Название | Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey |
---|---|
Автор произведения | Charl-Pierre Naudé |
Жанр | Контркультура |
Серия | |
Издательство | Контркультура |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624084358 |
Daardie besoek was twee jaar voor die episode met die halfkaalfoto’s van die jonge Anna. Sedertdien het Intelligensie my en my koerant op verskeie maniere geteister.
’n Jaar of twee voordat P.W. die noodtoestand afgekondig het, was hulle vir die laaste keer op die dorp (nou lelik agteruit). Dié slag by Die Weekpos se redaksiekantoor aan my huis in Steynstraat. Dit was 1983, soos die geskiedenis dit wou hê.
Einste Nieman, hom dadelik herken. Moord in sy waterige oë. “Die fiche’e. Fish!” het hy gebulder, asof hy ’n militêre kodewoord kwytraak, en hy slaan met die safte rand van sy vuis op my lessenaar. Sy stem het plek-plek gebreek, hy was nie goed met bulder nie.
Hy het inderdaad bedoel die mikrofilmargiefie waarop al die uitgawes van die koerant gestoor was! Ek het dit in ’n staalkissie in die groentelaai van my koelkas bewaar. Die fiche-skywe was my trots, dit was Bloemstadse tegnologie daai, en een maal ’n kwartaal het ek met my boel koerantjies soontoe gery om die piepklein skyfies te laat maak.
Nieman het met ’n winkgebaar van die vingers bly herhaal: “Die fiche’e, Verdomp, verdomp gee dit, man!”
Hy is met die fiche-biblioteek onder ’n arm daar vort, my tuisakwarium vol glimmerings, my lewe-in-bewaring! Sy laaste woorde was, hy het dit so half aan my uitgespel: “Onthou: f-i-k-s-i-e. Al gehoor van? Daai’s jou kos. Los die waarheid vir grootmense.”
Dit was toe ek buite kom op daardie geleentheid dat ek kon sien die drukpers, doer in Persstraat, brand. Niks van oorgebly nie. ’n Grys kar met Kimberley-nommerplate het met tollende bande onder ’n kalkerige stofwolk weggetrek.
Daar is dié dag twee ander wolke by my ingeprent, die groot swarte en die kleiner witte, wat uit die wordende puin getrek het. Verskillende stelle dokumente wat gebrand het, natuurlik. En net dáár het ek my herverbind tot die waarheid.
Nou kyk, Veiligheid se valkoë was nog altyd oral, veral destyds. Later van tyd het ek agtergekom hulle werk boonop saam met die afdeling Okkulte Bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Polisie teen my, oor ’n storie wat my koerantjie gedra het en waarvan Okkulte nie gehou het nie.
Iets wat ek nie kon ontken nie, is dat onverklaarbare dinge, miskien nog altyd, op die Lyksovlakte gebeur het. Ek het gedink aan ’n gerug wat die ronde gedoen het, dat die Amerikaners kernafval in die Karoo stort. Miskien het die radioaktiwiteit hiervan buitenissighede veroorsaak.
Só het my voorbladberig op Vrydag die 13de Desember 1974 gelui. Dit het die nonsens tussen my en die Veiligheidsmanne ’n gevaarlike hupstoot gegee:
TONGE KLAP OOR RAAISELVERSKYNSEL
’n BOER van die omgewing glo ’n “motel” het oornag op sy plaas verskyn. Hy is absoluut dronkgeslaan hieroor.
Mnr. Boer Verwey van die plaas Apiesdraai sê hy het nog nooit voor Woensdagoggend die gebouekompleks op sy grond gesien nie. Hy gebruik minstens twee kere ’n week die pad en die plaaswerkers loop elke dag daarlangs en het dit ook nog nooit gesien nie. Die motel, ’n tipe verblyf wat slaapplek vir motoriste bied met ’n afdak vir elke motor (foto hiernaas), staan sowat 200 meter van die ou hoofpad langs die inrypad wat na die plaas toe gaan.
Die Weekpos kan getuig van ’n naambord waarop staan: Hide Out Motel. Built on historical ground – 100% refrigerated bar.
By navraag het boukontrakteurs in die groter dorpe gesê hulle het geen wete van so ’n projek nie. Die mening is dat dit op ’n roete geleë is wat nie genoeg verkeer trek om ’n hotel ekonomies te maak nie.
Sers. Kleinschmidt, bevelvoerder van die polisiekantoor hier op
Van die pad se kant is nog ’n kleiner naambord te sien waarop staan: Inspection invited. Beide borde het woorde wat nie normaalweg op ons platteland voorkom nie.
