Название | Hermann Giliomee: Historikus |
---|---|
Автор произведения | Hermann Giliomee |
Жанр | Биографии и Мемуары |
Серия | |
Издательство | Биографии и Мемуары |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624066842 |
In die plek van die ou nasionalistiese geskiedskrywing het ek my vereenselwig met die benadering wat pluralisme genoem word. Dit probeer diep-verdeelde samelewings, waar daar ’n gebrek aan ’n gemeenskaplike sosiale wil en gedeelde waardes bestaan, op ’n besondere manier verstaan. Dit beklemtoon sowel die kulturele as materiële invloede wat die Afrikaners gevorm het. Kultuur verteenwoordig ’n krag uit eie reg en is nie bloot deel van die ideologiese superstruktuur wat bepaalde belange moet legitimeer nie, soos wat die radikale historici dit wil hê.
Pluraliste besef ook in watter groot mate die politiek gedryf word deur nasionale of kulturele vernedering.56 My werk oor die Kaapse samelewing gedurende die eerste dekades van Britse heerskappy het dit vir my duidelik gemaak dat die burgers as ’n gemeenskap meer saamgesnoer was deur hul kultuur en die dikwels minagtende wyse waarop die Britse amptenareklas hulle behandel het, as deur hul materiële belange.
Nadat die Britte die Kaap verower het, was daar ’n klein groepie, die sogenaamde “Cape Dutch”, wat hul dienste vir die nuwe regering aangebied het, Engelse gewoontes aangeleer het, onvoorwaardelike trou aan die nuwe regering gesweer het – en gou verengels het. Hulle was egter onverteenwoordigend. Die meeste burgers het voortgegaan om hulle te vereenselwig met die kultuur en instellings waaraan hulle gewoond was – die landdros en heemrade en hul kerk en gemeente. Hulle was wel bewus van die minagting waarmee leidende figure in die Engelse gemeenskap “the Dutch” en hul kultuur bejeën het.
In Britse oë het die meeste burgers niks meer as Hollanders gebly nie – met die implikasie dat dit ’n minderwaardige status was. Dertig jaar nadat Brittanje die Kaap vir ’n tweede keer verower het, het Christoffel Brand, ’n leidende Afrikaner in Kaapstad, geskryf: “Die veroweraars het alles ingespan om hulle daaraan te herinner dat hulle Hollanders is.”57
Geskiedeniswerke in Engels is geneig om die Groot Trek grootliks op grond van materiële belange te beoordeel, soos die vrystellig van slawe en die sug na grond anderkant die koloniale grense. Wat hulle egter oor die hoof sien, is die minagting van baie regeringsamptenare en die groot gebrek aan verteenwoordigende instellings waardeur die burgers hul menings kon lug.
Olive Schreiner, wat ’n paar dekades ná die Groot Trek as ’n goewernante van boerekinders in Cradock en ander oostelike distrikte gewerk het, het die volgende kommentaar op die trek gelewer:
Wat die koloniste se harte die meeste verbitter het, was die koue onverskilligheid waarmee hulle behandel is en die bewustheid dat hulle as ’n onderworpe en minderwaardige ras beskou is. Die verbittering het so intens geraak dat groot getalle individue omstreeks 1836 besluit het om die kolonie vir altyd te verlaat en ook die tuistes wat hul geskep het.58
Ná 1994, tweehonderd jaar ná die regimeverandering van 1795, was dit weer die vernedering wat die swart nasie die vorige twee eeue aangedoen is wat die nuwe regering se politiek bepaal het.
Die sentrale vraag
Die groot vraag wat ek aan die begin van my loopbaan aan myself gestel het, was: Vanuit watter perspektief gaan ek my storie vertel? Tony Judt was een van die gerespekteerde historici van ons tyd. Hy is van Joodse ouers in Londen gebore en het daar grootgeword. Hy het hom nooit spesifiek Joods of Engels gevoel nie, maar op verskillende tye het hy hom met albei identiteite vereenselwig. Hy was nie ’n radikaal nie en ook nie ’n konvensionele liberaal nie.
Judt het daarop gewys dat mense in die gewone lewe eerder die persoon vertrou wat openlik sê: “Dis die hoek van waar ek kom en waaruit ek my storie vertel,” as die een wat hom probeer voordoen as iemand wat heeltemal objektief is.59 ’n Mens verwerp natuurlik nie die noodsaak om partydigheid te vermy nie, maar gee op stuk van sake jou eie persoonlike vertolking.
Ek het ook geleer dat ’n mens goed lig kan opsteek by ’n historikus met ’n ander ideologiese perspektief as jou eie. Ek en Rick Elphick het saam in die slothoofstuk van The Shaping of South African Society die vorming van die vroeë Kaapse samelewing ontleed. Ek het in hierdie samewerking meer oor geskiedskrywing geleer as in al die klasse op Stellenbosch.
’n Fokus op sowel die globale prentjie as die detail is belangrik. Sonder my detailstudie van die Kaap tussen 1780 en 1812 sou ek nooit die groter prentjie van die vorming van ’n bepaalde samelewing gesnap het nie. Dieselfde was waar van die oorgang van wit na swart beheer in die jare tussen 1960 en 1994. Miskien was Piet van der Merwe reg dat elke voornemende historikus eers ’n vakleerlingskap moet aflê met die skryf van ’n konvensionele proefskrif oor ’n afgebakende tydperk lank gelede voordat hy ’n onderwerp in die kontemporêre geskiedenis aanpak.
Ode aan geskiedskrywing
’n Vraag wat ek my dikwels in die jaar aan die Yale-Universiteit afgevra het, was: hoe kan die studie van die geskiedenis mense, en veral die Afrikaners, bewus maak van die wyse waarop hulle van Engelse politieke, ekonomiese en kulturele oorheersing bevry is en andersyds hulle inspireer om vir vryheid vir almal in Suid-Afrika te veg? Ek het in een van De Kiewiet se boeke op hierdie insig afgekom:
Die funksie van geskiedenis is om wysheid en ervaring tot elke geslag se beskikking te stel. ’n Lewenskragtige en onafhanklike geskiedskrywing is meer as ’n kulturele ornament.
Dit is ’n onmisbare agent vir wyse en suksesvolle aksie in alle menslike probleme. In die akademiese wêreld kom die geskiedskrywer se kuns naaste aan staatsmanskap. Sonder historici kan ’n samelewing nie ryp word en kan dit ook nie op ’n wyse manier besluite neem nie. Daar is ’n reële verband tussen demokrasie en ’n vrye, geïnspireerde geskiedskrywing …
Op sy beste is geskiedenis die plek waar alle kennis ontmoet.60
Hierdie ode aan geskiedskrywing het vir my ’n bron van inspirasie gebly.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.