Christine le Roux Omnibus 4. Christine le Roux

Читать онлайн.
Название Christine le Roux Omnibus 4
Автор произведения Christine le Roux
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798156172



Скачать книгу

en ja. Ek weet wie ek vir die manlike hoofrol wil hê en ek het al met hom daaroor gepraat, maar ek weet nie of hy sal inwillig nie. En met die vroulike hoofrol sit ek vas. Nie een van die aktrises wat ek getoets het, is reg nie.”

      Sy kan die moedeloosheid in sy stem hoor en sy val hom vinnig in rede. “Nou kyk, luister na jou vrou en vergeet eers daarvan. Ek weet hoe jy verander as ’n nuwe idee aan die ryp word is. Sien julle môre.”

      Sy sit die gehoorstuk neer en gaan sit weer op die bank. “Ons gaan môre na die Drysons, Noag,” sê sy vir die hond. “Jy kan die hele dag deurbring deur hulle honde te verwilder, soos jy altyd doen. En Henri sal dit nie eers agterkom nie, want daar broei groot dinge in sy kop.”

      Hoofstuk twee

      Los Angeles, VSA.

      Liefste Nanette

      Sussie, jy gaan jou doodlag wanneer jy hierdie brief lees. Ek sit eintlik en lag terwyl ek dit skryf, en ek wens ons was nie so ver van mekaar verwyder nie sodat ons nou saam daaroor kon lag! Ek weet eintlik ook nie waar om met die storie te begin nie . . . Jy weet dat ek vir Henri Dryson goed ken, nie waar nie?

      Ja, natuurlik weet jy. Jy is mos een van sy bewonderaars. “Die beste regisseur in die wêreld,” is hoe jy hom eenkeer beskryf het. Ek het dit vir hom vertel en hy het gelag. Tog, ek dink ons stem saam dat sy rolprente altyd kunstig is en altyd pryse wen. Nou ja, verlede Sondag het hy en Lucy, sy vrou, my oorgenooi om by hulle te kom kuier. Ons het mekaar ’n geruime tyd nie gesien nie en dit was lekker om weer saam te kuier.

      Dit was net ons drie en hulle kinders, en ek was skielik bly dat ek een van die dae terugkom Suid-Afrika toe. ’n Mens verlang na sulke gesellige familiebyeenkomste. Henri was stillerig, sy bril op

      die punt van sy neus soos gewoonlik, en hy het uitgevra oor my doen en late. Soos ek jou vertel het, is ek byna klaar met die draaiboek wat my nou al so lank besig hou. Party dae weet ek ook nie hoe ek hier beland het nie. Wat maak ’n Afrikaanse skryfster in Hollywood?

      In elk geval, ek het vir Henri vertel dat ek beplan om een van die dae huis toe te gaan. Hy het nie veel gesê nie. Ons het geswem en sommer buite in die tuin geëet. Na ete het Lucy verskoning gevra en ons alleen gelaat, en dis toe dat Henri met sy plan vorendag kom. Jy sal dit regtig nie glo nie: hy wil hê ék moet in sy nuwe rolprent

      speel! Nie die draaiboek skryf nie, nee, hy wil hê ek moet die vroulike hoofrol vertolk! Ek het agteroor geval en gekraai van die lag.

      Ek is ’n skryfster, nie ’n rolprentster nie! Hy het glad nie saamgelag nie. Hy was in der waarheid doodernstig. Dit blyk dat hy ’n wonderlike draaiboek het. Weet jy wie gaan die manlike hoofrol speel? Robert Ryan!

      Nou kyk, sus, jy sal begryp dat ek sprakeloos was toe ek begin agterkom het Henri is doodernstig. Ek het wal gegooi, baklei, gelag, maar hy wou net niks weet nie. Om een of ander onverklaarbare rede glo hy vas dat ek die regte persoon vir die rol is. Ek het hom verseker dat ek nog nooit in my lewe toneel gespeel het nie. Ek het nooit eens op ’n skoolkonsert ’n resitasie opgesê nie! En ek wóú ook nog nooit nie.

      My argumente het egter op dowe ore geval. Jy, wat so ’n studie van Henri se werk gemaak het, sal weet dat hy daarvan hou om onbekende mense in sy rolprente te gebruik. Onbekend, ja, maar darem nie totaal sonder talent nie! En dan is daar Robert Ryan. Ek het hom jare gelede – kort nadat ek hier aangekom het – gesien, en soos jy seker ook weet, is hy een van die alleenlopers. Hy woon nooit partytjies by nie, is nooit by skandale betrokke nie, het kort-kort ’n ander mooi meisie aan sy sy, maar wou nog nooit trou nie. ’n Knap rolprentster is hy ongetwyfeld en dit het ek vir Henri genoem. Dié man sal mos nie tevrede wees met ’n onbekende vroumens wat teenoor hom moet speel nie?

      “Robert sal teenoor enigeen speel,” was sy antwoord. “Hy het volle vertroue in my oordeelsvermoë.”

      “Maar ek het gehoor hy is ’n onmoontlike man en krap almal om wat saam met hom speel,” was my volgende argument.

