Название | Die seewind se lied |
---|---|
Автор произведения | Elza Rademeyer |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624071266 |
“Of hy en jou ma darem gelukkig saam was?”
“Gelukkig! Hy …” Sy swyg toe sy tant Mienie se gesig sien en sluk haar bitsige antwoord terug. Sê dan vaag: “Ja, seker maar.” En toe die tante agterdogtig na haar kyk: “Ek is jammer ek klink so onbeskof, tante. Maar my motor se dinge … Ek wou maar liewer gery het.”
“Ag, hoekom bly jy nie maar tot Kersfees hier by my nie? Jy hoef my nie te betaal nie. Ek is so bang om Kersfees alleen te wees. Dit is die eerste Kersfees wat die oom nie saam met my sal wees nie. Ek huil sommer elke dag as ek daaraan dink. En dan nog my siekte ook,” sê tant Mienie verdrietig.
Elmien se hart vermurwe. “Wat is dan verkeerd?” vra sy besorg.
“Kanker. Die dokters kan niks meer vir my doen nie. Hulle sê dit is al te ver gevorder.”
“Ek is vreeslik jammer om dit te hoor,” sê Elmien verslae. “Het tante pyn?”
“Nee, gelukkig is dit pynloos. En dis nie dat ek daarteen opsien om te sterf nie, maar die alleenheid vang my. Dié dat ek so graag wil hê jy moet langer hier by my kuier.”
Elmien loer onrustig see se kant toe. “Ek dink ek gaan gou die garage bel. Hulle kan my motor se bande mos seker hier kom regmaak?”
“Die garage sal toe wees. Dis mos Sondag vandag.”
“O ja, natuurlik.”
“Kom, dan gaan maak ek vir ons tee. Jou ontbyt staan ook vir jou en wag.”
Elmien besef sy sal sowaar nie kan wegkom voor Wynand terugkom van die see af nie. Sy’t skoon vergeet dis Sondag. Gaan sy nou hier gestrand sit tot die garage môre oopmaak? En wat van tant Mienie se wens dat sy hier moet bly tot Kersfees? Durf sy ’n sterwende mens se wens in die wind slaan?
Wynand hou hom dom en siende blind toe hy voor tant Mienie se huis verbystap na sy huis langsaan. Selfs toe tant Mienie hom nader roep en van Elmien se dilemma vertel, maak hy asof hy niks weet nie.
“Sommer twéé pap bande! Gmf, dis nie iets wat aldag gebeur nie.”
“Nee,” sê tant Mienie. “Dit is nie iets wat aldag gebeur nie. En nou is Elmien nog so haastig om weg te kom voor die son te kwaai raak.”
“Weg te kom waarheen?”
“Kaap toe.”
“Hoekom is sy haastig? Wat jaag haar nou so skielik?”
Elmien kan haar nie langer doof hou nie. Sy voel haar verplig om ook by die deur uit te loer. “Niks jaag my nie, ek wil net in die Kaap kom!”
“Ek verstaan. Dit lyk egter of jou motor besluit het hý wil bly. Hoekom het jy so haastig padgegee daar van die strand af?”
“Ek het ’n weerwolf in die water gewaar.”
“’n Weerwolf in die water?” vra tant Mienie verstom.
“Ja, een wat valse beskuldigings rondslinger en hom verbeel hy’s wie!”
Wynand grinnik hardop. “Ek dag jy’t belowe ons gaan vriende word?”
“Nie met jou nie, dankie.”
“Hoekom nie? Oor ek laat blyk het ek weet wat jy hier kom maak?”
“Jy’s verskriklik verwaand, weet jy?”
“Wat is aan die gang?” vra tant Mienie. “Hoekom baklei julle twee met mekaar?”
“Sy’s kwaad vir haar motor, nou haal sy dit op mý uit,” sê Wynand met ’n grinnik. “Maar moenie bekommerd wees nie, ek sal net ná kerk kom kyk of ek haar kan help. Nou met ek ongelukkig eers gaan stort.”
“Ek het nie jou hulp gevra nie, dankie. Ek sal self regkom.”
“Hoe?”
“Dit traak jou nie hoe nie!”
“Het jy ’n pomp in jou motor?”
“Ek … Natuurlik sal ek een hê. Jy kan mos sien my motor is nog splinternuut!”
“Selfs nuwe motors het nie altyd pompe nie. Kom roep my maar as jy vasdraai.”
