg.”

      “Daar het Pa dit, uit die perd se bek.”

      Die ouer man draai liefdevol na ouma Venter. “Ja-nee, my vrou, jy’s reg.”

      “Goed so. En buitendien,” sê ouma Venter, “hy’s so sterk soos ’n os. Hy gaan my nog begrawe.”

      Adriaan se selfoon lui in sy sak. Hy mompel ’n verskoning, hoor wie dit is en verskoon hom dan van die geselskap: Dis Jan aan die ander kant.

      “Gaan Ma-hulle by ons wees vir aandete?” Die uitnodiging is suiwer formaliteit, want haar ouers het gewoonlik Sondagaande iets anders aan die gang – en as daar geen afsprake is nie, gaan hulle kerk toe. Maar elke nou en dan willig hulle in om te bly, en dit is dan vir Antoinette die heerlikste besoeke wat sy ooit ontvang. Almal sit om die sitkamertafel en gesels land en sand oor familiesake. As haar pa lekker kuier, begin hy skinderstories vertel oor mense wat oorlede is en nie sal omgee dat iemand hulle op hierdie manier onthou nie, sal hy sê. Alles terwyl sy en Elisabeth geroosterde kaastoebroodjies maak en die teepot keer op keer hervul word. Sondagaandse plesier in die styl van die Venters.

      “O nee, my skat,” antwoord haar ma. “Vanaand is mos die konsert. Ons moet nou-nou ry, Pappa. Stort. Aantrek. Konsert.”

      “Julle moet sien wat het hierdie ouma van julle met daai straatkindertjies reggekry. Ek sê jou, hulle ogies blink sommer op daai verhoog.”

      “Ag man, dis vir my so lekker.” Ouma Venter draai na Elisabeth, haar genant, en Vlooi. Sy soek nie aandag nie. “En julle twee? Wat is julle planne vir die jaar?”

      Antoinette antwoord voordat Vlooi kan. Sy het gewag hiervoor. ’n Ma moet die druk op haar telge hou, anders presteer hulle nie na behore nie. “Vlooi gaan sy derde jaar met onderskeiding klaarmaak ...”

      “Ma wens.”

      “Nie wens nie. Ek weet.” As sy dit genoeg herhaal, weet sy, gaan hy dalk ook daarin begin glo.

      Ouma Venter kyk op na Elisabeth. Dis wat sy eintlik wil hoor. “En jy, my meisie?”

      “Wel, aangesien Ouma vra ...” Antoinette kan sien hoe haar dogter selfversekering wil uitstraal. Ongelukkig lyk dit vir haar maar presies dieselfde soos gister toe sy met Neil gepraat het. Effens uitlokkerig. “Ek het eintlik gedink dat ek dalk vir ’n paar maande by tannie Elna en oom Bertus in Kanada sal gaan kuier.”

      Antoinette frons. “Dis die eerste dat ek daarvan hoor.”

      “Ek en Neil het gisteraand daaroor gepraat. Ma weet mos ek wil nie nou gaan swot nie.” Sy draai na haar ouma, waar sy minder teenstand verwag, haar stemtoon nou skielik die ene vertroulikheid, asof sy haar ouma wil betrek by haar sameswering. “Eintlik wil ek gaan backpack, Ouma, maar Pa het gesê oor sy dooie liggaam.”

      “Presies wat ek sou sê, antwoord oupa Venter. “’n Jong ding soos jy kan nie alleen in die wildernis gaan rondwandel nie. Die wêreld is ’n gevaarlike plek.”

      Terwyl oupa Venter praat, lig Ouma haar arm en streel Elisabeth se rug, rustig, sag, genoeg om Elisabeth te laat besef sy het ’n moontlike bondgenoot.

      “Dis orals gevaarlik, Oupa. Pa en Vlooi moan gedurig oor die misdaad in die land en hoe gevaarlik dit hier by ons is.”

      “Ja, maar hier by ons weet ons ten minste wat die tekens is.”

      Adriaan keer terug, gaan sit op die armleuning van die rusbank. Antoinette weet dadelik hy gaan iets sê waarvan sy nie sal hou nie. “En nou?” vra sy.

      “Ma en Pa sal my moet verskoon. Jan het ’n vergadering by die kantoor belê.”

      Antoinette is siedend. “Nou? Op ’n Sondag? Ons het nou net klaar geëet.”

      “Hy’t gesê hy’s jammer, maar dis belangrik.”

      “Die koning ontbied ...” sê Antoinette bitter.

      “Ek is regtig jammer. Ek’s seker dit sal nie lank wees nie.”

      “Nee, maar ’n man moet doen wat hy moet doen,” sê oupa Venter, “veral as dit by sy besigheid kom.”

      “Jy sorg dat jy terug is voor Ma en Pa ry.”

      “Ja-nee, my vrou.”

      Adriaan is kwalik uit die vertrek uit wanneer die woorde oor Antoinette se lippe borrel: “Partykeer maak dit my so vies, Pa. Hy werk al twintig jaar vir Jan, maar besit nog steeds nie ’n enkele aandeel nie.”

      Ouma en oupa Venter drink hulle koffie. Ouma Venter lig ’n wenkbrou, maar sê niks nie.

      Elisabeth meen sy sien ’n gaping. Sy staan op van waar sy styf teenaan haar ouma gesit het en gaan sit langs haar ma. “So wat dink Ma van my idee?” vra sy weer met die stem waarmee sy so fluks met Neil geflirteer het.

      Antoinette beloon dit nie eens met ’n glimlag nie. “Ons sal later daaroor praat.”

      Later sal dit ’n trivialiteit wees. Antoinette sal feitlik geen gedagtetyd daaraan afstaan nie. Maar nou, op hierdie oomblik, sien sy iets van haarself in haar dogter raak en kan sy nie anders as eerlik met haarself wees nie. Hierdie aansitterigheid van Elisabeth irriteer die hel uit haar uit.

      — IX —

      Daar