Название | Christine le Roux Omnibus 6 |
---|---|
Автор произведения | Christine le Roux |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798166119 |
“Theo,” probeer sy weer. “Jy sê nou goed wat . . .”
“Die waarheid is,” voltooi hy die sin. “Ek het nooit ooit ’n meisie met voorbedagte rade probeer vastrek nie. Ek het met baie meisies uitgegaan, ja, maar net as hulle gewillig was, as hulle ook van my gehou het. Ek het niemand om die bos gelei of doelbewus seergemaak nie. Jou marknavorsing was nie so goed soos jy gedink het nie. As ek so sleg was, waarom is feitlik al die meisies nog goeie vriendinne? Het dit nooit by jou opgekom nie dat hulle ook besig was met ’n uitsoekproses? Dis wat mense doen, weet jy. Hulle gaan met baie uit sodat hulle uiteindelik die regte een kan herken. Hulle vernietig mekaar nie noodwendig in die proses nie en hulle het definitief nie so ’n vernietigende regter soos jy nodig nie.”
Sy staan wankelrig regop. “Ek gaan nou ’n taxi bel.”
“Ek is nog nie klaar gepraat nie.”
Sy maak ’n gebaar. “Ek wil nie verder luister nie.”
Hy dink skielik aan iets en sy gesig word selfs strakker. “Die naweek by my ma,” sê hy. “Dit was alles vooraf beplan. Jy wil nie saam met my gaan eet nie, het jy gesê, jy wil liewers wildtuin toe gaan.” Hy stamp weer teen sy voorkop, iets wat sy alreeds kloppende kop nie goed doen nie. “Want jy het geweet ons het ’n Bosveldplaas en een of ander tyd gaan ek sê jy moet saamkom. Is dit iets wat jy en my ma voor die tyd afgespreek het? Wat het my ma gedoen, jou opgebel en gesê: Jesebel, my kind, kyk of jy nie vir Theo kan kry om die langnaweek plaas toe te kom nie?”
Sy skiet hom ’n vinnige, hoopvolle blik asof sy dink hy het sy sin vir humor teruggekry. “Ek het niks geweet van die plaas nie,” sê sy dan.
“Ek glo jou natuurlik,” sê hy moeg en wys na haar hoed. “Kry jou hoed, ons moet ry.” Hy buk by die stoel en tel sy baadjie op. “En ek hoop uit die diepte van my hart dat ek jou nooit in my lewe weer op my bank sien sit nie.”
Hy klap die voordeur agter hom toe en stryk aan na sy motor, maar toe hy daar kom en aan sy sakke voel, besef hy met ’n sinkende gevoel sy sleutels is nou in sy huis toegesluit.
“My sleutels,” sê hy en kyk af op haar geboë hoof langs hom. “Of het jy ’n duplikaatstel in jou handsak? Dit sal my nie verbaas nie.”
“Nee,” sê sy gekrenk. “Natuurlik het ek nie.”
Hulle staan albei die motor swyend en aankyk.
“Is daar nie nog ’n stel in die tarentaal nie?” vra sy.
“Nee.”
Sy sit haar hoed en handsak op sy motor se neus neer en buk om haar skoene uit te trek. “Ek kan deur die kombuisvenster kom.”
Dis die laaste ding waarvoor hy nou lus is. Hoe gouer hy haar kan aflaai en begin vergeet, hoe beter, maar hy weet ook hy het nie eintlik ’n keuse nie. “In daardie rok?” vra hy.
Sy antwoord hom nie, loop net om die gebou en hou haar twee skoene woordeloos uit na hom om vas te hou.
“Jou kouse gaan skeur,” sê hy.
Sy beur versigtig deur die tropiese plante, trek haar rok op tot teen haar heupe en klim op die vensterbank. Hy kyk gou weg, want in sy huidige gemoedstoestand kan hy nie die skoonheid en elegansie van haar bene waardeer nie. Hy hoor haar steun soos sy aan die venster druk, dan verdwyn sy uit sy sig en hy stap om na die voordeur, wat oomblikke later oopgemaak word.
“Hier,” sê sy en hou die bos sleutels uit.
“Dankie.” Hy gee haar skoene vir haar terug en sy trek hulle aan oor haar kouse wat inderdaad nou geskeur is sodat lang, wit lere teen haar bene opkruip. “Ek skuld jou ’n paar kouse.”
Sy sê niks nie, stap net terug na die motor en klim in ná hy oopgesluit het.
“Ek sal ’n paar vir jou pos,” sê hy koud toe hulle ry. “En natuurlik die glasappel.” Nog iets tref hom. “Daar het jy seker jou inspirasie uit die Bybel gekry?”
