Название | Ridder in 'n wit jas |
---|---|
Автор произведения | Amelia Strydom |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624067146 |
“Dankie.” In die skuiling van die skuur steek sy vas. Sy vee haar nat voorkop met ’n nat mou af. Water drup in haar oë. Vies wring sy haar hare uit: eers haar toutjieskuif, toe haar poniestert. Ai, dat sy nou só hier moet aankom. Sy wou so graag ’n goeie eerste indruk maak.
“Jantjie?” ’n Ryk sjokoladestem klink op uit die skemerte. ’n Onverwagte straaltjie warmte biggel langs haar bevrore ruggraat af. “Kry vir ons gas ’n handdoek, seblief. ’n Lekker grote. Sy’s omtrent nat.”
“Sekerlik, dokter.” Jantjie skuur by haar verby en Carli loer in die rigting van die stem.
Eers sien sy niks, dan pas haar oë geleidelik aan by die swak lig. Sy maak die vae buitelyne uit van . . . wow! Die grootste, swartste perd wat sy in haar dag des lewens aanskou het. Sy druk haar hand teen haar bors en staar na die pragdier.
“Staan nader, juffrou. Ek praat nie graag met mense wat ek nie behoorlik kan sien nie.” Verbeel sy haar of is daar ’n tikkie ongeduld in die mooi stem? Voor sy kan antwoord, bevestig hy haar vermoede: “Toe, ek kan nie nou hier los nie.”
Carli wil-wil haar vererg, maar haar voete gehoorsaam ewe pateties die kortaf bevel en steek eers digby die reuseperd se agterpote vas.
“Kom maar. Sultan is ’n befoeterde dierasie, maar hy kan nie nou skop nie.”
Carli laat gly nietemin in die verbyloop haar voorarm oor die perd se agterlyf. Tweede natuur, dié gewoonte om ’n perd bewus te maak van haar teenwoordigheid sodat hy nie van skrik skop nie. Sy het as tiener omtrent in die stalle geleef. Dan sien sy die man in die hoek, en haar hand vlieg vir die tweede maal in soveel minute na haar skielik fladderende hart. Die eienaar van die Stem staan vooroor gebuk. Een van Sultan se hoewe – so groot soos ’n tafelbord – is tussen sy knieë vasgeknyp. ’n Verbleikte denim ry laag om sy heupe, met ’n leervoorskoot bo-oor vasgebind. Sy lang, brons bolyf is kaal. Dun straaltjies vloei blink daarteen af. Sweet? Reën?
Waarskynlik ’n kombinasie.
Sy moet wegkyk, en vinnig ook. Ordentlike meisies staar nie só na mans nie, veral nie natgeswete, halfnaaktes nie. Haar oë bly vasgeplak, raak net nie uitgekyk nie.
“En as jy my nou só staan en kyk?” Hy kantel sy gesig na haar op. Die kaal gloeilamp wat van die dak swaai, laat sy oë soos oniks skitter. Sy donker hare versmelt teen die perd se flank. “Nog nooit gesien hoe iemand ’n perd beslaan nie?”
Sy hap na woorde. Tevergeefs. Genadiglik praat hy verder voor die stilte ondraaglik word.
“Eben Greyling.” Hy flits vir haar ’n glimlag wat sy ganse gelaat verhelder. Ten spyte van al die botteltjies mineraalwater wat sy leeg gedrink het, wat nou pynlik dringend moet uit, is haar mond kurkdroog.
“Gee my ’n minuut,” sê hy, “dis die laaste hoef.” Met geoefende hande vis hy ’n paar spykers uit die voorskootsak en knyp hulle tussen sy lippe vas. Weer glimlag hy vir haar, dié keer ’n dunlip-gryns wat drup van macho selfvertroue. Dankie tog die spykers is nie in háár mond nie. Sy sou sweerlik ’n paar ingesluk het.
“Ahem,” maak Jantjie langs haar keel skoon. “Die juffrou se handdoek.”
“O, dankie.” Die handdoek is grof gewas en verbleik, maar dit ruik skoon, die ene son en suurlemoene. Sy druk aan haar hare. Steel nog ’n onderlangse kykie terwyl sy so koponderstebo staan.
Woep-woep-woep, kap hy die spykers met seker hale in. Toe die hoefyster vas is, draai hy die perd se been om sy handewerk te beoordeel. Skynbaar tevrede klop hy die dier op die nek.
“So ja, Sultan, hou in vadersnaam hierdie stel aan. Hoefolie, seblief, Jantjie, dan kan hy stal toe.”
Hy kom orent met die grasie van ’n oerwoudkat. Carli sluk moeisaam toe sy welgevormde arms dakwaarts strek. As hy om vadersnaam net sy hemp wil aantrek . . . Hy vou een hand agter sy rug en pluk aan die leervoorskoot se band. Die knoop wil nie loskom nie.
