Название | Susanna M Lingua-keur 15 |
---|---|
Автор произведения | Susanna M Lingua |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053675 |
“En toe? Hoe gaan dit vanoggend met die grootman?”
“As ek so stil lê, is dit glad nie seer nie, dokter,” sê die seuntjie. “Ek voel ook glad nie meer siek nie. Ek is so bly dokter het vir my ook kom kuier. Kyk hoe mooi het die suster my hare gekam, dokter.”
“Dis mooi, Ronnie. En ek is so bly om te hoor dat jy beter voel. Probeer maar so min as moontlik rondspring, dan sal jy sien hoe gou jy gesond word. Voor jy nog daaroor dink, speel jy al weer met jou maatjies op julle grasperk. Jy moet die verpleegsters vra om jou hare elke môre so mooi te kam, hoor!”
“Ja, dokter. En wanneer ek weer by die huis is, sal ek vir dokter my groot voetbal en my treintjie gaan wys. Dis ’n blou trein met agt trokke. Mammie sê ek kan nie hier in die hospitaal daarmee speel nie, ek sal net die verpleegsters pla.”
“Dit sal gaaf wees, Ronnie. Onthou nou, sodra jy weer tuis is, moet jy my daardie treintjie wys, hoor! Ek is nou baie nuuskierig om dit te sien,” glimlag hy.
“Dis ’n baie mooi trein, dokter,” eindig hy trots.
“Ek sal dit graag wil sien, Ronnie. En onthou, jy moet jou nou mooi stil gedra, anders sal jy straks nie gou kan huis toe gaan nie en dan moet ek nog langer wag om die treintjie te sien. Soet bly en gou gesond word. Môre kom ek weer.”
Só beweeg Chris van die een saal na die ander. Vir elkeen het hy ’n vriendelike glimlag, woorde van troos en bemoediging. Sy pasiënte, oud en jonk, het hom reeds innig lief. Hy is die lieflingdokter van Kroondal. En almal bejeën hom met eerbied en respek, want sy diens is te alle tye tot hulle beskikking.
Selfs in die middel van die koudste, reënerigste nag in Augustusmaand word hy onverwags en dringend ontbied om ’n kraamgeval op een van die naburige plase te gaan waarneem. Ofskoon hy weet dat die mense baie arm is en nie sy rekening sal kan betaal nie, aarsel hy nie ’n minuut om te gaan nie. Twee lewens is in die weegskaal.
Ofskoon Chris al dertig is, het hy nog maar weinig aandag aan die vroulike geslag bestee. Om die waarheid te sê, het hy nog geen vrou ooit die hof gemaak nie.
Maar wat soms wel sy gedagtes in dié rigting dwing, is die foto van die fraai en alombekende Rista wat teen die muur van die ontvangskamer in die losieshuis pryk.
Haar uiterlike skoonheid is vir hierdie stil en besadigde geneesheer wat nog selde aangetrokke gevoel het tot ’n jong vrou, uiters aangrypend.
Etlike minute sit Chris nou al peinsend na die portret en kyk terwyl sy medeloseerders nog besig is met hul middagmaal. Hy het so baie van haar goeie hoedanighede gehoor dat dit vir hom kompleet voel asof hy haar al jare ken. Sy sal beslis ’n aanwins wees in enige man se huis, dink hy by homself. Sowel haar innerlike as haar uiterlike skoonheid is onverbeterlik. Dan sê hy hardop aan Ouma toe hy merk dat sy bewus is van sy bewonderende blik op die portret: “Jy het ’n baie mooi kleindogter, mevrou.”
Ouma is aangenaam getref deur hierdie onverwagte opmerking van Chris. “Ja, ek is regtig verheug dat sy by jou broer werk. Ek voel nou meer gerus oor haar. ’n Mens weet nooit met watter soort mense sy straks in aanraking sou gekom het indien sy ’n betrekking elders aanvaar het nie.”
“Ja, en volgens Pieter kom hulle twee nogal goed oor die weg. Hy sal jou dogter beskerm teen alle onheil, want hy klink selfs effens verlief op die swartkopnooi.”
“Wel, hy sal ’n gelukkige man wees indien hy haar kry as vrou,” laat sy vader veelseggend hoor.
“Vir my sal dit natuurlik die meeste beteken. Dan het ek tog uiteindelik die dogter wat ek my lewe lank na verlang en nooit gehad het nie,” merk Chris se ma op, duidelik verheug oor so ’n moontlikheid.
“Dit wil ek glo, my ou moedertjie. Ek wens hom alle sukses toe.”
