Название | Ridder in 'n wit jas |
---|---|
Автор произведения | Amelia Strydom |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624067146 |
Maar die handdoek skep ’n nuwe probleem. Walms Eau de Eben Greyling stu daaruit op en maak dit onmoontlik om te konsentreer. Móét hy so manlik ruik? So . . . skoon? Kon hy nie maar na salpeter en mansweet gestink het nie?
“Waarmee help ek dan? Of is ek veronderstel om te raai?”
“Eintlik veronderstel om te wéét.” Sy’t genoeg gehad van sy neerhalende stemtoon. “Dalk lui my doopnaam ’n klokkie. Carolien Cloete? Die nuwe dokter?”
Die kleur sypel vinniger uit sy gesig as wat jy “mes” kan sê. Hy vernou sy oë en kruis sy arms voor sy breë borskas. Ô-ô, hier kom moeilikheid. Die bordjie by die plaashek flits deur haar gedagtes. Sy het gehoop die naam is profeties, dat sy op hierdie Karooplaas kan heel word. Maar hoe meer sy van haar werkgewer sien, hoe onwaarskynliker lyk dit. Sielerus gaan sy nie hiér kry nie.
Nie as dit afhang van die man wat haar aangluur met moord in sy oë nie.
2
Die nuwe dokter? Eben voel asof die blondie haar vuis in sy solar plexus geplons het. Hy staan haar en aangaap soos ’n baber op land. Hoe de hel? Hy het die agentskap duidelik laat verstaan hy soek ’n man. Hy’t een aangestel ook – hy kan sweer hy het. Wat was die ou se naam? Carolus. Carolus . . . Cloete. Hy kreun hardop. Wat ’n boggerôp!
“Kyk, Carolien . . . ”
Sy plooi haar mond vies. “Carli, seblief. Ek pés Carolien. Dit laat my dink aan ’n ouma met ’n borsrok en beige toerygskoene.”
Hy proeslag onwillekeurig. “Raait. Iewers het ’n yslike fout gekom. Ek het ’n man aangestel. Carolus Cloete.”
’n Fyn fronsie kreukel tussen haar wenkbroue. “Maar, dokter Greyling – ”
“Whoa, jy’s nie nou in die stad nie. Eben. Tensy dit klink soos ’n oupa met ’n pyp en ’n gaatjiesfrokkie?”
Sy skud haar kop so wild dat hy moet koes. Waterdruppels spat uit haar hare. “O nee, Eben is ’n lieflike naam.” Haar oë laat hom dink aan die albasters waarmee hy kleintyd gespeel het. “Sterk en manlik en . . . ” Haar wange word rooi. Wanneer laas het hy ’n girl sien bloos?
“Twee Cloetes is darem té toevallig. Is dit nie ’n drukfout of iets nie? Ek het die kontrak by MedJobs geteken en als.”
Sjoe, maar sy praat vinnig, noudat sy eers begin het. Hy vryf oor sy mond om sy glimlag weg te steek. Dit is ’n moerse gemors. Absoluut niks om oor te lag nie.
“Jy’s reg. Dit ís onwaarskynlik.” Twee Van der Merwes, miskien. Maar Cloete is nie ’n algemene van nie. Hy kyk peinsend na haar. Merk nou eers dat haar lippe blouerig is. Die handdoek is styf om haar skouers getrek.
“Jy kry koud.” Hy voel soos ’n aap toe sy loer of die handdoek als toemaak. “Jou arms,” beduie hy. “Jy’t hoendervleis.”
“Ek’s nat. Die handdoek help, maar . . .”
Al weer die blêddie handdoek. “Kom in,” brom hy. “Daar’s ’n vuur, en ek’s dêm lus vir koffie.”
“Great!” Sy val byna oor haar ghrênd skoene van gretigheid. Blêddie onpraktiese goed, sal nie ’n week hier hou nie. Een trap in perdemis, dan kan sy hulle wegsmyt.
“Jy, um, maak my seer.”
Seer? Hy kyk af na haar. Hy moes haar arm gegryp het om te keer dat sy val. Nie styf nie, maar hy maak sy vingers losser. Sulke dun armpies moet maklik kneus. Hy het lankal gesien sy’s so maer soos ’n anoreksiese onderkleremodel. Wat hy nié gesien het nie, wat hom heeltemal onkant vang, is hoe sy lyf op haar reageer. ’n Aangename buzz sprei van sy vingerpunte na die res van sy anatomie. Chemistry? Belangstelling? Wat ook al, it’s been a while.
