Die dae van ons nietigheid. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Die dae van ons nietigheid
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624069669



Скачать книгу

… asseblief. Ons is nou albei seker ’n bietjie gespanne en oormoeg.”

      Wat kon sy anders doen as om in te stem?

      Dis net omdat hulle Willem Claassen en Lizl Landman is dat hierdie onderstrominge blykbaar geen negatiewe invloed op hul prestasie in die eksamen het nie. Albei vaar soos te verwagte baie goed. Willem se hoop vlam hoog op met elke vak wat afgeskryf word. Hierdie keer … Die laaste dag breek aan. Soos altyd soen hulle mekaar vlugtig en wens mekaar net die beste toe voordat hulle die lokaal binnegaan.

      Derick is langs Lizl, aan haar ander kant, toe hulle die laaste oggend instap, en sy hoor hom deur die hoek van sy mond fluister: “Ek hoop jy gaan daardie geniale brein van jou hierdie keer reg gebruik, dokter Landman.”

      Sy draai koel na hom. “Ek is nog nie ’n dokter nie.”

      Sy glimlag is lig spottend. “Jy weet jy is een … klaar een. Van die beste, indien nie dié beste nie, wat hierdie fakulteit al opgelewer het.”

      Sy ignoreer hom, draai na Willem met ’n bemoedigende glimlag en liefde in haar oë. “Sterkte, my skat.”

      “Vir jou ook, my meisie. Dankie.”

      Natuurlik is dit iets om te vier wanneer jy die dag ná ses jaar jou laaste vraestel skryf, en die klompie mediese studente kom dan ook bymekaar in hul geliefkoosde eetplek.

      Derick kla steen en been. “Ek gaan dop. Ek sê julle, vandag dop ek wholesale.”

      “Ag, kom nou. Ek het nie te sleg geskryf nie,” probeer Lizl troos, want hy lyk regtig mismoedig en benoud.

      “Aag, jý!” is die ondankbare antwoord wat sy kry. “Hoe het dit met julle ander ouens gegaan?”

      Die ander is ook maar onrustig. “Ek weet nie hoekom ou Polly al wat ’n tienlettergrepige medisynenaam is vandag moes vra nie,” kla ’n ander ook. “Hemel, ek was naderhand so deurmekaar dat ek nie eens ’n gewone vierletterwoordjie reg kon spel nie.”

      “Ja, wragtie,” beaam Derick mismoedig. “Ek kon later nie meer my eie alfabet reg opsê nie.”

      Ten spyte van al die geklaery is almal deur toe die uitslae kom. Gelukkig is Derick nie in die nabyheid toe die simbole bekend gemaak word nie.

      Lizl en Willem wens mekaar oor die telefoon geluk, want albei is by hul ouerhuise vir die vakansie voordat hulle met hul hospitaaljaar begin. Die twee verliefdes was gelukkig om by dieselfde stadshospitaal aanstellings te kry, hoewel Derick, toe hy hiervan hoor, nie gedink het dit is so ’n goeie idee nie. Maar hy het stilgebly. Die koeël was reeds deur die kerk. Hy sou verkies het dat sy vriend liewer saam met hom na ’n ander hospitaal gaan sodat hy uit Lizl se skaduwee kon kom.

      Natuurlik is hulle bly om mekaar weer te sien toe hulle hulle aanmeld vir diens by die betrokke hospitaal. Verwydering doen aan verliefdes wat wind aan vuur doen: Dit waai die kleinste vlammetjie dood en blaas die groot vuur aan. In albei lê die besef toe hulle voor mekaar staan dat, ten spyte van dinge wat krap, die vuur van die liefde nog brandend is.

      Maar in albei se oë skuil nou ’n soort onseker spanning agter die vreugdedans op die voorgrond. Daar ontbreek iets aan spontaneïteit tussen hulle.

      Toe hulle eindelik die privaatheid van die dokterskwartiere bereik waar elkeen ’n woonstelletjie aangewys is, draai Lizl na Willem, kyk hom direk in die oë en lê baie pertinent die vinger op die seerplek.

      “Ek wou nog sê, baie geluk met die uitslae, my skat.”

      Sy kon die onmiddellike verstywing van sy glimlag nie miskyk nie.

      “Jy het my al gelukgewens.”

      “Ek weet, maar ek wil dit weer sê. Baie geluk met die puik simbole wat jy behaal het.”

      “Dankie. Geluk ook met joune. Jy bly oortuigend die beste tot op die end.”

      Met diepe ongelukkigheid antwoord sy stil: “Jou uitslae is briljant – ver bo die gemiddelde. Moet jouself nie verkleineer nie, Willem!”

