Skoonlief en die dirigent. Marijke Greeff

Читать онлайн.
Название Skoonlief en die dirigent
Автор произведения Marijke Greeff
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050582



Скачать книгу

besluit om die agtergrondmusiek op die CD as begeleiding te gebruik eerder as die orrel. Ek het gedink dit sal vir jou makliker wees, aangesien jy alreeds daarmee geoefen het. Jy het onthou dat ek gesê het dat jy nie die tweede vers moet sing nie, nè? Ek het iemand gekry wat die viool gaan speel. Kan ons begin?”

      Quinn luister verstom na die twee vrouens se gesprek. Nina O’Neill is die vrou wat die Ave Maria vir die bruidspaar gaan sing? Hy kyk skepties na haar. Was sy die laaste opsie omdat die bruid niemand anders kon kry nie?

      “Wil jy nou meer,” praat hy sag met homself. Toe die strelende klanke van die inleiding die kerkgebou vul, mompel hy: “Nou ja, laat ons hoor of inspekteur O’Neill kan sing.”

      Nina gaan staan voor die reling van die galery en toe sy begin sing, is Quinn so verstom dat hy vir ’n minuut of wat nie kan beweeg nie. Die suiwerste, soetste klanke kom by daardie twee soenbare lippe uit. Sy sing met die gemak van jare lange ondervinding en ’n ongelooflike, godgegewe talent. Geen geforseerde klanke of verkeerde asemhaling nie.

      Toe sy byna klaar is met die eerste vers, staan hy op, druk sy viool onder sy ken in en stap nader aan haar.

      Nina se kop ruk om toe sy die eerste klanke van die viool agter haar hoor, en sy moet aan die reling voor haar vasgryp om haar verraderlike lam bene te help regop bly toe sy in Quinn Chauncey se blou oë vaskyk. Hy hou haar oë terwyl hy speel en Nina staan magteloos in sy blou blik vasgevang. Sy bewe van kop tot tone en bid vuriglik dat dit nie in haar stem moet deurskemer wanneer sy die laaste stukkie ná die viool se tussenspel moet sing nie.

      Quinn speel die laaste noot en Nina is dankbaar dat haar stem nie bewe toe sy weer begin sing nie, want hy laat haar steeds nie toe om weg te kyk nie.

      Toe die laaste note wegsterf, bars ’n dawerende applous onder in die kerk los.

      Cassidy huil openlik en selfs haar aanstaande bruidegom vee met sy sakdoek oor sy oë.

      “Wat dink jy, meneer Chauncey?” Cassidy se stem is skor.

      Quinn kyk vlugtig na Nina voordat hy afkyk na Cassidy. “Ek dink daar is ’n paar klein haakplekkies waaraan ons kan werk, maar moet jou oor niks bekommer nie – ek sal dit sommer met jou solis uitsorteer en reël dat ons môre nog ’n keer of wat repeteer.”

      Nina snak hoorbaar na haar asem. “Klein haakplekkies?” Sy sis die woorde tussen haar tande deur en praat sag genoeg sodat Cassidy haar nie kan hoor nie. “Daar was absoluut niks fout met die stuk nie. Ek en jy weet dit albei.”

      Quinn lig ’n wenkbrou en sy hand vou soos ’n staalklem om Nina se elmboog nadat hy sy viool gebêre het.

      “Moenie met my stry nie, Nina O’Neill, ek is die een wat konsert hou, onthou. Ek behoort te weet.” Hy dwing haar na die deur toe iemand onder in die kerk sy naam noem. “Dit is tyd dat ek hier uitkom.” Hy glimlag koel vir haar. “Gelukkig het ek darem my lyfwag by my om die bewonderaars van my lyf af te hou.”

      Nina snork onvroulik toe hy haar met verbasende spoed by die trappe af stuur. “Van jou lyf af hou, nogal. Jy’t ’n hoop! En vir jou inligting, ek is allesbehalwe ’n lyfwag! Ek is ’n inspekteur in die polisiediens. Daar is ’n baie groot verskil.”

      As antwoord lig hy net ’n donker wenkbrou veelseggend. Onder in die straat kyk hy koel na haar. “Waar staan jou motor?”

      Nina gaan staan by haar kar, wat sy onwettig op die sypaadjie geparkeer het. Sy diep die sleutel uit haar jeans se sak en kyk dan na Quinn wat met geligte wenkbroue na haar staan en kyk.

      “Wat is dit?” Sy trek haar skouers op. “O … Ek was laat.”

      Quinn haal die sleutel uit haar willose vingers, sluit die deur oop en hou dit vir haar oop. “Dan moes jy vroeër van die huis af gery het, inspekteur O’Neill van die polisiediens.”

      Nina kners op haar tande. Hy is onuitstaanbaar! Wat weet hy van die stad se verkeer en haar onbetroubare motor?

