Sara. Maretha Maartens

Читать онлайн.
Название Sara
Автор произведения Maretha Maartens
Жанр Религия: прочее
Серия
Издательство Религия: прочее
Год выпуска 0
isbn 9780796320650



Скачать книгу

suiwering in Ur woon nie; hoe kon hulle dit waag om Sin so te vertoorn? Abram het uitstel tot nuwemaan gevra, Tera het geweier.

      Daardie nag het Abram net eenkant gesit, daar was geen plesier met mekaar nie, want sy het vir hom gesê dat sy nie twyfel nie. Dat sy nie kon verstaan waarom hy twyfel nie. Dat hy haar moes neem.

      Abum Tera het haar na die lumahhu, ’n reinigingspriester by die ziggoerat, gelei. Daar is reinigingsdeeg aan haar bobeen gesmeer, die bok wat Abram moes saambring, is geoffer, die drooggeworde deeg is ná die offer van haar afgeruk om in die rivier gegooi te word.

      Naby hulle op die tempelterrein het mense op die grond rondgekruip, met ’n priester wat hulle laat val en opstaan, val en opstaan. Hy het ’n lied vir die ziggoerat gesing, en vir Nanna wat sy weg deur die eerste wolke van die reënseisoen sou moes vind. “Die E-kis-nu-gal, huis van Nanna in Ur / Sy heilige platform voor die troon, / huis met sy majestueuse platform / waar die groot kragte van hemel en aarde ontmoet / O, Nanna, u word op die heilige platform geplaas / geklee in die linnekleed van ’n god / u hoof omhoog, / met glansende horings / en die kroon van heerskappy!”

      Ná haar suiwering het hulle huis toe gegaan en gesien hoe die eerste vure van die nag bo by die E-kis-nu-gal, die allerheiligste huis van die maangod op die hoogste platform van die ziggoerat, begin brand. Abum Tera was op sy pos.

      Abram het na die piek van die ziggoerat, die berg deur mensehande gebou, staan en staar. Daar, reg bokant die tempel van Sin, was die plek van ontmoeting tussen die hemele en die aarde. Daar was die rusplek, die huis van die god wat meer van sy Sumeriese naam Nanna as van sy naam in haar en Abraham se taal gehou het.

      Sien ons tog raak, gode van die land, het die lekkende vlamme na die gode in die hoë hemele geroep. Hier in die stad aan die voet van die berg wat ons vir Sin gebou het, is ons. Help ons. Beskerm ons. Maak ons vroue en ons diere vrugbaar.

      “Ek sal ete maak,” het sy vir Abram gesê.

      Hy het omgedraai, stadig by die deur ingekom. “Voel jy suiwer, Sarai?” Want dit was lank voordat El Shaddai ook haar naam verander het.

      Sy het te lank met haar antwoord getalm. Hy het die vraag herhaal: “As jy suiwer voel, sê my dan hoe voel suiwerheid?”

      “Jy laat my twyfel,” het sy gesê. Al wat sy gevoel het, was die branderigheid aan haar bobeen, daar waar die droë deeg soos iets besmetliks van haar afgeskeur is, soos die afruk van ’n bose swam.

      Dit het sy nie van getroud wees geweet nie. ’n Man kan ’n vrou ook laat twyfel. Jy kan grootword met die sekerheid dat die Wakers, die werkergode in diens van die Ou Gode, oor jou waak terwyl jy slaap, omdat jou ma vir hulle gegee het wat hulle vra: dadels, reukolies, olywe, wyn, bier, melk en vleis. Omdat julle die gode tydens die nuwemaansfees en al die ander feeste aanroep en besing. Omdat julle elke pasisu, elke gesalfde priester respekteer asof hy self ’n god is. Die kragte van die Ouer Gode en hulle werkergode kan vir jou so werklik wees soos die hartklop van ’n vergoddelikte trom, so werklik soos die Tigris, maar as jou man twyfel, begin jy ook twyfel.

      Twee, drie nagte ná haar suiwering was die plesier aan mekaar egter weer groter as die twyfel, groter as enigiets anders.

      “Hy is vannag verwek,” het Abram met groot sekerheid gesê. “Hierdie seun van ons sal sterk en gesond wees, die eerste van baie seuns.”

      Hoe heerlik was die verwekking van lewe: ’n oond waarin liggaam met liggaam versmelt om later ’n kind uit die vuur te sien kom. Twee mense, ’n man en vrou, wat niks anders begeer as om in mekaar te versmelt nie. Een versmelte vreugdeoorspoelde wese wat weet die voorwerp uit die vuur sal die asem van die lewe in hom hê. Hy sal rooi en skreeuend uit die vuur kom, baie mane ná die samesmelting in die vuur. En hy sal so wonderbaarlik wees dat sy ma hom Asempie sal noem.