“Nou toe nou,” kom dit verbaas van sy vader. “Nou verstaan ek jou glad nie, Chris. Eers gee jy die indruk dat jy self ’n ogie op haar het, en in dieselfde asem wens jy Pieter alle sukses toe met sy hofmakery by haar.”
“Ek sal nooit eens daarvan droom om Pieter se geluk in die wiele te ry nie, Pa. Ek sal dit ook nie duld dat iemand anders dit doen nie. Pieter se leed is ook my leed en sy geluk beteken ook my geluk.”
“Jy is darem baie beskermend teenoor jou tweelingbroer, ou seun. Jy vergeet blykbaar dat hy net so oud en goed ontwikkel is soos jy en sy eie weg vir hom in die lewe moet baan.”
“Nee, Pa. Pieter is nie halfpad so gesond en sterk soos Pa meen nie. Daardie laaste siekbed en toe kort op dié se hakke weer die operasie, het sy liggaamskragte totaal ondermyn. Pieter besit nie ’n kwart van die krag en uithouvermoë wat hy behoort te hê nie. En sy geweldige praktyk is ook so uitgebrei dat hy nooit die tyd vind om êrens ’n bietjie te gaan rus nie.”
“Is jy bekommerd oor Pieter se gesondheid, my kind?”
“Ja, Pa. Pieter het ’n lang vakansie nodig. Dis hoog tyd dat hy verlof neem.”
“Pieter sal wel gaan rus sodra hy voel dat die werk hom begin baasraak.”
“Dis juis die ding, Pa. Pieter kan geen bekwame persoon vind om sy praktyk waar te neem nie. Almal is deesdae oorlaai met werk. As ék ’n prokureur was, sou ek sy praktyk ’n jaar lank oorgeneem en hom Europa toe gestuur het.”
“Wel, dit sal jou niks baat om jou te staan en bekommer nie, Chris. Jou pligte is self so veeleisend dat dit jou ook straks een van die dae gaan …”
“Dan het ek nog altyd my gesonde krag om op staat te maak, Pa,” val hy die ouer man goedig in die rede. “My gestel is nog lank nie so swak dat my pligte my sal baasraak nie,” glimlag hy.
Dan begin die telefoon in sy spreekkamer skril lui as teken dat sy dienste êrens dringend benodig word.
7
Een na die ander dreun die motors onafgebroke oor die wal van die Hartebeespoortdam. Van waar Rista op die brug gemaklik teen die tralies aanleun, het sy ’n onbelemmerde uitsig oor die water. Aan haar linkerkant is die tonnel waardeur hulle ’n rukkie gelede gery het en aan haar regterkant staar sy vas teen die ligbruin rotswand van ’n majestueuse krans wat deel van die ontsaglike damwal uitmaak.
“Waarom so stil, Rista?” kom dit van Pieter wat die uitstappie terdeë geniet.
“Die grootsheid van dit alles is asemrowend,” sug sy hardop terwyl sy hom glimlaggend aankyk.
Weer eens bewonder Pieter die skoonheid van die meisie aan sy sy. Môre sal dit net mooi vier maande wees wat hy en Rista bevriend is. Sy werk al drie maande in sy kantoor – drie maande waarin die ure op kantoor vir hom ’n lus was en veels te gou na sy sin verbygesnel het. Pieter het al so geheg geraak aan Rista dat hy hom werklik nie meer kan indink hoe hy die ure op kantoor gaan verduur sonder haar sonnige teenwoordigheid nie.
Sy liefde vir haar het ’n punt bereik waar hy dit nie langer vir homself kan hou nie. Hy sal haar van sy groot liefde moet vertel. Sy is die enigste sonstraaltjie in sy lewe. Sonder haar sal sy bestaan koud en nutteloos wees.
Nee, hy wil liewer nie aan so ’n moontlikheid dink nie. En tog besef hy dat sy volgende maand met haar een en twintigste verjaardag tuis moet wees. Haar ouma verlang dit so. En niks wat hulle aan die saak kan doen, sal dit enigsins verander nie. Sy moet eenvoudig die volgende maand tuis wees.
As sy liefde nou net nie onbeantwoord bly nie, kan hy nog ’n plan beraam en die kantoor vir ’n week of twee sluit om sodoende haar verjaardagparty te kan bywoon. Miskien kan hulle dan selfs verloof raak, as Rista nou net nie vandag sy huweliksaanbod van die hand gaan wys nie. Hy hoop egter nie so nie. Sy is hom darem nie ongeneë nie. Dit het hy gedurende die afgelope drie maande al ontdek.
“Pieter, wat staan jy so droomverlore voor jou en uitstaar? Is jy ook onder die bekoring van die rotse?” vra Rista.
“Glad nie,” glimlag hy.
“Gaaf,