Название | Elza Rademeyer Omnibus 6 |
---|---|
Автор произведения | Elza Rademeyer |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624057895 |
En eers tóé dring dit tot haar deur wat sy in haar drif vir hom sê.
Sy mond gaap verbaas oop. “Waarvan praat jy?” Maar toe hy dié vraag vra, trek suster Jo al amper by die saal se deur uit. Sy loop nie, sy hardloop as ’t ware deur die saal.
“Sy is kwaad vir jou?” sê-vra oom Thysie hier van langsaan.
Rudolf draai sy kop verdwaas terug van die deur waardeur sy verdwyn het om na oom Thysie te kyk. “Ja, sy is kwaad vir my. Maar waaroor weet ek nie. Ek weet waaragtig nie, oom Thysie!”
“Het vir my geklink of dit iets is wat jy ’n tydjie terug moes gedoen het. Dié dat sy gepraat het van jou geheue en gewete.”
Rudolf antwoord nie, want hy het nie vir hom ’n antwoord nie. Maar sy verstand werk oortyd. Hy onthou weer van die keer toe sy iets kwytgeraak het van ses jaar gelede. Toe probeer hy om ’n legkaart in sy geheue te pak met al die woorde wat sy kwytgeraak het. Dalk maak iets sin . . .Dat sy sy rykdom teen hom hou, beteken dalk iets. Hy dink terug aan haar woorde: Julle ryk mense gee my ’n pyn . . . Natuurlik het ek al my sprankel verloor. Ek het dit ses jaar gelede al verloor toe jy . . . Vergeet wat ek gesê het . . . Meneer Mulder, jy’t baie erger dinge as die pes . . . Vriende en mans is eenders. Hulle is verraaiers en . . . los my arm, anders skree ek . . . Ekskuus, ek het nie bedoel om jou regtig te klap nie. Dis sommer ’n ou grappie.
Hy doen sy bes om te onthou of hy ses jaar gelede enigiemand op die een of ander manier aanstoot kon gegee het. Maar hy was daardie tyd oorsee. En terwyl hy daar was, het hy net die geselskap van ’n paar wynboere opgesoek. Hy’t nie eens een keer ’n jong meisie uitgeneem of enige Suid-Afrikaner daar raakgeloop nie. Hoekom het sy gesê vriende en mans is verraaiers? Dit het geklink of sy hóm van verraad beskuldig, maar hy ken haar dan skaars. Tog het sy so pas ook daarop gesinspeel dat hy haar iets aangedoen het! Gits, sou daar dalk regtig iets met sy geheue skeel?
Dit is meteens vir Rudolf ’n ontstellende gedagte, want dit is nie buite die kwessie nie. Tot vandag toe nog kan hy nie onthou wat die ongeluk voorafgegaan het nie. Hy onthou net van Julia se mondigwordingspartytjie. En hy onthou vaagweg dat hulle by sy huis weggery het, maar hy kan nie eens onthou dat hulle op pad Muizenberg toe was nie. Hy was stomverbaas toe Julia vir hom sê hy het haar pas voor die ongeluk gevra om met hom te trou. Hy onthou dít nie eens nie.
Maar ses jaar gelede het sy geheue tog niks makeer nie. Hy onthou baie dinge wat ses jaar gelede gebeur het. Of het daar dalk ses jaar gelede iets gebeur wat die ongeluk nou eers uit sy geheue gewis het? Het hy dalk wel daardie tyd vir suster Jo geken? Dalk ’n verhouding met haar gehad en ’n kind . . .
Meteens is dit of sy verstand botstil gaan staan. Hy kry om die beurt warm en koud. Sy hele menswees kom in beroering en hy ervaar so ’n warboel van gedagtes en emosies dat hy hom gejaag in sy rolstoel swaai om vars lug buite te gaan soek.
Maar ook daar vertoef hy nie lank nie, want dit is of die maan en sterre hom uittartend toelag.
Later die aand toe hy suster Jo in die saal gewaar, wink hy haar nader. “Ons twee moet gesels,” sê hy vir haar.
“Waaroor?” Die agterdog staan haar gesig vol geskryf.
“Oor jou probleme.”
“Mý probleme? Wat het mý probleme met u te doen, meneer Mulder?”
Hy kyk haar lank en deurdringend aan totdat sy blosend wegkyk. “Ek dink tog ons het iets om oor te praat.”
“Niks wat jóú raak nie! Hou jy en jou tante net jul neuse uit my lewe! Ek vra niks meer van julle nie!”
Hy kyk haar kopskuddend agterna toe sy vinnig die saal verlaat. As hy sy sonde nie ontsien nie, trek hy haar sommer oor sy skoot, dink hy enersyds teleurgesteld omdat sy so oorsensitief is, maar ook oor die bedekte beskuldigings wat sy telkens na hom slinger, en wat hy nou vir seker weet onverdiend is.
