Hermann Giliomee: Historikus. Hermann Giliomee

Читать онлайн.
Название Hermann Giliomee: Historikus
Автор произведения Hermann Giliomee
Жанр Биографии и Мемуары
Серия
Издательство Биографии и Мемуары
Год выпуска 0
isbn 9780624066842



Скачать книгу

sommige baie stekelrige kwessies hanteer.”27 Die tuislande was destyds nog net ’n abstraksie en soos baie tydgenote het ek die beleid aanvanklik beskou as een wat onder ’n dinamiese leier nuwe moontlikhede kon oopmaak.

      Verwoerd se beleid oor die bruin mense was ’n groot teleurstelling. In 1960 het hy Cillié se voorstel in Die Burger dat bruin verteenwoordigers in die parlement die bruin gemeenskap moes verteenwoordig, skerp afgewys. Cillié het ook instemmende geluide gemaak oor die besluite van kerkleiers op die Cottesloe-kerkeberaad dat sekere aspekte van apartheid nie aan die eise van die Christelike boodskap voldoen nie. Verwoerd het egter krities gereageer en die sinodes van die verskillende Gereformeerde Kerke gevra om hul stem te laat hoor. Piet Cillié het later aan my gesê: “Toe Verwoerd die sweep klap, kon ’n mens net die manelpunte sien waai soos die predikante om die hoek weghardloop.”

      My simpatie was by Cillié, maar die meeste studente het Verwoerd as ’n politieke reus beskou wat nie kon fouteer nie. Verwoerd het nie net NP-­ondersteuners beïndruk nie. Allister Sparks het my vertel hoe hy as ’n jong verslaggewer by die Rand Daily Mail vasgenael gesit en luister het toe Verwoerd in ’n hotelkamer sy beleid aan hom verduidelik het.

      In 1964 het CW de Kiewiet, die liberale historikus wat ek later die meeste sou bewonder, in die invloedryke Amerikaanse blad Foreign Affairs geskryf dat Verwoerd die land se probleme met “vernuf en selfs verbeelding” aangepak het en dat dit geensins absurd was nie om ’n ooreenkoms te sien tussen Verwoerd en Charles de Gaulle, “die streng, hardkoppige, maar baie verbeeldingryke leier van Frankryk”. In Augustus 1966 het die tydskrif Time ’n kritiese artikel oor apartheid geplaas, maar Verwoerd bestempel as “one of the ablest white leaders Africa has ever produced”.28

      Op soek na werk

      Dit het taamlik voorspoedig gegaan met my studie as voltydse student. Ek het in 1958 my BA-graad ontvang met geskiedenis en Afrikaans as hoofvakke. Aan die einde van 1960 het ek my honneurs-graad in geskiedenis met lof behaal en in die jaar daarna my magistertesis begin. Ek was egter baie bewus van my beperkings, onder meer ’n swak beheer van Engels. Ek het deur al my jare as student ’n “Kakamasian” gebly en het besluit dat net ’n drastiese maatreël dié probleem kon oplos. Toe ek uitvind dat Graeme College, ’n Engels-medium staatskool in Grahamstad, ’n onderwyser vir sosiale studies nodig het, het ek die hoof laat weet dat ek beskikbaar is.

      Ek het in 1962 ’n produktiewe jaar in die Britse setlaars se hoofdorp deur­gebring. My gesproke Engels het met die hulp van my kollegas, en veral ’n musiekonderwyseres, verbeter. Die gemaklike verkeer met kollegas en spanmaats in die Albany-rugbyspan het my die Engelse gemeenskap heelwat beter laat verstaan.

      Nadat ek my MA-tesis middel 1963 afgehandel het, het ek ’n pos as kadet in die departement van buitelandse sake in Pretoria aanvaar. Apartheid was toe nog nie so gediskrediteer soos ’n paar jaar later nie. De Kiewiet se artikel het die hoop gebied dat daar ten minste in sommige lande ’n sinvolle gesprek oor Suid-Afrika sou kon wees. Daar is in elk geval nie van diplomate verwag om apartheid in al sy fasette te verdedig nie, maar eerder die standpunt dat vreedsame verandering in die land moontlik is.

      Ek het op 1 Julie 1964 in die Uniegebou in Pretoria in die departement begin werk. Ek was gelukkig om direk onder Donald Sole te werk met wie ek vroeër in Kaapstad my onderhoud gehad het. Hy was een van die mees gerespekteerde persone daar.

      Eric Louw was nog tot einde 1963 die verantwoordelike minister en GP Jooste die departement se sekretaris. Pik Botha het egter in die gange met ’n frons op sy gesig rondgeloop op ’n manier wat oningeligtes sou laat dink dat al Suid-Afrika se diplomatieke probleme op sy skouers rus, iets wat mettertyd waar sou word. Hy was toe hoofregsadviseur belas met die koördinering van Suid-Afrika se verweer in die Wêreldhof teen die aanklag dat hy sy mandaat oor Suidwes-Afrika geskend het.

