Название | 'n Wêreld sonder hom |
---|---|
Автор произведения | Christine le Roux |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798164856 |
“Sommer. Om te sien hoe lank hulle regtig is.”
Dit was soos ’n klap in die gesig. Meteens het die briefie sin gemaak. Hy het dit natuurlik ontken, maar sy was buite haarself van woede en vernedering. Stukkie vir stukkie moes hy alles erken. Die ou manne, die seniors, het ’n weddenskap aangegaan: wie gaan die mooi langbeen verower?
Nicoline kyk afgetrokke na haar gesig in die spieël sonder om regtig iets raak te sien. Nou, byna twaalf jaar later, is sy volwasse genoeg om alles in perspektief te sien. Die man was tog lief vir haar. Dit het miskien as ’n koelbloedige weddenskap begin, maar hy hét sy hart op haar verloor. Maande lank het hy by die koshuis aangekom, by haar gepleit, om vergiffenis gesmeek, verwese rondgeloop. Toe sy geweier het om met hom te praat, het hy briewe geskryf. Elke dag nog ’n dik een. Die eerstes het sy gelees, later het sy dit gewoon opgeskeur. Vir die res van die wêreld het sy haar kop hoog gehou, met ander mans uitgegaan, maar diep binne-in haar was ’n klipharde, yskoue kol. Niemand het weer aan haar geraak nie. Sy het nie weer haar hart verloor nie. En die res van haar universiteitsjare het sy langbroeke gedra. Dis eers die afgelope paar jaar dat sy nie meer omgee nie. Bene is funksionele ledemate, gemaak om mee te stap of te hardloop. Sy gee nie ’n duiwel om wat ander mense daarvan dink nie, sy sal aantrek wat sy wil en behoed die man wat aan haar vat.
Dit is een van die redes waarom sy vir meneer York begin werk het. In haar finale jaar het sy vir heelwat onderhoude gegaan, maar wanneer die mans op ’n sekere manier na haar gekyk het, het sy nie meer in die betrekking belanggestel nie. Vir meneer York het sy ontmoet by ’n ete waarheen sy haar destydse mansvriend vergesel het. Sy het dadelik van hom gehou. ’n Effens verstrooide middeljarige man, skerp en intelligent ten spyte van sy voorkoms. Tydens die ete het hy gesit en kla oor sy sekretaresses wat so hopeloos is – hoofsaaklik omdat hulle trou sodra hy hulle opgelei het.
“Ek gaan nie trou nie,” het sy vir hom gesê. “Maar ongelukkig weet ek nie ’n snars van ’n rekenaar of tikmasjien af nie en het ek geen benul hoe ’n liasseerstelsel werk nie.”
“Loop ’n kursus,” het hy gesê. “Ek sal jou aanstel nes jy klaar is.”
Hy het sy woord gehou en sy was nog nooit spyt nie. Die man beskou haar as sy dogter, sy twyfel of hy ooit raak sien hoe sy lyk, wat sy dra of watter kleur haar hare is. Die man is skatryk, maar Nicoline en mevrou York moet saamwerk om te sorg dat hy nie elke dag dieselfde pak dra nie, dat die das met die vetkolle by die droogskoonmaker kom, dat hy onthou om sy hare te laat sny. Sy kinders het voor haar grootgeword, sy is deel van die gesin.
“Jy gaan ook trou,” het hy eendag bedruk vir haar gesê.
“Nee,” het sy hom verseker. “Nie sommer nie. Glo my.”
Sy en sy gesin se ondersteuning was van enorme hulp in daardie eerste dae na Dennis se ongeluk. Haar ouers het gekom, en hulle drie was omtrent heeltyd by die hospitaal. Noudat Dennis so goed vorder, is haar ouers terug plaas toe en sy weer op kantoor, maar sy sal nooit die Yorks se vriendelikheid en liefde vergeet nie.
Die volgende middag ry sy, soos sy nou al gewoond is, om vir Dennis te gaan kuier. Die eerste ding wat sy opmerk toe sy die kamer inloop, is dat die gordyn om die ander pasiënt se bed oopgetrek is.
“Hallo,” sê sy en soen haar broer. “Hoe gaan dit?”
“Goed. Slegte nag gehad, maar ek het heeldag geslaap en voel nou beter. Ek gaan heeltemal verroes,” kla hy. “Jy moes my vandag gesien het met my daaglikse oefenlopie die gang af. Nes ’n ou man. Pa loop regopper as ek.”
“Moenie so ongeduldig wees nie,” maan sy. “Jy kon dood gewees het.”
Sy gesig verhelder. “Die dokter reken ek sal volgende week huis toe kan gaan.”
