Die dae van ons nietigheid. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Die dae van ons nietigheid
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624069669



Скачать книгу

      

      Ena Murray

      Die dae van ons nietigheid

      Jasmyn

       1

      Hy het agter haar in die ry eerstejaarstudente gestaan die dag toe hulle hulle moes gaan inskryf, en só het dit dwarsdeur hul universiteitsloopbaan gebly. Hy was altyd net agter haar, nooit voor nie. Weliswaar was daar nooit iemand anders tussen hulle nie, maar die feit bly, sy was altyd net een tree vóór.

      Die eerste jaar of twee het dit nie saak gemaak dat die pragtige meisiekind hom altyd voor was nie. Bloot die feit dat sy ’n meisie is, ’n meisie wat net altyd ’n bietjie beter as hy in klastoetse en eksamens presteer, net altyd ’n paar punte meer as hy behaal, het dit vir Willem Claassen ’n uitdaging gemaak. Tot op ’n dag, op ’n dag … Maar voordat daardie dag sou aanbreek, gebeur daar nog iets met die arme Willem. Die eendag was Lizl Landman nog net die slim vroumens vir wie hy die loef wou afsteek. Toe hy hom weer kom kry, was sy die meisie op wie hy – soos hy met ’n skok moes besef – tot oor sy ore toe verlief was. Hoe dít gebeur het, kon hy nie sê nie. Hoewel hulle twee so op ’n manier van die begin af saamgegooi is deur hul akademiese prestasie, was daar nog altyd net ’n mooi vriendskap en wedersydse respek tussen hulle. Almal het gedink hulle sleep ernstig, maar dit was nie regtig so nie. Terwyl ander verliefdes saans met oë vol drome na die hemel gestaar het, was hy en Lizl ernstig in gesprek gewikkel oor die een of ander mediese feit of deurbraak, of oor ’n interessante lesing. Elkeen se leergierige verstand het nie ruimte of tyd gehad vir vry en sulke aardse dinge nie. In albei het die vuur na meer kennis hoog gebrand. En dan, natuurlik ook daardie ekstra vlam in Willem om ’n slag vóór te kom. Maar dit sou bars, het hy deeglik besef. Lizl het haar studie ernstig opgeneem, só ernstig dat dit allesoorheersend vir haar was.

      Die feit dat sy benewens haar geniale brein beslis ook bedeeld was met alle ander dinge wat ’n man by die vroulike geslag soek, het kwalik by haar geregistreer.

      Natuurlik het die ander manne haar voorkoms raakgesien en gewaardeer, maar hul manlike ego’s is elke keer só geknou wanneer die uitslae van die klastoetse kom, dat nie een van hulle Lizl Landman buite die lesingsaal beter wou leer ken nie. Dít het hulle aan ou Willem oorgelaat. Hy was immers die enigste onder die mediese studente wat dit kon waag om soms, net soms, met die hoë intellek van Lizl Landman mee te ding. En dan het hy meestal ook maar bedroë daarvan afgekom. Nee wat. Pragtig ofte nie, hulle het maar hul oë weggedraai na die minder mooies. ’n Man wil darem maar graag die meerdere voel.

      Eers toe die eerste roes van die liefde taan, het dit vir Willem begin saak maak – en seermaak – dat Lizl hom altyd een tree voor is. Lizl was natuurlik salig onbewus van die brandende begeerte in die jong student om, voordat hulle klaar is met universiteit, te bewys dat hy haar tog kan klop. Anders as met baie studente wat die akademie tweede plek gee wanneer die liefde instap, het die feit dat sy Willem Claassen liefgekry het en dat hy op haar verlief geraak het, geen invloed of uitwerking op Lizl se akademiese prestasie gehad nie.

      Vir Willem was dit ’n moeilike tydjie, hierdie eerste rukkie van hul liefde. Die eerste keer in sy lewe het hy hom betrap dat hy oor sy boeke sit en droom van ’n meisiekind met blou oë en hare soos ryp koring en die soetste van soet mondjies … en die volgende dag was daar ’n belangrike toets.

      Toe die uitslag kom, kon niemand dit glo nie, ook nie sy goeie kamermaat, Derick, nie.

      “Genugtig, ou, maar hierdie keer het Lizl jou darem op jou neus laat kyk.” Derick het hom fronsend aangekyk. “Kragtie, ék het jou hierdie keer op ’n nippertjie na amper geklop! Wat’s fout, maat?”

      Willem het sy skouers vererg geroer. Hy het skuldig en skaam gevoel. Dit kom van sit en droom wanneer jy moet studeer!

      Hy het sy swak punte probeer verskoon: Goeiste, hy is mos ook net ’n mens! Hoekom kan hy nie ’n slag nie te waffers vaar nie? Hoekom kan hy nie ook ’n slag net ’n doodnormale student wees wat oor blou oë en soet lippies droom nie? Verduiwels, hy is nie so perfek soos … soos Lizl nie.

