Название | Susanna M Lingua-keur 15 |
---|---|
Автор произведения | Susanna M Lingua |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624053675 |
Jurie se pyp lê lankal dood, maar bloot uit gewoonte sit hy nog daaraan en suig. Ineens word die opgewekte stemme van die kinders stil en ’n byna tasbare stilte sak om hom toe.
Die horlosie het pas agtuur geslaan toe Jurie ’n motor by die groot hek hoor inry. Die volgende oomblik hou die luukse roomkleurige motor van Pieter Myburgh, prokureur en huisvriend van die Van Zyls, voor die deur stil.
Jurie stap nader en groet hom vriendelik. “Dis aangenaam om jou weer te sien, Pieter,” sê hy vir die skraal kêrel toe hy sy hand hartlik skud. Jurie nooi hom binne, maar Pieter stel voor dat hulle sommer op die stoep sit.
“Hoe gaan dit met Brenda?” vra Pieter.
“Nee, man, onder omstandighede nogal goed. Sy het nou ’n vriendin wat hier kuier.”
“Maar dis gaaf. Ken ek haar miskien? Ek bedoel natuurlik, die vriendin van haar wat hier kuier,” kom dit nuuskierig van die vrygesel wat daarop roem dat geen vrou nog ooit sy hart kon verower nie.
“Ek glo nie, Pieter. Sy is eintlik ’n vriendin uit my vrou se jeugjare. Maar sy is ’n oulike meisie, ou Pieter. Haar soort is maar yl gesaai.”
“Ja-nee, as sy só deur jou opgehemel word, moet sy bepaald iets wees. Ek sal haar nogal graag wil ontmoet. Is sy darem iets vir die oog?” vra hy weer tergerig.
“Jy kan self besluit nadat jy haar ontmoet het. Kom, dan gaan stel ek jou aan haar voor.”
Hulle tref die twee vroue in die eetkamer aan, elk met ’n skryfblok voor haar. Rista is egter al klaar en net besig om haar brief op te vou.
Brenda staak onmiddellik haar ywerige skrywery en neem Pieter se uitgestrekte hand. “Goeienaand, vreemdeling.”
“Gits, ek kan jou dieselfde toevoeg, Brenda,” werp hy in dieselfde luim toe. “Ek kom besoek julle darem nog, maar julle, nooit!”
Jurie stel Pieter aan Rista bekend.
Verras tree Pieter vorentoe, neem Rista se sagte handjie in syne en prewel ’n “aangename kennis, juffrou”. Die verrassing van die oomblik is vir hom te skielik. Haar voorkoms oortref sy verwagtinge heeltemal. In stille bewondering staar hy na haar. Vir hom voel dit asof hy droom, asof die meisie voor hom maar net ’n droombeeld is en weer enige oomblik voor sy oë kan verdwyn.
In een vlugtige oomblik neem Rista Pieter se gesig waar. ’n Vriendelike gesig wat van ’n goeie karakter getuig, dink sy.
Dan los Pieter haar hand en vra effens ontwrig, skynbaar net om iets te sê, want op die oomblik kan hy aan niks oorspronkliks dink om te sê nie: “Waar kom jy vandaan, juffrou?”
“Wel, ek is eintlik ’n Kaaplandse meisie,” glimlag sy hom vriendelik toe.
“Hoe lank gaan jy nog by ons kuier?” vra hy effens nuuskierig. Hy sal graag meer van haar wil sien. Sy lyk glad nie vir hom na die soort meisie wat soos ’n oorryp peer in ’n man se skoot sal val nie. Van daardie soort het hy nou net mooi oorgenoeg gehad. Hulle is ’n las om ’n man se nek en verder goed vir niks. Hulle hele, nuttelose lewe bestaan feitlik net uit skemerpartytjies en dans. Dit wil natuurlik sê wanneer hulle nie besig is om hulle vinger- en toonnaels rooi te verf nie.
Dan hoor hy Rista sê: “My plan is om nog ’n maand te vertoef. Dis natuurlik te sê as my gasvrou nie voor daardie tyd vir my moeg word nie.” Die laaste sin uiter sy plaend in Brenda se rigting.
“Haai, Rista, jou klein vabond!” roep Brenda gemaak verontwaardig uit. Aan Pieter en Jurie sê sy kamma uiters gekrenk: “Verbeel julle, na ek my byna dood moes soebat om haar hier te kry, maak sy waarlik sulke gevolgtrekkings omtrent my. Is dit nou nie genoeg om enige goeie mens die joos in te maak nie?”
“Toe maar, Brenda,” paai Rista laggend. “Ek het dit werklik nie so erg bedoel nie, maatjie. Ek belowe om dit nie weer te sê nie, hoor. As dit jou sal pas, sal ek selfs by jou loseer ook. Ek het juis verlede week al besluit om hier in julle stad vir my werk te soek,” glimlag sy.
