Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua

Читать онлайн.
Название Susanna M Lingua-keur 15
Автор произведения Susanna M Lingua
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624053675



Скачать книгу

’n kospot, indien ek vir my dienste betaal word, natuurlik.”

      Gesellig sit die drietal die middag onder die bome en skerts. Al drie besef dat hulle so ’n aangename middag nie weer gou saam sal beleef nie. Die middag gaan vir hulle egter heeltemal te gou verby.

      Buite skyn die maan helder. In die huis is dit warm en bedompig. Jurie het sy koerant geneem en op die voorstoep gaan sit, en Brenda het sy voorbeeld gevolg met ’n stukkie breiwerk.

      Rista sit op die rusbank en blaai deur Brenda se fotoalbum terwyl Johan weggesak in ’n gemaklike leunstoel aan sy pyp sit en suig.

      Hy sit Rista en betrag waar sy soos ’n skooldogter met haar een been onder haar ingevou sit. In sy gedagtes is hy besig om dit te oorweeg of hy haar vanaand al sal nader in verband met die sakie waaroor hy hom spesiaal na Pretoria gehaas het, en of hy dit maar liewer moet uitstel tot ’n later geleentheid.

      Nee, dink hy effens ongeduldig, hierdie onsekerheid gaan hy nie meer ’n dag langer duld nie. Hy moet vanaand nog weet hoe sy teenoor hom voel. Ja, niks langer as vanaand gaan hy meer wag nie.

      Langsaam wikkel hy hom uit die stoel, krap sy pyp tydsaam in die asbakkie op die tafel uit en plaas dit terug in sy baadjiesak. Dan stap hy na die rusbank en gaan swyend met sy hande in sy broeksakke voor Rista staan.

      Toe sy skaduwee op die oop album val, kyk Rista op, reg in sy oë. Sy merk dat sy oë verlangend in hare kyk. Verleë laat sy haar blik sak. Sy voel haar gesig word effens rooi. Sy kan nie begryp waarom Johan haar so aanstaar nie … so asof hy haar iets vertrouliks wil vertel.

      Johan, wat haar verleentheid sien, stel haar gou gerus deur te sê: “Ek het nou net gewonder of jy nie saam met my deur die tuin wil gaan wandel nie, Ristatjie. Dis verstikkend warm hier binne en die koel aandlug buite is so aanloklik.”

      “Noudat jy daarvan praat, ek het lankal lus om buitentoe te gaan,” sê sy kalm noudat sy haar selfvertroue herwin het. Sy weet nie wat haar in die laaste tyd makeer dat sy vir die geringste ou dingetjie staan en bloos nie. Johan is tog geen vreemdeling vir haar nie. Maar daar is iets in sy blik … iets wat sy nie begryp nie. Dis al vir haar of hy met sy oë tot in haar diepste wese wil deurdring, asof hy al haar gevoelens en gedagtes wil ontbloot.

      Sy gaan sit op haar hurke voor die boekrak en plaas die album terug in die opening waar sy dit uitgehaal het. Dan strek Johan sy hand uit en help haar galant orent. Nonchalant trek hy haar arm deur syne asof dit vir hom ’n alledaagse ding is om te doen.

      Ingehaak stap hulle stadig met die paadjie af wat deur die tuin kronkel. ’n Entjie van die huis af gaan hulle in die skadu van ’n boom staan en met lang teue adem hulle die verfrissende aandlug in.

      “O, maar dis heerlik buite, Johan,” sê sy sag, fluisterend, asof sy bang is dat haar stem die heerlikheid daarvan sal bederf.

      “Dis regtig aangenaam. Maar kom ons gaan sit êrens, dan kan ons mos beter gesels.”

      “Kom ons sit sommer hier op die gras.”

      Sy sak op die koel, vogtige gras neer en vou haar een been weer gemaklik onder haar in. Johan volg haar voorbeeld en gaan sit skuins agter haar met sy bene uitgestrek en sy rug teen die boomstam. Versigtig trek hy haar agteroor sodat sy liggies in sy arms rus.

      Etlike sekondes staar hy af in haar fyn, hartvormige gesiggie wat effens bleek vertoon in die maanlig. Die begeerte om haar styf teen sy bors vas te druk en haar sagte rooi lippe te soen, kan hy byna nie weerstaan nie. Al die emosies wat hy jare lank al onderdruk, wil nou met alle geweld te voorskyn tree.

      Rista, wat totaal onbewus is van Johan se innerlike begeertes, laat haar kop behaaglik, onskuldig in sy sterk arm rus. By hom voel sy altyd so veilig. Sy sterk persoonlikheid werk so kalmerend op ’n mens in dat jy nie anders kan as om beskermd te voel in sy nabyheid nie.

      “Luister, nooientjie,” begin hy na etlike minute se stille oorweging bieg. “Ek het natuurlik vanmiddag ’n noodleuentjie vertel toe ek gesê het dat ek hierheen gekom het vir sake. Die eintlike rede waarom ek hier is … wel … die verlange na jou … om jou weer te sien voor my vertrek, kon ek eenvoudig nie langer uithou nie, Ristatjie. Ek het jou lief. Ek het jou nog altyd liefgehad.” Dan swyg hy ’n wyle.