      Hoe seker was sy toe ook nog van wat in die vuur sou gebeur, keer op keer. “En ons moet darem ten minste een dogter ook verwek.”

      Hy het haar kop teen sy skouer en sy baard aangedruk, sy hand op haar bors, daardie eerste keer ná haar suiwering. “Eers seuns, dan ’n dogter of twee. Maar as ons geen dogters het nie, sal dit eintlik goed wees.”

      Sy het na hom gedraai. “Hoe kan jy sê dit sal goed wees?”

      Hy het die teleurstelling aangevoel, haar digter teen hom aangetrek. “Ek bedoel net dat dit vir my makliker sal wees, Sarai.”

      Dalk was dit die eerste kopstamp in hulle jong huwelik, een nag ná die samesmelting in die vuur. “Nou verstaan ek jou glad nie.”

      Sy het teen sy lyf gelê, sy groot manslyf, gemaak vir vaderskap. “’n Mens maak dogters groot, Sara, en dan moet jy ’n bruidskat in hulle plek aanvaar, hulle aan iemand anders afgee. Wat is wisselskywe van klei regtig werd? Ook dogters is vlees van my vlees. Waarom sal ek ’n kind wat uit jou en my verwek is, verruil vir kamele, donkies of goed wat van lasuursteen gemaak is?”

      “Hier kom moeilikheid,” het sy hom nog geterg.

      Hy het nie besgegee nie. “Ek sukkel om ’n donkievul prys te gee, Sara. Wat nog van ’n kind?”

      Asof die gesprek hoegenaamd nodig was. Asof daar hoegenaamd rede vir skok of rusie was. Want lewe het hulle nie verwek nie. Niks, lewend of dood, het uit die vuur gekom nie.

      Later het hulle nie eens meer probeer nie.

      Was jy maar hier om alles te hoor en te sien, Rahel. Abi-Yatum het so pas ’n waterkruik naby die tentopening kom neersit. Nogal nukkerig ook, as ek haar so kyk. Die water het gespat. Of anders is sy net moeg aan die groot kruik gedra.

      Die lang vrou wat my nou gedurende die middag tussen al haar ander take deur versorg, beduie met die kop: “Gaan gee vir haar van die water. Jy kom reg met haar. Die ummu- šību kry te min water in.”

      Abi-Yatum is uitgekuier met my. “Maar sy het water gedrink!”

      “Loop trek die vel op haar hand op, dan kyk jy waar bly dit staan. Daar is nie water in haar nie.” Die lang vrou beduie op haar eie hand, trek haar eie vel op. Dit val terug. Sy is sterk en daar is baie water in haar lyf. Haar kop raak-raak aan die tentdak. Sy hoort hier in Hebron wat deur haar mense Plek van die vier Reuse genoem word.

      Abraham noem Kirjat-Arba die plek van ooreenkomste, verbonde.

      Hy bewaar die inhoud van die talle ooreenkomste wat hy in Kanaän met magtige mense gesluit het – in Egipte, by Gerar, hier by Kirjat-Arba, met Abimelek, by Berseba – die een moeisaam beredderde verbond ná die ander. Die inhoud van elke ooreenkoms in gebakte klei, die t.uppum van sy vreemdelingskap, so anders as die kleitablette van sy jeug, toe alles nog eenvoudig was. Hy het die t.uppum van die tabletskole en handelstransakies van Ur-Ma in sy geheue saamgebring na hierdie land.

      Op die t.uppum van sy jeug was sy aantekeninge oor sterrebeelde, berekeninge, die spreuke van wyses wat lank voor hom geleef het, die geskiedenis van sy roemryke land.

      Hier bewaar hy die inhoud van moeisame onderhandelinge met die inwoners van die land en hoop niemand gooi die tablette in woede stukkend sodat die inhoud daarvan ongeldig raak nie.

      Hy noem Hebron ook Plek van die Groot Verbond, maar daarvan het hy nie ’n kleitablet as bewys nie.

      Die lang vrou raas: “Ek het gepraat, Abi-Yatum! Toe, sorg dat die ummu- šību drink.”

      Die kind praat Amorities tussen haar tande deur. Akkadies met die vloeke van Kanaän-woorde besoedel. Sy is nie lus vir werk nie.

      HOOFSTUK 10

      Ek het weer teruggeval, Rahel. Dit is soos ’n opdraand. Ek klim, dan val ek terug. Dan bevind ek my weer in die nag tussen die negentiende en twintigste dag van Lente. Later val ek verder terug, tot diep in verre nagte.

      ’n Paar Amoriete het raserig ingekom. Die vrou het ’n baba in haar arms gehad, die man ’n seuntjie aan die arm, met drie ander wat agternakom. ’n Gesin, het Sara gedink.

      Hulle