Agaat. Marlene van Niekerk

Читать онлайн.
Название Agaat
Автор произведения Marlene van Niekerk
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624068761



Скачать книгу

      A G A A T

      Roman

      Marlene van Niekerk

      Tafelberg

      Die uitleg van teks in hierdie digitale uitgawe van Agaat mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel.

      “Hierdie nuwe bundel wil die volksiel se wasdom, drang en sy uitbreiding vertolk. Mag die ondefinieerbare element – die krag en geur van die Suiderland se bloed en bodem – tasbaar hierin gevind en deurvoel word, dan sal die volk dit aan die hart druk en dit as sy eie aanneem.”

      Uit die Inleiding tot die eerste uitgawe van die FAK-Volksangbundel.

      H. Gutsche, WJ. du P. Erlank, S.H. Eyssen (reds.). Firma J. H. De Bussy Pretoria, HAUM. V/H Jacques Dusseau & Co, Kaapstad, 1937.

      “Dit is die mooie, die waardevolle van hierdie boek: dat dit uit liefde gebore is en tot liefde inspireer, daaraan kan niemand twyfel nie. En daarmee word ’n groot diens gelewer aan die volk, want wie vir skoonheid voel, op watter gebied ook al, het ’n bydrae te lewer tot die kulturele ontwikkeling van die volk.

      Die gebied wat in dié boek betree word, is ’n spesifiek vroulike en dra daardeur by tot die verfyning en verfraaiing van die huislike atmosfeer. So ’n atmosfeer onderskei die kultuurbewuste volk van die onbeskaafde.”

      Uit die Voorwoord deur mev. E. (Betsie) Verwoerd tot Borduur só deur Hetsie van Wyk, Afrikaanse Pers-boekhandel, Johannesburg, 1966.

      “Hierdie Hulpboek … dien as ’n sleutel vir die ontsluiting van die skatkamers van klimaat, grond, lewende hawe en bemarkings potensialiteite op elkeen van die 93,000 plase van ons land.

      Net soos die Bybel die pad wys tot geestelike volmaaktheid so sal hierdie Hulpboek ook op middels en maniere wys tot meer winsgewende boerdery en tot groter welvaart vir elke boer in elke deel van die land.

      Ek sal graag wil sien dat hierdie Hulpboek sy weg tot elke boerewoning vind en in besit kom van elke persoon wat boer of belangstel in landbousake, omdat dit ’n ryke myn is van nuttige informasie.”

      Uit die Voorwoord deur Sy Edele generaal J.G.C. Kemp, Minister van Landbou, tot die Hulpboek vir boere in Suid-Afrika. Geskryf deur staatsamptenare en ander deskundiges, Staatsdrukker, Pretoria, 1929.

      PROLOOG

      Matwit winter. Hortende verkeer. Noodweer. En ek. Op twee plekke soos altyd. Sneeu op my skouer, maar met die Overbergse lig wat by my spook, die nat blink dinge van die winter, die opgeefsels van die somer. Tuimelende lewerikie bo die ruisende koringlande. Twitter machine.

      ’n Hemel, my kindertyd. Hoe sou ek dit in hierdie stad aan iemand kon vertel? Die hemel is ’n kuriositeit hier. Hiernamaals. Vreemde woord in my kop. My reaksie op die telegram ook vreemd. Eers lam, toe benoud, later trane. Gaatjie in die kopbeen. Nou is die herinneringe ’n stroom, onstelpbaar.

      For parting is no single act, it is like a trailing streamer.

      Daardie eerste afklim hier elf jaar gelede, styf in al my gewrigte. Nie ’n oog toegemaak op die hele veertien uur lange vlug nie. Vrees, bekommernis, skuldgevoelens. Wat was ek? Wie was ek? ’n Tiendae-baard, ’n vakansievisum in ’n paspoort, ’n los kanon sonde geloofsbriewe. ’n Boer wat asiel soek sover dit die Kanadese amptenary betref. ’n Gedroste soldaat met sy opleidingsertifikate, sy vlieglisensies, sy eed van geheimhouding. Wat meer kon ek hulle gee? ’n Belydenis?

      By die huis weg sonder groet of verduideliking. Daardie oggend, donker nog, die reuk van nat roet, Gaat wat die sideboard se sleuteltjie vir my gee dat ek my papiere kan uithaal. Haar gesig vaal en treurig, haar kep skeef. Vieruur in die oggend, al een wat geweet het waarnatoe ek op pad was en hoekom. Sal ek myself ooit daarvoor kan vergewe? Om haar met so ’n verantwoordelikheid op te saal?

      Wit banke sneeu alkant van die pad. Ruitveërs op hoogste stand. Ek kan die beelde nie uitgewis kry nie. Gestreepte waatlemoen onder die herneutermes, boerpampoene tussen harige donkergroen blare, ’n bruingetopte vag Merinowol wat oopval, swaar van die olie, op die klasseertafel. Blou lupiene tot aan my bors in die blom, geel room van Jerseykoeie, die geluid as mens ’n granaat oopbreek, die wit vliese waarin die pitte gepak sit. Rooi en wit, nes bloed op pasgeskeerde skape.

