Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan

Читать онлайн.
Название Annelize Morgan Omnibus 2
Автор произведения Annelize Morgan
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624053712



Скачать книгу

vir haar oop en staan dan opsy sodat sy die skinkbord na ’n lae tafeltjie kan neem. Net ’n oomblik lank het hulle oë ontmoet. Celèste was bang om na die graaf te kyk, omdat sy weet dat hy dadelik sal kan sien dat sy afgeluister het.

      Sy byt op haar onderlip en met haar blik nog steeds afgewend, maak sy ’n vinnige kniebuiging voor die groepie swyende mense voordat sy haastig die vertrek verlaat.

      Buite in die gang ontspan sy weer. Sy het die hele tyd gevrees dat die graaf haar sou konfronteer oor die afluistery, maar hy net niks gesê nie. Miskien sal hy wel later met haar daaroor praat.

      Celèste frons diep terwyl sy na die kombuis terugstap. Monsieur Tredoux is bang om afgepers te word. Wat het hy dan gedoen wat so verskriklik is? Of is hy regtig so onskuldig as wat hy wil voorgee? Dan onthou sy daardie middag, toe sy gesien het hoe Jacques Tredoux ’n man skop en slaan. Sy begin dink dat Tredoux dalk regtig ’n paar geraamtes in die kas het.

      Sy glimlag effens. Dit sal seker nie só ’n groot verlies wees as Jacques Tredoux uit die Kaap padgee nie. Dan sal Madeleine saam met hom gaan, omdat dit nog net hulle twee in die groot huis is. Sy betig haarself oor haar gedagtes. Dalk is Armand regtig lief vir Madeleine en dan het sy nie die reg om bly te voel oor hulle ongelukkigheid nie.

      ’n Ligte frons verskyn tussen haar oë. Maar as die graaf De Bordeaux werklik lief is vir Madeleine Tredoux, waarom gee hy nie die sak aan haar pa nie? Daar is só baie omtrent die situasie hier op La Montagne wat sy glad nie begryp nie.

      Die drie mense bly lank in die biblioteek. Twee keer neem Celèste verversings na hulle, maar sy hoor nie weer wat daar gepraat word nie. Die laaste keer lyk dit asof Madeleine gehuil het. Monsieur Tredoux is blykbaar woedend oor iets en Armand de Bordeaux se uitdrukking is hard en kil. Celèste maak haarself baie vinnig uit die voete.

      “Die duiwel is los daarbinne,” sê sy aan Jeanne toe sy terug is in die kombuis. “Dit lyk kompleet asof hulle mekaar te lyf wil gaan.”

      “Wat daar binne aan die gang is, het niks met jou te make nie,” antwoord Jeanne omgekrap. “Jy is besig om jou plek in hierdie huis te vergeet en dit sal my nie in die minste verbaas as jy sommer een van die dae afgedank word nie.”

      “Jy kan so ’n ou suurknol wees, Jeanne,” maak Celèste kapsie.

      Jeanne kyk vinnig na haar. “En jy bly onvolwasse! Ek het al gesien hoe jy met sulke skaapoë na die graaf staar! Ek kan ook nie glo dat hý dit nog nie agtergekom het nie!” Jeanne is regtig omgekrap. “Liewe land, Celèste, kan jy nie vir jouself dink nie? Jy is net ’n bediende hier en ’n goeie bediende vergeet nooit haar plek nie. Meer as dit sal jy nooit in dié huis kan wees nie. As jy mademoiselle Madeleine boonop kwaad gaan maak, sal jy baie vinnig vir jou ’n ander werk moet loop soek.”

      Celèste antwoord nie. Daar hét baie dinge verander, maar Jeanne is reg. Sy is en bly net ’n bediende. Monsieur le comte het haar nou wel in sy vertroue geneem en maak op haar staat, maar dit gee haar geen spesiale voorregte nie. Sy het ook nie die reg om sy privaat gesprekke af te luister nie. Dit is onvergeeflik.

      “Ek sal probeer om in my spoor te trap,” sê sy eindelik.

      Jeanne sit haar arm om Celèste se skouers. “Ek bedoel dit nie sleg nie, ma chérie; ek wil net nie hê dat jy jou werk hier moet verloor nie. Jy sal nie maklik weer so ’n goeie werk kry nie.”

      Celèste sluk hard en strengel haar vingers inmekaar.

      “Ek verlang partykeer terug Frankryk toe, Jeanne. Daar het ek by my oupa op ’n klein dorpie gewoon. Die dorpie was nou wel klein, maar daar was baie jongmense en kinders en ek was tog op ’n manier gelukkig.”

      “Hier is ook jongmense.”