      “Briljant … Nee, dis nie ’n woord wat by my pas nie. Jy is die tweede Chris Barnard, nie ek nie. Ek het klaar begin dink dat ek beter sal inpas in ’n plattelandse praktyk.”

      Sy kyk hom met ongeloof aan. “Willem! Maar ons … ” Haar stem sterf weg. Soos alle verliefdes het hulle ook al hul drome gedroom, drome van saamwees, saamdoen, groot drome om eendag vennote in ’n groot, florerende stadspraktyk te wees … En nou praat Willem van die platteland. Om ’n goedige huisdokter te word wat, sodra die geringste dingetjie opduik wat bo sy vuurmaakplek en die hospitaalgeriewe is, sy pasiënte na die stadsdokter verwys. En dis alles haar skuld!

      Hy kyk na die ongelukkige gesiggie, voel skuldig, skaam. Feit bly, sy kan dit nie verhelp dat sy so is nie. Wat beslis seker is, is dat haar hoë intellek en begaafdheid nie van haar ’n dominerende, oorheersende mens gemaak het nie. As dit liewer só was, sou dit makliker gewees het om dinge tussen hulle tot ’n punt te dryf. Dié kere wat hulle verskil het, het sy hom met logika, klinkklare bewyse en ’n stille oortuiging verkeerd bewys. En daarna het sy dit nooit in sy keel afgedruk nie. As sy net minder dierbaar en wonderlik, minder volmaak was, sou dit soveel makliker wees om te doen wat hy weet hy moet doen. Hoe lief hy haar ook al het, kan hy nie die res van sy lewe in haar skaduwee leef nie.

      “Lizl, dit gaan nie uitwerk nie.” Sy stem is teer, amper met ’n klank van jammerte daarin. So baie verhoudings ly teen die end skipbreuk as gevolg van tekortkominge. Selde as gevolg van te veel bates! Maar hierdie keer is dit beslis die té veel wat een te veel is.

      Sy voel ’n hand haar hart omklem. “Willem … Willem, maak dit regtig soveel saak dat ek beter punte as jy behaal het?”

      Die kanker lê oopgevlek tussen hulle, en die diagnose is onvermydelik.

      “Dit maak saak.”

      Soos elke kankergewas laat dit ’n pynlike, brandende seer, veral as daaraan gepeuter word. Haar stem is skor: “Ek het nooit gedink ek sal die dag belewe dat ek kleinlikheid en jaloesie in jou sal ervaar nie.”

      “Ek ook nie, Lizl. En ek weet nie of ’n mens dít wat tussen ons is, só kan omskryf nie. Ek is trots op jou, so vreeslik trots. Maar ek kan nie daarmee saamlewe nie. Dis om eie selfbehoud dat ek nie kans sien nie … ”

      “Nie kans sien om met ons verhouding voort te gaan nie?”

      “Ja. Ek wil ’n mens, ’n dokter in eie reg wees – nie net ’n tweede opinie nie.”

      Sy kyk eindelik weg. “Ek verstaan.”

      Hy kyk ook weg. “Ek dink nie so nie, maar ons laat dit daar. ’n Lykskouing sal ons nêrens bring nie.”

      Toe hulle mekaar die volgende dag, elkeen in ’n doktersjas geklee, in die hospitaal raakloop, is albei se oë versluier en koel. In die loop van die daaropvolgende maande sou dokter Willem Claassen dit liewer waag om van sy seniors te verskil, as om dokter Lizl Landman se diagnose in twyfel te trek. Tot op ’n dag dat dokter Lizl, soos sy alombekend staan, bewys dat sy ook menslike feilbaarheid in haar omdra en dat selfs ’n genie, soos dokter Willem haar noem, kan fouteer. Sy maak ’n verkeerde diagnose en die pasiënt verloor amper haar lewe.

      Ironies genoeg is dit juis Willem wat ná haar aan diens kom en onmiddellik besef dat iets ernstigs verkeerd is en dat die pasiënt gaan sterf. Dis bloot net deur sy blitsige optrede dat Lizl Landman nie daardie nag haar eerste pasiënt as gevolg van nalatigheid aan die dood afgee nie. Of dalk is nalatigheid ’n te kras woord om in hierdie geval te gebruik. Miskien is oorversekerdheid ’n beter keuse.

      Die skok wat hierdie voorval egter vir haar inhou, laat amper ’n blywende letsel op haar latere loopbaan. Juis omdat sy nog nooit uit die kol was nie, is dit vir haar ’n ver­skriklike gedagte dat sy wel gefouteer het en daardeur amper ’n mens laat sterf het.

      Sy staan bleek en hewig ontsteld voor Willem. “Jy het ook gister die pasiënt ondersoek, Willem. Wat was jou diag­nose? Het dit verskil van myne?”

      “Ja.” Hy kon nie anders as