Название | Iemand vir 'n scoop? |
---|---|
Автор произведения | Marida Fitzpatrick |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624051121 |
Toe sy by haar ouerhuis in Northmead, Benoni inry, staan haar ma vir haar buite op die sypaadjie en wag. Soos altyd moes sy haar ma laat weet sy’s amper hier, sodat sy vir haar die hek kon oopmaak.
“Andriette, jy’s laat,” sê haar ma toe sy uitklim, maar soen en druk haar darem.
“Jammer, Ma, die avokadovorm het bietjie lank gevat om te set.”
Haar ma het ligpers Queenspark-jeans met ’n stywe wit toppie en ’n wit en pers geruite katoenbloesie bo-oor aan. Elsabé Niemand het ’n merkwaardig mooi figuur vir ’n drie en vyftigjarige vrou en haar hare is in ’n elegante, kort blonde kapsel. Mooiste in Benoni, sê haar pa altyd.
Nadat Elsabé haar dogter gegroet het, vat sy met die punte van haar vingers aan Andi se hare asof sy daarvoor gril. Met die avokadovorm het sy nie tyd gehad om haar hare mooi te blaas nie en dit het sommer so in die ry met die oop venster droog geword.
“Ek weet my hare lyk sleg, Ma,” sê sy.
“Nee, dit lyk nie ... slég nie,” sê Elsabé, “net ... die punte is bietjie droog. Jy moet weer na Robert toe kom sodat ons weer ligstrepies kan insit; jou weer mooimaak.”
Elsabé praat altyd in die meervoud wanneer sy van haar en Andi se haarkapper, Robert, praat, asof hulle ’n span is wat verantwoordelik is vir Andi se voorkoms.
“Waar is die avokadovorm?” vra haar ma.
“In die kattebak in ’n koelhouer. Dit het nog nie heeltemal gestol toe ek moes ry nie.”
Sy sluit die kattebak van haar Golfie oop en lig die deur op.
Niks kon haar voorberei op dít wat daarbinne wag nie: ’n Gruwelike, toksiese groen massa. Die koelhouer het omgeval, die visvorm ook en al die avokadomoes het uitgeloop. Andi hou op asemhaal. Sy maak haar oë toe. Dit kan nie wees nie, dis onmoontlik, sy hallusineer. Wanneer sy haar oë weer oopmaak, sal sy ’n vis in die kattebak sien. ’n Volmaakte, drillerige vis. Nie ’n groen slikdam wat ghloek-ghloek in die kattebak klots nie.
Maar toe sy haar oë weer oopmaak, lê die groen see steeds daar, die bewys van haar algehele onbevoegdheid as dogter en vrou. Sy sien hoe haar ma nog steeds met skok en afgryse na die inhoud van die kattebak staar. Daar’s niks wat Andi kan sê om dit beter te maak nie. Daar heers ’n paar oomblikke van geskokte stilte.
“Niemand hoef hiervan te weet nie,” sê haar ma later toe hulle kombuis toe stap om skoonmaakgoed te gaan haal. Andi kan nie glo dit het weer gebeur nie. Dalk moet sy maar net ophou probeer en van nou af voorbereide Woolies-slaaie of -poedings koop as haar ma vir iets vra.
“En hoe gaan dit op die liefdesfront?” vra haar ma haar gunstelingvraag nadat Andi sowat honderd en dertien velle kombuispapier en ’n driekwart bottel Vanish Carpet Stain Remover gebruik het om van al die groen gemors ontslae te raak. Hulle is weer op pad na die kombuis toe om die laaste goed voor ete reg te kry.
“Ma,” kreun sy. Hemel, kan haar ma nie verstaan dat hierdie vraag elke keer vir hulle al twee embarrassing is en amper altyd dieselfde antwoord het nie?
“Ek vra maar net. Daar het hierdie nuwe dokter by die praktyk begin,” sê sy met groot oë. Elsabé werk haar lewe lank al in ’n dokterspraktyk in Benoni (vandaar die obsessiewe begeerte dat ’n kind van haar ’n dokter moet word) en probeer sedert Andi se laat tienerjare vir haar ’n dokter vir ’n kêrel reël. As Andi dan nie self ’n dokter kan word nie, kan sy darem met een trou, is waarskynlik Elsabé se redenasie. Tot haar ma se verskriklike teleurstelling het nog nie een van bogenoemde plaasgevind nie. Andi weier volstrek om aan die mediese blind dates deel te neem wat haar ma elke nou en dan vir haar wil reël. Maar haar ma is onverbiddelik. Solank as wat Andi in haar vrugbare jare is, sal sy aanhou probeer om haar dogter se titel van Juffrou Niemand in Mevrou Dokter te omskep.