      “Dis nie waar nie,” het Henri kalm gesê. “Hy is net uiters knap en professioneel. Hy haat mense wat vol nukke en grille is. Hy het nie tyd vir temperamentele aktrises nie; ek wéét jy is nie temperamenteel nie.”

      Dit het vir my gevoel asof ons ure geargumenteer het en op die ou einde was ek skoon uitasem en verlep. Maar Henri het voet by stuk gehou.

      “Doen my net een guns,” het hy gesê. “Lees die draaiboek en kom vir ’n rolprenttoets. Moenie nou so beslis nee sê nie. Gee jouself ’n kans.”

      Goed, ek het ingestem, al is dit dan net om sy onthalwe. Ek het die draaiboek gelees en weer ’n keer gelees. Dis die verhaal van twee baie selfstandige, koppige mense. Die meisie is ’n jong weduwee wat haar totaal van die mensdom en veral van mans afgesluit het. Die man is ook baie in homself gekeer. Ag, dis moeilik om die storie te vertel, want daar is nie veel van ’n verhaal nie. Basies is dit ’n liefdesverhaal vol probleme, ’n verhaal van twee eensame mense wat aan die einde besef dat hulle mekaar tog nodig het. Ek weet dat Henri van so ’n gegewe iets besonders kan maak, maar waarom wil hy my daarby insleep? Aan die einde is daar natuurlik ’n liefdestoneel, en toe ek dit lees, het ek Henri dadelik gebel en beslis gesê dat ek nie vir so iets kans sien nie. Hy het gesê ek is laf en wou weet of ek dan nie vertroue het in hom nie. Hy doen nooit iets wat onsmaaklik is nie en hy beplan om daardie toneel op ’n besondere manier te skiet. Dit gaan glo baie simbolies gedoen word, byna soos ’n dans in stadige beweging. Hoe dit ook al sy, ek bly skepties.

      Gister is ek toe na die ateljee vir die rolprenttoets. Ek het gedink dit sal net ek en Henri wees, maar toe ek daar opdaag, is Robert ook daar. En vir die eerste keer kon ek hom goed beskou. Hy is lank en skraal, maar skep tog die indruk van sterkte alhoewel hy geensins fris gebou is nie. Oor sy aantreklikheid sal ek nie nou uitspraak lewer nie, want almal dink mos hy is pragtig en ek weet sy bewonderaars kla altyd omdat hy so min rolprente maak. Henri sê dis omdat Robert eintlik ’n boer is en ’n boer wil bly. Hy het maar net in rolprente opgetree omdat hy geld nodig gehad het vir sy plaas in Colorado. Of dit waar is, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat hy ’n uiters formele, stroewe man is. Hy het my met die hand gegroet en toe met die draaiboek gaan sit totdat Henri vir my alles verduidelik het.

      Die eerste toneel moes ek alleen doen en dit het seker nie te sleg gegaan nie. Die volgende toneel moes ons egter saam doen en dit is ’n episode waar ons op mekaar skree. Ons baklei en snou mekaar die vreeslikste goed toe. Ek was allesbehalwe lus vir so ’n bakleiery en die eerste keer het dit ook baie sleg gegaan. Ek het sommer net my woorde gelees. En weet jy wat sê daardie vent? Hy gooi sy draaiboek op ’n stoel neer en sê: “Behoede my tog van nog ’n uitgewaste ou meisietjie wat dink sy kan toneelspeel.”

      Ek dog ek ontplof. Ek dink nie ek kan toneelspeel nie en ek wil dit ook nie doen nie. En wie gee hom die reg om my uitgewas te noem?

      Ek het op my tande gekners en vir Henri gevra of ons dit nog ’n keer kan doen. En toe het ek die woorde gesê asof ek dit bedoel. Ek hét dit ook bedoel! Ek het die hitsige woorde uitgespoeg en toe dit verby is, het Henri hande geklap. En weet jy wat het Robert gedoen? Hy het gelag, vir Henri gevra of hy nou maar kan gaan en hy is daar weg. Ek was lus om een van die stoele teen sy agterkop vas te gooi! Selfversekerde vent! Meerderwaardige mansmens! En hy het die vermetelheid om te sê hý hou nie van temperamentele aktrises nie.

      Nou ja, daar het jy dit, sus. Die hele storie. Henri sal my nou laat weet of die toets geslaag was. Ek hoop van harte dit was nie, dan is ek oor ’n week of drie by jou en Gerrit. Ek verlang so na julle vir ’n lang kuier. Ek wil elke oggend op die stoep sit en kyk na die berge en die leivoor, en ek wil nie ’n motor hoor of uitlaatdampe ruik nie . . .

      Baie liefde vir julle almal

      Elize

      Elize trek die vel papier uit haar tikmasjien, lees dit deur en steek dit in ’n koevert.

      “Noag!” roep sy en die groot, wollerige hond kom na haar aangedraf. Sy vryf sy kop en soek na haar sandale wat onder haar skryftafel lê. “Kom ons gaan pos hierdie brief. Ek is moeg gesit.”

      Die hond swaai sy stert en draf agter haar aan. Hy staan