Название | Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey |
---|---|
Автор произведения | Charl-Pierre Naudé |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624084358 |
Hy het wrang geglimlag. “Nou toe, jy weet dan.”
7
ROOIPERD SE STORIE
Laat April 1973
Die bewoners van die Lyksovlakte was ootmoedig van ingesteldheid. Maar binne hul geslote wêreld het hulle oopkop gekyk. Hul benadering tot die blinkvuur is ’n skitterende voorbeeld hiervan.
Daar was reeds verskeie karre by die padwerke geparkeer om die skemertydse skouspel te besigtig. Rooiperd Ferreira, die Mobil-vulstasieienaar, was ook daar met sy twee klein kindertjies en sy plomperige vrou, in hul Morris. Dit was ’n gebruik by hulle om elke tweede of derde dag hier te kom sit in die gesinsmotor.
Mense het met flessies tee of koffie en toebroodjies geparkeer, in Ford Escorts en Dodge-bakkies en Toyotas, Datsuns ook, en natuurlik in ’n Volksie of twee. Op ’n veilige afstand, want hoewel sommiges die blinkvuur as padlampe bestempel het, was daar genoeg rede om te wonder of dit nie meer as dit is nie.
Die blinkvuur was sekerlik uitsonderlik. So het selfs ek destyds gedink. Daar was nie so baie dinge op die Lyksovlakte om na te kyk nie. Wat word dit nou weer genoem? Besienswaardighede.
“Het jy self geglo, of was jy een van die skeptiese siele?” het Rooiperd my gevra. Dit was nie so lank gelede nie, van waar ek hier sit en skryf, ’n paar weke voor sy besigheid gesluit het, dat ons in sy olierige kantoortjie langs die werkswinkeltjie gepraat het. Rooiperd was onwennig lank met ’n krulboskasie wat soos ’n boks op sy kop sit. Mens sou kon sê hy had ’n kwaf, maar van die deurmekaar, manlike soort. In die ou dae was sy hare nog baie rooi.
“Bedoel jy oor Dirkie Verwey?”
“Ja.”
“Skepties,” het ek geantwoord. “Aanvanklik.”
Dirkie het die bakkie langs die ander karre ingetrek. “Ek het nog nie besef dis hy nie, die onsigbare een,” het Rooiperd vertel.
Dit was destyds nog nie ’n uitgemaakte saak waarheen die Nuwe Pad sou lei nie. Sommiges het gesê reguit hemel toe, maar hulle was die sterk gelowiges. Vir seker had politiek, en geheime politiek boonop, iets met die bou daarvan te doen. “Vorster himself ordered this road”, het die bombastiese padingenieur, Jackson, alewig by die karvensters gebulder. Die ou het so ál beduiende tussen die karre rondgestrompel, bruinbottel in die hand.
“Aren’t they special?” het Jackson vir Rooiperd gevra, die trots sigbaar in sy opgeblase gesig, die een man rooier as die ander. Agterna beskou, dink ek die uitsonderlikheid van die lampe moes iets te doen gehad het met hul posisionering in die kwynende dag, maar dis maar my manier van dink.
“This is South Africa’s road into Africa,” het Jackson met groot stelligheid verklaar. Soos die donker sak, het die blinkvuur se flitse skerper geword. “It comes from somewhere, these miracles, you know,” het hy eenkeer in die padkamp se plankkroegie, Die Stage, gesê.
Jackson het Dirkie se bakkie gesien stilhou. “Ek het gesien hoe sy gesig ophelder toe hy die aankomeling sien. Hy het onmiddellik by die Dodge ’n draaitjie gegooi. Die ou het te kere gegaan soos ’n seremoniemeester,” het Rooiperd vertel.
“God blimey!” het die padingenieur uitgeroep, sy stem weggeslaan. “God blimey!” Die koppe in die ander karre het gedraai.
Jackson het sy wortelkleurige boskasie dieper by die oop bakkievenster ingedruk. En blitsvinnig, weer uit. “There’s nobody in here! There is damn bloody nobody inside!” Hy het meegevoer geraak.
Hy het agtertoe gesteier, weg van die bakkie, om bietjie afstand te kry. Jackson was ’n man van afstande, ’n padingenieur immers. Hy het sy blik steeds vasgenael op die Dodge-bakkie gehou.
Aan dié soort ding was Dirkie gewoond, het Alwyn aan my gesê, want sy broer het iets daaroor laat val. Net soos hy gewoond was aan sy pa se bevliegings.
