Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua

Читать онлайн.
Название Susanna M Lingua-keur 15
Автор произведения Susanna M Lingua
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624053675



Скачать книгу

van die getuies in die Schoeman-saak vandag al uitgereik moet word. Dan kan jy dit solank tik onderwyl ek mevrou Van Zyl stad toe vergesel.”

      Sy skakel Jurie se kantoor en sê: “Hallo! Kan ek meneer Van Zyl spreek, asseblief?” Na ’n tydjie hoor sy Jurie se stem. “Hallo, Jurie, dis Rista hier. Luister, wat omtrent die dagvaardings vir getuienis in die Schoeman-saak? Moet ek dit vandag laat uitreik? Goed … Ja, sy is al hier. Brenda is ook hier. Ons twee gaan juis nou stad toe. Maar sê my, het jy Pieter al vanoggend gesien? … Ek is werklik bly om dit te hoor. Gaan sy familie hom besoek? … Gaaf, nadat sy ouers hom vanoggend besoek het en Chris weer vanmiddag, sal ek hom vanaand gaan besoek … Maar dit maak mos nie saak nie, Jurie. Julle twee kan gerus maar gaan. Ek wil Pieter graag vanaand spreek … Ag, nee wat, maak maar vir my verskoning, Jurie. Sê vir hulle ek kom hulle op ’n ander dag besoek … Dankie. Tot siens.”

      “Dis hoog tyd dat julle nou end kry,” kom dit gemaak ongeduldig van Brenda, maar sy vra nietemin nuuskierig: “Wat klets julle so van besoeke en verskonings?”

      Rista plaas haar arm om Brenda se lyf en sê ewe kalm: “Jurie vertel my nou dat die Myburghs ons genooi het om die aand by hulle te gaan deurbring. Maar ongelukkig kan ek julle nie vanaand daarheen vergesel …”

      “En waarom kan jy nie saamgaan nie?” val Brenda haar effens streng in die rede.

      “Luister, maatjie, ek moet Pieter vanaand gaan besoek. Daar is ’n sakie wat ek graag vanaand met hom wil bespreek.”

      “Maar, Ristatjie!”

      “Nee, maatjie, ek weet wat jy wil sê. Maar glo my, ek kan dit nie langer uitstel nie. Daardie sakie moet vanaand in die reine gebring word.”

      “Rista, nee, jy mag dit nie doen nie. Jy sal tog nooit daardeur gelukkig wees nie. Jy gaan net jou eie geluk verongeluk,” sê Brenda byna pleitend.

      “Ek besef dit wel deeglik, maatjie. Maar mý geluk is op die oomblik vir my van minder belang.”

      “O, Rista, jy doen jouself ’n skreiende onreg aan.”

      “Moet jou nie so ontstel nie, my hartjie. Ek weet wat ek doen. Kom, ek is gereed, ons kan maar gaan.”

      Nadat Rista en Brenda die kantoor verlaat het, begin Elise in aller yl werk. Sy is werklik getref deur die wyse waarop Rista Jurie en sy vrou aanspreek, want nog nooit het sy ’n tikster so hoor praat met haar werkgewer se vriend nie. En uit hulle gepraat kan sy aflei dat die Pieter wat Rista vanaand in die hospitaal gaan besoek, hulle werkgewer moet wees. In die koerant is sy naam as Pieter Myburgh aangegee. So, dan noem Rista selfs haar werkgewer op sy voornaam! Wel, hulle is seker maar almal ou vriende, besluit sy. Maar sy is darem wraggies mooi, die mooiste mens wat sy nog gesien het. Sy wonder … Hemel, kan dit wees? Sou dit oor haar wees dat meneer Myburgh sy lewe wou neem? Wat het mevrou Van Zyl nou weer gesê van “jou geluk gaan verongeluk”? Dit moet seker wees. Wel, sy is darem wragtie ook so mooi dat enige man hom om die lewe sou bring vir haar. Dit verbaas haar nou glad nie meer dat meneer Myburgh so iets aangevang het nie. As sy ’n man was, sou sy net dieselfde gedoen het as sy haar nie kon kry nie.

      Dan begin Elise weer haastig tik. Sy wil graag ’n klomp werk afgehandel hê voordat Rista terugkom. Sy is so gaaf en vriendelik, ek sal nie graag in haar onguns wil raak nie, dink Elise weer met ’n glimlaggie.

      Toe die horlosie die middag vyfuur slaan, neem Rista en Elise hulle handsakke en verlaat die kantoor.

      Nadat Rista die deur agter hulle gesluit het, sê sy aan Elise wat ’n entjie voor haar uitstap: “Waarom so haastig, Elise?”

      “Wel, ek moet my maar haas, aangesien ek nog nie weet hoe laat daar ’n bus vertrek nie.”

      “Maar ek neem jou mos vanmiddag huis toe.”

      “Nee, Rista, ek gaan nie toelaat dat jy sulke moeite doen om my ontwil nie.”