      Here, ek klink soos my ma. Melankoliese oorgevoelige Ma. Sterwende nou. Sal sy my herken? Met die baard? Gaat sal. Teen wil en dank.

      Dieselfde droom gehad, oor en oor die laaste tyd. Gaat wat my roep, ons wat mekaar roep. Wakker. Stoornis. ’n Afgrond waar die slaap moet wees. Die geroep met ons hande bak voor ons monde, sy onder op die werf in haar wit voorskoot, sigbaar vir my waar ek wegkruip in die klowe bokant die huis. Later lang fluite wat mens agter op die droëland kon optel as jy onder die wind was. Nog later die geblaas op Hubbly Bubbly-bottels.

      Stadig na die oppervlak, wakker van fluite gedra op die wind. Oopoog in Toronto. Nagmusiek. Tot ek weer insluimer, droom dat ons vir mekaar seine stuur op die bokramhoring, sagte lae note. Hoe versigtig moes ons nie wees wanneer ons die keiserskoenlapper gesoek het in die bos nie. Vaalswart, toegevou in die skaduwees tot hy sy vlerke oopmaak, net die een kant blou, flonkerend, oorwasem van silwer dat jou hart daarvan oorslaan.

      Lekhart.

      Aanmekaar die blou flikkering tussen die swiep van die ruitveërs. Sout op die pad, prut van smeltsneeu op die voorruit, op die agterruit. Lapis lazuli flikker dit, die kleur in die droom, ’n blou van oomblik tot oomblik anders, tussen die in- en die uitasem, dan op die een vlerk, dan op die ander. Boek van vespers. Apatura iris. Die reuse-keiserbosvlinder.

      Mirakels. Katastrofes. Kontinent wat sy grondwater aanvul met bloed en met bloed bemes. Wie het dit geskryf?

      Hier is die bloed klaar vergiet. Koud. Die slagtings effektief herdenk, funksioneel verpak, sanitêr. Net ek, varser gesny deur die geskiedenis, wat my eie weg soek in die koel argiewe. Cut grass lies frail. My reuk lok ander weerloosheid. Gister die Sainte-Marié-lêers gekry, Bleeding Heel, Broken Shoulder, Wounded Knee, vir die nuwe instrumentestudio in Toronto. ’n Perkussieteater waar die besoeker saadpeule sal ratel, die tinsimbaal met ’n hand vol gras bestryk.

      Toe ek by die huis kom, lê dit daar. Op die voorstoepmat, in die sneeu. Poskantoorkoevert.

      MÊME OP STERWE STOP BEVESTIG KOMS STOP LIEFDE AGAAT

      Elf, amper twaalf jaar. Sal ek Ma nog herken? Op die laaste foto wat Gaat gestuur het, was sy klein tussen die pluimbosse in die voortuin, oë diep in hulle kasse. Amper heeltemal grys. Het ’n boek by haar gehad, wysvinger tussen die bladsye. The World’s Famous Piano Pieces. Het dit herken aan die dofpienk omslag. Altyd vir haarself gesit en sing van die blad af. Sodat ek nie verroes nie, het sy gesê.

      Ma en haar airs, Ma wat gedroom het: Klein Jakkie de Wet, die liedersanger, beroemd van Hottentots-Holland tot Wene. Lieder eines fahrenden Gesellen. Inderdaad!

      En Agaat, pokerbluf op die gesig, jakopeweroë waarmee sy jou sonder ’n enkele woord kon regsien, die blik wat sy dae lank kon afskakel om jou te straf. Houtoog. Hoe oud was sy toe ek daar weg is in ’85? Sewe en dertig?

      Gaat, Ma se verpleegster. Here, dit sou ’n toneelstuk moes wees. Mourning becomes Kamilla. Of nog beter, The Night of the Nurse.

      Gaat met haar stywe kep, verre besneeude piek wat sy soms na my toe afgebuig het dat ek dit van naby kon bekyk, dat ek – nét ek – daaraan mag raak, die fyn handwerk, wit op wit, waarvan ek nooit genoeg kon kry nie. Die naald flitsend in haar hand voor die kaggel, Gaat se linkerhand waarmee sy houte in die Aga se bek gesteek het, hom gestook het dat hy dreun, sterk warm hand waaraan ek die wêreld verken het – éne vínkel! Die verkeerdom arm se handjie ekstra diep weggesteek as sy Ma se vriendinne moes bedien, of die dominee op huisbesoek.

      En ek wat moet sing vir die mense, Ma wat begelei. Here tog. Gee my ’n bok wat vlug oor die rant, Heidenröslein, afhangend van die gehoor.

      Hoe is dit daar, daar waar jy grootgeword het? Jou land? Die ewige vraag toe ek aanvanklik hier gekom het. Altyd Larkin as antwoord gegee: Having grown up in shade of Church and State … Jare gevat voor ek my eie ryme kon aanlê om die soetheid, die wreedheid