Название | Die antie met die pienk rok en ander stories |
---|---|
Автор произведения | Jan Spies |
Жанр | Юмористические стихи |
Серия | |
Издательство | Юмористические стихи |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624089520 |
En toe ons omtrent klaar is, toe roep die tante: “Pá-á, julle moet nou kom dinges.”
Hy skree toe trug: “Ja, Ma, ek wil net my dinges met ’n bietjie watsem was.”
En hy laat suig toe vir Harmaansie ’n bietjie watsem met die watsem uit die dinges, en hy sê vir my: “Moet nou net nie jou dinges hier by my opsteek nie; dan slaan ek anie watsem.”
Aan tafel is daar toe vir dié ’n bietjie dinges en vir dárie ’n stukkie watsem aangegee tot ons almal geholpe was, en die oom sê: “Nou toe, hou toe julle dingese, lat ons watsem.”
En toe was dit vreeslik snaaks toe hy reg bid, want ek het in my sondigheid verwag: “Segen Watsem, gee ons dinges.”
Waaksaam op die vlug
’n Ou vriend van my uit die Kaokoveld van weleer vertel my eenkeer van die grootste wat hy ’n hond ooit vir ’n leeu sien skrik het.
Die hond se naam was Waaksaam.
Maar, sê die ou vriend vir my, dit het met die naamgeëry van dié hond gegaan soos in die geval van baie mense. Die kleintjie het nog net ’n paar nat luiers agter sy naam, dan word hy gedoop Churchill sus en so. Maar die naaste wat hy ooit in sy lewe aan die politiek kom, is om darem af en toe ’n kruisie te trek.
Of hy heet Napoleon of De Wet en die naaste wat hy aan ’n slagveld kom, is dalk om na ’n boksgeveg te gaan kyk.
Of die meisiekind word vernoem na Elizabeth Taylor, en dan bly sy haar lewe lank met net een man getroud.
Net so onvanpas was Waaksaam se naam; hy moes eerder geheet het: Slaapsaam.
Want hy het heeldag en aldag rondom die huis teen die fondament lê en slaap – in die somer in die koelte langs, en in die winter agter die son aan.
En net so lui as wat hy was, net so dom was hy ook. Al wat hy in sy lewe geleer gekry het, was om ’n klip agterna te sit as jy dit vir hom êrens heen gooi, en om dan die klip trug te bring sodat jy weer kan gooi en hy weer kan hardloop.
Van dié veilige speletjie het hy baie gehou, en hy was glo ook die ene lewe en jaglus wanneer iemand ’n klip optel en maak of hy gaan gooi.
Nou ja, dit was in Waaksaam se vreedsame leeftyd dat daar ’n trop leeus – waarskynlik van die Etoshapan se kant af – hulle intrek in die omgewing neem en van Waaksaam se baas se plaas hulle hoofkwartier maak.
En hulle begin vang bees, allervreesliks.
En die boere van die omgewing word van die onheil laat weet en op ’n afgesproke dag kom trek hulle met hulle gewere, hulle jaghonde en hulle spoorsnyers by my ou vriend saam.
En die volgende môre voordag begin die jagtog.
Die spoorsnyers wat buite geslaap het, weet toe presies in watter rigting die leeus die nag gebrul het.
En in die koeligheid van die môre is die honde lus vir ’n ding. Voor die jagters nog by die werfhek uit is, vat die honde al die veld.
My ou vriend vertel dit was net toe hyself saam met hulle lekker aan die beweeg kom dat sy seuntjie vra: “Pa, maar wat van Waaksaam?”
Die kêrel sê, en hy dink dis miskien nie ’n sleg plan nie. Sê nou Waaksaam kry dit reg om met ’n leeu ’n kordaatstuk aan te vang. En hy kyk om huis se kant toe, en daar lê Waaksaam die hele opgewondenheid van mense en honde agterna en kyk op ’n manier wat lyk of hy maar bra min behae in so ’n verspottigheid het.
En die man roep na hom en buk en maak of hy ’n klip optel, en daar kóm Waaksaam.
En so gebeur dit dan dat Waaksaam ook saamloop. Met die ander honde het hy niks uit te waai nie. Hy stap so te sê in sy baas se koelte. Af en toe lê hy glad vir ’n rukkie onder ’n bos of ’n boom om ’n bietjie te rus, voor hy weer op sy manier probeer om sy baas in te haal.
