Название | Louisa du Toit Omnibus 5 |
---|---|
Автор произведения | Louisa du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053705 |
“Of ons vir jou ’n slaapplekkie het,” sê Johnny Ponter met ’n stadige lag, en hy vat haar aan die skouers. Hy het vanaand ’n sweetpak aan, en hy lyk gemaklik hier in sy natuurlike tuiste. Aantreklik, selfs; hy het ’n mooi glimlag. En hy is vol vreugde. Sy voel dit na haar toe uitreik, om haar te omvou.
“Ma,” roep Johnny die huis in, “kom kyk bietjie wie’s hier!”
5
Hy wou dit nie hê nie, dink Christopher.
Hy verpes enige ophef rondom sy persoon. Maar Corlia wil dit nou vir hom doen. Dis sy voorlaaste jaar in die huis. Tensy hy sy hospitaaljaar ook vanuit die huis kan doen. Met hom uit die huis sal dit soos die dood wees, al is hy dan normaalweg nie baie opgeruimd en spraaksaam nie.
So stem Christopher dan in tot die verjaardagviering wat sy ma vir hom wil reël. Maar om die aard daarvan te finaliseer, is ’n ander storie. Hy is nie juis baie samewerkend nie. Oor die eetgoed moet sy maar self besluit, meen hy.
“Maar wat wil julle doen? ’n Bietjie dans?”
“Dit tog nie.”
“Wel, iets moet julle doen. Julle is immers nie ’n klomp oumense nie.” Sy kan soms so raadop raak, nie wetende hoe sy dit met hom het nie. Die afgelope weke is hy veral buierig.
“Ons sal wel die aand omkry.”
Sy voel moedeloos, as dit sy siening van die geleentheid is. “Sê dan net vir my wie jy almal wil vra.”
“Die gewones.”
Sy teken aan: Phoebe. Blomerus Graham, die LL.M-student met wie Christopher goed bevriend is, asook sy meisie.
“Dis genoeg,” sê Christopher toe sy ma ’n stuk of tien name op haar lysie het.
Sy huiwer met die penpunt bo die wit papier, sonder dat sy hom reg in die oë kyk.
“En Elna?” vra sy.
Haar stem was so sag, dat hy eers dag hy misgis hom.
“Elna – jou niggie.”
Nou blik die intense oë onder die digte, spelende wenkbroue haar sonder ontwyking aan. “As sy inwillig om te kom, is sy ’n beter mens as ons twee,” sê hy reguit. “Maar ek dink nie Ma hoef die moeite te doen nie. Sy het nie laas haar opwagting by die jeugsaamtrek gemaak nie, waarvoor ek haar geensins verkwalik nie.”
“Juis. Ek voel ek moet vergoed. Ek sal persoonlik na haar toe gaan. Ek is bereid om haar te soebat om te kom. Ek is nie te dwars om te erken as ek ’n dwaas was nie, Christopher. Noudat ek terugkyk, kan ek insien dat ek baie opgeblase opgetree het. Ek moet self gaan. Dit sal nie help dat ek weer vir jou stuur nie; jy het gesê dat sy daardie aand nie jou verskoning wou aanneem nie.”
“Dalk het ek dit nie reg gehanteer nie,” antwoord hy onpeilbaar.
“In elk geval is dit my taak om te gaan. Dit was eenvoudig van my om te vrees dat sy, of Boet of Berrie of Ria, op jou sal toesak. Hulle het nog altyd ontuis by ons gevoel. Maar ons kan Elna nader aan ons laat beweeg, kan ons nie?”
“Nader … maar nog op ’n veilige afstand, nie waar nie?”
“Ag, my seun, ek wens dat ons mekaar altyd kon begryp. Ook in hierdie saak.”
“Ek wens dit ook. Want, waaragtig, ek kan tot vandag toe nie begryp waarom Ma in die eerste plek vir Elna gaan intimideer het nie.”
Corlia kyk op haar hande, die wit, versorgde hande wat steeds met die pen speel. Die helder lentelig omspoel haar, sodat sy sat word van die duisterheid wat soms in haar seëvier. Dis net na middagete, en hulle sit in die biblioteek. Klaas het ’n honneursklas.
Teen Corlia se been druk die warm flank van die Dalmatiese huishond, waar hy op die vloer dommel. Die suiwer lyne van die dier se liggaam ontroer haar. Die swyende boeke vol waarheid, feitelik of fiktief, swyg op die boekrakke. ’n Gedraenheid lê oor die huis, die tuin, die buurt. Die opwasklanke vanuit die kombuis het opgehou en buite op die grasperk pik ’n hoephoep rond. Sy het eintlik ’n liewe lewe.