“Waarvan praat jy?” vra sy.
“Eva het Adam verlei deur ’n appel. Jy was nie baie oorspronklik nie, maar nou ja.”
“Ek het nooit eers daaraan gedink nie,” sê sy gekrenk. “Ek wou dit net vir jou gee omdat ek gedink het jy sal daarvan hou.”
“En skuldig voel.”
“Ek het nie geweet jy gaan skuldig voel nie!”
Hy klik weer sy tong. “Hoe dom van my. ’n Psigopatiese Don Juan soos ek besit mos nie iets so ordentlik soos ’n skuldgevoel nie. Jy is reg.”
“Ek wil nie meer met jou praat nie,” sê sy in ’n klein stemmetjie.
“Dis ’n wedersydse wens.”
Hy hou voor haar woonstelgebou stil, is vir ’n oomblik lus om haar net daar te los, maar klim tog uit en begelei haar tot by haar voordeur. Terwyl sy oopsluit, kyk sy hom angstig aan, maar sê niks nie. Hy sê ook nie ’n woord nie, knik net en loop toe haar deur toeklik.
Die hele pad huis toe wens hy hy was ’n vrou, want wat hy nou meer as enigiets anders wil doen, is huil. Sy oë is kurkdroog, maar in sy binneste wil hy huil, voel dit asof ’n drukking opgebou het wat net deur trane verlig sal kan word. In sy woonstel word die gevoel erger toe hy instap en haar parfuum ruik.
Hy maak hulle koppies bymekaar en gooi hulle omtrent in die wasbak voor hy boontoe gaan en sy klere afruk, maar hy lê nog ure wakker. Hy kan nie glo dat sy hom so seergemaak het nie, hy kan nie glo dat hy hom blootgestel het daaraan nie. Hoe het dit in die eerste plek gebeur dat hy lief geword het vir haar? Toe hy laas gekyk het, het sy hom grensloos frustreer. Toe hy laas daaroor gedink het, was sy ’n irritasie. Hoe het hy dan so ongesiens verslaaf geraak aan haar unieke siening van die wêreld en al die voorwerpe daarin? Op watter punt het hy besluit die groot grys oë agter die nog groter bril is die middelpunt van sy wêreld en hy wil die res van sy lewe by haar wees en sorg dat geen spinnekop haar pad kruis nie?
Hy is vroeg die volgende oggend op, sy kop seer en swaar, sy oë gruiserig. Ná hy aangetrek het, bel hy die vriend saam met wie hy soms tennis speel en raak van baie aggressie ontslae op die baan. Hy kom huis toe, stort en raak opnuut radeloos toe hy haar parfuum steeds in die woonkamer kan ruik. Hy gryp sy gimnastieksak en spandeer die res van die middag met verdere uitputtende oefening. Dit het die gewenste uitwerking; toe hy teen skemeraand by die huis kom, voel hy lighoofdig van moegheid, eet iets en val in sy bed, waar hy uiteindelik droomloos slaap tot Maandagoggend.
Effens minder verslae maak hy reg om kantoor toe te gaan, maar kry eers die appel, soek na die boks waarin dit verpak was en neem dit met hom saam werk toe. Voor hy die eerste koppie koffie gedrink het, het hy die pakkie al opgemaak en toe die poskantoor oopmaak, stuur hy die bode daarmee.
Kerneels kom later by sy kantoor ingewals, so vrolik soos altyd. “Theo,” sê hy sommer dadelik. “Jy het my om die bos gelei. Soos jy die meisiekind beskryf het, het ek my iets voorgestel tussen ’n non en die direktrise van die Eksentrieke Vereniging. Jy is blind, my liewe vriend. Dis een pragtige meisiekind daardie.”
Theo antwoord nie, hou sy oë op die planne voor hom.
“Trek aan soos Racheltjie de Beer, het jy gesê. Kam haar hare soos jou agter-oumagrootjie hare gekam het. Is dit jý wat ’n bril nodig het?”
“Ek dink so,” sê Theo.
“Janie het gedink sy is ’n mannekyn,” gaan Kerneels voort. “Sy wou my nie glo toe ek sê dis die snaakse een nie.”
“Sy’s nie snaaks nie,” sê Theo bitter. “Glo my, dis die laaste ding wat sy is.”
Iets dring tot Kerneels deur en hy kyk sy vriend ernstiger aan. “Iets fout?”
“Nee, ek wil net nie oor haar praat nie. Dis verby.”
“Wat is verby? Daar was dan niks tussen julle nie.”
“En daardie