Dit was ná ’n uur of so se beweeg van die huis af dat die honde skielik vassteek.
Dis toe by die plek waar die leeus die nag ’n ding gevang het.
Die ou vriend van my sê:
Jong, en daar’t ek gesien hoe klein enige hond voel in die geselskap van die grotes. Die honne staan en ruik rond met ’n geluidlose ontsag.
Die hele spul se sterte is geknyp lat die punte omtrent onner hulle-se naeltjies sit.
En van die benoudheid drup-drup elke hond so ligweg.
En hulle-se hare is gerys lat hulle-se rugvelle omtrent soos skropborsels lyk.
En aan die ruikery aan die graspolle en bossies waarteen ’n leeu met die verbyloop geskuur het, sou ’n mens sweer die honne dink die leeus het in lewende lywe in die stingels en blare ingetrek. Want elke grashalm word van onder tot bo beruik. En jy weet mos hoe roer ’n hond sy neus wanneer hy fyn ruik. Dit lyk mos kompleet of hy eers met die een en dan met die ander neusgat ruik.
Nou ja, dis hoe die honde toe daar so te sê met hulle-se neusgate teen elke halm die wié en die wát van elke leeu probeer te wete kom.
En as ’n hond ’n spoor voor hom sien waaraan hy nog nie geruik het nie, dan rek hy vooroor sonder om ’n voet te versit, tot hy kan bykom tot waar hy wil ruik. Jy sou sweer hy’s bang hy trap ’n landmyn af.
In elk geval, die honne is toe so besig met hulle-se onnersoekery lat ons die spoorsnyers maar laat aangaan op die spoor; die honne sou wel volg.
Die spore swenk sykant toe al met ’n lopie langs. En dit was nie meer as ’n kwartier se loop nie of ons kom op die hele familie af. Hulle hardloop toe van ons kant af deur die lopie en oor ’n ruggie aan die ander kant.
En dit was net toe die agterste ou mannetjie die ruggie wil vat, lat een van die jagters hom op die oorkant van die lopie plattrek. Die skoot het mooi geklap en die leeu was weg voor. Maar die ongeluk is toe dat die gras so hoog is dat ons hom nie kon sien lê nie. En so wis ons natuurlik nie of hy net gekwes is nie.
Teen dié tyd kom die voorpunt van die honne by ons aan, maar dit help ons nie veel nie. Want daar by die vars leeureuk versteen die spulletjie omtrent heeltemal. En party lyk vir my glad of hulle op die randjie van die hondestuipe is.
En dit was met die gesukkel om koers in die bestorwe klomp honne te kry, lat dit my van Waaksaam byval. Dié’s toe nêrens te sien nie.
En ek klim toe daar op ’n miershoop en ek neem die wêreld op en ek sien dóér skuins agter kom hy doodluiters aangestap; hy steek toe sommer kortpad van waar hy die laaste keer gerus het.
En ek wag hom in, en toe hy so ’n twintig, dertig tree van ons af is, sê ek: Wááksaam, en ek buk en ek tel ’n klip op. En daardie tyd toe storm Waaksaam al, en ek gooi in die rigting waar die leeu lê, en Waaksaam is in ’n dolle vaart agterna.
Maar die gras is so hoog dat hy nie normaal kan hardloop nie; hy moet sulke hoë hale gee om bo-oor die banke gras die klip te kan sien trek. Waaksaam lyk toe omtrent soos ’n skuit op die stormsee.
En ek het dit toevallig reggekry om presies regoor die plek te gooi waar die leeu gelê het.
En ons staan en kyk hoe Waaksaam die vernaamste hale van sy lewe gee.
En toe gebeur die ding wat Waaksaam nie verwag het nie en wat hy in sy lewe ook nooit weer vergeet het nie.
Hy het ná ’n pure haal weer in die gras weggeraak, maar toe nie daarvandaan af nog ’n haal vorentoe gegee nie. Toe hy wegraak, het hy reguit boontoe minstens vyf hondehoogtes hoog van die gevaarlike aarde af padgegee. En daar bo in die lug het hy al begin maal met sy pote om vastrapplek te kry vir ’n haastige omdraai.
Maar of hy wou of nié, op daardie selfde plek móés hy weer af grond toe.
Wat daar deur sy gewoonlike anie-slaap-harspan gegaan het, weet ek nie. Wat ek wel kan onthou soos die dag van