Название | Elsa Winckler Eerste Keur |
---|---|
Автор произведения | Elsa Winckler |
Жанр | Эротическая литература |
Серия | |
Издательство | Эротическая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624084853 |
Sy tel haar selfoon op. Reynecke!
“Haai jy,” groet sy.
“Hallo. Wou net hoor of jy veilig is.”
“Ja … uhm … ja, ons het maklik gery, die pad was stil.”
“En … uhm … Het jy … Giel … het hy jou gesoen?”
“Het jy vir Reinette gesoen?”
Reynecke swets. “Natuurlik nie, hoe kan jy so iets vra ná wat vanaand gebeur het?”
Cilla bly stil en wag. Dan hoor sy die sug.
“Jy’s reg, ek moes nie gevra het nie. Jy sou nie.”
“Reynecke, hoekom bel jy?”
“Ek moes net weer jou stem hoor. Ons … ons moet praat. Dis nou baie besig op die plaas, maar ek sal jou bel. Ek wil jou graag soen … ek bedoel, sien … ek bedoel, ek wil jou soen ook, maar …”
Cilla hoor nog ’n paar knope en glimlag. Goed so. Sy is nie al een wat gefrustreer is nie.
“Nou maar bel my wanneer jy besluit wat jy wil doen. Sien, soen – ek is oop vir enigeen,” terg sy.
“Meisiekind … jy mors met my, nè?”
Cilla lag lekker.
“Ek bel jou. Lekker slaap,” sê hy en sy hoor hoe glimlag hy.
Sy sit die lig weer af, kruip diep onder die komberse in en maak haar oë toe. Nou sal sy kan slaap.
Net voordat sy wegraak, besef sy sy glimlag nog altyd.
6
Cilla kyk na die graadelfdogter voor haar en druk haar hande in haar baadjiesakke. Dis al manier waaraan sy kan dink om nie die kind te lyf te gaan nie. Dis Vrydagmiddag, sy wil op die plaas kom. Hulle is nou al ure lank besig om net die spyskaart vir die matriekafskeid te probeer uitsorteer, maar dié enetjie wil oor alles redekawel. Hoop seker om volgende jaar hoofmeisie te wees.
Cilla wil skaam kry oor haar katterige gedagtes, maar sien dat die res van die komitee net so geïrriteerd lyk. Cilla staan op en skuif haar stoel terug.
“Marzanne, ek sê jou wat. Jy stel ’n spyskaart op soos wat jý dink dit moet wees. Dan e-pos jy dit vir almal. Almal kan kommentaar lewer en die ding uitspook en wanneer ons weer vergader, wil ek ’n finale spyskaart sien, een waaroor die meerderheid saamstem.”
Dis stil om die tafel. Cilla maak haar papiere bymekaar. “Ons het nog baie ander dinge om oor te praat, ons kan nie tot in lengte van dae oor die kos wroeg nie. Onthou, dis ’n matriekafskeid, nie ’n koninklike troue nie.”
Sy stap vinnig by die klaskamer uit en voel dadelik ellendig. Dit was nie nodig om so bitsig te wees nie. Sy vryf teen haar slaap. Die effense hoofpyn waarmee sy vanoggend wakker geword het, het ontpop in ’n knaende, kloppende seer. En die ou Marzanne-kindjie maak haar heeltemal lam.
Laat sy dit nou ook maar erken. Seksuele frustrasie is die hoofoorsaak van haar ongedurigheid. Sy kan die mure uitklim. Sy en Reynecke probeer al ’n week lank om ’n afspraak te reël, maar dis asof alles in die heelal teen hulle saamspan. As sy nie by die skool besig is nie, is daar ’n perd siek of een van die studente daag nie op vir ’n klas oor die naweek nie. As hy nie ’n krisis op die plaas het nie, is sy ouma in die hospitaal.
Dis belaglik. Hulle is grootmense. Hoe moeilik kan dit nou wees om by mekaar uit te kom?
Sy stap vinnig om die laaste hoek op pad na haar motor, net om hard in ’n gespierde bolyf vas te loop. Dis Pieter van Zyl, die skool se rugbyafrigter. Hy gryp haar aan haar boarms vas en sy lag op na hom.
“Skies man, ek is so ingedagte en haastig.”
Hy glimlag terug. “Dis my plesier. Dis nie aldag dat ek in ’n mooi meisie vasloop nie.”
Cilla lag en wuif oor haar skouer terwyl sy haastig wegstap. Sy het duisende dinge wat nog vanmiddag moet klaar en sy wil vir Reynecke bel om te kyk of hulle nie tog ’n plan kan maak nie.
