Название | Elize Parker-omnibus |
---|---|
Автор произведения | Elize Parker |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798159715 |
Moenie dink julle sal ’n sent van my sien nie. Hierdie woorde het Hettie so dikwels herhaal dat Nelia geweet het wat Gert Lubbe gaan sê voordat hy dit nog gesê het. Nogtans is dit ’n skok. Om die strandhuis op L’Agulhas te erf, beteken niks vir haar nie. Sy sal nie weer haar voete op die terug-na-niks-dorpie sit nie.
Adri kyk verbysterd na Nelia, maar soos altyd is haar gesig uitdrukkingloos. Adri het nie verwag dat Hettie enigsins iets aan haar sou bemaak nie, maar dat Carine onder Emmie se voogdyskap geplaas sou word – dit het sy glad nie verwag nie.
Nelia is bly Carine het ’n tuiste. Sy was doodbang sy sal verantwoordelik wees vir Carine. In hierdie stadium van haar lewe sal so iets haar eie toekomsplanne in die wiele ry. Sy voel vir die eerste keer asof sy baas van haar eie lot is en of sy die potensiaal het om haar drome te bewaarheid. Hettie se afsterwe raak haar nie werklik andersins nie. Sy is steeds te intens bitter oor jare en jare se onuitgesproke verwyte.
Gert Lubbe maak verskoning en stap uit. Emmie staan op om hom by die deur te gaan groet. Toe sy terugkom, plaas sy haar hand op Carine se kop. Sy maak haar keel skoon.
“Ek dink geensins daaraan om Carine van julle te vervreem nie. Ek weet dit sal haar hart breek. Wat ek in gedagte het, is dat julle voortgaan in die diens van die Hotel Woltemade en saam met my en Carine in my huis in Oranjezicht intrek. Daar is meer as genoeg plek vir ons almal.”
Iets ontbreek Emmie soos wat sy daar staan, dink Adri. Die warmte van ’n ma. “Carine behoort hier in die platteland op ons tuisdorp groot te word. Nie aan ’n spogskool in die stad nie.”
“Ek wil doen wat die beste vir julle al drie is. Bly by my en julle is bymekaar. Skei julle weë nou, weet julle dalk nie wanneer julle ooit weer kan saamwoon nie.”
Adri kniel voor Carine. “Wat wil jy hê, Carine? Waar wil jy grootword?”
Wat werklik in haar gedagtes omgaan, sou niemand weet nie. Sy sug asof sy op ’n magiese teken wag. Hettie se dood is ’n verwarrende waarheid. “Miskien is dit die beste vir ons almal by Emmie.”
Verligting vloei deur Emmie. Vir die eerste en die laaste keer sien die Keet-susters hoe trane oor haar wange afloop toe sy Carine in haar arms neem. Sy sal haar ewig dankbaar wees vir haar antwoord en sorg dat sy kry wat haar toekom.
7
Op ’n mistige Aprilmiddag in 1974 ry Adri en Richard deur die Overberg na L’Agulhas. Hulle verhouding is steeds geheim en daarom gebruik hulle die gesamentlike wegbreeknaweek om so ver moontlik van Kaapstad weg te kom. Richard is bang Emmie ontslaan hom indien sy daarvan uitvind. Emmie is nougeset oor die reël dat haar werknemers nie verhoudings met mekaar mag aanknoop nie. Noudat Emmie en Carine egter oorsee reis, kan hulle effe meer ontspan.
Richard stop by die viswinkel op L’Agulhas toe hulle daar aankom. “Hier is iemand wat jou ken,” sê Richard toe hy na ’n rukkie uit die winkel kom. Hy wink ’n ouerige vrou nader. Adri betrag die vrou in die dik trui met ’n wolmus laag oor haar ore voordat sy haar herken. Sy klim uit die motor en groet haar: “Tant Helie! Richard, ontmoet ’n vriendin van my oorlede ma, Helie Carstens. Sy is die distrik se vroedvrou.”
“Jammer om van jou ma te hoor,” sê Helie in ’n skor stem. “Wat kom maak julle hier?”
“Ek het Richard aan die Overberg kom voorstel.” Die ou tante gee Richard ’n betekenisvolle blik. Adri bloos teen haar sin.
“Ek het haar geleer om met ’n handlyn vis te vang,” sê tant Helie.
Adri groet met die hand asof sy haastig op pad iewers heen is. “Dit was lekker om Tannie weer te sien. Bly Tannie nog hier?”
“Ek het nog die huis. Kom loer gerus in. Ons hoef nie ou wonde oop te krap nie.”
Toe hulle wegtrek, dink Adri na oor Helie se woorde. Hettie en Helie was kindertydvriendinne. Iets moet tussen hulle gebeur het waarvan sy niks weet nie. Ou wonde? Wat sou sy tog bedoel?
