Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Omnibus 7
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798165402



Скачать книгу

is moeg en drink nog net ’n laaste koppie koffie in die ruim, deftige sitkamer, waar die antieke staanhorlosie gewigtig die tyd aftel in die stiltes tussen gesprekke. Henk en Paul gesels bo verwagting lekker met mekaar en toe Hilda kort ná die ouer Fouchés aankondig dat sy bed toe gaan, neem Danien ’n vinnige besluit.

      Toe Hilda uit is, sê sy: “Paul, vertel vir Henk van Alfons, dan gaan maak ek vir ons nog koffie. Ek bly dors en is buitendien nog lus vir daardie appeltert wat van vanmiddag oorgebly het.”

      Sy staan op en kom eers weer tot stilstand langs die groot kombuistafel, haar hart ’n hamering in haar bors. Was dit wys? Won­der sy half spytig. En toe: Maar waarom nie? Niemand weet, niemand mag weet van die verbintenis tussen my en Alfons nie. Hy het my immers aangesê om enige verhouding tussen ons te ont­ken.

      Sy skakel die ketel aan en sit koppies reg. Sny drie stukke van die appeltert om dit in bordjies te sit. En is snaargespanne toe sy eindelik met die skinkbord weer by die sitkamer inkom. Paul kom dit by haar neem, en sy sien dat Henk ingedagte met sy vingerpunte teen mekaar gestut, voor hom uit sit en staar.

      “En toe?” vra sy. “Wat dink jy?”

      Hy draai hom stadig, nadenkend na haar toe. “Niks wat jy nie alreeds gedink het nie. As hierdie Alfons van julle ’n anargis is, of wat ook al, sal hy gevang word. As praatjies al tot hiér toe geloop het, weet die Veiligheidspolisie reeds baie lankal daarvan; dit kan ek jou verseker.”

      Sy neem die koffie wat Paul vir haar hou, maar los die tert net so.

      “Hoe kan ’n mens uitvind wat die waarheid is?” vra sy net-net hoorbaar.

      Die mans help hulself swygend uit die skinkbord en roer hul koffie klingelend.

      Toe vra Henk stadig: “Is daar ’n verhouding tussen jou en Al­fons Minnaar?”

      Haar hart ruk saam, maar sy kyk hom bedaard aan.

      “Nee,” sê sy. “Maar hy is iemand uit ons kindertyd en ook ons jongmenstyd. ’n Mens haat dit om iemand soos Alfons te sien ondergaan.”

      “Wel, as jy nie baie direk by hom betrokke is nie, Danien, sal ek jou aanraai om ’n groot draai om hom te gooi. Dit is nie spele­tjies dié nie. Sulke optrede, as dit waar is, grens aan hoogverraad, dit moet jy weet.”

      Maar ek is betrokke! Wil sy uitroep. Onherroeplik. Want ek weet één ding vir seker: ek sal hom altyd liefhê al sien ek hom nooit weer nie. Al moet ek oplaas uit sy eie mond hoor dat hy ’n onrusstoker is.

      En ’n verraaier? wil haar verstand meedoënloos weet. Sal jy werklik ’n mens kan liefhê wat willens en wetens teen sy eie plek kwaad stook en moord onder sy eie landgenote beplan?

      Sy voel hoe sy koud word. Dis of daar iewers in haar kop ys­water ingetap word. Maar ’n deel van haar kyk in verstomming toe hoe sy vriendelik glimlag met die mans, en skouerophalend sê: “Wat ’n aaklige gedagte! Kom ons praat oor vroliker goed, wat.”

      Sy skink nog koffie en toe sy sien hoe lus Paul nog lyk, loop sny sy vir hom appeltert.

      Henk sit ingedagte en teug aan sy koffie, kyk soms sydelings na haar, maar as hy haar oog vang, begin hy ’n gesprek met Paul oor rugby. Maar toe die staanhorlosie elf slaan, staan hulle asof in akkoord op.

      En toe Danien oplaas in haar eie kamer in die bed is, tree daar ’n reaksie in wat haar bewend aan die lakens laat klou. Dis asof ’n magtige hand haar skud en skud totdat al haar gedagtes uit haar kop geval het en sy van pure vermoeienis onrustig aan die slaap raak.

      Sondag ná kerk sit almal weer onder die eike en wag op die middagmaal wat tant Jacomien sommer daar wil voorsit. Frans het lank saamgesels, maar oplaas haal hy die koerant uit en vou dit onder sy pa se fronsende oog oop.

      “’n Mens lees nie sulke goed op Sondae nie!” mor oom Karel omgekrap.

      “Net die hooftrekke, dit beloof ek,” sê Frans en Danien sien hoe Henk sowel as Paul ’n glimlag onderdruk.