“Kyk,” sê sy, en beduie vir Christopher na die sierlike kuifkopvoël. Hy staan op en kyk deur die venster. Sy bekyk haar seun tersluiks van agter, sien die welige, versorgde donkerige hare, die spanning van sy skouers onder die hemp. ’n Golf van vertroulikheid en eerlikheid stoot deur haar.
“Ek sal jou sê wat my makeer het,” praat sy. Dis makliker noudat hy nie na haar kyk nie. “Ek was een aand saam met jou by tant Makkie-hulle, so ’n klompie maande terug. In die somer nog, onthou jy? Daardie aand … ek wou my verbeel dat jy vir Elna op ’n sekere manier raaksien. Ek kon verkeerd gewees het, en stellig was ek, want sy was saam met daardie ander man. Maar dalk was ek daarna bang.”
Hy praat nie. Sou hy nog na die hoep-hoepie kyk? Sy kop bly in daardie rigting gedraai. “Belaglik van my, nie waar nie?” Sy beweeg tot by hom, lê haar hand so versigtig teen sy rug dat sy kwalik die aanraking teen haar vingerpunte kan voel. Die liefde vir hom swel in haar soos ’n soort pyn. “Hoe sou jy tog … dis dan jou niggie, en buitendien groei die verhouding tussen jou en Phoebe so mooi.”
Nog praat hy nie.
“Ek sal na Elna toe gaan, Christopher. Julle kan lekker vriende wees.”
Wanneer sy hom alleen gelaat het, het hy nog nie beweeg nie.
Corlia is verbaas toe sy voor die huisie van die Osmans stilhou. Dit lyk nogal of hulle wakker geskrik en alles ’n bietjie reggeruk het. Die huis se mure is kraakwit, die dak oorgeverf in ’n skaflike rooi. En die tuin lyk beter. Daar groei kappertjies langs die paadjie.
’n Kind speel in die tuin rond, ’n waggelaartjie wat nog onvas op die bene is. Sou dit Malie se kind wees? Dis wel Malie wat die deur oopmaak.
“Kom in, ant Struisie,” nooi dié. “Ma is maar nog in die bed.”
“Is sy dan siek?” vra Corlia.
“Maar heiden, weet antie dan nie? Dis mos sulke tyd, en die dokter het haar belet om te roer, anders gaan dit af.”
Corlia weerstaan die skok van die nuus. Later, later sal sy daaroor dink, as Klaas se pyprook om haar drywe en Christopher ’n minuet op die klavier speel.
“Ek is jammer om dit te hoor.” Sy besef hoe dubbelsinnig dit gestel is, maar Malie is nie skerpsinnig genoeg om dit agter te kom nie. “Is dit jou kind wat hier buite speel?”
“Ja, antie, hy is rêrig geseën met ’n wonderlike verstand. Het net swak ogies, die dokter sê dis oorerflik. Nou weet ek en Sjert nie waarvandaan dit kom nie en ek moet eerlik wees, ons struwel maar ’n bietjie daaroor. Hy wil maar ál die vinger na ons Osmans toe wys, want Ma sê julle het ’n oom gehad wat so bysiende soos ’n mol was.”
Corlia probeer haar ergernis wegsteek. “Ek het eintlik na Elna kom soek, Malie. Ek weet sy is nou by die werk, maar waar werk sy?”
“Waar sy werk, sal Ma-hulle seker weet. Maar waar sy deesdae bly, moet antie my liewer nie vra nie.”
Dan, as “antie” regtig nie vra nie, word Malie oorval deur die versoeking om self te vertel. “Sy is mos die huis hier uit, dik die duiwel in omdat ek en Sjert nou ook hier bly. En waar bly sy nou? By haar kêrel in die huis, sê Boet. Trane is Ma se brood, dié sê ek vir antie.”
“Ja,” sê Corlia. Maar “nee”, wanhoop haar hele wese. Is dit dan maar met Elna dieselfde ou storie as met hierdie halfgebakte Malie?
“Maar die kêrel bly in Spruitstraat. Net drie huise, sê Boet, en die middelste een is die huis van onheil. Maar wat is dit wat antie met haar wou gepraat het?”
“Sommer iets,” sê Corlia en vind haar stem kragteloos en ongemoduleerd. Sy het nie die moed om vir Makkie in die gesig te kyk nie. Nie nou nie. “Sê maar groete vir jou ma. Ek is seker sy slaap op die oomblik, dis nogal