      Celèste skud haar kop. “Een keer per maand gaan ons ’n Saterdag Kaap toe. Ek sien net daardie jongmense, maar ek kry selde die geleentheid om met hulle te praat. Dis mos nie regverdig nie, Jeanne. Ek wil nie my lewe as bediende in eensaamheid slyt nie.”

      “Het jy al met monsieur De Bordeaux daaroor gepraat?” vra Jeanne.

      Celèste kyk weg en sluk haar trane terug. “Hy sal tog nie verstaan nie. Vir hom is ek mos maar net ’n bediende.”

      Jeanne frons liggies. “Jy onderskat hom. Miskien het hy nog net nie aan jou dilemma gedink nie, dis al. Oor mý hoef hy hom nie te bekommer nie, omdat ek al oud is en nie meer in trou belangstel nie. Maar jy is nog jonk, jy verdien ’n kans.”

      Celèste glimlag effens. “Garcon was ’n uitweg …”

      “ ’n Mens trou nie met ’n uitweg nie,” kom die antwoord vinnig. “Jy trou met die man wat jy liefhet. Laat die adel maar trou om ’n titel of geld of wat ook al. Hulle is buitendien almal sielsongelukkig.”

      Celèste swyg uit vrees dat sy haar werklike gevoelens sal verraai en Jeanne probeer ook nie om haar verder uit te vra nie. Sy voel dat sy haar plig gedoen het en haar doel bereik het.

      Na aandete vertrek die Tredouxs en kort daarna word Celèste na die studeerkamer ontbied.

      Jeanne kyk met groot, verskrikte oë na die meisie. “Ek het gedink so iets gaan gebeur …”

      Celèste antwoord nie, maar gaan na die studeerkamer waar ’n ongeduldige Armand de Bordeaux op haar wag. Hy kyk op toe sy binnekom.

      “Hoeveel het jy vanmiddag gehoor?” wil hy dadelik weet.

      Daar is ’n frons tussen sy blou oë en geen spoor van ’n glimlag of gemoedelikheid nie. Sy uitdrukking is kil en hard.

      “Nie veel nie, monsieur,” antwoord Celèste en sluk hard. “Net dat … net dat monsieur Tredoux … bang is vir monsieur Le Blanc.”

      “Wat nog?”

      Celèste strengel haar vingers agter haar rug inmekaar en wens dat die aarde haar wil insluk.

      “Dit … dit gaan oor … afpersing, monsieur …”

      “Wat het jy nog gehoor?” gaan hy meedoënloos voort.

      “Regtig, monsieur, ek het niks anders gehoor nie …”

      Haar stem bewe nou liggies. Hierdie keer is dit nie net ’n ligte vermaning nie. Haar werkgewer is kwaad.

      “Ek het gedink dat ek jou kan vertrou, maar dit lyk vir my ek het ’n fout gemaak.” Sy stem is kil en amper toonloos. “As jy alles vertel het wat jy gehoor het, sou ek jou miskien nog kon vertrou, maar jy het nie.”

      Celèste kyk verskrik na hom. “Ek het alles vertel, monsieur, regtig …”

      Sy blik bly kil op haar gesig. “Jy het nie vertel wat ék gesê het nie. Jy het niks omtrent mademoiselle Madeleine gesê nie. Of is jy besig om jou eie inligting te versamel om my of iemand anders skade daarmee te berokken?”

      “Non … monsieur …”

      Hy sug diep.

      “Ongelukkig laat jy my geen ander keuse as om jou af te dank nie, Celèste. Ek durf nie luistervinke in my huis duld nie.”

      Celèste het baie bleek geword. Sy kan net vol ongeloof na hom staar en het geen benul wat om te antwoord nie.

      Na ’n lang stilte maak sy ’n bewerige kniebuiging. “Ek sal gaan, monsieur. Môreoggend sal ek teruggaan na die Kaap. Ek gaan net die leersak haal.” Sy aarsel by die deur en kyk terug na hom. Trane swem in haar oë. “Ek is jammer, monsieur … ek wou só graag help …” Dan vlug sy by die deur uit na haar kamer.

      Sy gaan val op haar bed neer en snik eers haar hartseer uit. Sy het niks verkeerd bedoel deur af te luister nie.

      Die gesprek met De Bordeaux het haar van een ding verseker. Sy beteken vir hom niks op die aarde nie. Sy is net ’n bediende en ’n bediende wat oortree, word afgedank. Hy vertrou haar nie meer nie. Sy het hom diep teleurgestel.

      Skielik sit sy regop. Daar het ’n hele aantal ruiters voor die deur stilgehou. Sy kan hulle hoor praat. Dan hoor sy hulle stewels op die stoep.

      Deur