      “Luister, Elise, jy sal saam met mý huis toe gaan en nie met die bus nie. Is dit duidelik?” sê Rista vasberade.

      “As jy dan so daarop aandring, sal ek seker moet instem,” glimlag sy dankbaar.

      Toe hulle later in die motor klim, vra Rista: “Waar woon jy, Elise? Verbeel jou, ek is vasberade om jou huis toe te neem en ek weet nie eens waar jy woon nie,” glimlag sy.

      “In Beatrixstraat, Rista. Tussen Kerk- en Pretoriusstraat. Maar jy moet regtig nie hierdie moeite gedoen het nie, jong.”

      “Dit is vir my geen moeite nie, Elise. Weet jy, dit is nogal op my pad huis toe. Nee wat, jy kan maar gerus elke môre en middag saam met my ry.”

      “Wel, as dit nie vir jou ’n draai is nie, sal ek met graagte saamry. Dankie.”

      Met ’n laaste groet ry Rista se motor vinnig voor Elise se deur weg. Nou is sy weer die haastige Rista wat nog moet gaan klaarmaak om vanaand hospitaal toe te gaan.

      13

      In stilte sit Chris voor die bed van sy slapende broer. Om hom so bleek en kragteloos daar te sien lê, pynig hom geweldig. Hy wens net hy kan weet wie die vrou is wat verantwoordelik is vir sy lieflingbroer se lyding. Hy sal haar graag net so wil pynig. Maar ongelukkig weet hy nog nie wie sy is of waar sy haar op die oomblik bevind nie. Hy sal egter wel uitvind. Pieter sal hom nog alles vertel wat hier plaasgevind het. Hulle twee het geen geheime vir mekaar nie.

      Dan sit hy weer droomverlore aan Rista en dink. Hy wou haar so graag vandag op kantoor gaan besoek het, maar hy was bang dat dit te voorbarig sou lyk, aangesien hy haar maar nou die aand eers ontmoet het.

      In sy verbeelding sit hy lugkastele en bou oor ’n gelukkige toekoms saam met die bekoorlike Rista. Dan dink hy weer: Indien daar ’n hegter verhouding as vriendskap tussen haar en Pieter bestaan, sal hy nie sy lewe wil neem oor ’n ander meisie nie. Dus, daar is blykbaar net vriendskap tussen die twee. Ek sal Pieter geen leed aandoen deur haar die hof te maak nie. Tot dusver was dit net die gedagte aan hom – dat hý haar straks die hof maak – wat my daarvan weerhou het om in aller yl Pretoria toe te jaag en haar op te eis voordat iemand anders my voorspring.

      Dan staan hy saggies op en stap uit op die ruim balkon voor Pieter se kamer om eers ’n sigaret te gaan rook.

      Van waar hy nou staan, kan hy sy broer in die oog hou en sal hy gou kan sien wanneer hy wakker word.

      In die heerlike sonskyn kan hy sy gedagtes vrye teuels gee om sy toekoms te beplan. Om Rista se hart te verower sal uiters verstandige beplanning en optrede verg.

      Volgens wat hy tuis uit sy medeloseerders se gesprekke kon aflei, moet ’n mens met haar glo uiters versigtig te werk gaan om haar nie af te skrik nie. Sy is glo geweldig fynbesnaard, beskeie en soms effens teruggetrokke ook. Maar dit alles skrik Chris nog nie af nie.

      Met die mening toegedaan dat Pieter haar die hof maak, het hy geduldig gewag op ’n geskikte lewensmaat vir homself. Maar noudat dit anders blyk, sal hy niks in sy pad duld nie.

      Nadat Chris byna ’n halfuur in die koesterende wintersonnetjie gestaan en mymer het, merk hy dat Pieter wakker geword het. Hy gooi ’n halfgerookte sigaret weg en haas hom na sy broer toe.

      Met ’n opgewekte glimlaggie groet hy Pieter, wat hom bly aanstaar.

      Dan merk Pieter duidelik verlig op: “Ek is so bly jy het vanmiddag alleen gekom, Chris. Daar is so baie waaroor ek met jou wil gesels.”

      Dan swyg hy ’n tydjie, sodat dit vir Chris byna voorkom asof sy broer se gedagtes baie ver weg dwaal.

      Later sê hy weer besorg: “Sit, Chris. Waarom staan jy so?”

      Nadat Chris gemaklik voor sy bed plaasgeneem het, lê Pieter deur die venster die verte en instaar en begin asof hy meer met homself praat as met sy broer: “Miskien was dit kinderagtig om my kop so te verloor, maar jy moet haar self sien om dit te glo. Sy is mooi, ontsettend mooi, die mooiste wese wat ek nog ooit in my lewe aanskou het. Haar swart hare is ’n sagte, golwende massa. Haar oë is donkerbruin en sag waarin ’n mens baie drome verlore sien lê. Sy het hier in die