Название | Ridder in 'n wit jas |
---|---|
Автор произведения | Amelia Strydom |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624067146 |
Miserabel kyk sy om haar rond. Eben en Jantjie het haar bagasie in die hoek van die slaapkamer staan gemaak. Hulle het kerse aangesteek, wat die sinkdakhuisie knus en gesellig laat lyk. Dis klein, maar wat meer het mens nodig? Sy’s mal oor die rietplafonne en die groen geverfde sementvloer. Sy sou hier kon bly; dis ’n vriendelike huis.
’n Gordyn skei die slaapkamer van die badkamer. Sy trek dit weg om in te loer en sug toe sy die diep, wit pootjiesbad sien. As sy hier kon bly, sou sy elke aand doppe vol badskuim ingooi. Sy sou in die borrels lê en lees tot haar handpalms honderd jaar oud lyk. By kerslig, natuurlik. So ’n bad vereis kerslig, selfs in ’n huis met elektrisiteit.
Sy dwaal terug na die woonvertrek. Lieflike meubels, als antiek. Baie soos Em se goedjies. Wat nou hare is. Die verdomde krieketbal is terug in haar keel.
Haar pajamas is heel onder in haar tas. Toe sy dit eindelik raak vat, hou sy die satynkortbroekie en toppie met die spaghetti-straps op. Sy het stupid gepak. Pleks sy uitgevind het van die weer. Pretoria se nagte is nog warm, maar hierdie Karooluggie byt geniepsig. Dankie tog vir die dik, sagte donskombers op die dubbelbed. As dít haar nie warm hou nie, is daar ’n gasverwarmer in die hoek. ’n Kaggel ook, met hout klaar reggepak vir die aansteek. Daar is nog een in die woonvertrek, het sy netnou gesien. Nee wat, dis glad nie so primitief as wat Greyling haar wou laat glo nie.
Selfs haar selfoon behoort hier te werk. Daar is glo boosters op die dak, hier en by die opstal. Die res van die plaas het nie opvangs nie; die werkers doen hul belwerk van die opstal se stoep af. Greyling het selfs iets gesê van WiFi, maar sy het teen daardie tyd nouliks meer geluister.
Gepraat van fone, sy het ’n nuwe voicemail. Iemand moes gebel het terwyl sy en haar kar op die seinlose grondpad rondgegly het. Sy het dit vroeër gesien toe sy haar BlackBerry wou gebruik om Greyling se seksistiese beledigings op te neem.
Die matrasvere kraak uitnodigend toe sy op die bed neersak. Sy wip ’n keer op en af. Hmmm, lekker stewige matras, nes sy daarvan hou. Sy gaan soos ’n klip slaap. En môre . . . Môre gaan sy uitgerus wakker word en soos ’n soet kind terugry Pretoria toe. Nie omdat sy vir haar amperbaas skrik nie, maar omdat sy wil. Sy het in die bad sommetjies gemaak. Die skeidingspakket sal genoeg wees vir ’n vliegkaartjie Engeland toe. Sy wou na haar Zuma-jare in Londen gaan werk, maar Emmari het aanhou neul tot sy by hul praktyk ingeval het.
Dalk is hierdie misverstand ’n bedekte seën. Sy wou mos ’n nuwe begin maak, hoekom nie oorsee nie? Met ponde sal sy haar studieskuld tjop-tjop afbetaal.
Nie dat Greyling se onregverdigheid haar nié tot in haar kleintoontjie grief nie. Om darem gefire te word omdat jy ’n vrou is . . . in die een-en-twintigste eeu! Maar sy gaan g’n bly waar sy onwelkom is nie. Sy is nie ’n martelaar nie, dankie.
Sy sal Eben Greyling môre die blye tyding gee. Laat hom vannag eers lekker sweet. Hy verdien dit, die verpestelike vrouehater.
Sy herken nie die nommer op die BlackBerry se skermpie nie. Dis ’n landlyn in Pretoria. Haar hart klop vinniger terwyl sy die boodskapdiens skakel. Vanaand, op hierdie verlate plaas, onder so ’n . . . trol van ’n mansmens se dak, is enige vriendelike stem welkom. Dalk is dit JP wat van sy werksfoon gebel het. Sy loer na die tyd. Nog nie te laat om terug te skakel nie. JP en Darius is naguile. En sweethearts. Hulle sal nie omgee as sy in hul mansion gaan plak tot haar Engeland-reëlings getref is nie. Sy sal net moet stadig met Darius se koningskos. Hy is nie verniet chef by een van Gauteng se gewildste restaurante nie.
Tot haar teleurstelling is dit ’n vreemde vrouestem. “Hallo, dokter Cloete. Babsie van dokter Neethling se spreekkamer hier. Jong, het ek gesukkel om jou in die hande te kry. Ek het jou suster probeer bel, maar daardie nommer bestaan nie meer nie. Ek het eindelik jou vriend gebel. Meneer Meiring? Hy sê jou foon is gesteel en jou nommer het verander.”
Dêmmit, sy moes lankal gebel het. Dinge was net so deurmekaar ná Em-hulle. Miskien het sy die hele ding na haar onbewuste verban, ook.
“Ek’s bly ek het jou opgespoor. Omtrent daardie hCG-toets . . .” Daar is ’n lang stilte, so lank dat Carli voel die foon gaan in haar hand ontplof. “Geluk, jong. Dis positief!”
Positief? Carli kreun ’n vloekwoord wat sy nog net in flieks gehoor het. Flieks met ouderdomsbeperkings. Die foon glip uit haar hand. Dís hoekom ontvangsdames nie telefonies uitslae behoort te gee nie. Nogal op voicemail. Onwelkome nuus soos dié sal pasiënte mos iets onverantwoordeliks laat aanvang . . .
Oukei, Babsie weet nie die nuus is onwelkom nie. Sy het nie ’n clue dat Carli se hele lewe in ’n oogwink verander het nie. Blêddie Jak! Blêddie Emmari! Hoe kón hulle dit aan haar doen?
Sy rol om en krul haar in ’n bondeltjie op die vreemde bed. Selfs haar trane is skoonveld geskrik. Dêm, dêm, dêm! Haar binnegoed kramp en sweetdruppels slaan op haar voorkop uit. Is dit nou nie net verdomp perfek nie? Sy is nie meer net werkloos, sentloos en tuisteloos nie, sy is nou boonop swanger ook.
Swanger en stoksielalleen.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.