Название | Die seewind se lied |
---|---|
Автор произведения | Elza Rademeyer |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624071266 |
Sy loop teësinnig met die tang na buite en tref hom weer onder die boom aan.
“Ditsem, nou lyk jy spanne beter,” begroet hy haar en wys na ’n glas gemmerbier op die tafel. “Drink. Dit sal help om jou af te koel, van binne én van buite.”
Tot haar konsternasie voel sy hoe haar oë skielik begin brand van … nugter weet wat! Dit sal die kroon span as sy nou in trane moet uitbars! Sy sluk hard. “Dis hierdie ou simpel dorp van julle. Ek moes verby gehou het Kaap toe, dan het ek nie in so ’n gemors beland nie.”
“Daar is net een van twee dinge wat jy kan doen. Jy kan jou skik na omstandighede en die beste daarvan maak. Of jy kan bly kyf en net jou eie lewe en almal s’n om jou versuur. Ek stel voor jy doen eersgenoemde.”
Sy kyk vinnig weg toe sy voel sy bloos. “Ek is jammer ek het my humeur so verloor, maar die verdekselse motor … Dis die eerste keer dat hy my só in die steek laat!”
“Ag, dit kan met enige motor gebeur,” sê hy ná ’n kort stiltetjie. “Eintlik is jy gelukkig dit het hier in ’n dorp gebeur en nie op die grootpad Kaap toe nie. Ek sal jou môreoggend help. Intussen kan jy gerus ontspan en jou vakansie geniet. Ons kan netnou weer gaan swem as jy lus is. Of nog beter, ek kan ons simpel ou dorpie vir jou gaan wys.”
“Ek hét verskoning gevra oor ek … wel, so vies was dat ek allerhande dinge gesê het!”
Hy lag, en dit vang haar weer onverhoeds soos daar by die see, want dit doen iets aan hom as hy lag. Dit laat hom onweerstaanbaar aantreklik lyk. Sy kyk vinnig anderpad. ’n Aantreklike man is ’n gevaarlike ding. Hulle mors met meisies se gevoelens, en hulle wil alewig hul wil aan jou opdwing.
Hy leun skielik oor na haar en klink sy glas teen hare. “Gesondheid. Ons drink op joune en foeter myne op.”
Sy glimlag, weliswaar teen haar sin, maar darem. Die woord “gesondheid” maak dat sy onthou van tant Mienie se siekte en haar glimlag verdwyn. “Is dit waar dat tant Mienie kanker het?”
Hy kyk ondersoekend na haar gesig voordat hy sy kop knik. “Ja.”
“Sy sê die dokter het gesê sy gaan nie meer lank leef nie?”
“Geen dokter kan vir seker sê hoe lank ’n mens gaan leef nie.”
“Maar hulle kan tog by benadering sê?”
Hy kyk Elmien ineens stip in die oë. “Wil jy graag jou stiefouma dood hê?”
“Moenie laf wees nie! Ek ken haar skaars, hoekom sal ek haar wil dood hê?”
“Dalk om haar erfporsie in te palm.”
“Jy’s siek in jou brein. Ek het jou gesê jy kan maar haar erfporsie kry. Ek het genoeg geld van my eie.”
“Wat jy waar kry?”
“Waarvoor ek werk!”
“Drink jou koeldrank, dan gaan wys ek ons dorp vir jou.”
“Ek stel nie in die dorp belang nie,” sê sy van nuuts af vererg.
“Jy sal, as jy eers sien wat ons alles hier het.”
Sy luister vaag terwyl hy haar begin vertel van hul dorp se museum en warmwaterswembad, maar raak tog gaandeweg meer ontspanne. En toe hul glase leeg is, stap sy agter hom aan na sy huis toe. By sy voordeur steek hy egter vas.
“Ek het skoon vergeet ek het nie ’n motor nie. Ek sal tant Mienie s’n moet leen. Wag jy hier, ek gaan haar gou vra.”
Elmien kyk hom verslae agterna toe hy na tant Mienie se huisie toe stap. Maar natuurlik, wat het sy verwag? ’n Man wat nie werk nie kan tog nie ’n motor bekostig nie. Hy kan seker nie wag dat arme tant Mienie haar laaste asem moet uitblaas nie. Wat ’n grap sal dit nie wees as hy niks van haar erf nie! Dit lyk in elk geval nie of hy genoeg sal kan erf om ’n motor te koop nie. Miskien sal hy dit darem kan doen as tant Mienie al haar besittings én die huis aan hom bemaak. Of het die huis aan Schalk behoort?
