Название | Elize Parker-omnibus |
---|---|
Автор произведения | Elize Parker |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798159715 |
Adri is paniekerig. Sy verkies om te sterf eerder as om dié pyn te verduur. As sy net van die pyn verlos kan word! Sy snik die woorde uit waarop Helie wag: “Wat moet ek teken?”
Sy wonder vlugtig oor die trekkie om Helie se mond toe sy die vorms nader bring. Later kon sy nie meer omgee watter emosies oor Helie se gelaat trek nie. Dit is hul gedeelde lot, dink sy toe die pen bewerig oor die streep beweeg. Helie vou die getekende vorms met ’n ervare berekendheid op.
Adri se kreune word onbeheerste paniekaanvalle. Helie lê haar neer en sprei haar bene oop. Sy moedig haar in ’n kalm stem aan om te druk en asem te haal. Adri voel of sy geen beheer oor haar liggaam het nie. Sy slaan haar naels in haar palms in om die pyn te keer. Sy beweeg reeds in ’n skaduwêreld waar daar ’n gebrek aan goeie oordeelsvermoë is. Haar liggaam is uitgelewer aan die wette van die natuur. Elke sening in haar onderlyf voel of dit oopskeur om die baba se pad oop te maak. Haar maag en haar onderlyf is ’n golwende massa pyn.
Vae skaduwees legkaart inmekaar totdat Helie skree dat die baba se kop verskyn. Met vinnige bewegings sorg sy dat die baba met elke kontraksie verder uitglip en in haar arms tot ruste kom totdat sy regop kom en met die baba na ’n hoek van die vertrek verdwyn. “Dit is beter as jy glad nie aan haar raak nie,” sê sy.
“Vra hulle om haar Jade te noem, soos die kleur van L’Agulhas se see.” Adri sien haar baba se blonderige koppie vir ’n oomblik. Met afgryse besef sy wat sy gedoen het. Sy het egter nie die krag om haar baba terug te eis nie. Met hees kermgeluidjies in haar ore verloor sy haar bewussyn.
Dae later maak Adri vir die eerste keer haar oë heeltemal oop en druk onwillekeurig aan haar krampende maag. Haar hele lyf is een groot, kloppende pynpols. Sy kan nie haar bene roer sonder om ’n skerp steekpyn te ervaar nie. Veraf hoor sy stemme. Trolliewiele lawaai op harde vloere. Eetgerei klink teen borde. Sy lei af sy is in ’n hospitaal.
’n Verpleegster stap nader en tel haar hand op om haar polsslag te neem. Adri wil haar uitvra oor haar baba en oor haar opname in die hospitaal. Die krag ontbreek haar. Sy is fisiek en geestelik te verpletter om te praat.
“Hoe voel jy?” vra die verpleegster.
“Waar is my baba?” fluister Adri uiteindelik.
Die verpleegster trek aan die drupsakkie langs haar bed. “Miskien moet jy met Dokter daaroor praat,” sê sy.
Adri sluit haar oë moedeloos en sluimer vir ’n rukkie in. Haar hand word weer opgetel. Sy maak haar oë oop. Hierdie keer is dit ’n senuweeagtige dokter. “Ek hoor jy wil meer oor jou baba weet. Sy is reeds by haar aanneemouers.”
Angs sak oor Adri toe. Haar aanneemouers … Daar is dus geen terugkeer meer nie. Sy draai haar gesig na die muur. “Hoe het ek hier gekom?”
“Die vroedvrou het jou net-net betyds hier gekry sodat ons die bloeding kon stop. Daarna het jy kraamkoors gekry.”
“Ek moes haar nooit naby my toegelaat het nie. Ek moes na die dokter op Struisbaai gegaan het,” steun Adri swak.
“Bekommer jou later daaroor. Jou eerste plig teenoor jouself is om gesond te word. Jy sal nog ’n hele paar dae hier moet bly.” Hy tik liggies op haar hand. “Ons sal moet keer vir post partum-depressie,” sê hy, meer vir die verpleegster as vir Adri, en draai na die volgende pasiënt.
Skuldgevoel en selfverwyt oorval haar. Sy het haarself oopgestel deur na Helie in plaas van die Struisbaai-dokter te gaan. Sy het toegelaat dat Helie haar oorreed om haar baba af te gee. Sy het op L’Agulhas gebly waar sy nie vir haarself en ’n kind kon sorg nie.
Op die krop van haar maag steek ’n pyn. Haar gesig vertrek en sy huil.
Dae aaneen lê sy woordeloos en bykans bewegingloos. Verpleegsters borsel haar hare en was haar. Ongeag die versorging en belangstelling beweeg sy skaars en praat sy nie.