      En Lizl kon háár oë ook nie glo nie. Dit was die verste wat Willem ooit agter haar was. Beslis meer as een tree hierdie keer. Sy het hom fronsend aangekyk.

      “Het jy siek gevoel, Willem?”

      “Nee, natuurlik nie!”

      “Nou hoekom … ?”

      “Magtig, Lizl, my punte is nog die tweede beste in die klas!”

      “Ja, maar … ”

      “Maar wat? Ek kom deur … los deur. Maar wat jy eintlik wou sê, is dat dit nie naby joune kom nie. Ja, ek weet. Ek kan dit sien, maar ek is net ’n doodgewone mens, nie ’n … ’n genie soos jy nie.”

      “Willem!” Sy kon hom net geskok agternastaar. Sy was totaal onkant betrap deur hierdie vreemde optrede.

      Sy skuldgevoel en ontevredenheid het vergroot met elke tree wat hy van haar af weggestap het. Dis nie haar skuld dat hy soos ’n verliefde sot gesit en droom het terwyl hy moes studeer nie. Dis ook nie haar skuld dat hy net ’n doodgewone mens is en sy iets spesiaals, iets anders nie. Hoe durf hy haar verkwalik dat haar verliefdheid nie na haar kop gegaan het nie? Natuurlik is sy reg. As jy verlief is, is jy verlief. Maar wanneer jy studeer, studeer jy. Sy is weer reg … soos altyd.

      Hy het op ’n kafeebankie in ’n afgesonderde hoekie gaan neerval, vir hom koffie bestel. Hy sal haar om verskoning moet gaan vra. Maar hoe gaan hy sy vreemde optrede verduidelik en probeer verskoon? Want met iemand soos Lizl sê jy nie net jy is jammer en dis uit en gedaan nie. Aikôna. Daarvoor is sy te presies en wil sy ’n antwoord op elke vraag hê. Sy sal wil weet wat hom soveel swakker as sy laat doen het. Sy sal ook wil weet wat aanleiding tot sy onverwagte uitbarsting gegee het. Sy sal eendag ’n uitstekende chirurg uitmaak. Sy vlek alles tot op die been oop, soek die kwaad tot in die diepste skuilhoeke, en dan begin sy uitsny en regmaak. Wat de duiwel gaan hy vir haar sê? Dat hy oor haar oë en blonde hare en sagte lippe gesit en droom het toe hy moes studeer? Genugtig! Sy sal dink hy raak van sy wysie af! Meer nog. Sy sal hom die trekpas gee. Om ’n toets op so ’n manier in gevaar te stel! Haar intellek sal beslis nie tot daardie vlak daal nie. Hy sal haar respek vir ewig kwyt wees.

      “Arme ou Willem! Ek wonder hoe dit moet voel om altyd tweede viool te speel.”

      Die stem klink agter die hoë rugleuning van die kafeebankie op en Willem sit doodstil. Hy wéét dis na hom wat verwys word.

      “Ja, magtie, my manlike trots sal in die niet verdwyn. Kan jy jou voorstel as hulle eendag getroud is, miskien vennote? ‘Wag, dame, ek wil eers my vrou se opinie ook kry.’ ‘Wag, meneer, my vrou moet eers sê of sy saamstem.’ ‘Jammer, mevrou, maar my vrou sê jy ly aan jou gal, nie aan aambeie soos ek gesê het nie.’ Genade! En wanneer hulle by die huis kom, sal dit eens so erg wees. Ma sê Jannie kry ’n motor, nie ’n bromponie soos Pa sê nie. En die ergste van alles is dat Ma waarskynlik reg is. Nee, arme ou Willem! Liewer dan vir my ’n stokonnosel en vaal, verbeeldinglose ou meisietjie as ’n beeldskone slimkop wat altyd beter weet as ek en dan nog reg is ook.”

      Hy het daar bly sit totdat die twee medestudente wat hom so bejammer het, weg is. Toe het hy teruggekeer na sy koshuis en reguit na sy boeke gestap.

      ’n Rukkie later was daar vir hom ’n oproep. Dit was Lizl, en sy het bekommerd geklink.

      “Is alles reg, Willem?”

      Hy het gesluk. Die feit dat sy hom eerste gebel het nadat hy so kortaf en amper beledigend teenoor haar was, wys sy is lief vir hom. Sy kan tog nie help dat sy slim is nie, selfs slimmer as hy.

      “Ja, my skat. Alles is reg. Lizl … ek is jammer. Asseblief, moenie dat ons post mortem oor die voorval hou nie. Ek is jammer en ek beloof dit sal nie weer gebeur nie. Goed?”

      Hy het sy asem byna biddend opgehou. Dis nie Lizl se styl om ’n saak net so onklaar te los nie. Maar dan hoor hy tot sy verbasing en blydskap: “Goed.” ’n Kort stilte. “Wat doen jy?”

      “Ek swot.” Sy laggie was kortaf. “Dít wat ek ’n week gelede moes gedoen het. Môre kan ons weer toets skryf en dan … meisiekind, dan moet jy pasop!”

      Haar