’n Bloedrooi sportmotor wat stadig in die straat af gery kom, trek haar aandag. Sy neem nie veel notisie van die bestuurder nie, maar merk darem dat dit ’n vrou met blonde hare is. Sou sy dalk ’n adres soek? wonder Elmien. Maar toe die motor skielik versnel en sy Wynand sien aankom, vergeet sy daarvan.
Wynand weet niks van die bejammerende gevoel wat Elmien jeens hom koester toe hulle ’n ruk later in tant Mienie se afgeleefde ou blou motortjie deur die strate ry nie. Hy gaan wys vir haar die plekke langs die see waar die woonwaens soos sardientjies ingeryg staan en ry daarna deur Bay View voordat hy koers kies Mosselbaai toe.
“Die gebied waar ons nou ry, word Voorbaai genoem,” sê hy vir haar terwyl hulle wag dat die verkeerslig na groen moet oorslaan. “Hierdie gebou links van ons is Langeberg se inmaakfabriek. Hier word produkte soos mielies, erte en bone verwerk en geblik.”
’n Rukkie later wys hy vir haar waar Diasstrand op hul linkerkant lê. Nog verder, De Bakke- en Santosstrand. Hy gaan maak ook ’n draai by Die Punt en wys vir haar die Vlermuisgrot onderkant die ligtoring.
“Ek was op ’n keer op Mosselbaai,” sê Elmien. “Maar al wat ek vaag onthou, is dat ons by die Posboom was waar die bemanning van destyds se skepe vir mekaar boodskappe gelos het.”
“Ja, hy is vandag nog daar. Ek sal hom nou vir jou gaan wys.”
Op pad na die Posboom hou hy egter eers stil om vir haar die hawe en stasie te wys.
“Dis ’n snaakse boot wat daar lê,” beduie Elmien na die langwerpige roesbruin skip waar dit tussen die kaai en Robbe-eiland op die spieëlgladde branders lê.
“Dis ’n olietenkskip. Hier kom baie van hulle. Hulle ver-skeep Mossgas se produkte.”
“Hoekom kom lê hy nie in die hawe nie? Hier is mos plek vir hom.”
“Die produk word sommer daar deur onderwater-pypleidings in hom ingepomp.” Hy kyk na haar en sien hoe sy haar hare agter haar nek lig asof sy met die gebaar koeligheid soek. “Dis warm. Ek dink ek gaan gou vir ons koeldrank koop. Wil jy saamkom, of wag jy hier vir my?”
“As jy nie omgee nie, wag ek hier. Die uitsig is so mooi, ek kan my verkyk.”
“Hou die motor se sleutels by jou,” sê hy vir haar. “Ek sal nie lank wegbly nie, maar dan kan jy darem sit as jy moeg raak.”
Sy kyk hom agterna terwyl hy wegstap. Hy het weliswaar nie ’n wafferse huis nie, hy is werkloos en hy besit nie eens ’n motor nie, maar hy is darem nie heeltemal ’n ghwar nie, want hy is nogal netjies op sy persoon en hy kan selfs gaaf wees as hy wil. Haar blik dwaal terug oor die see. Die water is stil vandag, seker oor die wind die vorige aand weer gaan lê het, dink sy. Dis ’n mooi prentjie voor haar: die see met die wasige blou berge op die agtergrond. Sy het nie gedink Mosselbaai is so ’n pragtige dorp nie. Dit moet heerlik wees om hier te kan woon. Om elke dag die see te kan sien en …
Sy weet nie dat Tom Prinsloo nader kom toe hy die verweerde motortjie herken nie, en skrik haar yskoud toe iemand skielik hier reg agter haar rug praat: “Mirrag, mêrrem. En as mêrrem nou so allenig hier staan?”
“Ek … e … staan sommer,” sê sy lugtig vir die man met die visstok oor sy skouer. Sy mik vir die motor, maar sy sal teenaan hom verby moet loop. Daar is darem baie ander mense en motors in die omtrek, maar sê nou hy haal ’n pistool uit?
“Is mêrrem van die wêreld, of is mêrrem ôk by die holiday?”
“By die holi … Ek bedoel, ja, ek is met vakansie hier.”
“Het mêrrem darem toe geproe hoe smaak ons se sie se vissies?”
“Ja, ek het gisteraand vis geëet.”
“By mêrrem Mienie Schoeman?”
Elmien gaap hom aan, haar vrees skoon vergete. “Ken jy haar?”