“Die ou het vir Jackson gewuif,” volgens Rooiperd, “eers met klein sirkeltjies en toe groteres. Ek self kon Verwey net vaagweg sien, maar ek was natuurlik gewoond aan hoe om te kyk. Mens moes jou oë op skrefies hou, en nooit teen die lig inkyk nie. Dan sou jy hom makliker raaksien, ja.”
Vir die ander mense was Dirkie ou nuus. Maar Jackson het dit nog nie voorheen aanskou nie. “Die inkennige een,” het Rooiperd oor Dirkie gemompel. Skroomvallig, staan dit in die woordeboek.
Toe Dirkie sy bakkie aanskakel om weer ry te kry en dit beweeg sonder ’n bestuurder in, het Jackson byna flou geword. Hy het die voertuig hangmond aangegaap, die openbaring het duidelik in sy gelaat gesit. “I see him now! Damn bloody blimey!” Die mense in die karre het héérlik gelag.
’n Bietjie later het Dirkie die bakkie onder die Bandjiese se wilgers by die dammetjie ingetrek en oor die grasperk geloop na waar Anna op die stoep gestaan het. “Ek het hom agter die gaas ingewag,” het sy vertel. “Ék kon hom altyd van ver sien aankom.”
8
MY EIE ONDERSOEK
Laat Mei 1973
Die Bandjiese se huis was ’n eenvoudige, vierkantige boerehuis met twee baksteenskoorstene aan weerskante van die lang nok. Een het die woonkamer, die ander een die kombuis bedien. Die twee tuite herinner mos aan groen teepotjies. Die opstal het aan drie kante stoep gehad met gaas toegemaak, en ’n afgewitte steenmuurtjie aan die voorkant weerskant van die inloophek. Die werf was op ’n oopte geleë langs ’n windpomp en ’n ronde dam, en met groen bome omsoom.
“Hoe verlang ek nie terug na die dae nie, Hermie, voordat alles verlore gegaan het,” het Anna jare later gesê toe die beskawing op die Lyksovlakte bykans heeltemal vergane was.
Ek het die middag van ons afspraak my fastbackie onder die wilgers ingetrek en met die tuinpaadjie langs die gaasstoep genader. Daar op die gras het sy my ingewag.
Dit was vieruur, teetyd.
“Middag, meneer Verdomp,” het sy met ’n groot glimlag gesê. Die blonde storting van hare was op drie of vier plekke met rekband gebind, nie loshangend tot by haar stuitjie nie, en dit was ’n aanduiding dat my besoek as iets ampteliks beskou word. Sy was in ’n gemaklike wit katoenrok tot onder die knieë geklee.
Ek wou meer hoor oor ’n raaiselgebeurtenis met Dirkie Verwey die aand toe hulle die laaste keer gekuier het, die aand ’n maand tevore nadat hy ’n draai by die blinkvuurligte gegooi het. Sy het my net rakelings daarvan vertel, die dag by my huis toe sy my haar kant van die kerkstorie kom gee het.
Die betrokke nag was die laaste keer dat Anna en Dirkie mekaar in lewende lywe gesien het. Want in die dae net voor my besoek het die dorpsraad die twee verbied om in mekaar se teenwoordigheid te wees en die ouerpare het baie gewilliglik oor die reëling toesig gehou.
“Ek sal jou wys waar dit gebeur het, meneer Verdomp,” het sy met ’n ligte bewing in haar stem gesê. Ons het die huis ingeloop. Agter ons het die stoepdeur stadig gekraak en op sy sprieng toegeklap.
Sy het ’n skepsel babavet op die wange gehad as sy breed glimlag. Maar dié dag was sy senuweeagtig, min geglimlag. Haar stem het my laat dink aan baie dun glas wat wil breek. Haar ruime vlesigheid het sy seker van haar pa geërf, gelukkig nie ook sy hakskene nie. Anna kon haar rondings na willekeur rondskuif en daarom het sy vir my dikwels na ’n ander vrou gelyk, elke keer as ek kyk.
Ek dink byvoorbeeld aan haar soos sy eenmaal in die meerminposisie op my mat in Steynstraat gesit het, ’n skeen onder ’n kuit ingevou, een van ons teedrinksessies. Sy had beslis iets van ’n vol druiwemandjie wat wag om getiep te word, iets uit Kanaän; ’n ryk oes wat deur ’n gelukkige man nog omgedop sou word.
En tog kon sy ook lenig en slank lyk, benerig, maer. Soms het die gebeente van haar gesig met die intrek van asem prominenter vertoon. Ek het gedink aan kooltjies wat opvlam in ’n bries.