Название | Tryna du Toit-omnibus 4 |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798153676 |
Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy peinsend: “Ek is bekommerd as ek aan die toekoms dink. Vandag se jong mense is anders; hulle het te maklik grootgeword. Hulle is bang vir swaarkry en vlug na die stede waar hulle ’n maklike heenkome sal vind. Die dinge waarvoor hulle voorouers met bloed en sweet geveg het, vertrap hulle onder hulle voete. Dis of hulle geen besef het van die erns van die lewe nie. My kleinseun, die een wat jy netnou ontmoet het, is dol oor rugby en motorkarre, en tussen die twee kry hy maar min tyd vir die boerdery. Hy speel nog steeds rugby en in die wintermaande is hy maar selde naweke tuis. Kort-kort koop hy ’n nuwe motor, en die nuwe een is altyd sterker en vinniger as die vorige een. Sy vrou is verveeld op die plaas en bring die meeste van haar tyd in die dorp deur. Waar gaan dit alles heen?”
“Elke geslag het sy eie lewenswyse, oom Pieter,” sê Ria saggies, paaiend. “Ek is seker onder daardie Therons van vanmelewe was daar ook lafaards. Vandag se jong mense is anders – ek weet, ek is ook een van hulle – maar hulle lewe in ’n ander wêreld. Hulle hoef nie meer te veg vir hulle bestaan nie; daar is nie meer straftogte teen die Boesmans nie; hulle soek en vind avontuur op ander maniere. Maar diep in hulle harte brand dieselfde vuur wat in hulle voorvaders se harte gebrand het.”
Oom Pieter skud sy kop. “Tannie Cora sê ook ek is verniet ontsteld – die kinders is nog jonk en die tyd sal wysheid en besinning bring. Ek twyfel lankal. Pieter is agt-en-twintig jaar oud. Ja, ek weet hy lyk jonger, maar hy het nog nooit ’n dag swaargekry nie. Dis tyd dat hy en sy vrou hulle pligte en verantwoordelikhede besef. Ek kyk hulle maar so deur – die nakomelinge van daardie stoere ou voorvader – en nêrens sien ek een wat sy gelyke is nie. Ek het baie van Paul verwag, maar hy het my ook teleurgestel. Sedert sy vrou se dood het hy hom feitlik aan die samelewing onttrek. Hy woon soos ’n kluisenaar saam met sy suster en stiefma daar op Towerwater. Dink hy nie aan die toekoms nie? Waar is die kinders wat eendag die ou familieplaas moet erf? Hugo is totaal verengels; hy het Jonkmanshoop na The Gables verdoop – The Gables, bid jou aan! Watse naam is dit? Sy kinders het hy na Engelse skole en universiteite gestuur – hulle kan vandag skaars hulle eie taal behoorlik praat. Maar wag, die dokter het gesê ek mag my nie ontstel nie. Dis maar goed jy wil nie ’n boek skryf oor die huidige geslag van die Therons nie, dit sou maar bra oninteressante leesstof uitgemaak het.
“In daardie houtkissie sal jy briewe en ou geskrifte en portrette kry. Bestudeer hulle, ek is seker jy sal hulle baie interessant vind. Ek sal jou boeke gee om te lees en jou help sover ek kan om die ou geslag weer te laat leef. Miskien sal hulle geskiedenis ’n aanmoediging wees vir vandag se jong mense wat besig is om hulle erfenis vir ’n pot lensiesop te verruil.”
Ria staan op en stap na die lessenaar waarop die kissie staan. Met hande wat effens bewe van opwinding sluit sy dit oop en lig die deksel versigtig op. Met blink oë kyk sy na die kosbare inhoud van die kissie.
“Dankie, oom Pieter,” sê sy sag, na aan trane. “Dis vir my ’n wonderlike voorreg om toegang tot hierdie briewe en geskrifte te kan kry. Ek hoop ek sal daarin die inspirasie kry om ’n mooi verhaal te kan skryf.”
“Jy sal. Ek het ’n gevoel dat jou koms na Towerwater van baie groot betekenis vir ons almal gaan wees, dat die Liewe Heer jou met ’n doel hierheen gebring het. Presies wat daardie doel is, sal net die tyd ons kan leer.”
Sondagmiddag het die familie op Towerwater kom koffie drink om met die skryfsterniggie uit die stad kennis te maak. The Gables se mense was in die Kaap en oom Tommie se vrou was siek en hulle kon nie kom nie, maar oom Pieter-hulle was almal daar, en ’n hele paar van die familie wat op die dorp woon. Almal was gretig om ná soveel jare weer op Towerwater te kuier.
“Ek is bly jy het gekom,” het ’n oujongnooitante vertroulik vir Ria gefluister. “Ek was laas met Winnie se begrafnis hier en dis byna agt jaar gelede. ’n Mens het net gevoel jy is nie meer welkom hier op Towerwater nie. Ek hoop dinge sal van nou af anders wees. Ek is seker jy is met ’n doel hierheen gebring.”