      “Toe ons nog kinders was, het ek jou liefgehad as my klein maatjie wat altyd my beskerming nodig gehad het. Jy was altyd my ou krulkopmaatjie vir wie ek alles sou doen. Dit het my altyd so verheug om jou gelukkig te sien, Ristatjie. Maar ons het ouer geword en op hoërskool het my liefde vir jou saam met die jare gegroei. Toe het ek jou weer liefgehad as ’n jeugvriendin. Jou vriendskap was vir my van onskatbare waarde. Dit het die beste wat in my was te voorskyn gebring. Dit het my gemaak wat ek vandag is en ek kon later nie meer daarsonder nie, dit het by my ’n onsterflike behoefte geword. Vandag is jy egter ’n volwasse nooientjie en bemin ek jou met die liefde van ’n minnaar, soos ’n mens maar een maal in ’n leeftyd kan bemin. Sal jy my vrou word, Rista, my liefling?”

      Sy kom stadig orent. Op dié oomblik weet sy nie wat om te sê nie. Johan se liefdesverklaring het haar skielik, te onverwags, so onvoorbereid oorval. Hy verwag ’n antwoord op sy vraag, maar sy weet nie wat om aan hom te sê nie. Hý wat al soveel jare lank haar trouste vriend is … Waarom moet dit nou juis sý wees wat hom so seermaak?

      Swyend staar Rista in die duister ver voor haar uit met oë wat dof is van pyn, terwyl die trane stilweg oor haar wange begin vloei.

      Johan skryf haar swye egter aan skugterheid toe. Teer neem hy haar gesig tussen sy hande en dwing haar sodoende om in sy oë te kyk. Dan merk hy dat haar wange nat is en dat haar oë vol trane is. “Rista!” roep hy sag en besorg uit. “My dierbaarste, wat makeer jou tog?”

      “Ag, Johan,” sê sy snikkend. “Hoe moet ek jou tog vertel wat my makeer? Nee, ek kan nie … Ek kan jou nie so seermaak nie. Jy verdien dit nie. Jy wat nog net altyd goed was vir my,” snik sy voort.

      “Toe maar, my liefste, ek begryp volkome,” fluister hy bemoedigend. “Jy kan dit tog immers nie help as jou liefde nie aan my behoort nie.”

      “O, Johan, ek voel so selfsugtig dat ek jou edel liefde nie kan aanvaar nie. Dat ek al die jare net van jou geneem het en jou niks kon bied nie. Al die jare het jy my oorlaai met jou onselfsugtige liefde en nou staan ek voor jou met leë hande – niks om jou mee te vergoed nie. Ag, my vriend, ek is jou liefde nie werd …”

      “Nee, my liefste,” val hy haar sag in die rede. “Dit moet jy nooit weer sê nie. Ons Almagtige Vader beskik oor alles. Sonder sy wil sal daar nie ’n haar van ons hoof val nie.” Dan swyg hy weer. “Dit is natuurlik vir my bitter, die wete dat jy nooit aan my sal behoort nie. Maar ek moet daarin berus. Ek verlang dit veel eerder so as dat jy ’n huwelik moet sluit sonder liefde. Jou geluk beteken vir my veel meer as my eie geluk, Ristatjie. En ek hoop dat ons altyd sulke goeie vriende sal bly soos voorheen. Ek moet môre al weer vertrek en ons sal mekaar nie gou weer sien nie. Maar onthou, maatjie, indien jy my dalk eendag mag nodig kry, moet nooit skroom om my te nader nie. Ek sal altyd bereid wees om jou van hulp te wees, want jy is vir my dierbaarder as wat jy ooit kan besef. Jou geluk is ook my geluk. Ek wil graag hê jy moet altyd gelukkig wees.”

      “Johan, jy is so goed vir my. Hoe kan ek jou ooit bedank vir jou onselfsugtige liefde en sorgsaamheid?”

      Liggies plaas hy sy arm om haar skouers en sê teer: “Deur nou nie meer een traan te stort nie, my liefling.” Hy droog haar trane met sy sakdoek af en kyk diep in haar donker oë wat nog steeds in trane swem. “So, nou nie meer een traan nie, hoor,” maan hy moedig. Toe sy flou deur haar trane glimlag, sê hy: “Dis beter. Dis hoe ek jou graag wil onthou, my skat. Vir my sal jy altyd ’n glimlaggende wesentjie bly. Net jammer dat die glimlaggie vanaand so flou is.”

      “Ek sal jou nooit vergeet nie, Johan,” sê sy sag en probeer haar stem kalm hou terwyl sy weemoedig opkyk in sy oë wat self ook van weemoed getuig.

      4

      Na ete, terwyl Brenda en Rista sit en briewe skryf, sit Jurie op die stoep en rook. Sy koerant lê vergete langs hom op die bank. Hy luister na die uitbundige stemme van die