Sy vroetel in haar mandjie op soek na haar motorsleutels, en hoor ’n motor wat aangeskakel word digby haar. Sy kyk rond en kyk vas in Reynecke se stroewe gesig. Hy sit in sy bakkie en lig sy vingers in ’n wrang saluut voordat hy met skreeuende bande wegtrek.
Cilla staan verslae. Wat op aarde het nou net gebeur? Sy kyk die bakkie agterna terwyl haar brein sukkel om die laaste paar sekondes te verwerk.
“Jy oukei?” hoor sy Pieter agter haar vra.
Sy draai om. “Ja … uhm … ek’s fine.” Sy klim vinnig in haar motor. Stadigaan registreer sy wat moes gebeur het. Reynecke het haar en Pieter bymekaar gesien toe Pieter se hande op haar arms was en sy eie simpel afleidings gemaak.
Sy slaan teen die stuurwiel uit skone frustrasie. Wel, as dit is hoe hy dink, dan is dit goed dat hierdie … ding tussen hulle nie verder ontwikkel nie. Baie goed. Sy trek stadig weg en vee vinnig aan die traan wat uit die hoek van haar oog ontsnap. Sy gaan nie huil oor daai man nie, sy gaan nié.
“En nou? Ek dog jy gaan eers môre plaas toe?”
Cilla kyk vinnig op. Imke staan in haar kamerdeur, arms gevou.
“Ek verlang my mense,” sê sy vinnig, stroef, en pak haastig verder in.
Imke kom sit op die bed langs haar tas en vat aan haar hand. “Cillatjie, praat met my. Wat? Wie en wanneer? Kom, sit. Praat.”
Cilla sug en kniel op die grond voor die tas terwyl sy aanhou inpak. “Daar is niks om te vertel nie. Ek het gedink daar’s iets, maar hy …” Sy hap in die lug op soek na die regte woorde. “Ek het nie woorde om te beskryf hoe hy my frustreer en vies maak nie.”
“Kom ons begin heel voor. Van wie praat ons?” vra Imke stadig.
Cilla kyk vies na haar. “Van Reynecke. Asof jy nie weet nie. Dis hy wat my Saterdagaand in die stal ge- … ge- …”
“Gevry het dat jou ogies skitter en jou hare heeltemal deurmekaar was?” terg Imke.
“Hy het my ge- …” Cilla wil sê hy het haar net gesoen, maar besef dat wat tussen hulle gebeur het, baie meer was as net ’n soen. “Oukei, ja. Ons het ge– … vry, as jy nou die platvloerse woord moet gebruik.”
“En toe?” vra Imke en leun vorentoe.
“En toe niks nie. Ons het die hele week gesukkel om by mekaar uit te kom, daar was gedurig die een of ander ding. Toe ek vanmiddag uit die skool kom, toe loop ek in Pieter vas. Hy’t my gegryp om te keer dat ons val. Ons glimlag toe vir mekaar, ek groet en ek stap aan motor toe. En wie sit in sy bakkie en gluur my aan? Die uwe. Hy maak sy eie afleidings van wat gebeur het en trek daar weg dat die klippe spat. So, nee, Imke, niks het gebeur nie, niks gáán gebeur nie. Ek gaan myself nie heeltyd verduidelik nie.”
Vies staan sy op, gooi haar toiletsakkie in die tas en rits dit toe.
“Die idioot! Het hy jou nie kans gegee om iets te sê nie?” Imke is sommer rooi in die gesig.
Cilla skud haar kop en trek die tas vies van die bed af. “Nee. Hy het nie eers uit sy bakkie geklim nie. Ek kan nie glo dat hy so iets van my kan dink na wat … na wat tussen ons gebeur het nie.”
Haar oë is skielik vol trane. “En weet jy, die tekening? Wat ek jou gewys het? Dis hy. Ek … dis asof ek my lewe lank vir hom gewag het.” Sy trek die tas agter haar aan tot by die deur en trek een skouer op.
“Maar dalk verbeel ek my net. Dalk is dit nie hy nie. Hy vertrou my nie. Hy het nog nie vrede oor sy ma se dood nie. Alles wat daarna gebeur het, bepaal nog steeds wie en wat hy is. Dis beter dat ek nóú weet voordat ek pens en pootjies staan en verlief raak op hom.”
Sy probeer glimlag. “Ek ry nou. Geniet jou naweek.”
Imke