Название | Elize Parker-omnibus |
---|---|
Автор произведения | Elize Parker |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798159715 |
Wat ’n grieselrige vonds! Sy wil liewers nie daaraan dink nie. Miskien is dit die rede waarom Hettie Zoetendal selde besoek het na Stefan se dood.
Sy trek die pakkamer se deur agter haar toe en kyk na die hoekkamer van die buitegeboue waar haar pa selfmoord gepleeg het. Sy stap die huis binne en gooi die materiale wat sy uitgesoek het op die eetkamertafel langs die naaimasjien neer. Maar voorlopig kry sy nie gewerk nie. Beelde van lank, lank gelede spook by haar.
Sy roep voor haar geestesoog ’n duidelike beeld van Stefan van agter in ’n gemaklike stoel in sy studeerkamer op, sy skraal arms tot by die polse toe met ’n spierwit hemp. Sy kop rus skuins teen die stoelleuning met sy blonde, krullerige hare agteroor gekam en sy bril skeef op sy voorkop geskuif. Hettie vee oor sy slape en toe sy haar hand oplig, is dit vol bloed. Sy neem die wapen uit sy hand en vee die bloed van die ivoorkolf af.
Sy weet min van rewolwers en pistole. Maar sy kan byna sweer Stefan se selfmoordwapen was nie die Smith en Wesson .32 in die pakkamer nie.
12
Twee maande later lyk Zoetendal se hoofslaapkamer soos ’n foto uit ’n huisversieringstydskrif. Adri werk begeesterd voort – dié keer aan sitkamergordyne. Daar is meer as genoeg materiaal daarvoor. Hettie moes in ’n stadium groot planne vir hul strandhuis gehad het. Sy weet nou hoekom hulle mettertyd nooit meer op L’Agulhas vakansie kom hou het nie. The secret sits in the middle. Wat het tussen hierdie vier mure gebeur waarvan sy nie weet nie, en wat het die wapen in die buitekamer daarmee te make? Sy strek diep in gedagte om die voltooide gordyne te hang. Toe iemand haar op die skouer tik, draai sy vinnig om.
“In jou kondisie moet jy nie so strek nie. Jy kan maklik die naelstring om die baba se nek draai,” sê ’n bekende stem agter haar.
Adri kyk verbaas na Helie Carstens. “Middag, tannie Helie,” sê sy ongemaklik.
Helie se oë gly nuuskierig oor die veranderings. Adri het ook meubels uit die pakkamer gehaal, reggemaak en vertrekke uitgeverf. Die muwwe ou spookhuis aan die dorpsrand lyk splinternuut. “Het jy die gordyne gemaak?”
Adri knik en sit op die leersportjie. Sy voel effens lighoofdig.
“Ek het jou vlugtig by die viswinkel sien ingaan – toe sien ek jy is in die ander tyd,” sê sy met haar oë op skrefies. “Ek het gedink ek kom jou help, aangesien jou ma dood is. Ons kom immers van skooldae saam en het darem al ’n sak sout saam opgeëet.”
Nie waarvan ek weet nie, dink Adri. “Dankie, maar ek is by die dokter op Struisbaai.”
“Sy is nie te vrot nie.” Haar oë dwaal opsigtelik na Adri se ringvinger. “Hoe ver is jy?”
“Amper vyf maande,” sê Adri.
“Het jy al aan aanneming gedink?” vra Helie.
“Natuurlik nie. Ek en die baba se pa gaan trou.”
“Daai bruingebrande ou met die spoggerige kar? Ek ken sy soort. Seker getroud en woon in ’n peperduur huis in Kaapstad terwyl jy hier krepeer.”
Adri probeer haar trane keer. Helie se simpatie het haar emosionele krane oopgedraai.
Helie lei haar na die bank. “Vertel my alles.”
Adri praat onophoudelik: eers stadig, later vinniger van haar verhouding met Richard.
“Julle Keet-meisies en Emmie …” sê Helie en gee haar ’n sneesdoekie.
“Sy sorg goed vir Carine. Sy sal nooit enige tekort in haar lewe hê nie.”
“Ek sou dink dis haar plig,” sê Helie en staan op. “Kyk, dis jou besluit. Ek sal jou graag help teen geen koste nie. Noem dit ’n gunsie vir ’n ou vriendin. Ek kan ook help indien jy die kind wil laat aanneem.” Sy wys na die gordyne. “Ek ken genoeg ryk plaasvroue wat graag sulke gordyne sal wil hê. Is jy bereid om vir ’n ruk vas voor die naaimasjien te sit?”
Adri glimlag bewerig. “As ek móét.”