      “ Aangesien dit nou jou plig is om mister Chauncey se besoek aan Suid-Afrika vir hom so gemaklik moontlik te maak, sal jy sorg dat jy môreoggend tienuur by die hotel is, sodat ons kan repeteer. Ek gaan nie my reputasie op die spel plaas vir ’n leek wat niks van sing af weet nie.”

      Nina verstik amper. Sy trek haar asem skerp in om hom iets gemeens toe te snou, maar hy het reeds die deur toegemaak en omgedraai en sy kan niks anders doen as om met ’n bewende been die koppelaar in te trap en die voertuig aan te sluit nie.

      “’n Leek wat niks van sing af weet nie!” skel sy in die donker ruimte van die motor se kajuit. “Jy sal jou wat verbeel, mister Chauncey. En ek was reg oor jou ego – dit is groter as Tafelberg! Jy wil nie jou reputasie op die spel plaas nie, verbeel jou!”

      4

      Nina sit vervaard regop en vee haar hare uit haar oë. Wat het haar wakker gemaak? Sy gooi vererg die beddegoed van haar af toe sy weer die gehamer aan haar voordeur hoor.

      “Wie op aarde soek na my op hierdie onmenslike tyd van die dag?” Sy moet eers haar oë knip voordat sy deur die sleutelgat kan loer. “ Amelia.” Sy sug. “Ek moes dit geweet het.” Sy sluit die deur oop en leun met haar wang teen die koel muur. “Hoekom kom soek jy my so vroeg? Normale mense slaap nog almal hierdie tyd.”

      Amelia lag. “Noem jy tienuur in die oggend vroeg? Ek het vir jou ’n DVD gebring en vir Cassidy belowe dat ek jou rok vir jou sal bring. Die arme vrou kry nie al haar draaie –”

      “Tienuur?” Skok laat Nina se asem in haar keel vassteek. “Tienuur!” Sy staan weg van die muur af asof dit haar gebrand het. “O vrek! Ek is in my kanon in laat! Ek kan net dink wat mister Chauncey hiervan te sê gaan hê. Hoe is dit moontlik dat ek so laat kon slaap?” Sy vlieg haar kamer binne en gryp die eerste paar jeans wat sy in die hande kry en pluk dit sommer bo-oor haar nagklere aan. “Dit kom daarvan as jy die hele nag lê en rondrol omdat ’n paar blou oë weier om jou met rus te laat.” Sy vleg haar hare terwyl sy badkamer toe hardloop om tande te borsel.

      “Waarvan praat jy tog?” Amelia steek in die kamer se deur vas en kyk geamuseerd na Nina terwyl sy heen en weer skarrel om skoene aan te kry.

      “Ek is vrek laat! Ek moes tienuur al by die hotel gewees het.” Nina gryp haar motor se sleutels. “Ek is weg. Sluit die deur agter jou, baai!”

      “Nina, wag! Wat van jou rok?”

      Nina hardloop terug na waar Amelia nog steeds in die kamerdeur staan en gryp die hangsak met die rok in by haar en haak dit onseremonieel aan die kas se deur.

      “Ek sal dit later kom aantrek. Weet nie hoe lank mister Chauncey my vandag gaan besig hou nie – hopelik kry ek darem genoeg tyd om van my jeans ontslae te raak.”

      “Maar ek wou jou help met jou grimering …”

      “Daar’s nie tyd vir sulke goed nie, Amelia! In hemelsnaam, hou nou op praat sodat ek my ry kan kry!”

      “Ek sit die DVD’s op jou bedkassie neer,” roep Amelia agter haar aan terwyl Nina die trappe drie-drie afhardloop.

      “ As ek my nek vandag breek, is dit op die dirigent se gewete.” Met bewende vingers sluit sy haar motor oop. Sy druk die sleutel in die aansitter en draai dit terwyl sy ’n vurige skietgebedjie opstuur, en dan kreun sy hardop toe sy net ’n klikgeluid hoor.

      “ Asseblief,” bid sy hardop, “moet my nie vandag in die steek laat nie.” Sy probeer weer, maar ná die derde probeerslag besef sy met ’n sinkende gevoel in haar binneste dat sy nie vanoggend haar skedonk aan die gang gaan kry nie.

      Nina kry Amelia by haar woonsteldeur, net besig om toe te sluit. “My kar is in sy peetjie. Sal jy my asseblief by die Ardmere gaan aflaai?”

      Amelia kyk na haar met geligte wenkbroue. “Ek het lankal vir jou gesê jy moet iets aan daardie kar laat doen.”

      Nina is lus en trippel op en af van haas. “Ja, ja, asseblief, jy was reg en kan gerus maar sê: ‘Ek het jou gesê.’ Kan ons nou ry?”

      Die