Название | Die seewind se lied |
---|---|
Автор произведения | Elza Rademeyer |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624071266 |
“Ek het jou mos gesê jy is welkom om hier by my te bly,” sê tant Mienie toe sy moet bieg dat sy nie geholpe kan raak nie. “My vrykamer staan reg – tot die bed is skoon oorgetrek. En ek het vaneffe in die Baai ’n lekker vars vis gekoop. Ek gaan dit netnou vir ons gaarmaak.”
“Dit sal nie vir lank wees nie,” sê Elmien verskonend. “Miskien net tot môre of so. Ek dink daaraan om ’n draai in die Kaap ook te gaan maak.”
“Ag, hoe langer jy bly, hoe lekkerder sal dit vir my wees. Al is ek oud en sieklik, geniet ek nog altyd geselskap. Of het jy familie in die Kaap?”
“Nee, ek het nie familie in die Kaap nie.”
“Dan kan jy maar jou hele vakansie hier by my kuier,” nooi tant Mienie.
Elmien aarsel toe Wynand tang in die hand uit die badkamer gestap kom. “Ek wil tog nie ’n oorlas wees nie.”
“Hoe kan jy vir my ’n oorlas wees? Jy is dan my kleindogter.”
Sy wil protesteer, maar toe Wynand na haar kant toe kyk, sluk sy haar woorde terug. Sy sal liewer nie die tante in die gesig vat voor die vreemde man nie. Sy sal haar wel later mooi laat verstaan dat sy nie as ’n familielid van so ’n swendelaar soos Schalk Schoeman bekend wil staan nie.
Dinge verloop anders as wat Elmien voorsien het. Toe sy die aand die kamerlig in tant Mienie se huisie afskakel, klim sy met gemengde gevoelens in die bed. Dis nie dat sy Schalk Schoeman minder haat nie, maar sy voel opreg jammer vir sy ma. Die tante lyk so oud en sieklik dat sy dit nie oor haar hart kon kry om haar verder te ontstel deur haar van al Schalk se bedrog te vertel nie.
Sy het verwag om hoogstens ’n verlangende familielid of kennis van Schalk hier aan te tref, iemand wat haar sou kon sê of die vakansiehuis wel nog aan Schalk behoort. Of hy hoegenaamd enige bates besit soos hy beweer het. Dit sou geld kos om ’n speurder aan te sê om die snuffelwerk te doen, daarom het sy besluit om maar self te kom. Eintlik het sy verwag om vreemde mense in die huis aan te tref wat sou bewys dat Schalk gejok het oor die huis, of dat hy dit lankal verkoop het om die geld uit te dobbel. Die feit dat sy ma nog leef, gaan die afhandeling van die boedel seker nog langer vertraag. Wat haar ma besiel het om binne gemeenskap van goedere te trou! Wat haar besiel het om hoegenaamd met ’n man soos Schalk te trou!
En Wynand Bresler … Sy weet nie wat om van hom te dink nie. Hy was die hele middag daar in tant Mienie se huis rond, besig met peuselwerkies, en het selfs saam met hulle aandete geëet. Maar sy kry al die gevoel dat hy nie van haar hou nie. Sy het hom ’n paar keer betrap dat hy byna spottend na haar staar. Maar wat maak dit in elk geval saak of hy van haar hou of nie? Sy is niks aan hom verskuldig nie!
Die lang rit het haar uitgeput. Sy raak feitlik dadelik aan die slaap.
Toe sy weer wakker skrik, sien sy dat dit al dag is. Iewers in die huis is daar geluide, dus moet tant Mienie al op wees.
Die vorige aand was sy te moeg om veel notisie te neem van die dinge om haar. Sy sien nou eers sy lê op ’n outydse koperbed onder ’n handgemaakte lappieskombers. Sy besef die waarde van die meubels, want dis waaruit haar pa sy fortuin gemaak het: deur handel te dryf met antieke meubels.
Sy is nog besig om haar aan die oudhede in die kamer te verwonder, veral die geel- en stinkhoutwastafel met sy marmerblad kompleet met kom en beker van porselein, toe tant Mienie ná ’n sagte kloppie die kamer binnekom.
“Is jy wakker? Ek het vir jou koffie gebring.”
“Dit is regtig nie nodig dat tante soveel moeite doen nie. Ek kon in die kombuis gaan koffie drink het.”
“Dis vir my lekker om jou hier te hê. Kan jy nie maar vir altyd hier by my bly nie?”