Zoetendal staan met ’n verwaarloosde elegansie en statigheid tussen die aankruipende fynbos toe hulle daar aankom. Die afgeskilferde groen hortjies en windverweerde teëldak wys dat die agthoekige huis te lank onbewoon in die bek van die suidoos gelê het. Die inrypad se witklipplaveisel en die suidekant van die smal skoorstene is oorgroei met donkergroen mos.
Toe die deur agter hulle toeklap, is dit duidelik dat die tyd tussen hulle laaste kuier en vandag te lank was. Adri se grootste vrees dat haar eerste besoek aan Zoetendal na haar pa se selfmoord haar huilerig en hartseer sou laat, is gelukkig ongegrond. Sy gooi haar arms om Richard se nek en plaas ’n stroom soene oor sy voorkop voordat haar tong syne uit sy mond tart en sy hom tergerig kamer toe nooi.
Hulle tuimel vooroor op die hoë eikebed. Adri sit haar kop teen die bedstyl sodat haar blonde hare soos ’n waaier agter haar lê. Richard trek sy T-hemp oor sy kop en maak sy gordel los. Sy luister met toe oë na die musikale voorspel tot hul minnespel … die onmiskenbare verleiding van ’n denimrits wat oopgetrek word. Hy knoop haar rok los en soen haar koel vel. Die skemer gooi kombers oor hul naakte broosheid. Sy wieg dromend teen hom totdat ’n gul gloed haar heupe vul. Matelose begeerte dwing haar om die bakens van sy lyf op te soek. “Jy is my droomminnaar,” fluister sy. Niks laat haar so volmaak vrou en so volledig mens voel as om Richard liefdevol aangedruk teen haar te voel nie. Hy trek haar bo-op hom. Sy vou haar bobene om hom en krul teen hom aan totdat ’n heerlike warmte oor haar vel vloei. Hy hou met ’n stewige greep aan haar vas en rol eers na ’n ruk weg.
Hy kyk met ’n lui glimlag na haar. “Jy lyk op jou vroulikste in onopgemaakte beddens.”
“Jy praat te veel …” kla sy spottenderwys en rol tot langs hom. Met haar kop teen sy skouer oorval ’n diepe rus haar. Lank nadat hy reeds aan die slaap geraak het, lê sy nog dromerig wakker. Buite ruk die wind aan die hortjies. Veraf storm branders teen die rotse. Sy staan op en gaan maak vir haar ’n beker stomende koffie. Sy stap uit op die agterstoep en tuur lank na die hoekkamer van die buitegeboue. Daar is nie veel om te sien nie. Hettie het na Stefan se dood die vensters en deur met houtplanke laat toespyker. Aan die kamerinhoud is daar nog nooit geraak nie.
Adri draai weg voordat sy weer in angstige gedagtes oor Stefan se selfmoord versonke raak. Die lewe gaan onvermydelik voort. Dit is juis wat sy met hierdie besoek aan haarself wou bewys. Sy stap na binne en kruip weer langs Richard in. Sy leun oor en soen hom. Hy roer nie eens nie. Sy neem sy gesig in albei hande en soen hom vol op die mond. Hy maak sy oë oop, plaas sy arms om haar en trek die kombers stywer om hulle.
“Ek haat storms. Dit laat my aan my kleintyd dink. Dit was altyd so mislik om alleen in ’n storm te wees.”
Richard het alleen by sy ouma grootgeword. Sy ouers is in ’n ongeluk oorlede toe hy nog klein was. Adri ken die verhaal, maar laat hom toe om sy hart uit te praat. Die storm het hom kwetsbaar gemaak. Nie eens in hul intiemste oomblikke was hy al so openhartig met haar nie. Buite raak die storm ’n paar oomblikke stil, asof selfs die natuur hom hierdie kans wil bied om sy hart oop te maak.
“Dis seker hoekom Emmie vir my soos ’n ma is. Sy het my in haar hotel ingeneem toe niemand my wou gehad het nie.”
Sy het nie besef Richard aanbid die grond waarop Emmie loop nie. Emmie het duidelik ’n emosionele houvas op hom. Sy kruip vaster teen hom, maar sluimer nie saam met hom in nie. Sy is te verontrus oor sy mededelings. Buite tier die storm voort.
Oor die branders en oor Zoetendal breek die vuurtoring se helder ligbane met die ritme van die noodlot.
’n Paar dae nadat Emmie van oorsee teruggekeer het, ontbied sy Adri na haar kantoor. Adri sien sy is erg gespanne. “Het ek jou nie teen Richard gewaarsku nie? Het ek jou nie vertel hy is ’n hartebreker nie? Toe ek my rug draai, gaan kruip jy in ’n goedkoop liefdesnessie saam met hom!”
“Wat tussen ons gebeur het, was nie goedkoop nie,” sê Adri bewerig. Hoe weet Emmie