Die antie met die pienk rok en ander stories. Jan Spies

Читать онлайн.
Название Die antie met die pienk rok en ander stories
Автор произведения Jan Spies
Жанр Юмористические стихи
Серия
Издательство Юмористические стихи
Год выпуска 0
isbn 9780624089520



Скачать книгу

      En ek stap die kjerk in met ’n lied in my hart.

      En – soos ons mense nou maar is (en dit was die fout) –loop sit ek weer op my ou plekkie van laas Sondag.

      En ek druk my Boeke in die rakkie van die rugleuning voor my. En ek laat sak my kop. En ek bid. En ek hoor die sawwe orrelmusiek. En ek lees weer die psalm-en-gesangbordjie, en ek lees weer die teks op die kansellap en ek kyk weer rustig hier en ek kyk rustig daar.

      Maar skjierlik is dit skjemer in die kjerk.

      En ek kyk sommer dadelik links na die sydeur toe. En daar kom die antie weer orent aan die binnekant van die kjerk.

      Sy het dieselle pienk rok aan.

      En dieselle seeppothoed op, met die Mini-tjoep vir ’n band en die Bedford-taier vir ’n rand. En die veer staan halfpad sielieng toe. En die antie gôi haar dwars in die sygangetjie en sy loop soos ’n krap na die middelgang toe. En sy draai reguit na my toe, en daar kom sy. En sy kom sak neer op die punt van die bank voor my.

      En weer is die preekstoel weg. En sy sit van links van die linkerkonsistoriedeur af tot regs van die regterkonsistoriedeur. En links van haar steek net ’n deel van die psalm-en-gesangbordjie uit. Daar staan: Gs. Ps. Ps. Ps. Gs.

      En regs van haar staan: 47, 97, 11, 43 en 153.

      Maar ek dink: Al sou sy die hele kjerk toe-sit, gaan ek bly sing.

      En ek hoor weer ’n deur kraak. En links van die antie loop drie ouderlinge uit, en regs van haar loop drie dijakens uit.

      En Oudominies spreek weer die seëngroet uit met net die voorste litte van sy drie langste vingers aan elke hand bo-oor die hoed van die antie. En hy gjee die voorsang op.

      En die orrelis speel, en die gemeente lig hulle.

      En die antie kom ook orent, en sy knyp darie pienk rok weer alleraardigs vas. Maar ek hou my boek voor my oë of daar geen antie is nie, en ek sing.

      Maar toe buk die donner wat laans my staan vooroor en hý trek die rok uit.

      En om ek toe weet sy hou nie daarvan nie, druk ek hom toe trug.

      ’n Poort deur die koue

      (ter nagedagtenis: Johnny Rose)

      Vroeër dae was daar op Keimoes ’n sersant Jônie Louw wat die arm van die gereg baie ver moes uitstrek om te kon bykom tot by die uithoeke van die yslike gebied wat onder sy gesag geval het. En wat dit vir hom glad nie maklik gemaak het nie, was dat sy vinnigste ryding bloot sy perd was; dit was lank voor die dae van polisiemotors.

      Onder dié omstandighede kry hy laat een namiddag berig van ’n moord op Kenhardt. En hy moet dringend suintoe om die saak te ondersoek.

      En sersant Louw vertel dit was net mooi in die middel van een van die bitterste winters wat daardie geweste kon beleef het. En hy sou dwarsdeur die nag moes ry om die anderdagmôre op Kenhardt te wees.

      Hy maak toe gou klaar en teen die koue van die nag koop hy ’n bottel brandewyn en steek dit in die saalsak.

      En met nog so ’n stukkie son val hy in die pad.

      Maar sommer vroe-aand is dit al so koud dat sy tande kletter. En hy hou stil en hy klim van die perd af en rek so bietjie litte en haal die bottel uit die saalsak.

      Maar net wat hy die bottel wou oopmaak, hoor hy iets met die pad aankom. En hy luister, en hy hoor dat dit ook ’n pêrruiter is. En hy druk die bottel trug in die saalsak, en nie lank nie, of die ander reisiger word duidelik in die skemerdonker.

      Van die grond af groet Jônie Louw: “Naand, vriend; ek is sersant Jônie Louw van Keimoes.”

      Die donker gedaante op die ander perd groet trug met ’n ouerige stem: “Naand, Sersant. Ek is pater Hoeflies, en ek hoef seker nie by te sê: van Keimoes, nie.”

      “Nou ja, ek is op pad Kenhardt toe om ’n moord te ondersoek,” sê sersant Jônie Louw. “Miskien is die geluk aan my kant sodat ek môre die moordenaar kan vastrek. Sonuit wil ek aan die werk spring.”