      Ná net langer as ’n jaar het ek die idee van ’n loopbaan in die diplomatieke diens laat vaar. Daar was sekerlik mense soos Neil van Heerden, ’n kollega in die departement, wat sou voortgaan om die land en die saak van hervorming met groot onderskeiding te dien, maar my hart was nie in so ’n loopbaan nie.

      Pleks van meningsvormers in die buiteland te probeer beïnvloed, wou ek liewer klas gee en aan die debat tussen Afrikaners oor apartheid en ’n alternatiewe vorm van oorlewing deelneem. Ek was lus om veel dieper in kwessies in te grawe as wat ek kon doen in die kort stukkies wat ek in die loop van my pligte in die departement geskryf het. Ek het ook besluit om so spoedig moontlik die doktorsgraad in geskiedenis aan te pak.

      Pretoria van die middel 1960’s was ’n ideale plek vir pas gegradueerdes, wat in groot getalle in Arcadia en Sunnyside gebly en vir die staat- of semi-staatsdiens of vir professionele firmas gewerk het. Ek het my hart en siel in die rugbywêreld begeef en een seisoen vir die klub Pretoria se eerste span in die gedugte Carlton-liga uitgedraf.

      In Pretoria het ek Annette van Coller ontmoet. Sy sou kort ná ons troue as ’n argitek aan die Universiteit van die Vrystaat kwalifiseer en het in 1963 vir ’n argitekfirma in Pretoria gewerk. Ons familie-agtergrond was baie dieselfde: ons oupas aan vaderskant het albei in die Anglo-Boereoorlog geveg, ons ouers was almal onderwysers in Afrikaanse skole en ek en sy het ons albei met die Afrikaner-volksbeweging vereenselwig. Vir my was sy van die begin af die ideale lewensmaat. Vandag, meer as vyftig jaar later, is sy steeds my grootste bron van inspirasie, krag en aanmoediging.

      Ons is op 3 April 1965 in Pretoria-Oos se NG Kerk getroud, wat net langs die Loftus Versfeld-rugbyveld is. Dit was die dag waarop die rugbyseisoen begin het. Ek het geweet as ek daardie dag om 15:00 nie vir Pretoria se span op Loftus uitdraf nie, ek my plek in die eerste span sou verloor. Die diens in die kerk sou om 17:30 begin en ek het dit oorweeg om ’n rugbywedstryd en ’n huwelik op een middag te kombineer. My ma het gemeen dis hoogs onverantwoordelik en ek moes van die plan afsien. Dit was ook die einde van my rugbyloopbaan, wat in elk geval nie groot hoogtes sou bereik het nie.

      In 1966 het ek verlof by Unisa geneem en vir ’n jaar nagraads in geskie­denis in Nederland gaan studeer. Ek en Annette het ’n onvergeetlike jaar in Amsterdam deurgebring. Ek het ’n vak aan die Stedelike Universiteit van Amsterdam voltooi wat op Hitler se magsoorname gefokus het, maar die ander kursusse het oor temas soos die “Middeleeuse Dagboek” gegaan, wat my nie geïnteresseer het nie. Daar was ’n lewendige groepie Suid-Afrikaanse studente in Amsterdam wat een maal per maand vir ’n “koffietafel” byeengekom het.

      Eendag uit die bloute kry ek ’n brief van prof. Dirk Kotzé, professor in algemene geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, waarin hy my vra om aansoek te doen vir ’n pos in die departement. Die aansoek het geslaag en ek het met die aanvang van die akademiese jaar van 1967 ingeval. Ek was terug by die “universiteit met ’n houding” en op die dorp Stellenbosch. Francine, ons oudste dogter, is daardie jaar gebore en Adrienne net meer as drie jaar later. Hulle besorg ons steeds groot vreugde in die lewe.

      In 1970 het ek en Annette besluit om in die algemene verkiesing die Progressiewe Party met sy beleid van gekwalifiseerde stemreg te steun. My ouers was geswore nasionaliste, maar ek was nie bekommerd dat ons besluit ’n familie-­uitval tot gevolg sou hê nie. Ek het nogtans besluit om my ouers daarvan in kennis stel by wyse van ’n dubbelsinnige brief. Dit het ongeveer so gelui:

      Ter wille van die kinders het ons besluit dat ons weë moet skei en dat ons ’n verhouding moet verbreek wat eens mooi en kosbaar was, hoe moeilik dit ook al is. Ons weet julle sal geskok wees, maar dis beter dat ons paaie nou skei as later.

      Ek het op hierdie tema voortgeborduur en reg teen die einde geskryf: “Wat ons eintlik vir julle wil sê, is dat ons besluit het ons gaan Progressief stem.” My ma het aan my pa gesê: “Hulle gaan nie skei nie, hulle gaan Prog stem,” en toe verlig bygevoeg: “Die bloomin’ fools.”

      Hoofstuk 4

      Leerling-historikus

      Prof. HB Thom was die rektor toe ek in 1956 ’n eerstejaar was. Sy skaduwee het steeds oor die departement geskiedenis gehang waarvan hy van 1937 tot 1954 hoof was. Sy werke was nie die populêre geskiedenis wat Gustav Preller aan die begin van die eeu geskryf het nie, maar ’n vorm