Oom Pieter het ook so gesê, dink Ria effens onrustig. Sy het hierheen gekom om met die familie kennis te maak en gegewens vir ’n verhaal te kry. Sy het geen begeerte om betrokke te raak by Towerwater se mense en hulle tragiese geskiedenis nie. Sy het self genoeg probleme; sy wil nie nog met ander mense se probleme opgesaal sit nie.
En tog hou die wêreld hier vir haar ’n groot bekoring in. Wat die toekoms ook al mag inhou, sal sy nooit jammer wees sy het Towerwater toe gekom nie.
Hoofstuk 5
Die reën het weggebly; die een skroeiwarm dag op die ander het gevolg. Die nagte was warm en bedompig en die mense prikkelbaar en kort van humeur. Almal, alles het gewag vir die reën wat nie wou kom nie.
“Ek is jammer jy tref dit so ongelukkig,” sê Paul een oggend vir Ria terwyl hulle van die stoep af kyk na ’n yslike stofwolk wat oor die vlaktes trek. Die kwik het die hoogte ingeskiet en daar was nie ’n wolkie op die horison nie. Mona lê al twee dae met ’n skeelhoofpyn in haar skemerdonker kamer. “Verstaan jy nou waarom ek gesê het jy moet tot Aprilmaand wag?”
“Ek verstaan,” antwoord Ria stil. “Maar ek is nie spyt ek het gekom nie. Nou kan ek saam met julle bly wees wanneer die reën eendag kom. En in die stad kan dit maar net so ondraaglik warm word. Dit voel of ’n mens saam met die teerstrate smelt, asof jy daar tussen die hoë geboue nie asem kan kry nie. Moet jou asseblief nie oor my bekommer nie.”
In die groot huis met sy dik mure en hoë plafonne is ’n mens nie so bewus van die ondraaglike hitte nie, en in die skaduryke tuin, waar die ou bome bokant die huis uittroon, kan ’n mens altyd ’n koel plekkie kry. Ria het gewoonlik vroeg in die oggend of laat in die middag ’n lang ent gaan stap en hoe meer sy van Towerwater gesien het – selfs so bruin en droog – hoe meer het die ou plaas haar bekoor.
Die mense van Towerwater was ’n ander saak. Hulle was vriendelik teenoor haar, maar het haar tog, elkeen op sy eie manier, op ’n afstand gehou. Dit was byna asof hulle bang was dat sy te naby sou kom. Drie mense wat saam in een huis woon, saam en tog apart, elkeen met sy eie hunkerings en eensaamheid.
Sy het dikwels gedink aan wat Katy haar vertel het en gewonder hoeveel van die verhaal waarheid was en hoeveel die versinsel van ’n lewendige verbeelding. Dit was opvallend dat die huismense nooit van Winnie, Paul se oorlede vrou, gepraat het nie en dat daar nêrens in die huis ’n foto van haar te sien was nie.
Ria was besig van die oggend tot die aand. Die dae was te kort vir alles wat sy wou doen. Mense het kom kuier en af en toe het hulle ook gaan kuier. Sy het weer met nuwe geesdrif aan die jeugverhaal begin werk en was gelukkiger as wat sy in ’n lang tyd was. Die probleme waarvan sy weggevlug het, was nog daar, maar sy het hulle voorlopig op die agtergrond geskuif. Die tyd sou wel raad bring. Maar die spanning van die afgelope maande het verdwyn en daar was rus in haar gemoed.
Tot haar teleurstelling was daar in die briewe en ander geskrifte uit oom Pieter se houtkissie min persoonlike gegewens oor groottante Sophia Maria. Sy het begin twyfel of sy genoeg stof bymekaar sou kry vir ’n biografie soos sy oorspronklik beplan het. Onder die briewe was daar twee wat Sophia Maria self geskryf het toe sy in haar veertigerjare was: lewendige, interessante briewe vol spot en humor waarin sy vertel van gebeure op die dorp en in die distrik, van ’n konsert wat sy besig was om te reël en van hoë besoek wat hulle te wagte was.
Die ander briewe, geskryf deur nasate wat in later jare op Donkerfontein gewoon het, was meer gewoon, maar het tog ’n interessante beeld gegee van die lewe in daardie veelbewoë dae van droogtes en veeverlies, van geboorte en siekte en dood, van die ontvangs van ’n nuwe predikant en ’n deftige bruilof, van blink koetse en spoggerige perde.
Die dokumente was net ’n droë relaas van kerklike en politieke gebeure, maar terwyl sy dit lees, het ’n ander idee in Ria se kop begin vorm aanneem.
Ek gaan tog ’n boek oor Sophia Maria skryf, het sy besluit, nie ’n biografie nie, maar ’n roman geteken teen die agtergrond van Donkerfontein se wording en groei. En as die boek ’n sukses is, gaan