“Ma, eintlik is daar iemand ... iets ...” sê Andi terwyl sy met ’n vurk patroontjies op ’n komkommer skraap vir die groenslaai. Sy’s dadelik spyt sy’t dit gesê. Sy weet hierdie onthulling was ’n yslike fout, maar sy was desperaat. Sy moes iets kry om haar ma weg te stuur van die nuwe jong dokter by die praktyk.
“Iemand?” glimlag haar ma. Andi kan sien sy probeer haar blydskap onderdruk. “En wie is die iemand?” vra sy terwyl sy messe en vurke aftel.
“Ag, dis eintlik niks. Net iemand by die werk,” sê Andi.
Elsabé se gesig val. Dit lyk of iemand haar blydskap met ’n vurk geskraap het. “Is hy ook ’n joernalis by Pers?” vra sy.
Andi verstaan dadelik die probleem. Haar ma haat dit dat sy by Pers werk. Dis oukei dat sy ’n joernalis is (met dié dat sy nou nie ’n dokter kon word nie), maar Pers “is darem baie poniepers, geelpers, skandpers,” het haar ma gesê toe sy ses maande gelede daar begin werk het. As haar dogter ’n joernalis móét wees en nie ’n dokter kán wees nie, moet sy eerder by Beeld werk, ’n gerespekteerde koerant in die gerespekteerde Naspers-stal.
“Nee, hy werk vir Die Landstem,” sê Andi. In haar ma se oë is dit nie veel beter as Pers nie. Al wat sy van Die Landstem weet, is dat dit ook ’n sukkelende koerant onder die sukkelende Pressco-vaandel is. Al joernalistieke beroep wat vir haar aanvaarbaar sal wees, is een binne Naspers.
“O,” is al wat Elsabé sê.
Andi vererg haar sommer. “Hy’s ’n baie goeie joernalis, Ma. ’n Ondersoekende een wat al pryse gewen het en als.”
“Gaan julle uit?”
“Nee, ons slaap net saam.” Sy kon nie die versoeking weerstaan nie. Eers na ’n rukkie kyk sy van die komkommer af in haar ma se geskokte gesig op. Gevries staan Elsabé daar, messe en vurke nog net so in haar hande. “Ek maak net ’n grappie, Ma!”
Elsabé begin verder aan borde en lepels tel. “Mens maak nie sulke grappies met jou ma nie.”
Andi lag. “Dis net omdat Ma so ’n goeie sin vir humor het dat ek sulke grappies met Ma maak.”
Haar ma het haar skoon stil geskrik. Andi voel sleg. “Nee, ag wat, daar’s eintlik niks tussen ons nie,” sê sy. “Dis maar net ... dalk ...”
“Dan kan jy mos een aand met dr. Schoeman uitgaan,” sê sy, weer vrolik. “Met dié dat jy nog die kat uit die boom kyk.”
Andi sug. “Ma gee ook nie op nie,” sê sy en dra ’n stapel borde na die lapa uit, net om te ontsnap.
Onder hul grasdaklapa agter in hul erf sit haar pa en haar broer, dr. Jacques Niemand met dié se meisie, ’n jong, blonde klein dingetjie met platgestrykte hare.
“Ousus!” roep haar broer uit. Net wat sy nodig het om te hoor. Maar sy’s regtig bly om hom te sien. Dierbare Jacqie, haar kleinboetie, wat nou die aantreklike dokter is. Sy gee hom ’n groot druk. “Dis Chamonix,” sê hy toe sy van hom wegtrek en wys na die klein meisietjie. Chamonix (uitgespreek Sha-moe-nie) steek haar hand uit en giggel. “Ek’s so bly ek kan Jacques se groot suster ontmoet!”
Sy stap om na waar haar pa besig is om vleis te braai en gee hom ’n soen en ’n druk. “Hallo, Pa!”
“Hallo, my kind.” Haar pa is groot en stil en dierbaar.
“Hoe gaan dit met Pa? Het Ma nog steeds vir Pa op ’n dieet?” vra sy en slaan haar arms om haar pa se groot maag.
“Ja,” sug hy en fluister, “maar ek eet my biltong skelm.”
Haar ma kom in met die plekmatjies en die servette. “Willem,” sê sy, “hoe ver is die vleis van gaar af? Kan ek maar die knoffelbrood bring?”
Almal noem haar pa Willie; hy was nog altyd Willie, net soos sy nog altyd Andi was, maar ’n paar jaar gelede het haar ma van grêndgeid besluit om hulle almal op hulle propperse doopname te begin noem: Willem, Andriette, en Jacques. Die Jacques spreek haar ma nou uit op die sagte, Franse manier, nie die Boere dJaques, soos die res van hulle haar broer noem nie.
“So,