Die dae van ons nietigheid. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Die dae van ons nietigheid
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624069669



Скачать книгу

kant is sy menslik genoeg om te erken dat dit vir haar baie sal beteken as sy die gelukkige een is. Die vrou in haar hoop Willem kry dit, maar as dokter weet sy dat sy dit sekerlik verdien. Sy het baie hard gewerk. Soos altyd het sy net haar uiterste bes gelewer. Juis omdat sy geen noemenswaardige privaat lewe gehad het nie, het sy haar volkome aan haar werk gewy. Agter haar rug het die verpleegsters en van haar kollegas haar ou Ysberg genoem – min wetende dat dit vir Lizl geen geheim was nie.

      Sy verstaan hoekom die verpleegsters haar so gedoop het. Sy weet sy is soms ’n bietjie streng met hulle, maar sy kan nalatigheid en laksheid net nie verdra nie. Toe sy eendag weer ’n juniortjie kwaai geroskam het, was dit Willem wat, toe die verpleegstertjie in trane padgee, met ’n droë stem en verwytende oë agter haar gekners het: “Ons is nie almal genieë nie, dokter. Jy moet dit soms onthou.”

      Sy het hom met kwaai blou oë aangegluur. “Daardie woord is in hoofletters op jou brein gegraveer!”

      “En perfeksionisme op joune.”

      Teësinnig het sy ook wel verstaan hoekom haar kollegas so geredelik by hierdie benaming ingeval het. Sommige het hul bes gedoen om haar in hul sosiale kring ingetrek te kry, maar sonder sukses. Lizl Landman het nie in ’n sosiale lewe belanggestel nie. Wat hulle nie geweet het nie – en sy het haar ook nie probeer verdedig nie – is dat sy niks daarteen het dat ’n dokter ook soms ontspan en net ’n mens mag wees nie. Maar elke keer wanneer sy êrens heen genooi is, was sy bang sy sou Willem ook daar raakloop en dit nog saam met ’n ander meisie. Sy het nie daarvoor kans gesien nie. Dit sou net seermaak. En as Willem nie daar sou wees nie, sou daar vir haar tog geen glans aan die aand wees nie. Dus … Wanneer sy van diens af was, het sy haar teruggetrek in haar woonstelletjie en haar besig gehou met mediese leesstof en bepeinsing oor die dag se gevalle of die volgende dag se werk. Sy weet Willem het nie ’n kluisenaarsbestaan soos sy gevoer nie, maar het liewer nie probeer vasstel hoe hy sy vrye tyd verwyl nie. Liewer nie … Dis ’n geheime vrees in haar dat hy eendag iemand sal raakloop met wie hy kans sien om die pad te loop; iemand met wie hy nie in gedurige kompetisie gewikkel is nie; iemand wat hom nie minderwaardig laat voel nie.

      Dat daardie dag nog nie aangebreek het nie, kom Lizl ’n week later agter.

      Sy is verstom toe sy haar woonsteldeur oopmaak en dis Willem wat voor haar staan. Wat op aarde sou hom vanaand die eerste keer na haar woonstel gebring het?

      Willem kyk op haar af – in een opsig was hy haar darem nog altyd voor: hy is ’n hele kop langer as sy! – en sy hartspiere trek weer saam. Die eerste keer in ’n lang tyd sien hy haar sonder doktersjas. Wat ’n pragtige vrou! En wat ’n vermorsing, voeg hy by.

      Hy kan die verbasing in haar oë lees en hy kan haar nie verkwalik nie. Is hy dwaas om vanaand hier te staan? vra hy homself af. Is hy soos ’n donkie wat hom elke keer teen dieselfde klip te pletter loop? Maar ná sy gespek met dokter Luddick vanoggend het die ou drome weer tekens van herlewing begin toon, al sterker geword in die loop van die dag totdat sy voete hom vanaand na haar woonsteldeur gedra het ten spyte van sy gesonde verstand se waarskuwings.

      Toe dokter Luddick hom ontbied, het hy geweet dit kan net in verband met die vakante pos wees. Hy het hom gelate by sy senior se kantoor aangemeld. Hy het selfs geglimlag, hoewel ietwat grimmig. Natuurlik sal dokter Luddick hom nou sê dat dokter Lizl Landman eerste keuse was, maar dat hy darem ook ’n baie sterk kans gehad het. Trouens, hy en Lizl het kop aan kop geloop, maar op die end het die keuse tog op haar geval. Hy was net ’n kort kop agter haar … soos gewoonlik. Maar dat hy hoop – dis nou dokter Luddick – dat hy, Willem Claassen, volgende jaar sal aanbly.

      Maar dis glad nie wat gebeur het nie. Dokter Luddick het met uitgestrekte hand nader geloop en hom gelukgewens. Hy kon sy ore nie glo nie.

      “Ekskuus?”