Toe sy die dag uit die hospitaal ontslaan word, is Adri se eerste gedagte om by Helie se huis aan te ry. Sy kom voor dooiemansdeur. Nie op L’Agulhas of Struisbaai is daar ’n spoor van die baba te vinde nie. Helie het ook spoorloos verdwyn. Sy is klaarblyklik Kaapstad toe om met die versorging van die baba te help. Na ’n paar dae keer Adri se verswakkende gesondheid haar om haar soektog voort te sit. Sy is soms veels te swak om uit haar bed op te staan en te depressief om werklik doelgerig te dink en te organiseer.
Waar was sy toe haar baba haar nodig gehad het? Bewusteloos in ’n hospitaal – as sy net haar bewussyn lank genoeg kon behou om die aanneming ongedaan te maak, kon die tragedie dalk voorkom gewees het. Haar ideaal om haar eie besigheid te begin, voel sinneloos. Fraiings – so wou sy haar ontwerpersetiket noem. Hoe ironies! Haar lewe hang nou in fraiings: sy sit met ’n losse bondel draadjies, toue en klossies en weet nie hoe sy die hopie weer tot ’n mooi geheel saamgebind gaan kry nie.
13
Nelia kyk belangstellend na die Bosveldlandskap rondom haar. Die Magaliesberg se kranskoppe verskil drasties van die sagte groen Overberg-heuwels van haar kleintyd. Die Bosveldreuke is ook vreemd: die soetskerp reuk van boorde lemoenbloeisels is nuut vir haar. Selfs die Magaliesberg se rotsagtige klowe, waar Peter Becker se luukse konferensiehotel tussen heuwels nestel, is anders as die Overberg se diepgroen klowe.
Peter het sy woord gestand gedoen. Drie dae na haar herrie met Emmie is sy deur sy groep na Johannesburg opgevlieg vir ’n werksonderhoud. Kort daarna is sy aangestel as konferensiebestuurder van hul Bosveld-konferensiehotel, die Cosmos Safari Lodge.
Hier kan ek my drome gestalte gee, dink sy toe hulle by die hotel aankom en die bestuurder, Denise Wicht, haar met ’n glimlag tegemoetstap. Die vrolike donkerkop neem haar na haar kantoor. Bestuurders en ander personeellede kom en gaan tydens hulle gesprek. Nelia kan sien dat haar lewendige swartkopbaas daarin belangstel om haar werknemers se potensiaal te ontgin.
Veel later stap sy na haar klein woonstel. Die Lodge se geboue is tussen tropiese tuine uitgesprei. Die tuine is ’n kleurespel van plante: hibiskusbome staan rooi in die blom en bougainvilleas vleg fuchsia-pers deur die doringbome. Agter die hotel kronkel looppaadjies bergop.
Nelia sak moeg op die bed in haar eenvertrekwoonstel neer en raak dadelik aan die slaap. Veel later staan sy op en pak haar tasse uit. Sy dink sy gaan ’n geruime tyd hier werk. Onder iemand soos Denise Wicht sal sy vinnig vorder. Daarna kan sy alles in die stryd werp om vinnig in die groep opgang te maak. Sy is bereid om haar rug te breek om Emmie Berger te laat betaal vir die dag toe sy haar uit die Hotel Woltemade se diens ontslaan het.
Sy maak haar gereed vir haar ete-afspraak met Denise en stap na die eetkamer onder ’n vol Bosveldmaan. Sy staan stil om ’n oomblik na die maanverligte toneel te kyk. Oor so ’n hotel wil sy eendag septer swaai.
Nelia en Denise sit rustig in die Mabula-restaurant en proe aan die sjef se nuwe dis: smaaklike volstruisskywe.
“Gaan jy die Kaap mis?” vra Denise toe hulle na ete koffie drink.
“Glad nie. Ek hou van nuwe uitdagings.”
“Ek’s bang jy raak verveeld hier by ons. Nie dat jou portefeulje ooit rustig raak nie. Jy klink net vir my na ’n stukkie weerlig. Peter Becker was baie beïndruk met jou. Min mense beïndruk hom.”
Nelia lig haar wenkbroue. “Mnr. Becker het my op die verkeerde voet betrap. Ek moes die beste van ’n slegte saak maak.”
“Peter hou van mense vol inisiatief. Ek ook. Wys my waartoe jy in staat is en ek maak jou ’n assistentbestuurder. Ek is seker jou tyd by die Woltemade het jou daarvoor voorberei.”
Nelia is stil. Sy wil nie aan die Hotel Woltemade dink nie. Charmaine het onder druk haar saak teen Zane Randall laat vaar. Nelia was seker dit was deur Emmie se toedoen. Maar sy is nie spyt dat haar moontlike oorreaksie op die voorval haar lewenskoers drasties verander het nie.
Al wat saak maak, is werk en nogmaals werk. Die volgende paar maande breinspoel sy haarself met dié motto. Vir eers skuif sy haar persoonlike lewe opsy.