Om alles te kroon het ’n siener, wat naamloos wil bly, Die Weekpos gebel en die bousel beskryf as “’n kenmerkende Texas-boustyl”. Sy meen dit dui op olie wat binnekort in die omgewing ontdek sal word.
Die Weekpos sal sy lesers ingelig hou met verdere beriggewing.
– Eie nuus.
Dit was die opspraakwekkendste gebeurtenis ooit op die Lykso. En nie slegs die bronstige Kleinschmidt, Lemmer en die koster van die kerk het dit gesien nie.
En toe verdwyn die gebou weer. Dit was soos ’n vlieënde piering wat geland en weer vertrek het.
Vir enigeen wat die vroeëre tekens gevolg het, soos die raaiselagtige foto’s van Anna in die kerk, sou die motel minder van ’n verrassing gewees het. Dis eers nou dat ek self die prentjie kan sien.
VOETNOOT
Verdomp haal die naam van sy dorp wat in die oorspronklike berig verskyn het deur en vermy enige gebruik van die pleknaam in sy boek. Ek vermoed hy het die risiko van vervolging probeer verminder, hoewel omringende plekname en plekverwysings wel voorkom.
4
VAN BEETHOVEN TOT AUSCHWITZ
Julie 1964
Een laatmiddag, tien jaar voor die verskyning van die motel, het ’n besoeker sy statige pers Plymouth by die leidammetjie, op die gruis langs die diepgroen grasperk, voor Boer se plaashuis geparkeer.
My informant in die Verwey-gesin, wat my ook van hierdie besoek vertel het, was hý, die ouer seun, Alwyn. In my navrae het ek agtergekom dat die ouers en die jonger seun gereeld private inligting met Alwyn gedeel het, sodat hy meer van hulle geweet het as hulle van mekaar.
Laatmiddag was die tyd wat Boer se spreiers aangaan. Dis asof ek daardie middag voor my oë kan sien afspeel asof dit nou is: ’n verdwene agtermiddag wat voortbestaan in ewigtyd.
Aan die Plymouth se lugdraad pryk ’n stokstywe vlaggie met die woorde op: Welkom by ons, 1964! Twee mans loop by die stoeptrappies op en gaan die huis binne, die korter een se arm laag om die rysige besoeker se skouers.
“Altus en my pa was beste vriende, nie dat ‘vriende’ en my pa juis beste maats was nie,” het Alwyn gegrap.
Altus Bodenstein, beskermheer van die kunste, het vir Staatsveiligheid gewerk. Hy was ’n lang, maer man met ’n potloodstreepsnorretjie wat bo sy dun, aristokratiese lippe gepryk het.
’n Goeie verteller, Alwyn, sonder om te probeer. Ek kon my die situasie en die snorretjie goed voorstel.
Verder had Altus ’n fynbesnede valkneus op ordelike gelaatstrekke. Sy donkerbruin hare was middelpaadjie en plat gebrylcreem. Hy sou skoene effens na buite gedraai staan, dunpuntskoene soos vlakwaterhaaie, en ken opgelig bo ’n uitsig uit tuur asof hy wil sien wat ágter is. Pal hande in die sakke behalwe as hy gaan sit, wat dikwels was. Dan het sy baadjie se agterflappe deur ’n stoelraam gesteek soos die stertvlerke van ’n Boeing, een van die kleineres, van binnelandse vlugte.
Altus was altyd in ’n pak gesteek met bypassende das, dún das, skreefdun soos sy lippe. Sy hele uitrusting was effekleurig en vaag omlyn, soos mis bo die veld. Hy het die konnotasie gehad dat hy aantreklik is maar dalk onsigbaar in die skemer.
Dinge sou lelik verkeerd loop dié kuierslag, het Alwyn my op ’n stofverwaaide Woensdagmiddag in Die Weekpos se kantoor meegedeel, terwyl die lig van die laat sewentigerjare deur die vensterrame spoel, ’n gelerige, siekerige soort lig.
“Die insident,” het hy vertel, “wys iets oor waarom my broer ’n stommeling geword het.”
Dit was ook die dag toe Dirkie, hy was twaalf en Alwyn veertien, die eerste keer van oom Altus se volkstalent gehoor het. Ek het Alwyn gevra om te verduidelik, want van so ’n soort talent het ek nog nooit verneem nie. Maar Alwyn het beduie moenie dinge vooruit loop nie.
Altus