“O, Rista, maar sal dit nie gaaf wees nie!” roep Brenda spontaan uit en val haar vriendin byna met geweld om die hals van blydskap. “O, ek kan dit skaars glo!” hyg sy opgewonde. Nog steeds oorstelp oor Rista se goeie nuus, merk Brenda weer op, met haar arm nog steeds om haar vriendin se skouers geslaan: “Dis werklik te goed om waar te wees, Rista! En hoe het Oumatjie jou besluit aanvaar?”
“Wel, sy is baie teleurgesteld, soos jy self kan begryp. Sy dring daarop aan dat ek net vir ses maande werk en dan teruggaan.”
“Jou klein skelm, en jy vertel my nou eers daarvan.”
“Wel, alles hang natuurlik daarvan af of ek in die volgende maand werk kry.”
“Met Pieter en Jurie se hulp sal jy ongetwyfeld baie gou ’n betrekking vind, Rista.”
“Nee, maatjie, as jy reken dat ek Jurie of meneer Myburgh daarmee gaan lastig val, begaan jy ’n groot fout. Ek is geensins van plan om vir iemand ’n las te wees nie en jy behoort dit immers te weet.”
“Hemel, dié meisiemens,” kla sy teenoor Jurie en Pieter. “Sy wil nou werklik ook nie eens dat ’n mens haar ’n guns bewys nie, begryp jou aan!”
“Ja, dis nogal jammer, nè?” sê Pieter.
“Maar kyk, julle vergeet blykbaar dat Rista oud genoeg is om haar sake self te reël en dat sy geen hulp van ander nodig het nie,” berispe Jurie hulle goedig. Hy begryp volkome waarom sy ander se hulp afkeur. Noudat sy uit is onder die beskermde vlerke van ’n sorgsame Oumatjie wat gewoonlik alles vir haar doen en reël, wil sy graag op haar eie bene staan en dinge vir haarself doen.
“Jy het volkome gelyk, ou vriend,” hoor hy Pieter weer sê. “Maar jy besef blykbaar nie dat my persoonlike assistent reeds kennis gegee het en die end van die maand my kantoor gaan verlaat nie, nè?”
“Maar dan is dit mos ’n gulde kans vir jou om self vir Rista te nader, Pieter.”
“Juis, dis net wat ek beoog het. Maar toe weier sy mos ons hulp en jy sterk haar sowaar nog in haar kwaad.”
“Nou ja, vriend, al raad wat ek jou nou kan verskaf, is dam haar by en praat die ou sakie uit. Ek is seker, indien jy haar baie mooi soebat en belowe om vir haar goed te wees soos ’n eie vader, of selfs soos ’n eie oupa, sy jou sekerlik sal bejammer en uit die verknorsing sal help.”
In die kombuis is Brenda besig om koppies reg te sit terwyl Jurie die elektriese ketel half met water vul en dit aanskakel. Hy gaan sit op ’n stoel langs die tafel en kyk hoe sy vrou keurig versnaperinge in die vorm van soutigheidjies voorberei.
“Jurie,” sê sy sag, vertroulik. “Het jy gemerk hoe bewonderend Pieter Rista aangestaar het nadat jy hulle aan mekaar bekendgestel het?”
“Ek het nou net oor dieselfde onderwerp sit en dink en tot die slotsom gekom dat hy bepaald ’n gelukkige vent sal wees indien hy beter vaar as Johan en sy voorgangers.”
“Wat bedoel jy, my man?”
“Rista is nog glad nie ryp vir ’n man se liefde nie. Ek sê jou nou dat menige man nog dieselfde paadjie sal bewandel as Johan. Net, met sommige mag dit dalk slegter gaan. Almal het nie die innerlike krag wat Johan het nie – veral nie Pieter nie.”
“Nou waarom vertel jy hom nie al hierdie feite nie, Jurie?”
“Moet jou nie daaroor ontstel nie. Pieter is g’n kind nie. Hy behoort immers self te kan sien dat Rista nog onvoorbereid is om enige man se liefde te aanvaar. Haar optrede spreek tog vanself. Sy behandel almal asof hulle haar broers is en dit is genoeg bewys dat sy nog nie reg is vir ’n verhouding nie.”
Nadat Brenda en Jurie die eetkamer verlaat het, sit Pieter etlike sekondes lank swyend aan ’n sigaret en suig terwyl hy peinsend voor hom uitstaar. Dan draai hy hom half om, kyk Rista kalm aan en sê saaklik: “Juffrou, ek wil jou graag spreek in verband met die betrekking