Hy kry haar nie weer naby sy bed nie. En toe hy hom met ’n groot gesukkel en sonder hulp in sy rolstoel swaai om dienskantoor toe te ry, is sy nie alleen nie. Dokter Simpson sit by haar in die kantoor. Albei lyk verbaas om hom in die deur te sien, maar dit is sy wat hom aanspreek.
“Wat doen u hier, meneer Mulder? Hoekom is u nie in die bed nie?”
“Ek wou met jou kom praat het, maar . . .”
“Ons twee, meneer Mulder, het net mooi niks vir mekaar te sê nie. En soos u kan sien, is ek en dokter Simpson . . .”
“Ja, toe maar, jy hoef nie te verduidelik nie, suster Jo,” val hy haar kortaf in die rede. “Ek weet wanneer ek onwelkom is!” Toe swaai hy onverskillig sy rolstoel om en haas hom terug saal toe. En of hy dit wil erken of nie, hy weet ineens dit is nie soseer haar afjak nie as dokter Simpson se teenwoordigheid daar in die kantoor wat hom so ontstel.
Suster Jo dink baie verskonings uit waarom sy nie nodig het om weer die mansaal binne te gaan nie. Maar toe ontdek sy dat ’n botteltjie slaappille van die trollie naby die deur af verdwyn het en die verpleegsters weet nie een wat daarvan kon geword het nie. Die enigste moontlikheid is dat Rudolf dit moes geneem het toe hy daar in die deur in sy rolstoel kom sit het.
Sy besef ook maar alte goed die implikasies daarvan! Sy is die een wat daarvoor verantwoordelik is dat die pille nie in verkeerde hande beland nie. As so iets gebeur, sal sy nie net aangekla word van nalatigheid en moontlik geskors of afbetaal word nie, sy sal ook saam met haar gewete moet leef indien hy ’n oordosis neem! Daarom benader sy Rudolf nie juis baie vriendelik nie.
Hy vryf verdwaas oor sy oë toe hy hardhandig wakker geskud word. En dit duur ’n hele ruk voordat dit by hom insink waarvan hy verdink word.
“Pille gevat van die medisynetrollie in die kantoor af? Maar jy speel seker?”
“Speel! Nee, meneer Mulder, ek was nog nooit in my lewe so ernstig soos nou nie. U was die enigste persoon wat daar in die kantoor was buiten myself en die verpleegsters.”
“En wat van dokter Simpson?”
“Ja, en dokter Simpson. Maar hý sou nie die pille gesteel het nie.”
“So, jy beweer ék het die pille gesteel!”
“Of geneem. Feit bly, die pille is nie meer waar dit was nie, en u was die enigste wat dit kon . . . geneem het.”
“Wel, ek het nie. En as jy my nie wil glo nie, moet jy my maar deursoek.”
En teen sy verwagting in doen sy dit waaragtig. Sy pluk sommer die laai van sy bedkassie oop om te begin soek.
“En dít?”
’n Oomblik skrik hy so groot toe sy ’n handvol pille daaruit opdiep dat hy sy oë toeknyp. Hoe kon hy vergeet het! Daar is ’n klomp pille in sy laai. Pille wat hy bymekaar gemaak het toe hy dit vroeër oorweeg het om ’n einde aan sy lewe te maak. Hy’t skoon daarvan vergeet!
“Suster Jo!” roep hy haar agterna toe sy sonder ’n woord van sy bed af wegstap, maar sy hou haar doof.
Sy hou haar doof omdat die teleurstelling binne-in haar so groot is. Soveel pille in een mens se laai kan net een ding beteken . . . Dit het sy nie van Rudolf Mulder verwag nie. Sy’t gedink hy is ’n vegter. Rebels, opstandig en soms onverskoonbaar ongepoets, ja. Maar sy’t nooit kon dink hy is ’n lafaard nie!
By nadere ondersoek blyk dit dat die pille uit sy laai nie dieselfde soort is as dié van die botteltjie wat weggeraak het nie. Dit is alles doodgewone hoofpynpille wat ’n mens by enige kettingwinkel kan koop. Maar sy sien nie kans om hom ’n tweede keer te konfronteer nie. Hy sal tog nie erken dat hy dit geneem het nie, glo sy. En teen hierdie tyd sal hy dit so goed versteek het dat niemand dit sal kry nie. Dit maak ook nie saak dat die pille verskil nie – feit bly, hy was in besit van ’n ongeoorloofde aantal pille. Hy sal haar nooit as te nimmer daarvan kan oortuig dat hy dit nie met ’n doel daar in sy kassie