’n Paar dae later stap Helie Zoetendal binne saam met Leana Bredenhann, eggenote van ’n welaf skaapboer in die distrik. Leana is vol komplimente toe sy die gordyne in die sitkamer sien. Sy besluit daar en dan dat Adri haar huis moet kom opmeet en gordyne daarvoor moet maak. Adri dink aan haar uitstaande rekeninge. As sy hier wil aanbly, sal sy die bedrae gou moet vereffen. Leana Bredenhann kom dus asof sy gestuur is.
Toe sy dié aand na die opmeting van Leana se huis op Zoetendal se dubbelbed neersak, is sy moeg en lighoofdig. Die vel om haar maag trek styf en haar borste stoot ongemaklik teen haar onderklere. Hoe gaan ek ooit in my toestand die meters en meters materiaal in gordyne omskep? wonder sy.
Soos die dae vinnig verbytrek, besef sy die antwoord is: met intense konsentrasie op die taak ter hand. Tydelik is lang seewandelinge en gedagtes aan gister iets van die verlede. Sy stap darem gereeld tot op die rotse en sit na die see en kyk.
“Jy lyk pootuit,” sê tant Helie met haar volgende besoek. “Geniet jy die werkery?”
“Dit is lekker om te skep,” sê Adri. Sy vertel die tante niks van haar drome nie. Die gordynmakery het haar weer ’n lewensdoel gegee, die idee om haar eie linne- en tekstielontwerpersetiket, Fraiings, op die been te bring. Die konsep het sy reeds uitgedink. Sy sal met stelle linne en gordyne van broderie anglaise begin. Daarna sal sy uitbrei na haar persoonlik ontwerpte materiaal met Erica-patrone soos die blomme waarvan haar sketsboeke vol is. Alles moet saamwerk om ’n spesifieke styl in die hand te werk. Materiale, muurpapier en bykomstighede moet gekombineer kan word om ’n atmosfeer soos dié van ’n gesofistikeerde Engelse herehuis weer te gee. ’n Klassieke plattelandse voorkoms, maar eg Suid-Afrikaans.
“Dink jy steeds jy moet die baba hou?” onderbreek Helie haar gedagtes.
Adri sug swaar. Vandat sy die duur dokter vir die vroedvrou verruil het, kom sy tydens elke ondersoekbesoek met die een argument na die ander hoekom sy die baba moet laat aanneem. Sy vind vrugbare grond in Adri se gemoed. Sy het haar vertroue in haar vermoë verloor om vir haarself en die baba te sorg. Al verkoop sy skilderye en maak gordyne, kan sy nie ’n kind onderhou en hom al die geleenthede gee wat hom toekom nie. Haar enigste uitweg om die kind te hou is om Richard van haar swangerskap te vertel, maar iets weerhou haar daarvan. Sy kan dit nog nie ’n naam gee nie. Miskien is sy bloot bang vir verwerping. Sy het onlangs Richard se verlowingsfoto in die koerant gesien. Hy was so ooglopend gelukkig. Miskien is dít hoekom hy haar nie eens vir die wis of die onwis op L’Agulhas kom soek het nie. Miskien was Nelia en Emmie tog reg. Richard sal nooit lewenslank aan een vrou getrou kan bly nie.
Vroeg een oggend word Adri wakker toe die baba meer as gewoonlik onder haar ribbes woel. Sy is kortasem en toe sy opstaan en voor die venster gaan staan, druppel ’n taaierige vloeistof teen haar bene af. Vir ’n paar oomblikke verlang sy om in tweestrydvrye slaap terug te sak. Dae lank soek sy al bewustelik na antwoorde op die vrae in haar gemoed. Met elke blik in die spieël het sy hierdie oomblik gevrees. Nou, onverwags, vier weke voor die tyd, word sy gedwing om keuses te maak.
Ek gun hom veel beter as wat ek hom kan gee, weet sy toe sy uiteindelik na ’n paar uur se selfondersoek en pyn van die venster wegdraai. Helie het duidelike instruksies gegee oor wanneer sy haar moet bel. Sy bad in ’n lou bad, trek haar skoon aan en stap telefoonhokkie toe om haar te skakel. G’n buurmens is in sig nie. “Ek dink die baba maak ’n vroeë verskyning,” sê sy uitasem.
“Byt vas. Ek is nou daar,” sê die ou tante. Sy arriveer binne ’n paar minute. “Hoe ver is jou pyne uitmekaar?”
“So sewe minute.”
Helie maak haar vroedvroutas oop. Sy neem Adri se pols en druk aan haar maag. “Bly kalm. Asem in en uit.”
Adri probeer beheer oor haarself kry. Die pyn oorheers haar denke. Vir die eerste keer kom die gedagte by haar op dat sy tydens die geboorte kan sterf.
“Het