“Dis wonderlik. Een van die dae draf jy weer saam met my.”
Hy glimlag suur. “Een van die weke, sou ek sê. Máánde.”
Sy knik in die rigting van sy kamermaat. “Ek sien die gordyn is nou oop. Het hy al bygekom?”
“Nee.”
Sy staan op, stap nader aan die ander bed en kyk af na die man wat daar lê. Hy is nie onaantreklik nie, moet sy toegee. Hy het dieselfde donkerblonde hare as sy dokter, maar daar hou die ooreenkoms op, hoofsaaklik omdat sy gesig so leweloos is.
“Hy haal self asem,” merk sy op.
“Ja, hy is hierheen gebring eers ná hy van die respirator afgehaal is.”
“En iemand het hom geskeer.” Sy bekyk die man krities. “Nie baie goed nie, maar tog.” Sy loop na die onderpunt van die bed toe en kyk na sy pasiëntekaart. “Kurt Ollsen,” lees sy hardop. “Nie ’n tipiese Suid-Afrikaanse naam nie. Het hy al besoekers gehad ?”
“Nee. Hy is ’n toeris,” sê Dennis. “’n Noorweër as ek die verpleegster reg verstaan het. Nie deel van ’n toergroep nie, blykbaar op sy eie. Sy sê die konsul was al hier. Hulle probeer sy familie opspoor.”
“Foei tog.” Nicoline kyk af na die man se gesig. Daar is donker kringe onder sy geslote oë en teen die kant van sy gesig is ’n dowwe kneusplek. As dit nie was vir die geringe deining van sy bors onder die stywe wit laken nie, sou ’n mens gedink het hy is dood.
“Was dit ’n ongeluk?”
“Blykbaar.” Dennis kom orent en skink vir hom ’n glas lemoensap uit die beker langs sy bed. “Een van daardie fratsongelukke. Hy het voor die hotel in sy stilstaande motor gesit. ’n Vragwa was besig om boumateriaal af te laai – ysterstawe en goed. Die hyskraan het gegly of ’n kabel het gebreek, die verpleegster is ook nie doodseker nie. Dit het in elk geval op die dak van sy motor geval net toe hy wou wegtrek en hy was vasgepen met ernstige kopbeserings – soos jy kan sien.”
Sy staan nog steeds na die man en kyk. “Ek is nie ’n dokter nie,” sê sy nadenkend, “maar in die stories wat ’n mens altyd lees oor sulke gevalle . . . behoort hy nie gestimuleer te word nie?”
Dennis gee ’n laggie. “Wat bedoel jy daarmee, sus?”
Sy gee hom ’n streng kyk oor haar skouer. “Sy brein moet wakker gemaak word. Hulle speel mos vir sulke pasiënte musiek en praat onophoudelik met hulle om hulle te probeer wakker maak. Mens lees gereeld van ouers wat geweier het om hulle kind se toestand te aanvaar en maande met die kind bly praat het tot die kind meteens wakker geword het. “
“Ja,” stem hy saam, weer ernstig. “Die verpleegster het dit ook genoem, maar vanselfsprekend het niemand hier die tyd om so iets te doen nie. Jy weet self: almal is oorwerk en dit net om na ons fisieke welsyn om te sien.”
“En hy het geen familie hier nie,” mymer sy. Sy tel sy hand op. Dit voel koud en leweloos. Swaar. “Meneer Ollsen,” sê sy, “jy is nie alleen nie. Daar is mense by jou wat jou wil help.”
“En wat,” vra ’n droë stem by die deur, “laat jou dink ’n Noorweegse toeris verstaan Afrikaans?”
Sy swaai om. Dis die dokter van die vorige middag en sy donker oë kyk haar sardonies aan.
“Die taal maak nie saak nie,” sê sy net so koel. “Solank hy weet daar is iemand hier.”
“Ons is hier.”
“En julle stel net in sy fisieke toestand belang.”
Sy wenkbrou skiet op. Hy stap nader en sy los die koue hand en retireer. “Ek het nie besef jy is ook ’n dokter nie,” sê hy.
Sy raak verbouereerd, maar wys dit nie. “Ek is nie ’n dokter nie. Ek is net jammer vir die man omdat hy niemand hier het om hom te help nie. Sy eie mense is so ver en –”
“Glo my,” knip hy haar kort en begin die gordyne toetrek. “Ons doen ons bes.”
Sy gaan sit stomend langs haar broer se bed, ’n diep frons tussen haar wenkbroue. “Wat ’n onplesierige man,” sê sy in ’n fluisterstem vir Dennis. “Die arme Kurt gaan nooit