      Die ouer man het geglimlag. “Jy het die pos gekry, Willem. Nogmaals geluk.”

      “Lizl … dokter Landman?”

      “Ja, natuurlik is sy in ag geneem. Sy is ’n uiters bekwame dokter, soos jy self weet … ”

      “Bekwamer as ek.” Waarom sou hy nou so iets sê? Hy vertel dan sowaar vir dokter Luddick in soveel woorde dat hy die verkeerde keuse gedoen het. Wat gaan aan met hom? Die verterende gedagtes het bly maal. Maar in sy hart het hy geweet: dis die ou minderwaardigheidsgevoel wat hom so laat optree. Hy het al so gewoond geraak daaraan dat Lizl eerste is, dat hy, noudat sy tweede is, haar in die eerste posisie wil skuif! Genugtig!

      “Hoe meet ’n mens bekwaamheid? Hoe weet ’n mens die een man is bekwamer as die ander? Nee, ek dink nie dit was ’n geval van verskil in bekwaamheid wat die deurslag gegee het nie. Trouens, jou diagnose van die Victor-geval het jou net so bekwaam soos dokter Landman bewys.”

      “Die Victor-geval? Maar … ”

      “Moenie so oorbeskeie wees nie, Willem!” het die ouer dokter goedig maar goedkeurend geglimlag. “Lizl het my self vertel die eer van die regte diagnose kom jou toe. Maar wat ek eintlik wou sê, is dat die deurslaggewende faktor eintlik iets was wat niks met bekwaamheid te doen het nie.”

      “Ja?” Sy verstand het alles wat hy so pas gehoor het, probeer verwerk. Lizl het die mense vertel dit was sý diagnose! Hoekom? Hy het wel met haar saamgestem; maar hy het haar soos talle kere tevore eers teengestaan. Nou gee sy voor dit was net sý diagnose.

      “Ja. Lizl is ’n pragtige vrou, en nie een van die raad is blind nie, al is ons hare al taamlik grys en yl!” het dokter Luddick geskerts. “Op ’n dag gaan sy wel trou, sy is ’n normale vrou ook, wil kinders hê. Die gewone ding, jy weet? Uit hierdie pos kan ’n man tot bo vorder, en daarom het ons besluit dat ons liewer die pos vir ’n man wil gee. Maar, asseblief, dít vertel jy Lizl nie!”

      “Ek het dus die pos gekry omdat ek ’n man is?” het hy verslae gesê-vra, maar dokter Luddick het sy kop geskud.

      “O nee, my jong kollega. As daar enigsins ’n keuse van bekwaamheid tussen julle twee was en Lizl was onomwonde as die bekwaamste aangewys, sou sy die pos gekry het, dit verseker ek jou. Maar aangesien daar volgens ons geen sprake van so iets is nie, het jou geslag die deurslag gegee. Dis al.”

      Willem was eers stil, het toe nog half verdwaas gesê: “Dankie, dokter. Sal u … sal u my asseblief kans gee om die saak te oordink? Ek sal u môre my finale antwoord gee.”

      “Soos jy wil, my jong vriend. Net dít, Willem, daar is min jong dokters wat so ’n wegspringkans gegun word.”

      “Dit besef ek terdeë, dokter. Dankie. Dis ’n groot eer. Maar ek sal u môre laat weet of ek dit aanvaar of nie.”

      En nou staan hy voor Lizl en wonder of hy nie die grootste flater van sy lewe gaan maak nie. Maar sy het hom reeds binnegenooi en hy is al oor die drumpel. “Dankie.”

      “Sit gerus.”

      “Dankie.” Hy gaan sit, kyk om hom rond. Haar woonstel toon duidelik dat daar tog darem ’n verskil tussen ’n man en ’n vrou is, al ewenaar hul verstand en vermoëns mekaar. Die woonstel lyk warm en huislik, nie soos syne waar die goed maar net funksioneel neergeplak is om daar te wees nie. “Jou plek lyk goed.”

      “Dankie.” Sy probeer haar nuuskierigheid wegsteek. Willem het beslis nie vanaand hierheen gekom om haar met haar woonstel te komplimenteer nie.

      “Sal ons iets drink? Koffie of tee? Wat verkies … ?” probeer sy die kort, swanger stilswye oorbrug.

      “Nee, dankie. Ek … ek is ’n bietjie haastig.”

      “O.”

      Stilte. Dan keer sy blik terug na hare en hy vra op die man af: “Hoekom het jy dokter Luddick vertel dat die Victor-diagnose myne was?”

      Sy ruk instinktief soos sy skrik, haar hande skielik styf inmekaargestrengel. “Hoekom, Lizl?”

      Sy sluk. “Dit was eintlik jou diagnose. As jy nie met my gestry het nie … ”

      Skielik speel die ou bekende, vir haar hartroerend bekende, skewe glimlaggie om sy mondhoeke. “Dis darem ’n onlogiese redenasie