      Maar almal sit kiertsregop toe Frans eensklaps hard en af­ge­mete lees: “Hand vol jong akademici verlaat land … ’n Klompie hoogs geskoolde mense gaan landuit omdat hulle die regering luid en beledigend kwalik neem vir … wel, als en nog wat … Julle moet maar self lees.” Frans sug gefrustreerd. “Hier is ’n foto van die lotjie op die Johannesburgse lughawe geneem. En hier staan geskryf: ‘Hulle het bra onwillig geposeer. Die teenwoordigheid van polisie naby hulle was opsigtelik. Onder hulle is onder meer van links na regs: Alfons Minnaar, De la Rey Smit en Katinka Haans. Veral Minnaar en Haans is bekend vir hul aktivisme en was glo betrokke by verskeie insidente wat hul integriteit onder verdenking plaas.”

      Hy laat sak die koerant wat hy met stywe arms voor hom oop­gehou het, en sy oë soek Danien s’n. Sy het sy woorde gehoor. Sy sien die verwildering in sy oë, maar dis of daar sedert gisteraand ’n oeroue waaksaamheid oor haar gekom het. Dit gaan hier om haar liefde en die behoud daarvan, besef sy nou. Of dit ooit le­wensvatbaar gaan wees, is nie nou die vraag nie. Totdat sy vir seker weet wie en wat Alfons Minnaar is, moet sy ’n front voor­hou. Hy het immers self gesê: ’n Mens hoef nie alles te weet om volkome te vertrou nie.

      “Sê jy dan niks?” wil hy skerp en ontstemd weet.

      “Wat kan ek sê?” is haar koel teenvraag, maar haar hart klop soos ’n flougejaagde hasie s’n.

      “Hemel tog,” is tant Jacomien se verstomde woorde. Oom Karel bly sit asof hy gegiet is, maar die frons tussen sy oë keep dieper.

      Henk en Paul bewaar ’n stokkerige swye, maar aan hul gesigte kan sy sien dat hulle so iets sien kom het.

      “Dis moontlik waarom hy sy eiendom verkoop het,” waag sy dit en sien hoe Frans se kop opruk.

      “Wát?”

      Ook oom Karel se gedrae geduld het sy einde bereik. “Waar­van praat jy, Danien?” vra hy kortweg.

      Dis Paul wat hulle vertel. Woord vir woord soos wat hy dit nou die aand aan Danien kom sê het. En sy sien die verstomming, die hartseer en ongeloof by haar pa en haar broer inslaan.

      “As ek geweet het wat om te dink, sou ek geweet het wat om te sê,” sug oom Karel swaar. “’n Mens kan nie … wil nie dit van Alfons glo nie. Hy is … was nooit só nie.”

      En tant Jacomien is opeens hoogs ontsteld. “Maar hy is nóú so! Daar sien julle dit voor julle oë!” Sy gryp die koerant en hou dit ietwat teatraal op. “’n Mens verkoop nie jou erfgoed en verlaat die land omdat jy die plek liefhet nie. Jy doen dit net omdat jou opvattings só verdorwe geraak het dat jy die visie van … van ’n gewone muis het!”

      “Kom nou, Moeder,” laat Frans hoor. “Daar is heelwat oulike mense wat beter aanbiedinge in die buiteland kry en van die kans gebruik maak. Dalk is dit met Alfons ook so gesteld en …”

      Maar sy laat die koerant driftig val en stap weg om te gaan kyk of die kos nie al reg is nie.

      “Wel, dit is soos wat Ma sê. Die omstandigheidsgetuienis lyk verdoemend,” sê oom Karel, en sy oë kyk verby Danien na waar die eerste wingerde anderkant die werf begin.

      “Dit kan verdoemend wees,” sê Henk huiwerig, “maar aan die ander kant …”

      “Hoe bedoel jy?” vra Frans opeens weer skerp. “Hoe kan ’n mens dit anders sien as wat dit is?”

      Henk druk weer in sy ou gewoontetjie sy lang, skraal vingers teen mekaar, sit effe vooroor toe hy praat.

      “’n Mens kan soos Jakob die omstandigheidsgetuienis glo, toe Josef se broers sy met bloed bevlekte kleed na hom toe gebring het. Dit was ’n logiese verklaring vir sy seun se verdwyning en hy kon dit tog nie anders bewys nie.”

      Daar sak ’n swaar stilte. En Hilda, wat lank tjoepstil gesit het, sê: “Alles wat julle praat, klink oneindig diepsinnig.”

      Danien hoor haarself lag. ’n Lui, verveelde laggie.

      “Toe nou, Hilda, jy oorskat alles wat hierdie twee regsge­leerdes sê. Dalk is