“Ag, help gou, seblief.” Sonder meer swaai hy om en bied sy rugkant vir Carli.
Haar hart word belaglik lig, ’n heliumballon wat wil wegdryf. Moet sý die voorskoot losmaak? Hoe, nogal, sonder om aan daardie sexy jeanverpakte agterwêreld te raak? Of aan sy bruingebrande vel?
Sy knyp die knoop tussen haar naels vas. Haar vingers is so dom dat geen mens sou glo sy was heel vaardig tydens chirurgie-rotasies nie. Miskien omdat hy soveel liggaamshitte uitstraal? Sweerlik meer as die normale sewe-en-dertig grade? Hopelik begin haar vingerpunte nie sis nie.
Hy roer sy skouers sodat sy rugspiere rimpel. Jimmel, hy sou model kon speel vir Grey’s Anatomy. Die teksboek én die TV-reeks. Hy sal McDreamy en McSteamy doodgewoon laat lyk.
“Vat vás die knoop, juffrou. Sultan is die een wat byt, nie ek nie.”
Hoor jy, Carli? Get a grip. Letterlik én figuurlik. Hoeveel van jou varkies het langs die pad uitgespring om in die modderpoele te rol?
Sy wikkel haar vingers om die bloedsirkulasie te herstel. Hy’s haar báás. Sy’s hier om te werk, nie om die jeans van sy sitvlak af te kyk nie.
Eindelik gee die knoop mee. Sy trek die leervoorskoot af, versigtig om die geringste velkontak te vermy.
“Thanks.” Hy hang dit teen ’n muurspyker op. “Wees ’n engel en deel jou handdoek, toe. Ek’s sopnat gespook met daai perd.”
Haar maag slaan lui bollemakiesie. Wil hy daardie spierpaleis afdroog met die handdoek wat sy pas gebruik het? Iets omtrent die idee is so intiem dat haar lyf van kop tot tone tintel.
Hy frons en kyk veelseggend na die handdoek. Sy gee dit aan. Flippit, sy kan hom nie kwalik neem as hy dink hy’t die stompste potlood in die blikkie aangestel nie.
Hy vryf sy bolyf met besliste hale droog en trek ’n swart T-hemp oor sy kop. Dankie tog. As die moue net nie so begeerlik aan sy biseps wou klou nie.
“Raait, juffrou. Jy weet nou wie ek is.” Verwaande blikskottel, hy spot sowaar met haar. Weet natuurlik presies watter uitwerking hy op vroue het.
“Ja, maar . . . Jy ís ’n dokter, nè?”
Weer die skewe glimlag wat haar longe toedruk. Een mondhoek lig ’n goeie sentimeter hoër as die ander.
“En nie die hoefsmid nie? In die Karoo moet mens veelsydig wees.”
“Enne . . .” Carli loer na Sultan. Dié trek sy ore plat en rol sy oë spierwit vir ’n skrikkerige Jantjie. “Ek dog u boer met, um, daardie swart-wit kolletjieskoeie.”
“Kolletjieskoeie?” snork hy. “Ek boer met Friesperde, juffrou, nie Frieskoeie nie.” Hy praat stadig en duidelik asof sy ’n vyfjarige is.
“O, wel . . . aangename kennis. Ek’s Carli Cloete.” Sy steek haar hand uit.
Hy kyk daarna asof dit iets is wat hy onder Sultan se hoef uitgekrap het. Wat, groet mense in die Karoo nie met die hand nie? Dan hou hy sy handpalms op vir inspeksie. “Vuil. Ek wil nie aan jou raak nie.”
Haar hand hang ’n ekstra lang, ekstra vernederende oomblik in die lug voor sy dit agter haar rug indruk. Gmf, asof sy aan hom wil raak. Kan sy nou help dat Pa en Em haar maniere geleer het? Buitendien lyk sy hande g’n so danig vuil nie.
“Waarmee help ek? Verdwaal? Of het jy karmoeilikheid?”
Karmoeilikheid? Hy weet sowaar nie wie sy is nie. Kon nie eens bodder om sy nuwe kollega se naam te onthou nie. Hemel, sy’t die kontrak verlede week geteken, nie verlede jaar nie.
“My kar makeer niks, dankie. Bietjie modderig, maar niks wat nie sal afwas nie.”
Sy oë gly bietjie vir bietjie oor haar. Sy lyk natuurlik bedremmeld verby. Haar hare klou aan haar kopvel, haar arms is hoendervleis, en haar skoene slurp. Maar dís nie waarna die blikskottel kyk nie. Sy oë het suid van haar ken vasgesteek. Met