Elmien weet nie wat om te antwoord nie. Tant Mienie weet nie hoe vyandiggesind sy teenoor haar nikswerd seun gevoel het nie.
“Jy moet jou koffie drink voor dit koud word,” sê tant Mienie toe Elmien haar nie antwoord nie. “Wynand het gesê hy kom jou nou-nou haal.”
“Wynand? Waarheen kom hy my haal?”
“Seker see toe. Hy gaan swem mos elke oggend. Ek is só bly hy is hier. Hy doen so baie dingetjies vir my. Hy het tot my huis se dak ook geverf. Gister het hy my weer Mosselbaai toe geneem vir inkopies. En hy wil nooit geld by my vat nie. Ek vergoed darem daarvoor deur so af en toe vir hom ’n bord kos te gee, en partykeer koop ek vir hom ’n stukkie klere. Maar ek weet nie wat ek gaan doen as hy weggaan nie. Jy kry mos nie meer jong mense wat vir ons oues van dae iets wil doen nie.”
Elmien wonder waarom Wynand haar wil kom haal om saam met hom see toe te gaan. Sy ken hom van geen kant af nie. En as sy dink aan die vorige aand, sy bot houding teenoor haar … Maar tant Mienie gee haar nie veel kans om oor Wynand Bresler te tob nie.
“Vertel my meer van Schalk. Jy’t nie dalk ’n foto van hom nie?”
“Ongelukkig nie. My ma mag dalk ’n huweliksfoto hê. Ek weet ook nie, want hul trouery was baie skielik. Hulle het mekaar net tien dae geken. Ek wou my ma nog waarsku … Ek bedoel, ’n mens trou mos nie so halsoorkop nie, maar toe ek my oë uitvryf, was hulle kant en klaar getroud.”
“Het jy nog broers en susters?”
“Nee, ek is my ma se enigste kind.”
“O gits, hier kom Wynand al voor die venster verby. Het jy ’n baaikostuum saamgebring?”
“Ja, ek het, maar …”
“Trek gou aan. Ek sal vir hom sê jy sal nou-nou reg wees.”
Sy trek moedswillig vir haar ’n rok aan. Sy sal haar nie deur tant Mienie of dié se buurman laat voorskryf wat sy moet doen nie. As sy wil gaan swem, sal sy dit op haar eie doen.
Miskien was sy die vorige aand baie moeg, moet sy toegee wanneer sy die kombuis binnegaan en Wynand daar sien staan. Sy kan nie onthou dat hy in sy vuil oorpak so aantreklik gelyk het soos in die modieuse kortbroek en hemp wat hy vanmôre aanhet nie. Dis juis die aantreklike mans vir wie ’n meisie versigtig moet wees, maan sy haarself. Jurg was ook so aantreklik en kyk wat het gebeur!
Hy begroet haar met ’n kopknik en vra voorbarig: “Het jy jou baaikostuum aan?”
“Nee, ek het ’n rok aan, soos jy kan sien.”
Hy frons. “Swem jy in ’n rok?”
“Wie sê ek gaan swem?”
“Ek sê so.”
Verwaand, som sy hom op. Natuurlik gewoond daaraan dat al wat ’n meisie is oor hul voete val om hom te plesier. Wel, sy is gelukkig nie in ’n beswyming oor sy aantreklikheid nie. Dan is hy blykbaar werkloos ook, want hy is gedurig hier om die huis en tant Mienie het gesê sy voorsien hom maar van kos en klere.
“Ek stel nie belang om hierdie tyd van die oggend te gaan swem nie, dankie.”
“Ek wil met jou praat.”
Sy skerp blik maak haar kriewelrig. “Wel, doen dit dan, nie dat ek aan enigiets kan dink wat ons vir mekaar te sê kan hê nie. Wat mý betref, is ons vreemdelinge vir mekaar.”
“Wil jy nie iets eet nie?” tree tant Mienie ietwat senuweeagtig tussenbeide.
“Nie nou nie,” sê Wynand. “Ons kan kom eet wanneer ons terugkom.”
Sy blik bly op Elmien en sy is hoogs ontstem deur sy arrogante houding toe hy haar onverwags aan die arm vat en feitlik by die deur uit dwing.
Haar dreigemente dat hy haar moet los, val op dowe ore. Hy verstaan nie wat sy aanraking aan haar doen en hoe dit haar grief dat hy so eiegeregtig optree nie!