Elmien kyk hom half verslae agterna toe hy sonder meer wegstap en sy huis binnegaan. Pleks sy tog maar die minste was en haar mond gehou het. Hoe pomp ’n mens ’n motor se bande op? Om die waarheid te sê, sy weet nie eens of haar motor ’n noodwiel het nie. Hy moet seker een hê, maar sy het dit nog nooit met ’n oog gesien nie.
Toe sy klaar tee gedrink het, begeef sy haar dadelik na haar motor. Sy kry nie die noodwiel nie, ook nie iets wat soos ’n pomp lyk nie. Tant Mienie kom ook later help soek.
“Het jy al die klap agter in jou kattebak opgelig? Party motors se noodwiele word mos daar gebêre. Ander motors s’n sit weer onder die motor se agterstel.”
Wynand glimlag sinies toe hy op pad kerk toe sien hoe Elmien ietwat onvroulik buk om onder haar motor in te loer. Laat sy sukkel! Sy wil haar mos hardekwas hou.
Elmien kry uiteindelik die noodwiel opgespoor, maar besef dat een wiel haar nie gaan help nie. Tog, as sy nou die een wiel omgeruil kan kry, sal die garage môreoggend gouer klaar wees met die ander een.
Nie in haar stoutste drome het sy egter kon raai dit is so ’n groot werk om ’n wiel om te ruil nie. Sy raak so warm van die gesukkel dat sy kort-kort eers weer die huis moet invlug om ’n bietjie te gaan afkoel. Toe sy, ná langer as ’n uur se gespook, uiteindelik klaar is met die omruil van die wiel, is sy papnat van die sweet en haar gesig vol swart strepe. En toe, wat sal sy sien! Sommer hier, ’n paar treë van haar af, sit Wynand met uitgestrekte bene heerlik in die skaduwee van ’n koelteboom aan ’n glas skuimende bier en teug, sy blik geamuseerd op haar gerig!
Haar gesonde verstand sê vir haar sy moet hom ignoreer, maar haar humeur wil nie saamspeel nie. Toe sy haar kom kry, staan sy reg voor hom en borrel die woorde sommer net by haar mond uit: “Dis nou tipies van deesdae se mans! Om hulle te sit en vergaap aan ’n meisie wat manswerk doen sonder om hulp aan te bied. Nee, dis mos baie lekkerder om in die koelte te sit en bier te drink as om jou ordentlikheid te betoon en iemand in nood te help! Ek hoop van harte die dorings steek sommer môre al vier jou motor se bande ook vol gate!”
Wynand neem eers rustig ’n slukkie bier. Dan staan hy op en beduie na sy stoel. “Sit ’n rukkie. Jy lyk moeg. Kan ek vir jou ook ’n bier bring?”
Sy kyk hom begogel aan. “Ek wil g’n sit nie! Ek wil net vir jou vertel wat ek van jou dink!”
Hy neem weer op die stoel plaas. “O, is jy nog nie klaar nie? Nou, gaan maar voort?”
Sy besef hy is besig om met haar die gek te skeer, en dit maak haar net nog kwater. “Jy is nes al die mans wat ek ken. Dink mos net aan jou eie gerief. En wanneer julle boonop met ’n glas drank in die hand sit, kan die wêreld om julle vergaan sonder dat julle ’n vinger sal lig om dit te verhoed!”
“Nou reken, nè. En jý is blykbaar tipies vrou. Van die neulerige soort wat floreer daarop om te kyf soos die gedrup van ’n lekkende kraan. Koel af en kom drink ’n bier saam met my. Jy sal tog nie voor môre jou motor padwaardig kry nie. Sit solank op my stoel. Ek sal vir my ’n ander een gaan haal. Van watter soort bier hou jy?”
“Ek wil g’n bier het nie. Ek is nie ’n dronklap nie.”
Hy trek sy skouers op. “Wat van koeldrank?”
“Ek wil ook nie koeldrank hê nie. Ek wil my motor reg hê sodat ek kan ry!”
“Dít sal jy nie vandag regkry nie. Jy sal jou maar moet skik na omstandighede en wag tot die garage môreoggend oopmaak. Gaan was jou gesig en kom sit hier buite in die koelte. Ek sal solank vir jou iets koels gaan haal om te drink.” Hy voeg die daad by die woord sonder om op haar reaksie te wag.
Sy staar hom