“Sorry,” sê hy en los haar elmboog. Hy sal later hieroor dink. Wanneer sy weg is. Buitendien is dit voor die hand liggend. Dis nie chemistry nie, dis Biologie 101. Die natuur se manier om die voortbestaan van die spesie te verseker. As ’n ou so lank alleen is – so lank laas aan ’n vrou se vel geraak het, afgesien van dié van pasiënte – sál jou lyf seker reageer. Solank sy lang verlore libido nie met hom weghol nie. Hy het nou al sy neurone nodig.
In die kombuis gaan dit nie veel beter nie. Sy is ál onder sy voete. Hoe kan so ’n maer dingetjie die hele kamer vol staan? As hy nie die laai teen haar heup ooptrek nie, foeter hy byna oor haar met die skinkbord. Wat’s fout met hom? Só mooi is sy nou regtig nie. Hy kyk weer onderlangs. Vaalblonde hare. Fyn gesiggie. Groot oë en ’n mooierige mond. Elke gelaatstrek is heel gewoon. Dis net dat die somtotaal vreemd . . . sexy is.
Demmit! Hy stik in sy koffie. Plak sy beker onnodig hard op die tafel neer. Sexy? Whoa, Greyling! Is een paar borsies wat so deurskyn deesdae genoeg om jou planete uit hul wentelbaan te klap? Nie eens veel vir die oog nie, skaars twee hande vol. En van wanneer af is die natgereënde eendjie langs die dam ’n turn-on? Buitendien kan sy nie bly nie. Hoe vinniger sy in haar kar klim en . . .
Hy klap ’n oop hand teen sy voorkop. “Hoe de hel het jy hier gekom?”
Sy skrik so dat sy koffie mors. “Ek het mos gesê. Met my kar?” Haar stemtoon klim sodat dit meer soos ’n vraag as ’n antwoord klink.
Hy weet hy klink soos ’n boelie. Maar magtag . . . dat hier nou ’n vroumens moet opdaag. Nie sommer enige vroumens nie, enetjie wat lyk of die suidooster haar sal wegwaai. Wat met sy kop smokkel asof hy ’n testosteroon-bedonnerde tiener is. Hy vee hard oor sy oë om die fantasie te verjaag wat pla vandat hulle binnegekom het. Hulle twee op die rusbank, sy hande tydsaam besig om die nat klere van haar lyf te skil. Om na haar te kyk – orals te kyk – in die lig van die vlamme . . .
Sy kyk na hom asof sy vir iets wag. Hel, ja, haar kar. Verdomde onverantwoordelike meisiemens. Hy gee haar sy beste dik-de-bliksem-in-staar, maar pleks van jammer lyk, wip sy haar stert.
Haar hande vlieg na haar skraal heupies. “Hoe anders sou ek miskien van Pretoria tot hier gekom het? Die Gautrein loop nie hierlangs nie.”
Die vonke wat uit haar oë spat, laat hom wonder. Sou sy so vurig wees wanneer . . .? Hy kners op sy tande tot sy kakebeen pyn. Not. Going. There. “En waar’s jou kar nou?” Hy haak sy duime in sy jeans en staan dreigend nader.
Sy antwoord nie, ruk net haar kop agterdeur se kant toe. Asof sy nie haar asem gaan mors op so ’n idiotiese vraag nie. Fine, dan kyk hy self. Dalk het sy ’n four-by-four en is sy nogal ’n goeie bestuurder. Maar nee, dis ’n babablou Fiat 500. Windskeef op die grasperk geparkeer, dun bande vaal van die modder. Of course! Hierdie girl sál ’n hot hatch bestuur. Pappie het dit seker gekoop toe sy graad vang. Is daar ’n kar op die pad wat harder “spoilt brat” skreeu?
“Het jy met dié Barbie-kar op die modderige grondpad gery?” Hy swaai om, bots teen haar vas. Moet haar elmboë weer gryp om haar regop te hou. “Hoekom bekruip jy mens so? Jy was laas in die kombuis.”
Voor hy kan keer, vou sy vingers stywer om haar boarms, sy hande op ’n heel ander missie as sy humeur. Sy ruk los sodat hy met die handdoek bly staan.
“Gee terug.”
Hy stop dit in haar hande. Hou sy eie palms verskonend op. Sjeesh, hy’t net gekeer dat sy nie op die vloer beland nie. Wat dink sy? Dat hy desperate trieks uithaal om weer haar bates te sien? Oukei, miskien hét hy geloer. Net vinnig. Haar top het verbasend gou droog geword, maar daardie parmantige puntjies . . .
Daar gaan hy al weer. Fokus, Greyling! Dié is jou ergste nagmerrie. ’n Vroumens op jou plaas, een sonder ’n druppel common sense.
“Asse-flippen-blief, sê my jy’t die verstand gehad om iemand te laat weet toe jy van die N1 af draai? Sodat ek jou kon gaan soek as jy vasgeval het?