      “Ek is ook op pad Kenhardt toe,” sê pater Hoeflies. “Oor dieselfde moord; ek moet die vermoorde gaan begrawe.”

      En daar ry hulle twee toe saam – die dienaar van die gereg en die dienaar van die geregtigheid.

      Maar vir sersant Jônie Louw verloop die eerste ent van die reis met gemengde gevoelens. Die pater gesels lekker en dit maak die nag korter. Maar die bottel brandewyn sit net skuins agter hy wat Jônie Louw is se regterboud, onbereikbaar ver weens die pater se teenwoordigheid.

      Hy is baie bly, sê pater Hoeflies, dat sersant Louw vir hom gewag het toe hy hom agter in die pad hoor aankom het. Want die pad Kenhardt toe was vir hom nog altyd ’n eensame pad.

      Dit laat hom dink, sê hy, aan die pad van Jerusalem na Gasa, waarop Filippus by die hofdienaar van Ethiópië uitgekom het. Dit is ’n eensame pad, staan daar geskrywe.

      Dit kon netsowel die pad tussen Keimoes en Kenhardt gewees het, as dit van die eensaamheid moes afhang, sê pater Hoeflies.

      Ja, sê sersant Jônie Louw, die pad tussen Jerusalem en Gasa ken hy nié, maar die een tussen Keimoes en Kenhardt is so eensaam lat hy éénsaam is. Daaroor kan daar sowaar, indien nie wragtag nie, geen twyfel wees nie.

      “Ja,” sê pater Hoeflies, “teen die eensaamheid het ons vannag darem mekaar se geselskap. Maar nou is die pad pleks van eensaam so uitermate kóúd.”

      Dis toe die pater van die koue praat, het sersant Jônie Louw agterna vertel, dat dit hom voel of sy weerstand teen die koue heeltemal knak.

      Sy keel brand en die klamte aan sy neus is pure ys en sy bene is van sy knieë af morsdood dwarsdeur die rybroek se pype en deur die kamaste, en sy voete is so dood dat dit vir hom smaak of hy met twee sementstene in die stiebeuels trap.

      En dit was tóé dat sersant Jônie Louw uit die kloue van die bevriesing so smag na ’n paar slukke brandewyn dat sy vrees oor wat die pater dalk mag sê ’n nietigheid word.

      “Pater, ek weet nie wat Pater daarvan sal dink nie, maar ek het ’n botteltjie brandewyn teen die koue in my saalsak gesteek.”

      “Hét jy?” vra pater Hoeflies opgewonde. “Brandewyn is nét die regte ding teen hierie koue. Maak oop; net ’n paar slukke is genoeg om ’n man weer vir ’n ruk op die perd te hou.”

      En sersant Jônie Louw trek die bottel aan sy nek uit die saalsak en hy draai die prop af en hy gee die bottel vir pater Hoeflies aan. En pater Hoeflies gee ’n sluk of twee en hy gee die bottel trug, en sersant Jônie Louw gee ’n sluk of drie en hy draai die prop op en steek die bottel behoedsaam in die saalsak trug.

      En sersant Jônie Louw vertel daar kom toe sommer weer gevoelte in sy lyf; dit smaak sommer direk met die brandewyn se warm grondvat in sy maag of sy hart weer die bloed tot in sy voete gepomp kry.

      En hulle ry en die gesels kry van voor af smaak. Maar die lekkerte het nie waffer lank aangehou nie. Dit was sommer eensklaps weer koud – so asof die koue die ou brandewyntjies heeltemal laat verslaan het, vertel sersant Louw.

      En hy sê: “Pater, dit voel my ek het al weer iets uit die bottel nodig.”

      Dit voel vir hom ook hy het weer behoefte aan ’n bietjie ekstra hitte, sê pater Hoeflies.

      En sersant Jônie Louw trek die bottel uit die saalsak en hy draai die prop af en hy gee in die donker vir die pater kans om ’n sluk of drie te gee, en hy wat Jônie Louw is, vertel hy gee toe self so ’n sluk of vier aan die bottel voor hy die prop opdraai en die bottel by die saalsak se bek indruk.

      En hulle gesels. En hulle gesels. Want dis of die winter ’n tree agteruit gee.

      Maar nie vir te lank nie, of dit smaak of die koue met nuwe mening in die lywe opslaan van die voete se kant af.

      En sersant Jônie Louw sê vir pater Hoeflies hy sal moet verskoon, maar dit voel vir hom of